Daai een dag in April

  • 2

Die digitale seepkis is ’n baie glibberige plekkie om op te staan. Een klein voetfoutjie en jy donder na benede. Dis ’n gevaarlike, magtige kissie. En o, so aanloklik. Hy nooi jou daagliks uit om op hom te kom staan en jou misnoeë oor ’n saak uit te gil, om jou vreugde te deel of om uitgesproke te raak. Dis die mag van die kissie. Maar om ’n sterkbewoorde opinie vanaf dié seepkis, of dit nou Facebook, Twitter, WhatsApp of watter sosiale-media-kanaal jy ook al verkies, te gaan verkondig, is amper net so ’n goeie idee soos om ’n Ford Kuga te koop. Dis net ’n kwessie van tyd voor ietsie in vlamme opgaan. Vra maar vir Helen Zille. Of Penny Sparrow. Of tannie Margaret van Schweizer-Reneke. En laasgenoemde het maar net gehoop vir ’n prettige aandjie saam met haar eggenoot. Nooit sou sy kon raai het dat ’n stoute boodskap wat vir haar man bedoel was, die hele wêreld aan die gons sou hê nie. Nooit sou sy kon geraai het dat haar glipsie haar reputasie aan flarde sou hê nie. En nooit sou sy kon geraai het dat haar Ford Kuga aan die brand sou slaan nie. Om jou balans op dié seepkis te handhaaf, is verdomp moeilik. En sou jy val, is daar gewoonlik ’n bende van internettrolle wat wag om verdere gate in jou argumente te skiet en hulle vrot asems in jou reeds ontsteekte wonde te blaas.

En tog, die paar ongelukkige voorbeelde ten spyt, keer dit ons nie. Ons is mense en ons het ’n stem. Ons wil gehoor word. Ons móét gehoor word. Volgens die Grondwet van ons land is vryheid van uitdrukking, weliswaar met ’n paar stewige beperkings, ons fundamentele reg. “Luister na my! Ek maak ook saak!” En soms wil jy jou opinie lug oor, sê nou maar, die huidige politieke klimaat, die kabinetskommeling, die uitwerking van die kredietafgradering of, sê nou maar, die man in beheer van ons land. Jy wil heimlik hê dié man moet jou hoor. Jy gebruik jou seepkis om te eis dat die magsbeheptheid moet stop. Jy voer ’n balanseertoertjie uit sodat die waansin moet stop. Jy staan wankelrig en kyk hoe die Kuga voor jou oë in vlamme opgaan. En jy gee nie om dat jy moontlik gaan val nie en jy gee nie om dat die internettrolle dink jou opinie is ’n ronde ammunisie werd nie. Maar, helaas, soms is woorde nie meer genoeg nie. Daar is niemand so doof soos die een wat nie wil hoor nie. Veral nie een wat lepellê met korrupsie en misdaad nie en wat nie omgee dat die mense van sy land uitasem staan en skree soos besetenes vir die gekheid om te stop nie. En as woorde nie meer genoeg is nie, moet mens tot aksie oorgaan. En hoe wonderlik dat artikel 17 van die Grondwet, direk na die artikel wat ons mag gebruik om ons stellings te verdedig (sou dit nie die beperkings oorskry nie), ons ook die fundamentele reg gee om wél tot aksie oor te gaan: “Elkeen het die reg om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ’n betooglinie te vorm en petisies voor te lê.”

Dié reg word natuurlik gereeld deur verskeie instansies, werknemers, studente of ongelukkige lede van die samelewing gebruik. As jy sterk genoeg voel oor ’n saak, “gaan vir goud”. Verf jou plakkate, trek jou T-hemp aan (of uit), gaan march, gaan sing, maak jou stem dik saam met jou mede-opstandiges. Dis jou goeie reg.

 

En toe, op 7 April 2017, het derduisende mense van ons land dié reg uitgeoefen. Nasionaal is Suid-Afrikaners gemobiliseer om op die betrokke Vrydag vir ’n verandering saam te staan en te betoog teen die man in beheer. Álle Suid-Afrikaners. Nee, meneer en mevrou Polities Korrek, nie net blankes nie. Nie vír of téén ’n betrokke party, ras of privilegie nie. Nie hieroor of daaroor nie. ’n Grootskaalse protes teen één enkele man wat so geweldig droogmaak dat elke liewe mens in die land deur sy aksies en reaksies geraak word. In groot stede, klein dorpies, langs winkelsentrums, in die strate voor stadsale met plakkate vol slagspreuke, gewaagde woorde en komiese prentjies, het oud en jonk, van letterlik elke kleur en geur, saamgetrek om in dreunsang een boodskap die hemele in te stuur. Zuma must fall.

In Stellenbosch, vir die meeste mense die bakermat van Afrikanerdom en blanke elitisme, het daar twee protesoptogte plaasgevind. Sowaar, ja. Die DA het een van die aksies inisieer, maar die een waarin ek belanggestel het, het vroeër die dag plaasgevind. Aanvanklik was daar slegs vyf mense met plakkate wat op ’n verkeersirkel voor die poskantoor gestaan en opgewerk gelyk het. Ek het ’n entjie verder weg, in dieselfde straat, saam met twee vriendinne by ’n straatkafee gaan ontbyt eet en gehoop dat die groepie mense aangroei. Ek het gehoop dat ek, met my gebreekte toon en op krukke, nie die groepie voltallig sou maak nie. Maar, in eerlikheid, daardie vyf mense was effe haastig. Die oproep tot aksie was ’n uur en ’n half in die toekoms. Ek het eers rustig my Eggs Benedict geëet én dit geniet. ’Skuus, wat sê jy daar van white privilege?

Skuins voor 12:00 hinkepink ek en my vriendinne na daar waar die medegatvolles bymekaarkom. Daar is nie meer net vyf mense nie. Daar is heelwat meer en die getal bly groei. En nee, meneer en mevrou Polities Korrek, daar was nie net blankes nie. Ook nie net rykes of verontregtes van ’n sekere statuur nie. Dit was ’n motley crew van Stellenbossers en ook, weliswaar kortstondig, selfs ’n inwoner uit Ierland. Daar was bekende musikante,* plaaslike sakemanne en selfs ’n befaamde stalwart-joernalis.** Daar was klein kindertjies, ou tannies, black diamonds en gewone mense*** soos ek.

Skuins na 12:00 begin ’n paar manne om die verkeersirkel hardloop. Tyd vir aksie. Tyd om te stap. En die groep mense begin die manne volg. Al met Pleinstraat op. Vuiste in die lug, met swaaiende plakkate en ’n gevoel van afwagting, maar meestal van samehorigheid. Dit dreun deur die strate. Zuma must fall, Zuma must fall, Zuma must fall. Later klink die refrein so gemaklik in jou eie ore dat jy amper begin glo dat dit kan gebeur. Die groep stop vir ’n paar minute voor die stadsaal, maar niemand kan te lank stilstaan nie. Die prosessie beur voort, deur die dorp. Op sypaadjies staan verbaasde toeriste en neem video’s met hulle selfone, locals storm uit winkels en val in om vir ’n paar blokke saam te stap. Restaurantgangers se Eggs Benedict word koud in hulle borde soos hulle meestal glimlaggend die betogers sit en dophou. Vir amper 6 km stap dieselfde manne voor – soos die Pied Piper of Hamelin lei hulle ons deur die strate van ons dorp. En nee, meneer en mevrou Polities Korrek, nie net die blankes se dorp nie, almal s’n. Ook die manne wat voor loop s’n.

Amper ’n uur later stop die prosessie weer voor die stadsaal. En voor almal uitmekaar spat, begin iemand die volkslied sing. Ons land se mense staan vir ’n slag saam. Ons bedoel elke woord. Een doel voor oë, een mens voor oë. Daardie een mens wat nie wil hoor nie, maar wat vir ’n slag moet voel.

Die res van die dag is ek emosioneel. Almal met wie ek na die tyd praat, voel dieselfde. Het die protes gehelp? Ek weet nie; ek glo nie. Sal ek dit weer doen? Beslis. Het ek dit geniet? Meer as wat ek gedink het. Jy durf egter nie hardop sê dit was lekker nie, want dan het jy dit nie reg gedoen nie. Maar weet jy wat, meneer en mevrou Polities Korrek? Kyk hoe val ek van my seepkissie af. Krukke en al.

* Schalk Joubert, musikant:

Vrydag het my laat besef dat daar wel ’n sweempie van hoop is. Nie omdat ek gedink het dat ons klein groepie mense wat aan die optog in Stellenbosch deelgeneem het, enige impak sou maak aan die booswigte in beheer nie, maar omdat ek besef het dat geen politieke party, geen spesifieke ras en geen inkomsteklas ’n voorvereiste hoef te wees vir mense om te kan saamstaan nie. Natuurlik was daar ’n groot persentasie wittes (soos wat jy op Stellenbosch kan verwag ) en daar sal natuurlik kritiek daaroor uitgedeel word, soos "Hoekom nou?" en "Waar was julle toe ...?” Maar dit was ’n stap in die regte rigting. 

 Dalk is die beste ding wat Zuma vir die land gedoen het om ’n gemene vyand te skep. Dit maak nie almal anders vriende nie, maar dit maak dat mense kan saamstaan teen korrupsie en na die hunkering vir goeie en eerlike leierskap. En dit is ’n stap in die regte rigting. En dalk as ons dit het, kan ons stadig maar seker begin vriende maak.

* Luna Paige, musikant:

Ek het al die normale vrae gevra voor ek gaan stap het. Gaan dit werklik ’n verskil maak? Gaan dit nie net ’n klomp bevoorregte mense wees wat stap nie? Hoe verteenwoordigend kan Stellenbosch dan wees? En toe dink ek: weet jy, my stem is geldig – en dit is waaroor die stap gegaan het. En ek het gaan stap. En hoe bly is ek nie dat ek het nie. Verandering begin binne. En binne-in my het verandering plaasgevind. Ek het besef hoe ongemaklik ek daarmee is om my eie stem dik te maak, om hardop te skree in die straat, om my eie stem te hoor skree vir iets waarin ek glo – en dit nogal in die openbaar. Dit was bevrydend. En daar was honderde ander mense wat dit saam met my gedoen het. Vanuit ’n verskeidenheid walks of life. Dit het my iets geleer oor politieke deelname. Protesaksies soos hierdie is maar bloot een manier van betoog. En ek sal dit weer en weer en weer doen. Omdat ek glo dat my stem ook gehoor kan word – net soos elke ander lidmaat van ons wonderlike samelewing. 

** Martie Retief Meiring, joernalis:

Dis vir my opvallend dat protes die beste in mense wys. So baie mense, jonk, oud, swart, bruin en wit vreemdelinge wat saampraat. 

Dit was ook interessant dat bekende sakelui deelgeneem het.

En selfs die driejarige Blanca Erichsen het haar handjie in haar stootwaentjie gelig in solidariteit. Hierdie soort energie mag na pret lyk, maar inderwaarheid is die bindingskrag van vreedsame protes voelbaar sterk. Ek dink daar sal stellig meer sulke protesoptogte plaasvind, wat in sigself ’n sterk sosiopolitieke boodskap uitstuur.

*** Jana Derksen, inwoner van Stellenbosch:

Ek is geneig tot depressie en die junk status het my tot in my siel geaffekteer. Die situasie in die land maak my bang. Ek het egter aan die optog gaan deelneem net om my ma en vriendin te ondersteun, want ek het nie gedink dit gaan ’n verskil maak nie. Maar toe ek daar opdaag, was daar ou tannies, ’n swanger vrou en selfs kinders, en toe kry ek die gevoel dat dit ’n vreedsame, dog kleurvolle en diverse optog gaan wees. Daar was ’n gevoel van samehorigheid en ek het nie gevoel dat een politieke party oorheers nie. Dit was amper nie eers polities nie, dit was amper asof almal hulle persoonlike griewe teen die President wou lug omdat almal hom blameer vir wat skeefloop – die junk status, die manier waarop die arm mense so uitgebuit word, die korrupsie en die hele manier waarop die land wanbestuur word.

 

Foto's van tweede betoging:

  

Foto's en video in die artikel van die eerste betoging op 7 April,  Stellenbosch: Naomi Bruwer

Foto's van die tweede betoging op 7 April, Stellenbosch: Gerrit Rautenbach

Lees ook:

Suid-Afrika sê dankie, Msholozi

Bettina Wyngaard
Rubrieke

"Meer as een kommentator het Zuma se bewind vergelyk met ’n huwelik waar geweld en misbruik aan die orde van die dag is. Op 7 April het gewone Suid-Afrikaners hul voorneme om ’n egskeidingsbevel te verkry, aangekondig."

  • 2

Kommentaar

  • Ons is reeds vriende! Ons het reeds hande gevat ... vir jare al. Daar is net ’n paar wat altyd die rassekaart, apartheid of iets dergeliks wil uitruk. Nee meneer, nee mevrou, Suid-Afrika se mense is lankal een volk en een nasie ... ons wil al jare terug styf hande vat. Dis net ’n paar wat altyd tussenin wil kom met haatspraak.

  • Ons is regtig gatvol van die Zupta-gemors wat in die land aangaan. Ek soek die ANC van Mandela, Sisulu, Tambo en Luthuli.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top