Marthinus Basson het macbeth.slapeloos vir vanjaar se Clover Aardklop verwerk. Daar is bloed, 'n opstand, 'n verbrokkelende huwelik en 'n vrou wat slaapwandelend deur die kasteel se gange dwaal.
Naomi Meyer het vir Marthinus Basson gevra oor hierdie "koorsdroom van ’n produksie wat die temas om liefde, mag, eie gewin en goedgelowigheid oopvlek".
Hallo Marthinus, ek sien op vanjaar se Clover Aardklopprogram word jou verwerking van Macbeth, macbeth.slapeloos, as een van die belangrike produksies uitgesonder. Kan jy die heel eerste keer onthou wat jy Macbeth gesien of gelees het? Hoe oud was jy en wat was jou indrukke?
Die eerste Macbeth was die een wat ek self gedoen het vir die Grahamstad-fees in 1987, daarna 'n baie goeie een deur 'n Britse regisseur vir die destydse KRUIK, en ook natuurlik die verfilmde weergawe van Polanski. Die Grahamstad-een was Shakespeare's Macbeth van die Oos-Duitse skrywer Heiner Müller. Daarna het ek die Shakespeare gedoen in die omtrek van 1994–5.
Toe jy die stuk herinterpreteer het, het jy seker geweldig baie tyd met die oorspronklike teks spandeer. As ek na die opsomming van die stuk kyk, lyk dit vir my of julle baie getrou aan die oorspronklike storie gebly het. Of is ek verkeerd? Wat het jy probeer eners hou en wat het jy probeer verander?
Die aanpassing spruit uit die gesneuwelde volle produksie wat Aardklop van die grond probeer kry het. As gevolg van werksdruk sou ons sekere aspekte van die produksie in my halfjaar-universiteitsvakansie moes afhandel. 'n Week voor ek met die Macbeths en die hekse en 'n gevegskoreograaf sou begin werk het, het die befondsing deur die mat geval. Daar was vir my 'n begroting en 'n aanbod dat ek enigiets anders daarmee kon doen. Die twee hoofakteurs, Dawid Minnaar en Anna-Mart van der Merwe, het reeds hulle woorde onder die knie gehad en ek het dus uit 'n verantwoordelikheidsbesef besluit om 'n stuk om hulle te laat groei.
Wat het jou laat besluit om in ’n veeldimensionele dramateks soos die oorspronklike Macbeth die aspek van slapeloosheid uit te sonder?
Daar is baie verwysings na slaap – dat slaap drome wek, maar ook jou ontneem word uit skuld en gewetenswroegings. Wat Macbeth as karakter opwindend maak, is dat hy 'n soldaat is wat doodmaak as werk tot voordeel van ander, maar genoeg gewete ontwikkel wanneer hy 'n persoon se lewe neem vir eie gewin. Hy word 'n digter-filosoof wat sy huiswerk doen wat sy dade betref. Ons het in die tien dae tekswerk gedoen, 'n raam om die twee geskep en gefokus op die aspekte van slaap en droom. Droom van glorie, droom van mag, droom oor wat kon wees, die feit dat Macbeth net na die moord nie meer kan slaap nie en die gepaardgaande versteurings wat daaruit spruit, terwyl Vrou Macbeth in 'n slaapstaat verval, natuurlik 'n teken van diep depressie. Dus is alle ander rolle gefiltreer deur hulle persepsie van die persone, en doeblerings is gebruik op 'n manier wat die twee karakters soms so verwarrend vind as wat die gehoor mag. Die res van die rolverdeling is tot 'n groot mate gebruiksartikels in die proses na 'n reis van insig.
Shakespeare kom uit die tydperk van die Engelse Renaissance, ’n era toe die hele samelewing anders gewerk het. Moord was aan die orde van die dag. Of is my woorde nou ironies – het die samelewing en die mens hoegenaamd deur die eeue verander en is die boodskap van Macbeth dus iets anders as toe dit geskryf is?
Vir iemand wat dit geniet om Juvenal te lees is dit duidelik dat net tegnologie ontwikkel, die mens nie. Dus spreek stukke soos Macbeth baie duidelik tot alle generasies deur die eeue. Maar ek lees in Time dat Yoko Ono glo dat ons as mensdom verbeter. Hmmmm ...? Aartsoptimis.
Wat ís die boodskap van Macbeth, en wat is die boodskap van macbeth.slapeloos?
Ek bied nie antwoorde nie, maar hoop dat daar genoeg idees is vir 'n gehoor om self te dink daaroor.
Ek sit en kyk na ’n YouTube-video van jou gesprek oor die toneelstuk X + Y vroeër vanjaar. Dis vir my duidelik dat al die akteurs dink dis ’n ongelooflike ervaring om saam met jou te werk – dat jy anders na die lewe kyk. Ek vra jou net oor die herinterpretasie van Macbeth, maar is dit ’n manier van leef: herinterpreteer jy elke dag die lewe? Of doen jy dit doelbewus met toneelstukke?
Ek lewe 'n baie eenvoudige lewe sonder veel opwinding. Goddank ek is 'n oorlog gespaar. My tuin is 'n plesier. Die teater is 'n wonderlike, maar veral veilige, plek waar ons deur verlede en toekoms, hemel en aarde, groot filosofie en klein pyn kan reis, groei deur die ervaring van ander te betree en bloedloos kan huis toe loop en dankbaar voel om 'n klein lewe te lei met goddank geen oorlog wat ons nog getref het nie en 'n tuin wat mens plesier gee.
Waarna wil jy self vanjaar by Aardklop gaan kyk – of wat wil jy graag in die omgewing doen?
Daar is bitter baie wat ek graag sou wou sien, vriende wat ek sou wou ondersteun, maar ek weet dat feesdruk jou ook vuisvoos laat en min lus vir al die hoeha. Astrovillas, waar ons tuisgaan, het 'n groot verskeidenheid Suid-Afrikaanse voëls. Ek neem my verkyker en kamera saam.
macbeth.slapeloos
Met Dawid Minnaar, Anna-Mart van der Merwe, Jana Cilliers, Antoinette Kellermann, Stian Bam, Charlton George, Ludwig Binge, Edwin van der Walt en Senzo Madikane.
Lokaal: Sanlam Ouditorium | Duur: 120 min | Ouderdom: Geen o/16: T/S/N/G | |
Taal: Afr. | Prys: R 120.00 |
24/9/2013 - 9:00 | 25/9/2013 - 14:00 | 26/9/2013 - 20:00 | 27/9/2013 - 9:00 |
28/9/2013 - 14:30 |