Coffee Snobs: "Dis redelik onwaarskynlik dat ’n band uit Groblersdal voortspruit"

  • 5

Die vierstuk-rockgroep Coffee Snobs het pas hul debuutalbum, Storm, vrygestel. Vernette Snob, voorvrou van dié groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Vernette. Hoe's dinge?

Ek sit met ’n lekker koppie koffie in die hand, so dinge kan net goed wees!

coffeeweb1

Geluk met Coffee Snobs se debuutvrystelling, Storm, wat onlangs die lig gesien het. Te oordeel aan die enkele gedeeltes wat aanlyn geluister kan word, het daar baie moeite ingegaan nie net in die liedskepping nie, maar ook in die "arrangements" en die instrumentwerk wat ingespan is. Met watter mikpunte het julle die skep van die album benader, en in watter mate dink jy is dié mikpunte bereik? Hoe voel jy oor die album, noudat hy uit is, en hoe is die reaksie daarop tot dusver?

Ons het ’n volle nege maande lank aan hierdie album gewerk en daar was tye wat dit gevoel het of ons nooit gaan klaar kry nie! Dit was harde werk, veral omdat ons al die instrumentele werk self gedoen het, maar ek dink dis juis hoekom dit so vervullend was – omdat ons self kreatief betrokke was met elke aspek van die album – elkeen van ons het idees gegee en nuwe goed probeer op ons instrumente en dus ook baie gegroei in die proses. Ons mikpunt was om die beste moontlike album te maak wat ons kon en met baie genade en hulp van bo dink ek ons het dit reggekry!

Tot dusver is die reaksie op die album baie positief. "Eie land" was die eerste single van die album wat vrygestel is en hierdie liedjie was dadelik ’n treffer. Dit is gebruik as die amptelike Afrikaanse liedjie vir die Joburg2c-bergfietsren en hy was en is nog steeds op verskeie stasies se Top 20 en het selfs ’n draai op nr 1 gemaak!

Jy het vroeër as solomusikant (onder jou eie naam, Vernette) ook musiek opgeneem en uitgereik. Nou is jy die voorvrou van die volle band – wat het tot dié skuif gelei? Wat is vir jou moeiliker daaraan om met die volle band te werk as alleen, en wat is lekkerder? Hoe vind jy die dinamiek en gedeelde verantwoordelikheid, of hoe werk dié dinge in Coffee Snobs?

Ek dink die skuif het gekom toe ek en Marius, wat die baskitaarspeler is, getrou het. Ons het van die begin af besluit dat ons saam musiek wil maak, dit is ons al twee se droom en passie en ons wil dit deel met mekaar. Met die volle band is dit net soveel lekkerder, veral wanneer ons optree. Dis mos nou baie makliker om saam met drie ander op die verhoog te staan as wat jy dit alleen moet doen, en dit skep net ’n ander atmosfeer. Dis vir seker moeiliker ook, want mens moet baie harder oefen om regtig tight te wees, en ons is ook vier uiteenlopende persoonlikhede wat moet saamwerk en mekaar se geite moet verdra! Gelukkig is daar net een vrou in die band ... 😉

Spesifiek die snit "Eie land" kry goeie aftrek tot dusver – in ’n video-onderhoud op YouTube noem jy (en ander lede van die band) hoe belangrik die skep van liedjies met substansie, oftewel diepgaande elemente, vir julle is. Dink jy meer betekenisvolle liedjies – as ’n mens dit so wil noem – is iets waaraan daar op die oomblik in die hoofstroom ’n tekort is? Skenk mense te min aandag aan lirieke, of wat is jou filosofie hieroor? Hoe werk die liedjieskryfproses in Coffee Snobs, en hoe weet julle wanneer ’n liedjie wérk?

Ek weet nie of daar noodwendig ’n tekort daaraan is nie, maar dit moet net meer gespeel word! Ek kry die idee dat al hoe meer mense ’n behoefte het aan musiek met substansie. Maar daar is ’n plek vir beide diep en ligte musiek, dit hang maar af van elke ou se persoonlike smaak en voorkeur, en natuurlik ook in watter bui mens is. Met die album Storm het ons probeer om ’n goeie balans te handhaaf tussen die twee, maar selfs met die ligter liedjies is dit vir ons belangrik dat die lirieke betekenisvol moet wees en dit mense positief moet beïnvloed.

Wat Coffee Snobs aanbetref skryf ek hoofsaaklik die liedjies en dan sal ons almal insette lewer met die verwerking daarvan. Daar is ook ’n paar liedjies op die album wat ons nog nooit voorheen gespeel het nie, maar sommer die verwerking in die studio gedoen het – "Eie land" was een van hierdie!

Coffee Snobs maak musiek in beide Afrikaans en Engels. Is daar ’n spesifieke denkrigting agter dié benadering, in terme van markte wat betree kan word en so aan, of is dit bloot ’n geval van verskillende soorte genot wat uit die verskillende tale geput word? In watter taal is dit vir jou makliker of lekkerder om te skryf of op te tree? Hoe belangrik is dit vir ’n opkomende band soos julle om vaardig te wees in albei? Dink jy Coffee Snobs sal voorts in albei tale aanhou werk, of hoe sien jy jul plek in die toneel wat dit betref?

Almal in die band is Afrikaanssprekend en ons is ongelooflik trots op en lief vir ons taal, maar ons wil graag soveel as moontlik mense met ons musiek bereik en daarom wou ons ons nie beperk tot slegs Afrikaans of slegs Engels nie.

Wanneer ek ’n liedjie skryf is dit gewoonlik die melodie wat eerste kom en dan skryf ek lirieke wat daarby pas. Ek kan “hoor” of ’n liedjie Engels of Afrikaans moet wees – wat die beste gaan werk vir die spesifieke melodie. My eerste liefde is vir seker Afrikaans, maar dit is vir my ’n groter uitdaging om in Afrikaans te skryf – die Engelse woordeskat is soveel groter, wat dit makliker maak, want daar is net meer woorde wat dieselfde betekenis het waarmee jy kan rondspeel. Met Storm is die helfte van die liedjies Afrikaans en helfte Engels – dit is ons debuutalbum, so ons sal kyk hoe mense reageer en watter liedjies die beste doen, maar ek dink tog ons sal altyd musiek maak in beide tale.

Volgens die biografie op Coffee Snobs se Facebook-blad skryf jy en Marius nie net vir Coffee Snobs liedjies nie, maar het julle ook al vir groot name soos Laurika Rauch en Jakkie Louw liedjies geskryf. Hoe besluit jy wanneer jy eerder self ’n lied wat jy geskryf het wil opneem en wanneer jy dit vir iemand anders beskikbaar stel, of is dit ’n geval van spesifieke liedjies skryf met spesifieke kunstenaars in gedagte? Hoe voel dit as ’n mens ’n lied wat jy geskryf het op die radio hoor, in iemand anders se stem? Hoe beskou jy die ideale balans hierrondom vir jouself, en ook vir liedjieskrywers/sangers in die breër sin?

Party liedjies is baie na aan ’n mens se hart, veral as dit voortgespruit het uit ’n baie persoonlike ervaring, soos in die geval van "Die storm". Daardie liedjies wil ek self sing, want dis nie net ’n liedjie nie, maar my eie storie wat vertel word. Maar partykeer skryf mens ’n liedjie wat jy net weet vir iemand gaan werk en dan deel ek dit graag, veral as dit iemand is soos Laurika Rauch is, na wie ek so opkyk en absoluut as my rolmodel beskou. Dit was ’n ongelooflike oomblik toe ek haar die eerste keer my liedjie hoor sing!

Ek dink ook mens moet weet of jy ’n liedjieskrywer, ’n liedjievertolker of beide is. Nie almal wat goeie skrywers is, is noodwendig goed op ’n verhoog nie, en party mense kan glad nie liedjies skryf nie, maar het ’n gawe om liedjies te vertolk. As jy goed is in beide, dan moet mens maar mooi kies watter liedjies jy vir jouself wil hou en watter jy vir ander kunstenaars wil aanbied, want goeie liedjies is skaars en kosbaar!

Coffee Snobs het bymekaargekom en is gebaseer in Groblersdal, Limpopo. Ek's seker jy sal nie aanstoot neem as ek opmerk dat Groblersdal nie juis bekend staan as vrugbare teelaarde vir nuwe bands, of ’n metropool vol goeie venues en geleenthede nie ... Hoe moeilik is dit om die band-dinge te volhou in ’n plek waar ’n mens meestal ver sal moet ry om te gig? Of is dié situasie juis tot jul voordeel? Het julle ’n spesifieke strategie in posisie wat dit betref? Watter raad sou jy hê vir ander musikante in die kleiner plekke wat ’n musiekloopbaan wil begin?

Ja-nee, dis redelik onwaarskynlik dat ’n band uit Groblersdal voortspruit, maar ek glo in ons geval het die Here al vier van ons op verskillende maniere hier laat beland sodat ons paaie kon kruis en ons saam kon begin musiek maak. Wat geleenthede aanbetref is dit seker moeiliker, want soos jy tereg sê moet ons baie keer ver ry vir gigs, maar ek kan eerlikwaar sê dat ek nou baie meer optree as toe ek in Pretoria of Johannesburg gewoon het! Dit gaan nie oor waar jy bly nie, maar oor hoe hard jy soek na geleenthede, want in hierdie bedryf moet mens jou eie geleenthede skep. Dit is ook baie lekker om dit vanaf ’n klein dorpie te doen – die gemeenskap ondersteun ons ongelooflik baie en staan bankvas agter ons en sonder hulle sou ons nie gewees het waar ons nou is nie.

As lid van Coffee Snobs en as solokunstenaar het jy nou al ’n hele spul diverse ervaringe agter die rug ... Enige spesifieke gebeure of oomblikke wat uitstaan as hoogtepunte? Enige vreemde ervarings agter die skerms, of gebeure wat jy eintlik wil vergeet in dié verband?

Daar is ’n hele paar hoogtepunte! Soos ek reeds genoem het, was dit vir my ’n wonderlike voorreg toe Laurika Rauch my liedjie "Bly nog so bietjie" opgeneem het en dit is vir seker ’n hoogtepunt. Dan is daar ook twee liedjies van Coffee Snobs wat in die film ’n Man soos my pa gebruik word, wat juis hierdie week bekendgestel word by die Silwerskermfees. Ons is baie opgewonde hieroor, want ek dink dit gaan een van die beste Afrikaanse films van die jaar wees en ons is baie bevoorreg om deel daarvan te wees! En dan is Storm ’n hoogtepunt! Ek is so trots op die gehalte van die album, ek dink regtig die produksie is op ’n baie hoë standaard en elkeen in die band het fantastiese werk gedoen.

Daar is maar altyd snaakse goed wat gebeur en mens moet vir jouself kan lag, veral as jy op stage is! Ek is nie toevallig blond nie en dit kom maar gereeld deur! Een van die goed wat ek gereeld regkry is om my kop teen die mike te stamp, veral as ek nou lekker begin sing en my oë toemaak!

Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou as musikant en vir Coffee Snobs in, in so ver jy dit kan beheer?

coffeeweb2

Dis altyd ’n moeilike vraag om te beantwoord, want ons toekoms is nie in ons eie hande nie. Ons glo en vertrou die Here sal ons lei op ons pad vorentoe, ons wil net graag in sy wil wees en doen waarvoor Hy ons geroep en gemaak het. Ons is opgewonde om te sien wat die toekoms inhou!

Wat is die sin van die lewe?

In die eerste plek om jou Skepper te ontmoet en te leer ken en dan uit te vind waarvoor Hy jou gemaak het en dit na te streef en uit te leef tot eer van sy naam. Ek glo dit is al hoe mens ooit ’n vervulde lewe kan lei.

  • 5

Kommentaar

  • Johan van Zyl

    Ek het "Storm" die eerste keer op Radio Tygerberg gehoor en dadelik was ek mal daaroor. Ek het toe nie geweet wie dit sing nie. Die tweede keer het ek fyn geluister wie die pragtige lied sing, EN toe julle ontdek! Behalwe vir julle diep lirieke is ek mal oor die unieke klank wat julle voortbring. Dis nie hierdie doef doef musiek met die woord baby my baby in die lirieke nie. Die vorige band met ’n unieke klank was die Melktert Kommissie. Ongelukkig sing hulle nie meer nie. Ek was dadelik ’n fan van julle en ek glo soos Vinette gesê het: die Here sal julle lei." Eie Land" het my soos n kind laat huil. Gaan voort om lirieke en musiek van hierdie gehalte te produseer en mag die Here julle bestuurder wees op julle persoonlike en musikale pad vorentoe. Laastens watter liedjie het julle vir Jakkie Louw geskryf? As ek mag raai was dit "Een miljoen woorde" want julle klank kom duidelik deur in die liedjie. Mag ons nog sommer baie van julle hoor. Groete Johan van Zyl

  • Willem van der Merwe

    Hallo
    Ek wil graag 'n koffiewinkel oopmaak. Weet iemand by julle wat sê die wet ivm die gebruik van poësie bv 'n gedig van Wilna Stockenström teen die muur vas te lê. Iis daar soos in musiek 'n "royalty" wat betaal moet word, of moet ek die direkte toestemming van die digter aanvra.
    As u onmiddellik die antwoord ken, laat my asseblief weet, andersins sal ek verdere huiswerk doen.
    Groete
    Willem van der Merwe

  • Ek het nie woorde oor die Album wat uit is nie. Dit is ongelooflik goed. Toe ek Gordonsbaai hoor was ek in trane, ek het dadelik gaan kyk, maar kon nie die album kry nie, nou sal ek hom verseker aanskaf. Hou so aan met hierdie tipe musiek, want dit praat met jou siel.

  • Johan van Zyl

    Ek is so bly dat julle jul deurbraak gemaak het, of anders gestel dat julle nou die erkenning kry wat julle dubbel en dwars verdien. Sedert 2016 het ek al geweet julle gaan dit nog ver bring. Vinette, soos jy in 2016 gese het die Here het julle gelei. Veels geluk, en ons weet die Here is besig om julle verder op julle pad te te lei. Nou gaan ons baie meer van julle hoor!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top