Cyril vs Jacob ronde 1

  • 0

Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa (Foto's: Youtube)

Die eerste vergadering van die nuutverkose NUK van die ANC is agter die rug, en dit was – soos die Engelse sou sê – “not so much a bang as a whimper”.

Dié wat gemeen het Cyril gaan sy troefkaart reg aan die begin speel deur die kwessie van Zuma se herroeping te opper en tot ’n stem te dwing, is vandag diep teleurgesteld.

Dis in elk geval onrealistiese verwagtinge. Ramaphosa het nie gekom waar hy is deur voortydig op te tree nie. Hy het stilgebly toe daar eintlik van hom verwag was om standpunt in te neem met die staatskapingverslag, met die Nkandla-situasie, met die Khwezi-situasie, met elke ander Zuma-krisis waar hy nie doodseker was dat hy die oorhand het nie. Sy meerderheid in die NUK is nie so verseker dat hy nou reeds sy kaarte wil laat wys nie. Hoekom sou hy, wanneer hy so na aan die prys van president van die land is? Bygesê, vir sover dit wel nog steeds ’n prys is, nadat Zuma al die glinster en respek en gesag en status van die posisie vernietig het.

Agter die skerms is daar seer sekerlik alreeds verwoede gesprekke en onderhandelinge aan die gang, nuwe alliansies wat gevorm word, ou alliansies wat herbeding word en isolasie van geharde Zuma-lojaliste. Business as usual, met ander woorde. Nie dat Zuma sonder sy eie stel truuks is nie. Hy is goed bewus daarvan dat sy versuim om die aanbevelings in die staatskapingverslag te implementeer, gebruik word as een van die redes hoekom hy herroep moet word. Strategies dus dat hy die aand voordat die NUK vergader (en betyds vir die hoofnuusbulletin) die samestelling van die kommissie en die aanstelling van regter Zondo as voorsittende beampte, aangewys deur hoofregter Mogoeng, aankondig. Effektief het dit een van die beste pyle in die “Herroep Zuma”-kamp se koker gebreek.

Die komitee wat nuwe reëls moet saamstel om ’n president in ’n staat van beskuldiging te plaas, het ook vroeg reeds vasgeval in wat al hoe meer soos haarklowery begin lyk. Haarklowery wat tot Zuma se voordeel strek, bygesê. Indien ek ’n fabel moes skryf hieroor, sou dit iets soos die resies tussen die slak en die skilpad moet wees. Wie gaan eerste oor die wenstreep wees: die einde van Zuma se presidentskap, of die voltooiing van ’n stel reëls wat al die partye ewe ongelukkig maak?

Suid-Afrika is ’n skaakbord, met Zuma en Ramaphosa wat as die twee skaakmeesters hulle stukke versigtig in posisie skuif. Die begaafdheid van ’n Kasparov of ’n Fischer het hulle nie, maar die gewilligheid om pionne prys te gee as deel van ’n breër strategie wel. Ramaphosa het ’n beeld om te handhaaf as die ridder wat ons van rommelstatus sal verlos. Dit beteken dat daar beperkinge is op wat hy kan doen, en watter stukke hy kan prysgee. Enige oorhaastige skuif wat hy op hierdie stadium maak, kan sy legitimiteit negatief beïnvloed. Zuma, aan die ander kant, het niks om te verloor nie. Sy reputasie is aan flarde, en tensy hy radikale stappe doen, wag uitgerekte hofsake en potensiële gevangenisstraf op hom. Hy het dus amper nie ander ’n keuse as om pionne prys te gee nie. In praktiese terme beteken dit waarskynlik dat ons ons lendene moet omgord vir ’n middernagtelike kabinetskommeling in die nie te verre toekoms nie. Natuurlik is hy by magte om Cyril uit te skommel, alhoewel dit waarskynlik heelparty wat hom nou nog ondersteun, se wrewel op die hals sal haal. Op hierdie stadium is Zuma egter in oorlewingsmodus en kan dit beskou as ’n klein genoeg prys om te betaal.

Van die twee is Zuma beslis die meer ervare, en die meer geslepe, politikus. Daar was die afgelope ruk, na die verkiesing in Desember, heelwat gewag gemaak van Ramaphosa se genadelose, pragmatiese streep. Zuma is egter geoefend daarin om met genadelose pragmatiese politici af te reken.

Dit mag dalk lyk asof Zuma met sy rug teen die muur is, maar dis juis dan wanneer hy op sy gevaarlikste is. Kom ons hoop net dat Ramaphosa nie te lank wag voordat hy sy volgende skuif maak nie.

Kom ons hoop sy skuif is nie om te wag vir 2019 om te kom en vir sy probleme om ’n natuurlike dood te sterf nie. Ons verdien beter. Ons verdien om te sien hoedat geregtigheid geskied. Ons verdien om te sien hoedat korrupsie gestraf word. Ons verdien om te sien hoedat daar op bates beslag gelê en geld in die fiskus gestort word om die mense van Suid-Afrika te help.

Ons verdien beter as ’n onderhandelde politieke skikking.

Maar tensy Ramaphosa sy stukke hierdie jaar in posisie kry, is dit presies wat ons gaan kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top