Credo van ʼn kritikus

  • 0

I

In By van 20 deser skryf die filosoof Johann Rossouw oor Charl-Pierre Naudé se onlangse essay in By waarop Leti Kleyn op dieselfde dag as Rossouw reageer. Ook op hierdie dag skryf ek ’n stuk oor Naudé se kommentaar ("Bastille-dag roer onder ons voete").

Naudé maak tersaaklike punte oor die bedryf in die algemeen, maar hy beskuldig my van onetiese gedrag, onder andere omdat ek twee keer ’n koerantresensie oor Ronelda S Kamfer se digbundel geskryf het.

Ek was egter so ekstaties oor die boek dat ek twee verskillende resensies geskryf het en niks verhoed ’n kritiese leser om op ’n blog te reageer of op LitNet nie.

My vraag is egter: As Naudé dit het oor my "onetiese" optrede, val die soeklig sterk op hom. Veral sy bespreking van Ilse van Staden se jongste bundel het kommentaar ontlok oor die voorskriftelikheid van sy bespreking. (Oor die opmerking dat die voorblad ’n fossiel is en nie ’n klipmuur nie, sou ’n mens kon redekawel. Dit lyk vir my ook soos ’n klipmuur. Maar nouja: my hart is van klip.)

’n Bespreking is niks meer, niks minder as ’n eerste reaksie nie. Dit is nie op kliptafels geskryf nie en geen resensent kan ’n boek of skrywer doodmaak nie.

Vele literatore wil nie resensies skryf nie, omdat die polemiek wat dit mag ontlok, mense steur. Uit my jare lange ervaring weet ek: selfs ’n positiewe resensie mag iemand kwaad maak. Iewers gaan jy iemand steur: die uitgewer, die skrywer, die leser, die koerantredakteur, die sub, die skrywer se oupa, of wie ook al.

Dit is dus, as ons JHH van den Berg se metabletika in ag neem, relevant om te bepaal waarom daar nou ’n uitbarsting is oor die rol van die kritikus.

En hoekom is dit (maar altyd) dieselfde resensente wat skryf of resenseer?

En waarom resenseer ’n mens? Dikwels teen onmenslike spertye, met woordbeperkings (800 woorde) en dan ’n tsoenami van verdagmakery of kritiek?

My credo as resensent is kortliks soos volg:

Ek resenseer om op die hoogte te bly van wat binne die Afrikaanse letterkunde verskyn, en die skryf van ’n bespreking is ’n régime waarbinne ek myself dwing om ’n boek te lees. Hierna behandel ek ’n digbundel met my kreatieweskryfwerk-studente, en ’n tweede reaksie waarin jy erken dat jou eerste lesing dalk ’n oor-/onderskatting van die teks was, mag gepubliseer word. Daarna volg essays/artikels.

Ek het ’n vinnige persoonlikheid. "Less is more" is nie my credo nie. Ook nie "more or less" nie. Eerder "the more the merrier"! En as mense van my verskil - wat dikwels gebeur - gun ek hulle ’n reaksie.

Polemiek is in elk geval veel, veel beter as ’n dawerende stilte.

’n Mens mag byvoorbeeld vrae vra oor ’n kritikus se voorskriftelikheid - soos dat klassieke vorme uit die oude doos is - of oor persoonlike verbintenisse. As jy ’n vyand afskiet, skiet jy jouself in die voet tensy jy kan bewys dat die boek jou nie aanpraat nie. Ek hou van baie skrywers, maar nie van hulle boeke nie. Ek is knaks vir sekere mense - maar sal die eerste wees om hul boeke goed te praat.

Daar is nie iets soos ’n objektiewe resensie nie. ’n Mens skryf altyd uit jou verwysingsveld, jou lewensuitkyk, jou persoonlike filosofie, jou liefde vir boeke, jou weersin in baantjies vir boeties en koekies vir sustertjies, of wat ook al.

II

Johann Rossouw skryf dikwels relevante artikels in By. In sy stuk "Die keur van onaansienlikes" skryf hy oor die bedenklike toestand van die Afrikaanse resensiekunde. Vreeslose beswaddering is glo een van die kenmerke van die selfgenoegsame middelmatigheid wat tans in ons land heers. Groot woorde.

Hy som Naudé se standpunte soos volg op:

• die gebrek aan uiteenlopende standpunte
• die verbrokkelende samelewingsorde
• die gebrek aan respek vir die publiek
• die ondervergoeding van openbare intellektuele skryfwerk
• die kwaal van openbare napratery
• die vrees vir bombastiese, oorproduktiewe intellektuele.

Op al hierdie aantygings sou ’n mens kon skryf: as jy die bedryf wil verander, moet jy deelneem. Dis hoe eenvoudig dit is. En as die toon of aard van ’n resensie jou nie aanstaan nie, skryf terug. En dis hier waar Rossouw ea hulself vaspraat: As daar nie resensies is nie, wat dan? As daar te veel is, blyk dit ook verkeerd te wees. Die tyd sal in iedere geval die kaf van die koring skei.

Gaan Rossouw se argument nog op oor die elite se magsbasis? Is dit nie juis tekenend van ’n postmoderne era dat almal stemhebbend geword het nie? Kyk na blogs, kyk na LitNet.

Vir Rossouw is daar ’n versugting na die elite, die voortreflike elite. Ek haal hom aan:

Elites word dikwels met argwaan, selfs vyandigheid bejeën. Maar as sodanig is elites nie sleg nie; trouens, elites is broodnodig. 'n Elite kan gedefinieer word as 'n beperkte groep wat hulle met meer energie en bronne as die meeste mense op 'n saak toelê om iets uitsonderliks te skep.

Die voortreflike elite het daarom sy uitsonderlike posisie aan sy voortreflike produkte te danke. In so 'n geval kan ons van 'n aristokratiese elite praat.
Ongelukkig kan dit soms gebeur dat 'n elite slegs onderskei word deur die feit dat dit 'n kleiner groep is wat hulle met meer energie en bronne as die meeste toelê op 'n saak sónder dat hulle iets voortrefliks skep.

Dikwels is so 'n elite se posisie eerder te danke aan 'n magstruktuur as enigiets anders: Om jou posisie in die magstruktuur te behou hang dan van die dien van die magsbelange af, in plaas van om die waarheid of die uitsonderlike na te jaag. In so 'n geval kan ons van 'n elitistiese elite praat, oftewel 'n elite wat meer op sigself en magshandhawing as die belange van die breër publiek ingestel is.

Vanweë verskillende redes het Suid-Afrika ongelukkig hope elitistiese elites, en bitter min aristokratiese elites.

Dié redes sluit in die hoë konsentrasie van ekonomiese bronne in min hande; die gesentraliseerde kommunikasiestelsel in die land (in die hande van die staat en die korporatiewe sektor); die gebrekkige demokrasie in die land; en die besonder groot gaping tussen bevoorregtes en uitgeslotenes.

Laasgenoemde manifesteer meesal as 'n totale gebrek aan respek waarmee die bevoorregtes die uitgeslotenes hanteer.

In die Afrikaanse geesteslewe, soos wat bevoorregting onder al hoe groter druk geplaas word, het die elites al hoe meer eiegerig geraak en word al hoe minder voortreflike dinge geproduseer.

En nou kan ek met groot stelligheid op laasgenoemde stelling reageer: snert en nogmaals snert. Daar word steeds uitsonderlike en knap boeke in Afrikaans gepubliseer. En ’n letterkunde moet die kleiner boeke akkommodeer sodat die groter tekste hieruit kan put.

Ek neem aan die voortreflike stuk filosofie is die boek Nihilisme.

Hier is dit egter die werk van die boekeredakteur om die boek by resensente te kry, nie die funksie van die resensent om die uitgewer se bemarking te hanteer nie.

En so ’n teks sal in elk geval op die regte tyd en plek sorgvuldig behandel word.

Dagblaaie is boektentoonstellings.

? Eerste reaksie. ‘n Tweede reaksie. Beslis beter as GEEN reaksie.

Hierop kan mense reageer.

Maar jy gaan nooit, maar nooit dit presteer om ’n resensie te skryf wat almal behaag nie. ’n Mededigter mag jou verdag maak of ’n filosoof mag die bedryf as onvoldoende uitwys. Of ’n leser daar doer vér mag dink jy skryf te veel of gebruik te veel geleerde woorde.

En wat vir ’n ding is die metabletika, wou u vra? Die ontoevallige-toevallige samehang tussen dinge.

En wanneer mede-intellektuele/kollegas stilstuipe kry oor resensies, wil ons vra: Hoekom dra julle nie by tot die gesprek nie? Dan word dit dalk ’n aristokratiese ideaal. En dan praat filosowe nie net met hulleself en skryf resensente net vir hul studente nie.

En moenie wanneer jy in die openbaar polemiseer, kwetsende e-posse rondstuur of aaklige boodskappe op fone laat nie. In ’n tegnologiese era versprei dit soos ’n virus.

Jy moet net wanneer jy resenseer, sorg dat jy geléés word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top