Daar is 'n olifant in die kerk

  • 21

Hierdie webseminaar spruit voort uit die volgende LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels en neem die gesprek rondom die besluite omtrent selfdegeslagverhoudings wat op 9 Oktober 2015 in die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is, verder:


Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)


 

Ná die NG Kerk se onlangse sinodale besluit, skryf Jean Oosthuizen oor netelige kwessies in die kerk. 

Daar was ʼn olifant in die vertrek tydens die NG Kerk se afgelope algemene sinode toe hulle ja gesê het vir gay-troues. Die olifant se naam is Skrifgesag.

Totdat hierdie olifant raakgesien word en lidmate verstaan hoe mens die Bybel moet lees, sal die eindelose debatte oor homoseksualiteit, saamwoon voor die huwelik, die bestaan van die duiwel, evolusie, maagdelike geboorte en vele ander sake soos ʼn neet op die kerk se agenda bly vasklou sonder om die olifant op die naam te noem.

Die diep verdelingslyne oor die gesag van die Bybel strek wêreldwyd tot in die hoogste vergadersale van kerke.

Te veel mense glo nog alles wat in die Bybel staan is onaantasbaar terwyl hulle self ook maar na willekeur kies en keur watter dele van die Bybel hulle pas.

Selfdegeslagverhoudings is maar net die seekoei se oortjies wat uitsteek. Dit is slegs één van talle morele impasses waarin kerke hulle vandag bevind.

"Daar moet 'n brawe dag kom waar die Kerk bloot erken: die Bybel is hieroor verkeerd. Dit help nie ons probeer met breingimnastiek Bybeltekste so verduidelik dat die ‘konteks’ vandag anders gelees moet word nie,” sê Ronell Bezuidenhout van die NG gemeente Fontainebleau in Gauteng.

“Slawerny? Die Bybel is daaroor verkeerd. Dis net so eenvoudig. Daar was dalk 'n tyd dat mense gedink het dit is reg. Maar dit is verkeerd! So is dit dieselfde met die siening dat die man die hoof van die vrou is. Dit is seksisties. Dit is verkeerd. Ons moet dit nie ‘reg’ probeer praat nie. Dit is verkeerd. Dieselfde dat vroue nie predikante kon wees nie. Dit is verkeerd. Dieselfde oor uitsprake van gays in die Bybel. Die Bybel is uitgesproke homofobies. Dit is verkeerd. Ons moet braaf genoeg wees om dit te sê. Paulus was dalk homofobies – dan was hy verkeerd,” sê Bezuidenhout.

Sulke helder uitsprake is nie oral in die kerk gewild nie.

In Amerika word daar gepraat van “The Battle of the Bible”. ʼn Oorlog om oorlewing  tussen twee uiteenlopende sienings van die Bybel.

Teen hierdie agtergrond het 200 afgevaardigdes (oorwegend ouer heteroseksuele mans) van ʼn diep verdeelde kerk vroeër die maand in Pretoria teen alle verwagting ʼn waterskeidingbesluit oor homoseksuele verhoudings geneem. Die rimpeleffek daarvan is besig om landwyd uit te kring in kerkraadsvergaderings en gesprekke onder lidmate.

Die debat oor Skrifgesag strek egter baie wyer as net homoseksualiteit. Die wyse waarop mense die Bybel lees, raak byna elke lewensterrein. Dit strek as’t ware van die regbank tot die vermaaklikheidswêreld. Dit bepaal hoe Christene voel oor sake soos saamwoon, homoseksualiteit, aborsie, dobbelary, egskeiding en andere sake.

Bybelse antwoorde op dié kwessies is nie meer so glashelder soos voorheen nie.

Die eksklusiwiteit van die kerkorde sal nog verder uitgedaag moet word as die kerk ʼn manier wil vind om die enorme diversiteit binne die kerk te akkommodeer en as ‘n geleentheid te benader pleks van ʼn bedreiging.

Die beleidsdokument “Kerk en Samelewing” is in Oktober 1986, 29 jaar gelede, deur die algemene sinode van die NG Kerk aanvaar. Daarmee het die NG Kerk finaal afskeid geneem van apartheid. Die aanvaarding van hierdie dokument het tot grootskaalse reaksie in die kerk, en uiteindelik tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987, gelei.

Ongelukkig weeg die vrees vir kerkskeuring meermale swaarder as die profetiese stem waarop die kerk graag roem.

Destyds het byna 8 000 lidmate die NG Kerk verlaat om die APK te stig. Dit het die NG Kerk in die grootste storm van sy geskiedenis gedompel.

Vanjaar het die NG Kerk se algemene sinode, soos 29 jaar gelede met die aanvaarding van “Kerk en Samelewing”, weer die regte ding gedoen en ʼn dapper besluit geneem.

Terugskouend was die wins wat saam met “Kerk en Samelewing” gekom het, groter as die verlies, sê Johan van der Merwe van die Universiteit van Pretoria in ʼn akademiese artikel wat hy vier jaar gelede geskryf het.

“As die aanvaarding van ‘Kerk en Samelewing’ die NG Kerk byna 8 000 lidmate gekos het, moet die vraag gevra word of die kool die sous werd was. Was dit inderdaad die worsteling en die pyn van 'n kerkskeuring werd?”

Byna 30 jaar later vertel die geskiedenis dat dit inderdaad ʼn tydige koerswysiging was wat die kerk in ʼn posisie gestel het om die reis op pad na ʼn postapartheid Suid-Afrika mee te maak, sê Van der Merwe.

Net soos met “Kerk en Samelewing” kan die reaksie van predikante en lidmate oor die kerk se gay-besluit basies in vier groepe verdeel word. Eerstens is daar ʼn stille meerderheid wat dit bloot aanvaar het. Tweedens is daar ʼn groep wat van mening is dat dit “too little too late” is. ʼn Derde groep het gejuig oor die besluit wat geneem is, terwyl ʼn laaste en luidrugtige groep sê: “Ons is verraai.”

Dalk is daar nog te veel ouer wordende mans wat die kerk wil beheer en bestuur. Daardie nuwe geslag ooms wat met verbysterende vaardigheid gesout geraak het in die beplanning en uitspeel van strategieë. Maar hulle is besig om vinnig uit te sterf, soos wat die NG Kerk se afgelope sinode bewys het.

Ongeveer 33% van die NG Kerk se lidmate is tussen 60 en 80 jaar oud. Slegs 27 van die 200 afgevaardigdes na vanjaar se algemene sinode was vroue – en wat predikante betref, was slegs ses van die 100 afgevaardigdes vroue.  

Nie almal in die kerk is blind vir die kerk se impasses nie. Dink net hoeveel beter kan dit nog wees as meer jongmense en vroue van Bezuidenhout se kaliber in die kerk se leiersposisies dien.

Baie progressiewe teoloë en lidmate wil graag uit die netelige posisie kom waarin die kerk hom bevind. Daarvan getuig talle weldeurdagte studiestukke – soos die taakgroep se verslag oor selfdegeslagverhoudings – wat sinode na sinode met groot moeite en erns deur kundiges aan sinodegangers voorgelê word vir oorweging maar dekades neem voordat dit aanvaar word.

Oop gesprekke op sosiale media word dikwels verdwerg deur die luidrugtige rumoer van fundamentaliste wat teen enige verandering gekant is en hardkoppig bly vassteek by uitgediende dogmas wat nie die toets van die tyd kan deurstaan nie. Dit skrik kerkleiers maklik af en laat hulle laer trek.

Hoeveel studiestukke is nóg nodig om vas te stel of die duiwel ʼn persoon is of nie? Hoeveel keer moet gay lidmate nóg die vernederende onderwerp van kerke se verdere studie wees? Dit terwyl sielkundiges en beraders moedeloos met hulle hande in die hare sit omdat die meeste kerke steeds nie hulle woord wil aanvaar dat kernhomoseksualiteit nie kan verander nie.

Die gesag of “heiligheid” van die Bybel skep baie verwarring onder lidmate. Predikante het ʼn groot verantwoordelikheid om mense oor die onderwerp te begelei.

Totdat kerke werklik ʼn oop gesprek voer oor Skrifgesag en al die ander netelige kwessies, sal die olifant in die vertrek al hoe groter word en kerke al hoe leër. Dan mag die dag dalk net aanbreek wanneer die kerk besef dit was inderdaad “too little too late” en self ʼn wit olifant word. 

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:

Die begin van 'n ruimer gesprek

Lulani Vermeulen, Charlene van der Walt
Seminare en essays 

God se Woord verander nie. Of hoe?

Ralph Barnard
Seminare en essays 

Geestelike geletterdheid en die sekspolisie

Louis van der Riet
Seminare en essays 

Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

André Bartlett
Seminare en essays 

 

  • 21

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    In die vorige eeu het talle grondwetlike scenario's oor Suid-Afrika die lig gesien. In verantwoordelike geledere was daar eenstemmigheid dat algemene stemreg vir volwassenes in 'n eenheidstaat nie die aangewese oplossing is nie. Sedert 1994 sit ons teen wil en dank daarmee. Sedertdien het die dwaasheid hiervan duidelik geword vir almal wat kan sien.
    In religie is daar soortgelyke dinge (bv gedwonge rasse-integrasie, die Belhar-belydenis en die voortreflikheid van homoseksualiteit) wat voorheen algemeen as onheilsaam geag is. Deesdae is die werklikheid dat die allerheiligstes in die kerk hulle seën oor hierdie eens verwerpte sake uitgespreek het.
    Tot watter gevolgtrekking kan 'n mens kom? Dat daar 'n oorvloed van opportuniste is wat hulle nie deur beginsels laat lei nie en eerder in die mode wil wees deur saam met die stroom te gaan.

  • Die mense van 1000 tot 5000 jaar gelede het nie geweet hoe om homoseksualiteit te hanteer nie. Die maklikste was om dit summier te veroordeel en diegene wat hul daaraan skuldig maak uit die samelewing te verwyder deur hul dood te maak.
    Hulle het aanvaar as hul sulke mense uit hul midde wegneem sal die "probleem" homself oplos. Duidelik na 6 000 jaar het dit steeds nie. Dit het 'n moderne mens gekos om tot daardie besef te kom dat homoseksualiteit maar net NOG 'n menslike norm is en vir niemand geen gevaar inhou, al veroorsaak dit weersin by sommige mense.
    Die probleem is mense wat WIL bly klou aan millennia-oue rituele en gewoontes. Pas aan of sterf uit. Die homofobe sal uiteindelik ook uitsterf net soos hul godsdiens en gode saam met hul sal uitsterf.
    Die mens het 'n intellek en 'n rede wat uiteindelik moet seëvier. Al kos dit nog millennia. Belangriker nog, moenie die kerke of kerklikes hanteer of hul die room van die samelewing is nie. Hanteer hulle vir wat hul geword het.

    • Danie Janse van Rensburg

      Dit is nou so duidelik waarvan die woord in openbaring praat van die vals profete wat kop gaan uit steek in die laaste dae, ek stem gladnie saam met wat hierdie vrou kwyt raak nie en as sy Heilige Gees vervuld was en wedergebore sou sy wat dat sy besig is om snert te praat, die Huwelik is 'n rein ding tussen 'n man en vrou, en God sien homosexualiteit as afgryslik, maar hy het wel vir ons aan die kruis gesterf sodat ons die ewige lewe kan beërwe, ons moet egter nou na die dinge van die gees strewe omdat ons wedergebore is want ons het saam Christus gesterf en saam hom op gestaan, God haat nie die mens nie Hy is lief vir die mens maar haat die sonde, homosexualiteit gaan teen die natuurlikke orde van hoe God alles geskape het veral die man en vrou se verhouding, Paulus sê 'n man moet sy vrou lief hê soos wat Jesus die kerk lief gehad het, gaan lees 1 Korintiërs 6:9 waar hy sê in die 1933, 53 vertaling in engels 1 Corinthians 6:9 neither the sexally immoral nor idolaters nor adulterers, nor effeminate (by perversion) nor those who participate in homosexuality, en hy gaan aan oor die sonde, dan sê Hy will inherit or have any share in the kingdom of God. Nou is die vroe ook van mening Paulus was verkeerd, luister, jy wens om deur God gebruik te word soos wat Hy Paulus gebruik het en in teen deel elke woord van God is deur die Heilige Gees geïnspereer nie uit die duim gesuig soos die NG kerk die mense wil laat glo nie, God hakkel nie as Hy praat nie Hy sê Hom soos Hy wil en Hy kan want Hys God Almagtig. Gaan doen jou Huiswerk voor jy weer 'n artiekel tik vra vir die Heilige Gees om jou te lei, Spreuke sê as jy wysheid kort kom vra en vir jou sal gegee word. O en 'n laaste ding in engels in 1 Corinthians 11:3 staan But I want you to understand that Christ is the head (authority over) of every man, and man is the head of woman, and God is the head of Christ. 'n Man is die hoof van die huishouding.

    • Hierdie man praat nie oor duisende jare gelede eintlik nie. Dit gaan oor die bestaan van 'n "kerk" en 'n kerk moet op die Bybel gebaseer wees in totaliteit. Daarom is jou argument maar net 'n posisie buite die kerk. As hulle saam met jou stem het hulle buitendien geen geloof nie en dan moet hulle maar kyk hoe bestaan die kerk vorentoe. NG, katoliek, ens het soveel ekstras dat dit buitendien nie eintlik Bybels is nie. Ek verstaan nie dat hulle een hoegenaamd praat van klein doop of groot doop nie as G-d (sien dis waar dit inkom 'n wese in wie party van ons heelhuids glo) / Jesus gesê het "unless a man be born again he cannot enter the kingdom ..." Hoekom wil jy so graag met 'n kerk baklei? Dis HULLE gebou en die mense wat hulle besoek s'n wat geldjies gee. Ek sal nooit in my LEWE my arme ma aanstoot gee omdat sy haar geldjie vir die NG kerk gee en sy daaruit begrawe wil wees eendag nie. Heigend nee. Ander argumente soos joune kan jy mos maar met die argeoloë aanpak.

      • Jammer het per ongeluk gesê "man" toe dit eintlik 'n dame was wat die artikel geskryf het. Ek vra verskoning.

        • Jean Oosthuizen

          Jy hoef nie verskoning te vra nie. Dit was inderdaad 'n man wat die artikel geskryf het en nie 'n dame nie 🙂

          • Jean ek is soo jammer. In my haas (altyd te haastig) kyk ek toe nie weer na die foto nie en Jean is mos 'n wonderlike naam. Net gesien iemand se "haar" en daar gaat ek. GROETE

    • Adapt or die....ek is oortuig ek het die uitdrukking al gehoor! Moet tog net nie verknog, verkak, stupid of stadig wees nie. Just go with the flow my bru. Die pad na die hel is 'n vyfbaanweg. Die pad na Hemel is 'n enkelbaan, nie plek vir wye gedagtes nie, want dan val jy van die krans af. Ag my magtig ... hoe dom van my om te dink daar is 'n duiwel en sulke simpel dinge! Dit is net goed vir ooms wat kinders wil bang maak!

      • My reaksie is gerig op die skrywe van Ivan Faught en nie oor Rietha se skrywe nie. As die die administrasie kan herstel, andersins vra ek verskoning!

  • Johannes
    Jean Oosthuizen
    'n Pragtige uiteensetting! Pleks om oor die vraag te tob of die kerk nie mettertyd 'n wit olifant gaan word nie, is die uiteindelike vraag om finaal te bepaal of daar werklik ooit 'n god was om te aanbid.

  • Ek geniet terdeë al jou resensies oor literêre analises, maar kan nie verstaan hoe jy, as intellektuele persoon, soos Jean hierbo beskryf, in die groep val van: "terwyl ʼn laaste en luidrugtige groep sê: “Ons is verraai.”"
    Kan jy net eenvoudig nie die Afrikaner volkswil in beide politiek en godsdiens aanvaar nie? Sonder meerderheid Afrikaner volkswil in beide politiek en godsdiens, sou enige ander alternatiewe prakties onmoontlik gewees het.

    • Hey Jaco? Jy bring nou die Afrikaner weer in 'n ding. Bybel en Afrikaner het niks met mekaar per se te doen nie. En as die NG Kerk 'n politiese instansie is, los hulle net. Dis hoe hulle wil wees. HOEKOM wil julle hierdie mense vernietig? NIEMAND het jou gedwing (miskien jou ouers toe jy 'n kind was en dan't dit jou buitendien geleer om Sondae bietjie vroeg op te staan as dit maar al is). Daarna kon jy waai. Hulle doen NIKS aan jou lewe op aarde nie. Dis soos die gay mense in Amerika - verstaan hoegenaamd nie hoekom hulle bakkerye en bloemiste wil bykom as daar so BAIE bestaan nie. Daai enkeles wat hulself 'n christelik gebaseerde instansie noem word hof te geneem en hulle verloor in die hof. Is dit werklik die wêreld waarin jy wil bly? Ek verwonder my daaraan (en dit raak afgesaag maar ek sal weer sê) hoekom hulle nie 'n muslim-bakkery gaan vra om 'n koek te bak en daarop te pipe "gays bo" of enige so 'n slogan nie. Muslims maak wonderlike koek. Dit het speserye in en hulle is trots op hul gebak. Sien die sagte targets. Dit is soo bitter lelik. Die christendom is vir jou so afstootlik en tog het niemand jou daarin gedwing nie. Die teendeel is waar - los die NG kerk. Jou voorsate (goed of sleg) het op daai houtbankies gesit. Los dit!

  • Ivan, jou argument maak nie sin nie. Niemand het geweet hoe om sonde 2000 jaar gelede te hanteer nie, dus die kruisdood. Niks het verander nie, ons lewe vandag nog in sonde. Dus, die bloedoffer deur Jesus Christus. Christene sondig vandag nog, maar as hul in Jesus Christus glo is hulle gered.
    Dis waar, die kerk het in die verlede verkeerd opgetree teenoor baie mense. Maar ek het nuus vir jou, daar is homofobe in die kerk en buite die kerk. Daar is baie mense wat nie Christene is nie wat ook homofobies optree. Dis 'n menslike probleem, nie noodwendig 'n Bybelse probleem nie.

    • Riaan, jy is reg. Ongelukkig weet ons maar min. Hier is 'n doktertjie in biochemie aan huis en hy sê hulle sukkel maar om daai spesifieke gene opgespoor te kry. Ek praat eenvoudig want as dit by die dinge van die Here kom is eenvoud die ding wat my regop hou - miskien is die nuwe woord wat almal nou besig "SIMPEL" eintlik op my van toepassing, dan kry ek NOG meer reg. Groete.

    • Riaan dit wat jy so kwansuis voorgooi as goed wat 2000 gelede gebeur het en as waarheid voorhou, soos sonde en kruisdood en jesus, is juis die dinge wat nie sin maak nie, want alle aanduidings is dat dit nooit so gebeur het soos jy dit geleer het nie. Gaan lees bietjie wyer as jou bybel.
      Dit is die probleem met die kerk en kerkmense. Hul wil hulself deur die eeue die reg toe-eien om mense se lewens negatief te beïnvloed, en hulself dan gerieflik daaruit wriemel met woorde soos "vergifnis", en dat hul erken hul het verkeerd opgetree. Wanneer stel hul reg in dieselfde graad as wat hul verkeerd gedoen het?
      Jy sal nooit hoor dat hul verantwoordelikheid neem vir hul besluite/dade nie. Hul wil alles regstel met "vergifnis". Sommige goed vergewe mens nie, maar spreek jy jouself tromp-op uit en stel maatreëls in dat dit nie weer gebeur nie. DIS hoe jy 'n meer ordelike samelewing kry, nie deur niksseggende mooi woorde en gebedjies van vergifnis nie. Dade daarmee saam is al wat wys kerke en kerklikes is werklik jammer vir die onregte wat hulle in die verlede veroorsaak het. Jy vergewe nie deur mense uit te sluit wat net ander seksuele behoeftes het as jy nie. Wat in 'n ander se broek aangaan het niks met jou te doen nie.

  • Die "olifant in die vertrek" is daar geplaas deur mense wat begin dink het hulle weet beter as GOD! Dit is eintlik baie eenvoudig. "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie" (Johannes 1:1-3). As enige iemand glo in die HERE aanvaar jy HY is die SKEPPER. Die Woord is geskryf deur mense maar geïnspireer deur die Heilige Gees. Alles wat die vrou sê "verkeerd" is, is om reguit te sê jy as mens, as 'n skepping van GOD, weet beter as God self. Soos 'n rebelse tiener wat teen sy Vader stry. In plaas van om eindelose gesprekke te voer hoe om die Skrif aan te pas tot 'n sondaar se lewenstyl moet ons liewer bid en bid en bid en leiding vra van die HERE om die Woord vir ons duidelik te maak sodat ons kop maar ook ons harte dit verstaan. Om te sê dat God verkeerd is om die man hoof van die huis te maak vat jul al die liefde, respek en beskerm uit 'n huwelik. Die man en vrou is twee dele wat bymekaar kom, wat mekaar moet komplimenteer. Julle wil 'n puzzle bou met twee stukke wat dieselfde lyk. Met al die aantygings van die vrou vat sy die positiewe en liefdevolle dele wat God vir ons op die aarde probeer gee daaruit en los mense rigtingloos. Dwalende liggame, onseker oor wat reg en verkeerd is wat selfs die Woord van God kan hulle nie meer vertrou nie. Ek hoop sy werk vir haarself ... want of sy dit nou wil glo of nie, sy is 'n slaaf van haar baas. Sy werk volgens ure wat deur hom bepaal word. Sy kry betaling volgens wat hy kan gee. As die baas 'n goeie mens is versorg hy sy "slawe" goed, onderhou hy hulle en beskerm hy hulle. As 'n man 'n goeie man is onderhou hy sy vrou, beskerm haar. As 'n vrou 'n goeie vrou is ondersteun sy haar man, gee hom die vreugde van kinders indien dit die Here se wil is. Net omdat die mensdom gefaal het om God te volg met hoe Hy dit bedoel het beteken nie GOD is verkeerd nie. Dis ONS wat moet verander, moet probeer om beter te wees en vergifnis en leiding vra vir die HERE. Hy is Almagtig, Alwetend. Die Alfa en die Omega. As dit veronderstel is om so te wees hoekom kan 'n man en man of 'n vrou en vrou nie kinders kry nie? En in die Woord word die huwelik ingestel onder 'n man en 'n vrou. Hoekom sou die Here nie dieselfde gedoen het vir dieselfde geslag huwelike as Hy dit goedgekeur het nie? Hoekom sou hy sy Skepping in soveel hartseer wou dompel vir die res van hulle lewens sonder riglyne? Net soos 'n persoon wat die behoefte het om te moor of te steel homself moet keer en vra vir God om hom te verlos teen die behoefte so moet sulke mense ook dit onderdruk. Net omdat die samelewing sê dis reg beteken nie dit is nie. Ek hoop daar is baie mense wat bid vir die NG Kerk se besluite en lidmate, hulle het dit bitter baie nodig. Ek sê niks van bogenoemde omdat ek dink ek is beter as enige iemand anders nie, ek sê dit as 'n Christen wat eenvoudig weet sonder GOD is ek niks en die Woord is omtrent al wat ons nog het in die wêreld om ons te lei tot HY weer kom.

  • Liberale teologie.
    Hierdie teologie het ontstaan toe die Satan in opstand teen God gekom het. Hy was ‘n uitverkore engel, maar hy was nie hiermee tevrede nie. Hy wou oor God heers. Die probleem is egter dat net God die heelal kan beheer en in stand hou. Indien die Satan beheer daarvan sou neem, sou alles vernietig word. Die gevolg was dat Satan en sy engele uit die hemel gegooi is. Maar hulle was nie tevrede om alleen in die poel van vuur en swael te beland nie, hulle wou ander saamneem. Daarom het Satan na die mens gegaan. Hier het sy taktiek ‘n paar goed beplande stappe behels.
    Eerstens het hy God se Woord verdraai. Gen 3:1: En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? Met hierdie stelling het hy sy reputasie dat hy listiger is as al die diere, gestand gedoen. Benewens dat hy ‘n vraagteken oor God se Woord geplaas het, is die implikasie van die stelling dat God liefdeloos is en verder dat die Satan nooit so hard sal wees met die mense nie. As hy in beheer was, kon hulle doen net wat hulle wil. Dit is ware liefde. Nou weet ons wat die gevolg van hierdie ” liefde” van die Satan was. Dit is dat miljoene mense reeds in die hel is.
    Eva antwoord toe dat hulle wel van die ander bome mag eet, maar nie van die boom in die middel van die tuin nie. God het vir hulle gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.
    Nadat hy twyfel oor God en sy Woord gesaai het, kom die Satan met die volgende aanslag. Hy maak God se Woord tot leuen. God se Woord is nie waar nie. Gen 3:4ev: Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie…
    Toe kom hy met die volgende fase, hy plant die begeerte in die vrou om groot te wees, om self ‘n god te wees. Daarom sê hy: ….maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
    Die Satan se modus operandi was dus: Eerstens, opstand teen God; tweedens los hy nie God se Koninkryk uit na die oordeel oor hom uitgespreek is nie, hy wil almal met hom saamneem; derdens gaan hy na die mens, hy maak eers God en sy Woord verdag; vierdens kom hy met die groot aanslag om God se Woord as verkeerd af te maak en terselfdertyd die begeerte in die mens te plant na grootheid. Die mens sou hierna voortdurend streef daarna om self god te wees. Om oor sy en selfs ander se lewens te beskik. So wil die Satan God irrelevant maak. Met hierdie plan het hy die mensdom vernietig. Slegs God se genade kon redding moontlik maak.
    Dit is die agenda wat die liberale teoloë vandag nog volg. Hulle taak word makliker gemaak deur die feit dat die mens na Adam reeds gebore word met die drang in hom om god te wees. Die liberale teoloë is gewoonlik mense wat op ‘n stadium die Here gedien het, maar toe in opstand gekom het teen God omdat Hy nie ingeval het by hul planne nie. God laat hulle nie toe om oor Hom te heers nie. Hy spring nie om elke wens van hulle te vervul nie. Dan is hulle kwaad vir God of glo nie meer dat hy bestaan nie. Hulle verwerp daarom ook sy Woord as ‘n klomp stories of leuens. In plaas daarvan dat hulle dan die eerbare ding doen om die kerk te verlaat, wil hulle soveel mense met hulle saamvat as moontlik. Hulle doen dit baie slim. Hulle sê nie dadelik uit en uit dat die Woord vals is nie. Hulle saai eers twyfel oor God. Kan Hy dan so liefdeloos wees? Is Jesus werklik die Seun van God? Het Hy ons ooit geskep? Het ons nie eerder deur evolusie ontstaan nie? Hulle saai voorts twyfel oor God se Woord. Wat sê die Woord nou eintlik? (Die jare se “studie” wat gedoen is in die kerk oor homoseksualisme is ‘n goeie voorbeeld van hierdie kondisionering om God se Woord te bevraagteken.) Verg die liefde nie dat ons dit wat daar staan anders moet lees nie? “Liefde” beteken volgens hulle dat die woorde van die Bybel so gelees moet word dat dit nie hard is nie. Dit beteken dan uiteindelik dat alles toelaatbaar is.
    Wanneer goedgelowige Christene dan begin twyfel en God se Woord anders begin lees, kom hulle met die volgende fase. Hulle sê uit en uit: God se Woord is verkeerd wat die betrokke saak betref. Dan vat hulle die volgende saak (waarvoor die aanvoorwerk reeds gedoen is) en volg dieselfde prosedure. Wanneer hulle dan vrae laat ontstaan het oor ‘n aantal sake wat in die Woord hanteer word, kom hulle vorendag met dit wat hulle lankal glo: die Bybel is ‘n klomp leuens. En dan die finale aanslag: omdat die Bybel ‘n klomp leuens is, is die afleiding mos: God bestaan nie.
    Die liberale teologie het reeds grootliks sy doel bereik in Europa en Brittanje. Ongeag die wonderlike dinge wat God so honderd en meer jare terug daar gedoen het, vind ons dat dit vandag grootliks sekulêre gemeenskappe is. Hoe ver is die agenda in Suid-Afrika? Die liberale teoloë het reeds vraagtekens geplaas oor Jesus se maagdelike geboorte, sy fisiese opstanding en gevolglik ook sy Godheid. Hulle het reeds gesê dat die Bybel verkeerd is oor die bestaan van Satan. Die Bybel is onrealisties om te verg dat ons die kwaad met die goeie moet oorwin, ons moet onreg eerder bestry en weerstaan (Belhar). Die Bybel is verkeerd oor homoseksualisme. Al wat nou oorbly is om alles saam te vat en te verkondig dat die hele Bybel ‘n klomp leuens is. Voorbrand in die verband is reeds gemaak en dan die finale aanslag om die teologiese konsensus vestig dat God dus ook nie bestaan nie. Al wat dan oorbly vir die “goeie mense” wat nog in die kerk wil bly is om die sosiale evangelie te bevorder. (Die saad daarvoor is ook reeds gesaai in die propaganda rondom Belhar). Hiervolgens is die doel van godsdiens dan bloot om mense te help hier op aarde sonder ‘n werklike ewigheidsperspektief. Wat hartseer is in hierdie hele saak, is dat goedbedoelende Christene in hul onkunde saamgeneem word en gebruik word om hierdie agenda te dryf.
    In die lig van wat hierbo gesê is haal ek net een gedeelte aan om te bewys dat die Bybel die waarheid is. Die patroon om ‘n volk te vernietig, het nie verander nie. Jesaja het deur die krag van die Gees reeds ongeveer 2700 jaar gelede gesê: Jes 56:10 ev: Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam. Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot!
    God sal Hom slegs aan ons persoonlik openbaar indien ons Hom volkome as heerser erken. Slegs Hy het mag om die heelal in stand te hou, ons kan ons dus maar met vrymoedigheid aan Hom onderwerp. Daar is nie ‘n ander moontlikheid nie. George Watson (1845-1923) het gesê: Ons moet onderworpe wees aan God in ons harte, ons wil, ons omgewing, ons humeur, ons maniere, ons moet deur en deur onderworpe wees aan God, so deeglik dat ons buigbaar is tot al sy doelwitte en planne.
    Om so totaal onderworpe te word, is ‘n proses. ‘n Proses waarin ons Hom soek en aanhou soek met ons hele hart, ‘n proses waar Hy reeds voordat ons begin soek het daar was om Hom deur ons te laat vind: Jer 29:13: En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
    Johan Malan

  • Rietha
    Nou wat vir 'n lawaai maak jy hierbo! Waarom Amerikaanse gays in die prentjie inbring wat niks met die onderwerp onder bespreking te doen het nie?
    Terloops, jou aanhaling van my skrywe was aan Johannes Comestor en nie aan jou gerig nie. Hyself sal die konteks verstaan waarin ek dit aan hom gerig het. Ek het per abuis die aanhef uitgelaat.
    Ek het niks teen die NG Kerk of enige ander kerk, ook nie teen Islam nie, solank hulle nie op my of ander se menseregte trap nie. Wat enige kerk of Islam binne hul eie geledere doen, is basies hulle saak, maar dit bly gewoonlik nie daar nie. Dit is juis hulle wat buite eie geledere, op die breër gemeenskap hul stempel wil afdruk, wat tot konflik lei, selfs in jou voorbeeld hierbo van die Amerikaners wat gays nie behoorlik wou bedien het nie.
    Gays is vir eeue lank verdruk, vervolg en self gedood vir hulle seksuele keuses, juis as gevolg van die kerk se optredes. Die Calvinistiese staatskerk in Nederland waarvan die SA NG Kerk afstam, het deur middel van staatsgesag van die afskuwelikste vervolging teenoor gays in die agtiende eeu as voorbeeld toegepas: gays eers half verwurg en dan in 'n wyndrom vol water versuip; half verbrand en dan gehang; oorboord in die see gegooi met 'n kannonbal aan die voete vasgemaak, ens. Hulle was vir elke Nederlandse ramp in die 1730’s deur die kerk aangekla; dyke wat gelek het, beeste wat siek geword het, ens. https://en.wikipedia.org/wiki/Utrecht_sodomy_trials
    Onder die apartheidregime, het die susterkerke geseëvier, nieteenstaande geen godsdiensvryheid nie. Sondae die radio en TV-kanale oordonder; Afrikaners buite die susterkerke, nie dieselfde geleenthede vir bevordering in die staatsdiens en weermag gegun nie. Ek as Afrikaner was daar en het dit persoonlik ondervind. Dominees in die politiek en Broederbond, soos dr Treurnicht, wou hul Calvinistiese tirannie op die breër gemeenskap afdruk met nougesette wysigings tot die drankwet, die vervolging van prostitute en gays deur die ontugpolisie, buitensporige boetes vir die besit van selfs die sagste pornografie, nie nog te praat van die sensorraad wat musiek, films en letterkunde vir die volk besluit het nie. Kan jy nog onthou hoe lank, as gevolg van die NG en susterkerke se toedoen, Afrikaners en die res van die bevolking moes wag voordat TV toegelaat was (1972 toe ander lande dit so vroeg as die laat 1940’s reeds gehad het). Afrikaners het nie gedurf om die NG en susterkerk te weerspreek of te bevraagteken nie, sonder enige persoonlike verliese nie.
    Noudat hulle mag totaal verbreek is en net ’n sektegrootte onder Christene in SA vandag is, (selfs die Roomse-kerk is meertallig), het hulle verval in onderlinge gekibbel oor wat en wat nie toegelaat mag word nie!
    Dit is eintlik lagwekkend hoe hulle steeds hul verbeel hulle het nog ’n missie hier in SA, veral onder Afrikaners wat hulle grootskaals verlaat. Ek verstout my om te sê dat die susterkerke onder Afrikaners binne die volgende 20jr ’n skadu-grootte van sy voormalige meerderheid persentasie onder Afrikaners gaan wees en ek verbly my daaroor.

  • Jaco, baie dinge in die lewe is lagwekkend. Stap net verby. Maak hierdie issues jou nie hel moeg nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top