Commendatio: kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2017 – Huilboek, Ryk Hattingh

  • 0

Kyknet-RapportBoekpryse600

Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is ’n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self  ’n uitdrukking word van ’n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ’n liefdesbrief van ver af, sonder adres.

Die onheelbare pyn van ’n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.

Daar is die deurlopende metafore van tuinmaak en fisieke pyn, wat albei tog wel by ’n troospunt uitkom. Tuinmaak, deur die onmiddellike genoegdoening daarvan maar veral die plant van bome met hul gestadigde ontplooiing en uitgestelde bevrediging. En die kniebesering wat hom in sy heling nie laat aanjaag nie, maar tog na ’n brose verbetering neig. Dit is net deur groot geduld en eintlik deur lydsaamheid dat die kniebesering verduurbaar met die lewe van  die skrywer geïntegreer kan word – wat ’n beeld skep vir die modus van lewe wat nodig is om met die ander, groter breuke van die bestaan saam te leef.

Een van die groot deugde van die boek is hoe sy onderwerpe nie direk nie maar sydelings, indirek in die loep gebring word – waarvan een van die vernaamste instansies Outa Toon is. Die verteller eerbiedig die (vir hom) onuitspreeklikheid van hierdie mens se lewe in so ’n mate dat hy dit nie eens deur sy verbeelding wil aantas om vertelling daarvan te maak nie.

Die boek hou sonder uitsondering ’n fyn balans, ’n subtiliteit van segging, ’n beskeie toon en algehele gebrek aan selfkoestering. So word dit nooit swaartillend nie, en die ligte, deernisvolle humor weerhou dit geheel en al van selfbejammering. En ondanks die feit dat emosie nêrens getap word nie, getuig menige resensent en  leser dit is een van die emosioneel aangrypendste boeke wat hulle in ’n lang tyd gelees het.

Soos Hy kom met die skoenlappers van Valda Jansen, die wenboek van vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys, presteer Huilboek deur sy sagkense behandeling van groot dinge, die manier waarop hy persoonlike pyn uiteindelik, sonder politieke grandstandery, vestig in die konteks van ’n hele land se trauma.

Huilboek is ’n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ’n minimum aan woorde en vertoon  – ’n waardige wenner van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Video: Elmari Rautenbach lewer die commendatio

Lees ook:

Lees Reinhardt Fourie se resensie en Naomi Meyer se onderhoud met Ryk Hattingh.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top