Is daar nog mediaruimte in Suid-Afrika vir opbouende kunskritiek?

  • 1

 

Is daar nog mediaruimte in Suid-Afrika vir opbouende kunskritiek?

Wanneer laas was daar ’n resensie van ’n kunstentoonstelling in die koerant? Wanneer laas ’n diepsinnige bespreking van ’n toneelstuk?

Hoe gelukkig is boeklesers nie dat daar in die groter koerante darem gereeld boekebladsye met redelik knap resensies verskyn nie. Daar is selfs ’n Crito om oor die Afrikaanses ’n wakende ogie te hou.

Wat toneel, musiek en die visuele kunste egter betref: helaas, so dan en wan ’n paar oppervlakkige opmerkings, sonder om die rus te versteur of aanstoot te gee of aandag te trek.

Die gierigheid van diegene wat die media in Suid-Afrika besit (en Afrikaans, as jy oplet, is in werklikheid ’n monopolie) se kopskuif na webwerwe, en die oppervlakkige geslons van gepaardgaande “sosiale media”, beteken dat daar binnekort nie meer ’n kunskritikus of ’n bekwame toneel/musiek/opera/ballet-resensent sal wees nie.

Skryf “deurdagte waardering” af – ’n uitklophou vir kreatiwiteit.

Die meeste mense wat tot nou hierdie rolle vervul het, was kenners – soms akademici, en gewoonlik vryskutskrywers wat goeie leesstof aan die koerante verleen het. Die Afrikaanse en die meeste Engelse mediahuise het, weens hul absolute geloof in die internet, besluit om vryskutjoernaliste in die kunstebedryf tot die minimum te beperk (wat, gegee dat baie van daardie skrywers geesdriftige ondersteuners van hulle vakgebiede is, dit teen die kleinste siniese fooi sou doen).

Hierdie houding het op lang termyn ernstige gevolge nie net vir die koerantwese en joernalistiek self nie, maar inderdaad vir die kunste en kuntenaarsberoep. Kritiek, beoordeling en debat is noodsaaklik vir die skeppingsproses in watter medium ook al. Opbouende bespreking is hoe gehalte geskep word.

Deesdae aanvaar mediabase dat die “vermaakblad” (wat nou “kunste” as onderafdeling dek) ’n gegewe is, as’t ware vanself bestaan, en hul berigte daar net op die lees van bekendheid, roem of sosiale nuuswaardigheid geskoei word.

Die effek van hierdie afwatering van die ernstiger resensent of kritikus se rol in die koerantwese is reeds te sien in reaksies van gehore en bywoning van teater. En in die visuele kunste die monetarisering van waarde en gehalte.

(Die rol wat reklame in hierdie bedrywe speel, het ook ’n skeeftrek-effek in die manier waarop daaroor in publikasies verslag gedoen word. Soos waar kunsveilings en -markte die openbare leesruimtes opkoop of deur geslypte persstories gratis aan die blaaie verskaf.)

Twee onlangse gebeure in die Kaap se teaterwêreld en twee tentoonstellings het my aan hierdie krisis herinner.

Die eerste was die Fleur du Cap-partytjie waarop daar vir die vorige jaar erkenning gegee word aan wat op die plaaslike verhoë goed was. Die tweede is die nuwe opvoering van Athol Fugard se uitstekende toneelstuk The road to Mecca in die Fugard-teater.

Erkenning aan voortreflike spel en uitvoering op die verhoog (en elders) het ’n lang geskiedenis en die Fleur du Cap-toekennings is ’n dekades lange een van mildelike patronaat, destyds onder die kultuurbewuste Ruperts gevestig. Die jaarlikse verering van die beste speler, opvoering, ens was immer ’n loflike huldeblyk aan vakmanskap op of agter die verhoog.

Die afgelope jare het daar allerhande nuwe “kategorieë” op die program begin verskyn, met die gevolg dat die onlangse seremonie ’n asteniese allegaartjie was sonder dat uitblinkers werklik die kollig kon vang. (Daar was onder meer twee operapryse, wat glad nie sin gemaak het nie. In die ou dae was daar Nederburg-pryse vir opera en ballet, twee geheel ander uitvoerende kunste met eie eise en loflikhede.)

Fleur du Cap se toekennings word deur ’n komitee aangewys. (Destyds was die lede hoofsaaklik erkende koerantresensente.) Terwyl niemand die kundigheid van huidige beoordelaars afskiet nie, kan ’n mens tog wonder of hulle werklik ’n houvas op die bedryf het as hulle nie openbare kritiek moet lewer nie. Is die gevolg van hul besluite werklik waardevol vir die slyp van kreatiwiteit?

In haar resensie in Die Burger van die nuwe opvoering van Athol Fugard se The road to Mecca loof Mariana Malan die dekorstel, maak enkele opmerkings oor die stuk en akteurs, en wonder oor die tempo van die spel: “By tye raak dit diep, by tye soek ’n mens ’n vinniger pas. (...) Dalk is dit weens kitsvermaak wat jou deesdae binne net meer as ’n uur in en uit die teater neem.”

Malan is ’n gesoute resensent en hierdie laaste opmerking slaan ’n kophou. Is dit wérklik waar teater hom bevind?

Daar is veel te bespreek oor hierdie unieke toneelstuk en die spesifieke opvoering. Help dit toneelvakmense soos Sandra Prinsloo, Marius Weyers en die jong Emily Child enigsins as ons nie ‘n bietjie gesels oor hoe hulle optree, verstaan en demonstreer nie? Die opvoering as kunswerk ernstig onder die loep neem nie? Helaas.

(’n Uitsondering is Marianne Thamm se knap resensie in Daily Maverick.)

Vandag is dit die kunsveilingfirmas wat die kunsblad se “nuus” handhaaf deur slim persmateriaal en glansprente gratis uit te deel. Die onafhanklike kunskritikus het verdwyn. En dié fynproewerkundigheid is ook telkens duidelik in die mengelmoes wat juis op daardie veilings aangebied word.

Twee kunsuitstallings tans in Kaapstad verdien deeglike en dringende resensies – soos in die “ou dae”.

By Smac se galery (in daardie dae het die woord net in sy Engelse betekenis bestaan) is daar die verruklike dramatiese installasie van die jong Lhola Amira wat die SS Mendi-tragedie belig. Haar kuns opper talle vrae, roep uit om bespreek te word. Sy is vol talent en verdien goeie oordeel.

By Stevenson is daar ’n swetterjoel doeke en prente deur Zander Blom, ’n jongman wat deesdae onder die nuwe ryk kunsversamelaars en welgestelde huise uiters gewild is. Sal ’n resensent durf vra of dit kuns vir die “luuksegoederemark” is? Waarheen is sy talent op pad?

  •  Die skrywer was vir dekades betrokke in die teaterwêreld en vryskutkunsresensent.
  • 1

Kommentaar

  • Naòmi Morgan

    Uitstekende artikel. Dit lyk ook nie of studente opgelei word om resensies te skryf of onderhoude met die kunstenaars te doen nie. Dit is ook 'n kuns.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top