Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir film 2017 – Al wat ek weet, Marita van der Vyver

  • 0

Kyknet-RapportBoekpryse600

In die gees van die boek:

Dis ’n ou-ou storie wat ek nou gaan vertel

van ’n beautiful girl met ’n spierwit vel …

Jy ken haar van kleins af, kom ons noem haar Snow White

sy’s mooi soos ’n prinses en boonop bright

haar mense is ryk, sy woon in ’n paleis

met ’n security gate, ja, daai soort huis

Aan die woord is  Gabriel, hoofkarakter in Marita van der Vyver se eietydse jeugroman, Al wat ek weet, ’n straatwys boek wat getuig van diepgaande insig, nie net in die leefwêreld van tieners nie, maar in die onversuikerde werklikhede waarmee jonk én oud te kampe kry in ons bestaan op die ondermaanse.

In post-Apartheid Suid-Afrika kom dié tienerseun van gemengde afkoms vroeg te staan voor groot struikelblokke in die lewe,  ’n moeder wat sterf in ’n tragiese ongeluk, die gebrek aan kommunikasie met sy eens slimme pa wat hy eendag in ’n huilende bondeltjie onder sy lessenaar aantref. Endemiese rassisme.

Sonder rigtingwysers voer Gabriel ’n stryd met woede, met min-verstaan, en dan, eendag, uit die bloute, nogal by sy terapeut se praktyk, ook met ontluikende liefde. Die Snow White van sy drome. Hoe vind hy sy weg? Belangriker nog: Hoe vind hy sy stem? Daardie Eureka!-oomblik wanneer dinge veronderstel is om vir jou in plek te val?

Gabriel ontdek dit uiteindelik in sy eie komposisies van  rap songs, ’n genre wat hom toelaat om sy woede om te sit in woorde, een wat hom die moed gee om op ’n verhoog te klim en sy diepste wese aan ’n gehoor te ontbloot:

Jy sê ek lyk vir jou bruin

Ek sê hey no pain no gain

Jy sê ek is taamlik swart

Ek sê nee net so ’n kwart

Jy sê is ek dan ’n Boer?

Ek sê: Ag vlieg in jou moer

Die reaksie van ’n gehoor op ’n kunstenaar se werk is die magiese oomblik waarin “kuns” geskep word, en wanneer ’n kunstenaar sy reg op bestaan ontdek. In Gabriel se geval ook ’n rede om die lewe vierkant in die oë te kyk.  

Dit alles met die ligte, vaardige hand van Marita van der Vyver aan die stuur in ’n verhaal wat smeek om verfilm te word. Dink – nét vir ’n oomblik – aan die nuwe Afrikaanse treffers wat hierdie film gaan oplewer – die eerste volwaardige HipHop-fliek in Afrikaans!

Video: Commendatio deur Herman Binge en dankwoord deur Marita van der Vyver.

Lees ook:

Lees Naomi Meyer se onderhoud met Marita van der Vyver.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top