Chris Karsten (1947–)

  • 0

Gebore en getoë

Chris Karsten is op 9 November 1947 op Morgenzon in Mpumalanga (destyds Oos-Transvaal) gebore, waar hy ook grootgeword het.

Chris vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 22 Maart 2016) dat hy van kindsbeen af lief was vir lees. Hy het baie gelees, maar dit was eers toe hy op hoërskool was dat hy tot die besef gekom het dat sy liefde vir lees nou saamhang met sy liefde vir sy taal, Afrikaans, en dat hy graag sou wou stories skryf.

Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout op Bethal (ook in Mpumalanga).

Verdere studie en werk

Chris is na skool na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1970 ’n BA-graad verwerf met Afrikaans-Nederlands en sielkunde as hoofvakke.

Hy begin in 1971 sy joernalistieke loopbaan as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein. Die dagblad Beeld is in 1974 gestig en Chris word na Johannesburg verplaas waar hy in die redaksie van Beeld dien en mettertyd as hoofsubredakteur aangestel word. Hy is later terug na Bloemfontein as hoofsubredakteur en ook Nasionale Koerante se verteenwoordiger in Zimbabwe. Terselfdertyd is hy ook hoof van Die Volksblad se tuiskoerante en doen hy ook verslag oor gebeurlikhede in die parlement. Hy word aangestel as nuusredakteur, asook lid van Volksblad se redaksie.

Op 1 Junie 1987 word hy aangestel as nuusredakteur by Rapport en is hy ook lid van die hoofredaksie aldaar. Hy word later bevorder tot senior adjunkdirekteur. As gevolg van die posisies wat hy beklee het, het hy die wêreld vol gereis om verslag oor nuusgebeure te doen. Terwyl hy in Johannesburg gewerk het, het hy en sy vrou, Simone, en hulle drie seuns, Christoff, Eric en Udo, in Westdene in Johannesburg gewoon. Christoff is in ’n motorongeluk oorlede.

Ná Chris se aftrede het hulle na George in die Suid-Kaap verhuis, waar hy steeds burohoof van Rapport was. Simone is in Kanada gebore en het as kind na Suid-Afrika gekom. In 2010 besluit die Karsten-gesin om na Kanada te emigreer, en Chris, Simone en een seun gaan vestig hulle in Lunenburg in Nova Scotia, ongeveer 80 km van Halifax. Hulle het aanvanklik in Halifax in ’n woonstel gewoon net om hulle voete daar te vind. Hulle het egter van die begin af geweet hulle sal nie in die stad bly nie, aangesien Chris in Johannesburg genoeg van die stad ondervind het.

Die dorpie is deel van ’n Unesco-wêrelderfenisgebied, vertel Chris aan Maryke Roberts op LitNet. “Op ons huis is ’n bordjie wat meld dat die huis in 1883 gebou is en in ons beskermde hawe vang die plaaslike inwoners vis vir ’n inkomste. Daar woon 3 000 mense en ons is omring van woude.”

Dit het die Karstens nie lank geneem om vriende in Kanada te maak nie, aangesien mense daar “maklik kom koffie drink”, vertel Chris aan Roberts. “Ek het iewers raakgelees dat Kanadese naas Italianers die meeste koffie in die wêreld drink.”

Kanada voel nou al asof dit sy tuiste is, maar die verlange na sy familie en vriende is maar altyd daar, en dit wond nie minder nie. “Mens mis Afrikaans, want jy hoor dit maar min. Daar was onlangs groot opgewondenheid toe ons nuwe Suid-Afrikaners in ons dorp verwelkom het. Ek het ook al amper verleer om skaapvleis te eet, omdat jy dit nie in Kanada kry nie.”

In Kanada word alles in winters gemeet. Omdat die winters daar so ysig is, is jy gedwing om meer huisvas te raak, en vir ’n skrywer is dit natuurlik die ideale toestand omdat hy al daardie ure agter sy rekenaar kan deurbring.

Ná presies sewe jaar en een week in Nova Scotia keer Chris Karsten terug na Suid-Afrika en vestig hom in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap.

Voordat Chris se eerste boek gepubliseer is, verskyn daar etlike kortverhale van hom in tydskrifte.

Sy eerste boek, ’n jeugboek getiteld Floris Sapiens, verskyn in 1985 by Tafelberg. Dit is bekroon met die Sanlam-prys vir jeuglektuur (silwer) en vertel die storie van ’n groepie oermense (Neander, Sapiens, Ples, Cro Magnon, Saldanna, Java en Peking) se omswerwinge in Afrika. Terselfdertyd word daar ook vertel van die komeet Proxi C wat teen ’n groot spoed op pad is na die aarde en uiteindelik die aarde en alle lewe daarop uitwis.

Die titel van die boek kan teruggeneem word na die opgrawings naby Florisbad in die Vrystaat. In Rapport van 14 Desember 1997 skryf Marina le Roux dat die kinders deur hulle omswerwinge te doen kry “met oorlewing, liefde en oorlog wat oortuigend teen die agtergrond van die oertyd geskets word binne ’n kontemporêre perspektief op selfstandigheid en individualiteit.”

’n Volle 12 jaar verloop voor die publikasie van Chris se volgende boek in 1997. Dit is weer ’n jeugboek, met die titel Die jokkie wat met perde kon praat. Stephanie Nieuwoudt skryf in Beeld (9 Desember 1997) dat dit verfrissend was om ’n jeugboek onder hande te neem waarin die kinders almal deel is van ’n huisgesin wat baie geheg is aan mekaar en ook gelukkig is. Daar word nie in hierdie jeugboek gewroeg oor jongmense wat sukkel met probleme soos ouers wat aan drank verslaaf is of dwelms nie.

Chris erken dat hy nie ’n boek wou skryf waarin die karakters “wroeg” nie. “Ek wou skryf oor verhoudings: die verhouding tussen ’n kind en sy pa, ’n kind en sy ma, ’n kind en diere. In dié geval is die diere perde. Dalk is dit effens romanties-idealisties, maar ek dink tog daar is wel gesinne waarin mens gelukkig is.”

Die jokkie vertel van Billy en sy familie, sy pa en sy ma, en dan ook die storie van Letsie. Billy se pa het Letsie se lewe iewers in Lesotho gered nadat sy perd vir iets geskrik en hy ernstige beserings opgedoen het. Onder meer kan hy nie praat nie. Hy word deel van die familie en toe Billy se pa die droomperd Pegasus aanskaf, word Letsie ’n jokkie van hoogstaande gehalte. Hy en Pegasus vorm ’n formidabele kombinasie. Alles verloop egter nie so vlot nie, veral wanneer die “wedrenboef” Mannie en sy trawante opdaag net voor die derby waarin Pegasus en Letsie moet ry.

Marina le Roux (Rapport, 14 Desember 1997) vind Die jokkie wat met perde kon praat ’n heerlike storie met ongekompliseerde en spontane verhoudings. En al is van die gebeure voorspelbaar, slaag Karsten daarin om die leser “mee te voer met ’n gewillige ‘suspension of disbelief’ (...)”

Die tempo waarteen die storie vertel word, is vinnig, met ’n opwindende klimaks en ’n bevredigende afloop. Al is die verhaal nie perfek nie, is dit ’n storie wat gelees sal word.

Vir George Weideman (RSG, 8 Februarie 1998) is dit duidelik dat dit vir die skrywer ’n genot was om die karakters in Die jokkie te skep. “Die intrige is knap uitgewerk, hoewel dit nie buitengewone speurvernuf van die jong leser sal verg om agter die uiteindelike kap van die byl te kom nie.”

Vanaf 2007 verskyn daar uit Chris se pen ’n reeks van ses boeke met die oorkoepelende titel Ware misdaad. Die titels wat in die reeks uitgegee is, is Opspraak deur moord: Suid-Afrikaanse doodslag skok (2007), Riller in die raaisel: onopgeloste Suid-Afrikaanse misdade (2007), Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof (2009), Dodelik vroue: wanneer passie in bloed eindig (2009), Boos en bisar: wrede Suid-Afrikaanse misdade met ’n kinkel (2009), en Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade (2009). Die eerste vier is ook in Engels uitgegee.
Ook in 2007 verskyn Frats by Human & Rousseau. In 2008 verower Chris met Frats die eerste van sy ATKV-Prosa-pryse. Dit is ’n historiese roman wat op die lewe van Sarah Baartman gebaseer is. Sarah was die Khoi-Khoi-vrou wat in die 1800’s na Europa geneem is waar sy as ’n “frats” tentoongestel is en deur wetenskaplikes bestudeer is.
Die hooffiguur in Frats is ene Khoena en vir Jaybee Roux was dit ’n slim truuk van Karsten om ’n fiktiewe storie rondom die ondervindinge van ’n geskiedkundige persoon te bou: “[S]ó kon Karsten voordeel trek uit die belangstelling wat daar steeds in Baartman heers, maar sy kreatiewe vryheid behou.”
Vir Roux is Frats ’n uiters leesbare en toeganklike roman, “maar nooit sonder eerbied aan die geskiedkundige waarhede waarop die boek gebaseer is nie. Die sterk, gestroopte vertelstyl onderstreep die skrywer se agtergrond as joernalis, en tóg is die boek soveel meer as blote verslaggewing: dis meevoerend, eg en inderdaad met gevoel en deernis geskryf.”
Op LitNet skryf Petra Müller: “In Frats het Chris Karsten die waagmoedige ding gedoen om op die spore van Saartjie Baartman se lewe ’n werklik aangrypende roman te konstrueer waarin haar gevoelslewe as objekgeworde vrou-mens die hartklop van die boek word. En wat ’n hartklop het die boek nie!”
Op “Crime Beat” vertel Chris aan Mike Nicol dat hy sy beroep as joernalis begin het as ’n hofverslaggewer. Die wetlike prosedures, vanaf die speurders tot die forensiese deskundiges tot by die denke en motiverings van die misdadigers, het hom gefassineer. En nadat hy 60 Suid-Afrikaanse moorde nagevors het, het hy tot die slotsom gekom dat ons almal, al kom ’n mens “normaal” voor, oor daardie dun lyn tussen reg en verkeerd kan stap.

Nadat Chris daardie 60 aaklige en somtyds bisarre sake herleef het in sy navorsing en in sy skryfwerk, was hy emosioneel heeltemal gedreineer. Hy het in daardie Ware misdaad-boeke probeer om so objektief as moontlik te wees en ook die misdadigers uit te beeld as mense met gewone emosies. Hy het ook besluit om in sy volgende werke die vryheid te hê om sy eie karakters met hulle eie emosies en motiverings te skep.

Chris het dit as volg aan Mike Nicol verduidelik: “Truman Capote once said while writing In Cold Blood: ‘Journalism always moves along on a horizontal plane, telling a story, while fiction – good fiction – moves vertically, taking you deeper and deeper into character and events.’ But In Cold Blood deals with characters and events from real life and Capote was ‘fenced in by the barbed wire of fact’. Shifting from true crime to fiction I wanted to be able to move my stories more vertically and create characters and situations from my imagination free from those boundaries of fact.”

Nadat Chris hierdie ware-misdaad-verhale geskryf het, het hy hom na iets heel anders gewend. Human & Rousseau het hom genader om ’n biografie oor die Suid-Afrikaanse aktrise Charlize Theron te skryf. Dit is in 2009 gepubliseer onder die titel Charlize: Ek leef my droom en is ook in Engelse vertaal.

Hy sou verkies het om minstens twee jaar vir so ’n projek te gehad het, maar hy moes dit binne tien maande voltooi, insluitende sy besoek aan Los Angeles. Hy vertel aan Marida Fitzpatrick (Beeld, 6 Junie 2009) dat dit nie soseer ’n verligting was om so ’n tipe boek te skryf na die misdaadverhale nie. Maar “eerder ’n kopskuif van gru tot glans. En glans is tog die landskap van ons samelewing.

“Die doen en late in die glanswêreld van Hollywood is vir baie mense ook obseen. En aap hulle nie maar meermale die lewe na nie? Is die storie van Monster, waarvoor [Charlize] met ’n Oscar beloon is, nie net so grusaam as enige van die Suid-Afrikaanse moorde in die misdaadboeke nie?”

Wat die skryf van hierdie biografie moeilik gemaak het, is die feit dat Charlize geweier het om deel te hê aan die projek. Chris het pogings aangewend om deur haar bestuurder ’n onderhoud met haar te voer, maar ten spyte van al sy e-posse aan haar was al sy probeerslae tevergeefs. “Dit was dus ’n yslike uitdaging om sonder haar samewerking en beskerm deur ’n byna ondeurdringbare posse van hoeders, agter haar sluier in te kom. In al my gesprekke met haar familie en vriende en uit haar onderhoude met joernaliste het ek na die mens Charlize gesoek; wat sy dink, hoe sy leef, en deur hulle oë en monde kom hierdie private beeld uit.”

Ná die misdaadreeks en die biografie oor Charlize Theron kom Chris met ’n verrassing, naamlik ’n lekker stewige riller, getiteld Seisoen van sonde, wat in 2009 uitgegee is. Dit is in 2010 bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir spanningsromans.

Die hoofkarakters is Wim van die Suid-Kaap wat met skoenlappers boer; ’n jong en kreupel vriend van Wim, Portis, en Molly, ’n patoloog. Die moordenaar is Jack, wat sy werk doen in opdrag van Minos, wat eintlik die skurk in die verhaal is. Later spruit dit duidelik uit die storie dat ’n geheime regeringsprojek uit die tyd van apartheid, Antinor, ook ’n rol in die moorde het.

Vir Chris is Jack ook ’n slagoffer en nie net ’n koelbloedige moordenaar nie: “Dit sou te maklik en verkeerd wees om ’n komplekse, misdadige persoonlikheid soos Jack bloot te herlei tot mishandeling as kind. Jack is ’n instrument in die hande van mense wat in ’n vorige era die kuns van beheer en manipulasie van die hele Suid-Afrikaanse samelewing byna vervolmaak het,” vertel Chris aan Corné Coetzee.

In Seisoen van sonde word ’n groot verskeidenheid verwysings by die verhaal ingeweef. Oor hoe hy dit regkry om kop te hou om al die drade bymekaar te hou, lig Karsten vir Coetzee in: “Ek doen my plotting rondom karakters van vlees en bloed, met menslike vrese, hoop en swakhede – sonder ’n heldkarikatuur wat in ’n enkele finale klimaks alle boosdoeners en onregte opruim. In die vertelling van ’n storie moet mense se eiesoortige belangstellings en hebbelikhede uiteindelik op mekaar begin inspeel. En dit verg baie beplanning en herskryfwerk, veral in ’n krimi-skryfsel wat mens- pleks van plotgedrewe is.”

Van die verwysings wat die meesterbrein agter die moorde gebruik, stam uit Dante se La Divina Commedia. Daar is ook ander raakpunt in Seisoen van sonde met die Commedia, vertel Chris. “Die morele verwarring waarmee Dante se pelgrimstog begin – deur die hel in die eerste gedeelte van sy Commedia – het vir my goed te pas gekom as allegoriese kapstok vir al my karakters se sondes, straf en boetedoening.

“Maar in al drie sy dele is die geheel ’n epiese gedig oor liefde, vergifnis en goedheid. En is dit nie waarna ons as individue elke dag streef nie, is dit nie waarna die land kollektief smag ná al die verwarring en hel nie?”

Seisoen se agtergrond is die hede, en die mense wat vermoor word het almal een of ander verbintenis met aaklige dade wat gedurende die apartheidsjare gepleeg is. Maar Chris sê self hy wil nie in sy roman persoonlike kommentaar op iets of iemand lewer nie. “Ek skryf ’n fiktiewe storie met vratte van die werklikheid. Die karakters in die boek moet op hul eie getakseer word en is nie my buiksprekerpoppe nie.”

In Beeld van 5 Oktober 2009 skryf Jaybee Roux dat Chris se taalgebruik soms subtiel is, soms robuus, “maar elke woord boei en van mooiskrywery is daar nie sprake nie. (...) Karsten se gestroopte aanslag kan toegeskryf word aan sy joernalistieke agtergrond. So ook sy ‘nuk’ om deurgaans die Show, don’t tell-reël te verbreek. Min dinge is so bevredigend soos ’n skrywer wat waarde tot sy verhaal voeg juis deur een van die grondreëls van sy ambag op sy kop te keer.

“Karsten het die magiese vermoë om lesers aan die hart te gryp deur ’n doelbewuste afstand tussen leser en skrywer te handhaaf. (...) Hegte storielyne wat vernuftig ineengevleg word, karakters wat oortuig, foutlose navorsing, veelvlakkigheid (selfs die omslagontwerp is in die kol). Om hierdie boek gering te skat of ongemerk by jou verby te laat gaan, is die hemel hoor my, ’n sonde wat geen regverdige god ongestraf sal laat bly nie.”

In Rapport Boeke (4 Oktober 2009) het ook Kerneels Breytenbach komplimente vir Seisoen van sonde gehad: “Karsten orkestreer sy feite soos ’n groot dirigent. Jy besef gou dat hy ontsaglik baie navorsing gedoen het om hierdie verhaal te kon skryf – oor die geskiedenis, die geologie en geografie, oor die plant- en dierkunde van Suider-Afrika. Sy mensekennis is groot, soos mens gou agterkom. Die vernuf waarmee hy Dante se Divina Commedia as rigsnoer gebruik, is grotendeels die fondament van hierdie kragtoer van ’n speurverhaal.”

In 2010 tref Abel Lotz die Afrikaanse literêre misdaadtoneel. Abel se ontwaking is die eerste van die trilogie. Abel is ’n versamelaar van diere-artefakte en toe hy 50 jaar oud word, besluit hy om sy repertoire uit te brei na menslike artefakte, meer spesifiek die menslike vel. En so begin sy moordveldtog. Abel se ontwaking word bekroon met beide die ATKV-prosaprys en die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur in 2011.

Chris vertel aan Mike Nicol dat hy gefassineer is deur die gekompliseerde en verwronge geestestoestand van reeksmoordenaars. In werklikheid is baie van hulle hoogs intelligent, maar almal van hulle is bedrieglik en dit is eienskappe wat vir die skrywer van fiksie wonderlike uitdagings bied. Chris verduidelik verder aan Nicol: “In most serial killings the motives remain opaque because their own minds are so deranged and unfathomable. Are these psychopaths born with short-circuited genes, or are they products of their upbringing? The old debate between nature and nurture. I’m more interested in this human condition or mental state of my characters than in the bloody and gory tally of corpses in their wake.”

Die saadjie vir die ontstaan van Abel kan teruggevoer word na die film Psycho. Hierdie film is gegrond op die geval van Ed Gein, ’n alleenloper. Toe ’n vrou wegraak, het die polisie haar in hulle soektog in Gein se plaashuis gekry waar sy aan ’n vleishaak gehang het – oopgeslag, en hy het al haar vel begin afsny. In die huis het die polisie heelwat items gekry wat met mensvel oorgetrek is. Gein het nie al die vroue doodgemaak nie, maar het lyke opgegrawe en hulle velle afgesny om stoele en lampskerms mee oor te trek. Hy is net aan een moord skuldig bevind, vertel Chris aan Phyllis Green in Sarie.

Die speurder in Abel se ontwaking is die jong Ella Neser, wie se eerste moord as ondersoekbeampte dié van Mia Vermooren is. Haar lyk is in ’n park gevind. Kort voor lank is daar ’n tweede moord voor Ella Neser se deur.

Vir Nico Geldenhuys (Beeld, 19 Julie 2010) kry Karsten dit reg “om ’n speurverhaal aanmekaar te weef wat toeganklik en uiters boeiend is. Aan die begin van die roman is die hoofstukke lekker kort en kragtig. Dan, namate die leser by die verhaal ingetrek word, raak die vertelling meer omvattend en kompleks sodat daar selfs ’n paar draaie in Kanada gemaak word, sowel as terugflitse na die Anglo-Boereoorlog.”

Geldenhuys is veral beïndruk met Karsten se karakterisering. Hy beskik oor die kuns om besonderhede op so ’n manier te gebruik dat die leser die karakters se persoonlikheid daaruit kan leer ken, sonder dat dit in woorde gesê hoef te word. Abel se ontwaking is vir Geldenhuys ’n indrukwekkende roman met karakters wat die leser vasgenael sal laat sit.

In 2015 is Abel se ontwaking verwerk tot ’n draaiboek deur Johnny Breedt, ’n kunsregisseur wat aan films soos Paljas en Hotel Rwanda gewerk het. Hy het die boek op ’n vliegtuig gelees en kon dit nie neersit nie. Hy wou met die maak van die fliek, wat onder die titel Ontwaking vrygestel is, iets in Afrikaans doen wat nie normaalweg gedoen word nie en die kyker na plekke toe vat wat hy nie normaalweg sou wou sien nie, vertel Breedt aan Charles Sieberhagen.

Gys de Villiers, Paul Eilers en Armand Aucamp is van die akteurs wat in die film te sien is. Vir Chris was dit ’n hoogtepunt om te sien hoe sy denkbeeldige karakters werklikheid word en dis des te beter as die omskepping deur so ’n bedrewe vakman soos Johnny Breedt gedoen word.

In 2011 verskyn die tweede deel van die Abel-trilogie, Abel se lot, en in 2012 die laaste deel, getiteld Die afreis van Abel Lotz. Al drie die boeke is deur Elsa Silke in Engels vertaal. Die Engelse vertaling van Die afreis van Abel Lotz onder die titel Face-off was in 2015 op die kortlys van die Herman Charles Bosman-prys.

In Abel se lot is daar ook meer as een storielyn, iets wat deurgetrek kan word tot by die derde deel. Vir Cilliers van der Berg (Beeld, 21 Augustus 2011) is Abel se lot “(uit) eie reg werklik ’n goedgeskrewe spanningsverhaal wat sy sout werd is”.

Oor die derde deel skryf Madri Victor in ZuidAfrika dat Die afreis op tegniese gebied meesterlik is. “Min skrywers kan soveel komplekse verhaallyne, die magdom fokalisators en gereelde spronge tussen ruimtes met die vernuf en gemak van Karsten saamweef en bemeester. Hy is met reg een van die top krimi-skrywers in Afrikaans.”

Nadat Ella Neser uiteindelik gesorg het dat Abel Lotz ter ruste gelê kon word, het Chris se pen gelukkig nie stil geword nie. In 2013 verskyn ’n Man van min belang, wat in 2012 die tweede prys verower het in NB-uitgewers se Groot Roman-wedstryd.

In hulle commendatio oor ’n Man van belang sê Louise Viljoen, Willie Burger en Linda Rodedat dit ’n “verhaal is wat die grense van die spanningsroman uitdagend en vernuwend oorskry. Bowenal is dit een wat met menslikheid geskryf is.”

JB Roux skryf in Beeld van 29 April 2013 dat die verhaal van ’n Man van min belang “begin aan die einde van ’n seun Luca Thom se speurtog na en hereniging met sy doodgewaande pa en sentreer rondom die opsporing en identifisering van die beendere van vermoorde politieke aktiviste gedurende apartheid. Wanneer die oorskot van vier mense in die Langkloof gevind word, soek die joernalis Luther en die struggle-veteraan Mosman na antwoorde. Mosman is nou direkteur van ’n obskure intelligensie-afdeling wat gemoeid is met die uitken van die oorskot van diegene wat tydens apartheid verdwyn het.”

Maar Mosman kon nog nie sy struggle-ervarings verwerk nie en hy wil nog altyd vergelding vind teen sy vorige vyande. Mosman en Luther vind hulle weg na Luca Thom, Eddie Thom, die polisieberader se seun, en die oudaktrise Carlira Rosati.

Ook Chris se volgende roman, Die respektabele meneer Hartslief (2014), word baie goed ontvang en is op die kortlys vir die kykNET-Rapport-prys in die filmkategorie vir 2015. Elie Hartslief is die respektabele meneer van die titel. Elie, sy broer Basie en susters Lottie en Poppie word deur hulle antie Hartslief in ’n armoedige huisie in Brixton grootgemaak. Saam met hulle bly die Lerms: Boela die blokman, Moks die gay kok en Sampie, die klein mens.

Elie bly later in Sandton en werk vir ’n beleggingsmaatskappy. Hy is ook getroud met die baas se dogter, Wanda. Dan word Basie, Elie se broer, vermoor en sy koplose lyk word in ’n sloot gevind nadat hy betrokke geraak het by Stella, minnares van die nagklubeienaar Bogdan Petrescu. Die familie besluit om self ondersoek in te stel nadat dit duidelik word dat die polisie, by name luitenant Kosile, nie veel moeite gaan doen om agter die kap van die byl te kom nie.

Op haar blog skryf Joan Hambidge as volg oor Meneer Hartslief: “Hierdie roman het ’n besondere positiewe ontvangs beleef. Veral die skrywer se besondere taalvermoë is uitgesonder. Vir my is die mees uitstaande aspek van hierdie roman die nougesette navorsing: oor die saks (en die geskiedenis van die instrument); cuisine (96); klere (onder andere pasjmina vesels, 169); kuberboelies en forensiese oudits.

“Die impak van moderne tegnologie en hoe foto’s iemand se privaatheid binnedring, word uitstekend beskryf. (...) Ook die familiestruktuur word insigryk beskryf (soos op bladsy 70). (...)

“By die lees van hierdie komplekse misdaadroman, Die respektabele meneer Hartslief, is die leser bewus van Karsten se enorme kennis en insig in die gemoedslewe van ’n psigopaat, naamlik die huurmoordenaar, Lood wat Bogdan Petrescu se bevele uitvoer. Op ’n besondere wyse word Elie Hartslief se forensiese ondersoek na bedrog en geldwassery onthul.”

In Chris se volgende roman, Die verdwyning van Billy Katz (2015), is die speurder wat vir Abel gejaag het, Ella Neser, weer op die toneel. Hier is die onwettige handel in ledemate die tema waarom alles draai. Ella het fisiek en emosioneel nog nie heeltemal herstel van haar konfrontasie met Abel nie. En die ontdekking in die slottoneel van Die afreis van Abel Lotz, vier linkervoete in ’n Checkerssak, sit die hele ondersoek in Billy Katz aan die gang.

Chris vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 12 November 2014) dat daar nie iets spesifieks gebeur het wat aanleiding gegee het tot die skryf van Billy Katz nie. “Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend. Die gebeure in hierdie storie rondom die voete en die geheimsinnige verdwyning van die rykmanseun en rokjagter Billy Katz, is net die gom wat al die uiteenlopende karakters op die een of ander manier aan mekaar bind.”

Hy het ook besluit dat Ella Neser nou reg sal wees om die geval van die Checkerssak met die ledemate in te ondersoek. “En hoe sy dit gaan hanteer as sy onverwags hulp kry van ’n aantreklike oudspeurder, ’n regte dwarstrekker wat destyds gewond uit die Bosoorlog gekom het, verslaaf aan beetsap en sampioene (veral die soort wat bekend is as magic mushrooms). Boonop het ek ’n goeie skoot werklikheid uit ons onlangse geskiedenis hierby ingemeng om die konteks van die verhaal aktueel te maak. Soos in al my vorige boeke is hier weer ’n klompie ‘kleurryke’ karakters wat die storie dryf – soos die ma en haar twee dogters in wie se hande niemand graag sal wil beland nie, en die arme tonglose man wat al amper 50 jaar steeds net Purity-babakos kan eet.”

Soos Chris se getroue lesers al aan gewoond geraak het, is daar ook in Billy Katz twee storielyne: een wat in die hede afspeel en een wat in 1994 afspeel met die oudspeurder, Lou Pepler, en Billy Katz wat skoonveld is. Pepler is die gom wat die twee lyne saambind.

En weer is daar allerhande “snaakse” karakters: die Pottas-gesin met Mona, haar twee dogters, Vera en Heidi, en haar grootmaakseun, Rakker, wat hulle in die veld opgetel het nadat sy tong uitgesny is vir moeti.

Deborah Steinmair skryf in Rapport (18 Oktober 2015): “Soos Ella en elke held in misdaadromans word die arme Lou Pep­ler gereeld papgeslaan, vasgebind en tot kort duskant die hiernamaals gemartel. Daar is volop skop, skiet en donder en boosheid wat broei. En in die middel is die beskadigde, broos en moerige Ella Neser, ’n sterk vrou wat haarself en ander red.

“Dis ’n boek wat hom eenvoudig nie laat neersit nie. Karsten is ’n woordsmid en storiewewer. Karakters is skerp geteken en die dialoog oortuig. Dis ’n knap roman uit die pen van die skrywer wat, so het Kerneels Breytenbach voorspel, die volgende groot speurroman gaan skryf ná Deon Meyer. Meyer het (...) ’n paar waardige opvolgers/mededingers, en Karsten vorm beslis deel van hierdie uitsoekgroepie. Ag julleself gelukkig, Afrikaanse misdaadvrate.”

In Chris se mees onlangse boek, Die dood van ’n goeie vrou, wat in 2016 verskyn het, is Ella Neser weer die speurder wat die moord moet oplos. Hy het 18 maande aan Die dood van ’n goeie vrou geskryf, vertel Chris aan Leserskring. “Ek laat gewoonlik die eerste konsep van ’n manuskrip eers op die agterplaat prut terwyl ek ’n nuwe een aanpak, en herskryf dit dan later van vooraf.”

Die slagoffer in Die dood van ’n goeie vrou is Clara Heyns, ’n moeder van twee. Sy is in haar huis gevind met twee engelvlerke aan en op die oog af is daar geen rede vir iemand om haar dood te maak nie. Haar man is die hoofverdagte en die getuienis teen hom loop op. Hy is egter ’n jagmaat van die polisiehoof en hy stuur telkens vir Ella op ’n ander spoor.

Ella loop haar ook vas teen kantoorpolitiek, seksisme en haar nuwe minnaar, Lou Pepler, wat sy in die arms van ’n rooikop gesien het.

Op Netwerk24 skryf Kerneels Breytenbach dat Die dood van ’n goeie vrou Chris Karsten se sterkste boek tot op hede is. “Jy hoef nie soos ek ’n voorliefde te hê vir sy skryfwerk nie. Jy sal die boek lees en agterna verbysterd staan oor hoeveel van die roman se heerlikhede terugkom om by jou te spook. Iets wat my nog altyd opgeval het by Karsten se romans is die manier waarop hy die brokkies van sy sentrale intrige in die loop van die roman plaas. Daardie kern van die gebeure, tesame met hul aanloop, wat vir jou nodig is om by die chronologiese raam van die speurtog verby te kyk en te antisipeer wat die oplossing van die raaisel gaan wees.

“Want is dít nie die groot plesier van speurverhale nie? Om te kyk of jy in die lees dinge raakgesien het wat jou vinniger by die oplossing sal bring as wat dit die speurder in die verhaal neem. Dit is hierdie inmessel van feite in die groot bouwerk wat ’n skrywer soos Karsten onderskei van baie ander skrywers. Hy weet hoe om dit te doen sodat jy dit nie dadelik raaksien en eien as leidraad nie. (...)

“Karsten lewer hier ’n meestersklas in die kleine van hoe ’n skrywer binne ’n nieliterêre verband karakters kan skep wat die soort dimensies verkry wat ’n mens in ’n literêre werk sou verwag. Die vraag wat ’n mens jou uiteraard afvra, is wat Chris Karsten doen om van hierdie roman iets nuuts te maak? Hoe verskil dit van sy eie en ander skrywers se romans? Is dit uniek?

“Die antwoord is dat Karsten se plotting buitengewoon goed is. Die soorte speurverhale wat vertel kan word, is legio; dit is hul innerlike werking wat hulle uniek maak.

“Die aspek van Die dood van ’n goeie vrou wat dit sonderling maak, is die manier waarop Karsten jou kan voer tot by ’n moontlike oplossing van die raaisel, net om jou te laat besef dat jy jou blind gestaar het teen sy misdirects. Soos ’n kulkunstenaar laat hy jou sif aan feite terwyl hy ligkens skeer oor die werklik belangrike mededelings. Baie skrywers werk met net een of twee misdirects; Karsten se verhaal wemel daarvan.

“As ’n mens dan nog in gedagte hou dat hy in al sy skryfwerk ’n verbluffende vaardigheid getoon het met die forensiese uitpak van inligting, weet jy hoekom Die dood van ’n goeie vrou jou kop so laat swymel. Karsten voer jou met detail – en dan lei hy jou willens en wetens om die bos ook.

“Agterna kan jy net jou kop oor Die dood van ’n goeie vrou skud. Dit is eintlik ’n redelik eenvoudige verhaal, maar die vertel daarvan, en die manier waarop Karsten dit doen, maak dit so ’n kragtoer. Dit lees só lekker!”

Ook op Netwerk24 haal Deborah Steinmair die heuningkwas uit vir Die dood van ’n goeie vrou. Sy beskryf Karsten as ’n “ervare hand met forensiese besonderheid” met karakters wat “duidelik omlyn, lekker aweregs en met ’n vrygewige skeut eksentrisme” is. Karsten “knoop onneersitbare misdaadromans en skroom nie om ander se skoene aan te trek nie”.

Ook Maryke Roberts is positief oor Die dood van ’n goeie vrou in haar resensie op LitNet. “Hierdie boek is anders as Karsten se vorige boeke omdat die leser nie van die begin af die moorde en gebeure deur die moordenaar se oë – soos onder meer met die grillerige Abel Lotz – ervaar nie. Die boek volg eerder die moordondersoek vanuit Ella Neser se perspektief. Met net genoeg verwysings na haar persoonlike lewe, maak dit die boek toeganklik en word Ella amper ’n ou bekende vir die leser.

“Tog hoef jy nie enige van sy vorige boeke te gelees het om hierdie een te geniet nie. Slim terugverwysings na Ella se verlede hou jou in die prentjie van haar gemoedstoestand en soms onverklaarbare reaksies op gebeure.

“Karsten het ’n hele paar verdagtes wat hy om die beurt teen mekaar afspeel en hoofstukke slim op ’n mespunt eindig, om met die volgende hoofstuk net ’n nuwe verdagte te ontgin. Tot die laaste paar bladsye is jy steeds onseker oor die moordenaar.

“Karsten se studies in Afrikaans en sielkunde, sy bykans 40 jaar as joernalis waar navorsing ’n integrale deel van sy beroep was en sy belangstelling in misdaad kom duidelik na vore as jy sy boeke lees. Die taalgebruik is uitstekend, geen klip word onaangeraak om elke moontlike leidraad of besluit van die karakters te illustreer nie.”

In ’n onderhoud in 2012 op LitNet wou Bibi Slippers by Karsten weet of die joernalis in hom steeds sy kop uitsteek terwyl hy sy romans skryf: “Die kennisgebiede wat ek vir elke boek ontgin, is die noodsaaklike agtergrond wat nodig is om karakters en situasies te kan laat leef. Elke skrywer doen sulke navorsing. Die feit dat ek eens ’n joernalis was, is bloot toevallig. Wat ek van die joernalistiek geleer het, is om nuuskierig en objektief te wees, en dit, hoop ek, word wel in my skryfsels gereflekteer. Boweal respekteer ek my lesers om aan hulle die vryheid te gee sodat hulle hul eie menings in die leesproses kan vorm.”

In 2017 publiseer Human & Rousseau Die koms van die motman en dit haal in 2018 die kortlys vir beide die kykNET-Rapport-Boekprys en die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur. Chris het gesê dit is die laaste verhaal met Ella Neser as hoofkarakter.

Elna van der Merwe (Huisgenoot, 20 November 2017) het met Chris Karsten oor Koms van die motman gesels.

Sy wou weet wie sy gunsteling-karakter in Motman is. Hierop het hy as volg geantwoord: “Ek het altyd twee gunstelinge in elke boek: Ella Neser en die skurk (omdat my skurke ook menslik is). Van Ella hou ek omdat sy my skepsel is wat ek kon sien groei van ’n naïewe speurder tot die astrante koejawel in die sesde Ella-boek. Maar ek is nie seker van Wilky (die skurk in Motman) nie; hy begin kruip onder jou vel in sodat jy nie onaangeraak teenoor hom kan wees nie.”

Teenoor Naomi Meyer (LitNet) som Chris die verhaal oor Motman as volg op: “In hierdie sesde boek waarin speurder Ella Neser verskyn, het sy geen moord om op te los nie. Toe sy in matriek was, is haar polisieman-pa so ernstig in ’n skietery gewond dat hy sedertdien in ’n koma is. Koms van die motman handel oor Ella se speurtog na die waarheid oor wat presies destyds gebeur het. En tipies van haar aard is sy bereid om selfs haar loopbaan en die mense naaste aan haar op te offer in haar koppige soeke.”

Oor wat hom geïnspireer het om Motman te skryf, het hy ook aan Meyer gesê: “Die leser ontmoet Ella en haar komateuse pa die eerste keer in Abel se ontwaking, en daarna word in al vyf opvolgende Ella-boeke na hom verwys, soms net sydelings, soms in meer besonderhede. Sy is haar ouers se enigste kind en in die reeks boeke word dit mettertyd duidelik dat sy van kleins af baie geheg aan haar pa was: hy was haar held en sy wou in sy spore polisie toe gaan. Sy skietery het ’n traumatiese uitwerking op haar jong gemoed gehad, soos dit vir enige kind sal wees. Ek het gedink dit word tyd om die ‘ware’ storie van die skietery te vertel, veral omdat daardie verlede nou haar toekoms kan beïnvloed.”

In Sarie (15 Maart 2018) skryf Phyllis Green as volg oor Koms van die motman: “Chris Karsten is een van my gunsteling-skrywers. Hy skep interessante karakters wat mens bybly lank nadat jy sy boeke gelees het.

“Vir my is Ella Neser ’n onvergeetlike karakter. Ek het haar vir die eerste keer ontmoet in Karsten se Abel-trilogie waar sy die grieselrige moorde moes oplos. Met die lees van elke boek groei my belangstelling in haar en wil ek weet wat maak haar tiek.

“In Koms van die motman word Ella Neser se storie voltooi en word antwoorde op haar grootste vraag verskaf: wie was regtig verantwoordelik vir haar pa se skietwond wat gemaak het dat hy met ’n masjien aan die lewe gehou moet word. Tydens die hofsaak is Arthur Wilky skuldig bevind aan die voorval. En nou word hy weens goeie gedrag op parool vrygelaat. (…) Maar is Wilky regtig haar pa se skieter?

“Karsten se taalgebruik is verfrissend en die manier waarop hy die storie laat uitspeel, is meesterlik. Ek is spyt dis die laaste sien van Ella Neser, want al is sy ’n weerbarstige karakter kan mens nie anders as om geheg aan haar te raak nie. Hopelik fassineer sy hierdie skrywer so dat hy nie anders kan as om weer oor haar te skryf nie.”

Cas van Rensburg sluit sy bespreking van Motman op Netwerk24 (13 November 2017) só af: “Dis jammer dat ’n mens nie die afloop van die roman (in die resensie) kan verklap nie. Genoeg om te sê dat dit een van die slimste en verrassendste eindes is wat net ’n goeie skrywer kan bedink. Voeg hierby dat Karsten sy verhaal deurentyd subtiel op hierdie einde afstuur. Bravo!”

Op Netwerk24 (5 November 2017) is Deborah Steinmair die resensent: “Karsten, wat reeds anderkant die oewers van genrefiksie beïndruk het met ’n stewige literêre bydrae soos Frats, is een van die misdaadskrywers oor wie ’n mens kan herhaal wat WB Yeats oor homself gesê het: ‘I have come into my own and words obey my call.’

“Die eerste hoofstuk van Koms van die motman is atmosferies en melancholies gelade en sal enige bibliofiel, ongeag genrevoorkeur, begeester. Daarby is Karsten se taal so lumineus en keurig, ’n mens wil sy woorde in jou mond rondrol. (…)

“Soos altyd is Karsten se navorsing deeglik, sy feite fassinerend sonder dat die toon didakties raak of momentum ingeboet word. Ook hier herinner hy aan die Skandinawiese misdaadskrywers: die digtheid van die detail skep ’n geloofwaardige milieu en karakters. Die storielyn is fyn en elegant geweef. Die einde het niemand sien kom nie en tog voel die leser nie gefnuik en om die bos gelei nie, want die ontknoping is bevredigend. Dis ’n leeservaring uit die boonste rak wat by enige genre en in enige milieu kan kers vashou. Ek kan dit die beste uitdruk in die woorde waarmee Karsten Bach se musiek beskryf: ‘Die helderheid van essensie, die suiwerheid van kontrapunt.’”

Met sy volgende boek, Anderman se vrou (2019), keer Chris Karsten terug na een van sy vorige karakters, naamlik Wim Kellerman, wat ook in Seisoen van sonde (2009) te vinde is. Twee jaar ná Jack Niemand, die reeksmoordenaar in Seisoen van sonde, se dood is daar nog altyd kwessies wat nie opgelos is nie. Wim Kellerman is na Kanada – onder die dekmantel van sy skoenlapperboerdery – om antwoorde op sy vrae te kry.

In Huisgenoot (17 Januarie 2020) het Elna van der Merwe met Chris gesels oor Anderman se vrou. Sy wou weet of Kanada nog steeds (noudat hy terug is in Suid-Afrika) ’n groot rol in sy stories gaan speel: “Ek weet nie,” was sy antwoord. “Die persoonlikhede van my twee hoofkarakters (held en boef) bepaal die intrige van ’n storie, pleks van om eers ’n intrige te ontwikkel en my hoofkarakters daarby te laat aanpas. Die ruimtes van die storie hang dus af van die plekke waarin die hoofkarakters hulle tuis voel of waarheen gebeure hulle lei.”

Chris beskryf Wim as ’n “ongeveinste” mens: “Jy is half onseker oor hoe hy te werk moet gaan met sy selfopgelegde taak, maar skrik nie vir uitdagings nie. Al wat hom onderkry, is die siel van ’n vrou. Daarom word sy soektog na die waarheid oor vyf vermiste jong mense ook ’n soektog na sy ware self.

“En hierdie selfkennis verras hom. Wat het van die régte Wim geword, die saggeaarde pasifis, die skoenlapperboer?

“Hierdie Wim ken hy nie, die een wat swets en lieg en bedrieg en as geweldenaar ontpop het. Wat anderman se vrou begeer en vuurwapens afvuur.”

Op Netwerk24 (15 Desember 2019) sluit Jonathan Amid sy bespreking van Anderman se vrou só af: “Die tempo is nie moordend nie. Karsten geniet dit om lesers telkens te troef met onverwagse wendings, die deurmekaarkrap van legkaartstukke en om sekere detail aan die leser se verbeelding oor te laat. Karsten stel belang in die teenstrydigheid van die menslike aard, die wisselwerking tussen onthou en weerhou, vertel en verswyg. Die leser moet antisipeer, aantekeninge maak, moontlikhede opweeg met die feite so gerangskik dat twyfel alles inkleur.

Anderman se vrou het die stemming van die beste Skandi-noir. Tegelyk teer, meedoënloos en meesterlik, maar terselfdertyd eg Karsten.”

Thys Human vertel op Netwerk24 (25 Desember 2019) meer oor hierdie verhaal en sy skurk wat Human as ’n “hoogtepunt in Karsten se oeuvre” beskryf.

“Hiér is ’n skrywer op volle toere. Nes Seisoen van sonde kan Anderman se vrou as ’n sielkundige riller beskou word in dié opsig dat dit ondersoek instel na die onsigbare dinge wat een mens dryf om ’n ander onvoorstelbare leed aan te doen. (…) As jy eers op dreef is, kan jy Anderman se vrou nie neersit nie. Dit is ’n roman wat inlig, verras en oplaas ook ontroer. Lees dit gerus met ’n skryfding byderhand.” 

Chris se inspirasie vir sy spanningsromans kom net nie tot ’n einde nie. In 2020 publiseer Human & Rousseau Die versoeking van Thomas Maas en is dit op die kortlys van die ATKV-Woordveertjie vir spanningsromans vir 2021.

Met hierdie roman beweeg hy weg van die “bloed-en-derms”-verhale, vertel hy aan Phyllis Green (Netwerk24, 26 Februarie 2021): “Dit is nie die tradisionele moordverhaal nie, eerder ’n sielkundige speletjie tussen karakters; tussen ’n man en ’n vrou en Ella beland in die middel. Dis ’n misterie op ’n ander manier.”

Hy is ook nog altyd baie gek oor die geskiedenis en dit was die lewensverhaal van Alexander die Grote wat die vonk gebied het om hom aan die dink te sit oor erotomanie en obsessiewe vroue: “Erotomanie begin by Alexander die Grote,” vertel hy aan Green, “maar reg deur die geskiedenis is daar voorbeelde van vroue wat kwansuis obsessief oor ’n man is.”

Tydens sy navorsing het hy afgekom op die verhaal van twee oudgeneraals van Alexander die Grote wat ryk geword en konings geword het ná sy dood. Toe een van die konings se seun dodelik siek word en niemand weet wat hy makeer nie, het hul later agtergekom hy ly aan minnesiekte – hy was verlief op iemand wat hy nie kon kry nie.

Chris het verder vertel: “Dit het my laat dink dat dit ’n lekker storie kan maak. Ek onthou toe ’n fliek waarin ’n obsessiewe vrou tot uiterstes toe gegaan het vir die liefde. ’n Klomp elemente het saamgekom en ek moes mooi dink hoe ek dit bymekaar kon kry in ’n verhaal. (…)

“Hierdie navorsing het aan my die geleentheid gebied om ’n man, ’n sielkundige wat ’n huweliksberader is, as hoofkarakter te skep en te kyk hoe hy gaan reageer wanneer ’n vrou op die oog af verlief raak op hom en dan obsessief raak. Die versoeking van Thomas Maas is ’n heerlike sielkundige spel tussen botsende persoonlikhede met hul eie planne om ’n huwelik te probeer red wat oënskynlik op ’n ramp afstuur. Ella het in die middel van die gebeure beland.”

In Die versoeking van Thomas Maas is Ella ’n private speurder. Donna Maas stel Ella aan om bewyse te kry dat haar man, Thomas Maas, ’n buite-egtelike verhouding aan die gang het.

Thys Human resenseer Thomas Maas vir Netwerk24 (30 November 2020): “Die roman, wat uit drie dele bestaan, begin aan die einde van die verhaal met Ella wat op die punt staan om haar verslag aan Donna te begin skryf. Ons vermoed reeds daar dryf iewers ’n kadawer in die water rond. Maar weet aanvanklik nie wie die slagoffer is en wie die skurk(e) is nie. (…)

“Dit is eers wanneer die moord aan die einde van die tweede verhaaldeel geopenbaar word, dat Ella direk by die geregtelike ondersoek betrokke raak. Van haar snuffelwerk oor Thomas se katelstreke hoor ons in die eerste twee dele slegs danksy die kantnotas wat Karsten vanuit haar perspektief by die roman insluit.

“Die hoofintrige word gevorm deur die ontmoeting en uitrafelende verhouding tussen Thomas Maas, ’n sielkundige en pa van ‘drie talentvolle spruite’, en die aanvallige Amalia Rojas, eienares van die perdryskool waar Thomas sy jongste dogter, Florie, vir rylesse inskryf. (…)

“Karsten se roman daag die cliché uit dat vroue óf seksbehepte roofdiere óf gelukkige huisvroutjies is en kan as ’n herinterpretasie van Amalia se literêre voorgangers en hul verhoudings met die manlike protagoniste in die onderskeie tekste beskou word (Hamlet en Fatal attraction).

“Ten spyte van die suggestie in die titel (of dalk juis as gevolg van die dubbelsinnigheid daarvan) beeld Karsten Thomas nie as ’n onskuldige slagoffer uit nie, maar as ’n berekende man wat presies weet wat hy alles op die spel plaas wanneer hy ’n verhouding met Amalia aanknoop. Alle gebeure word ook nie slegs uit sý perspektief waargeneem nie; Donna, Amalia, Ella én Thomas-hulle se dogters tree by geleentheid as fokalisators op.

“Die gevolg is dat Die versoeking van Thomas Maas ’n veelkantige besinning oor verhoudings en verantwoordelikhede, die dun lyn tussen rasionaliteit en waansin, en die emosionele fasette van die huwelik word.

“Chris Karsten se navorsing is omvattend en onberispelik, sy taalgebruik ’n vreugde en die vrae wat sy roman vra, uitdagend en interessant. Die versoeking van Thomas Maas is ’n roman wat die leser se aandag nie net enduit behou nie, maar dit ook dubbel en dwars beloon.”

Op LitNet is Elkarien Fourie die resensent en sy sluit haar resensie af: “Net ’n skrywer van Karsten se kaliber wat die speurroman tot in sy binnegoed ken, kan die elemente daarvan met soveel sukses agterstevoor inspan en omdop. Hy gebruik intertekstuele verwysings na die verhale van HamletFatal attraction en Madame Butterfly om ooreenkomste tussen Amalia en Ophelia, Alex Forrest en Cio-Cio-san se dryfvere aan te toon, terwyl Thomas soos Hamlet, Dan Gallagher en kolonel Pinkerton ’n totaal ander perspektief op hul verhoudings met hierdie vroue huldig.

“Die verhaal het onmiskenbare postmodernistiese kenmerke sonder om geladenheid en leesbaarheid in te boet. Amalia is die antagonis, maar ’n moontlike scenario vir die einde laat skeidslyne verdof. Die feit dat die boek se tematiese stelling deur Lou Pepler, Ella se kêrel en klankbord, pittig op ’n skinkbord aangebied word, naamlik dat los seks (of ‘slenterseks’ soos Karsten dit noem) gevaarlik is, beteken nie dat alle los drade uiteindelik netjies vasgebind word nie. Inteendeel.

“Al word lesers gelei om te dink hulle weet presies wie die moord gepleeg het, wag ’n mens in spanning op die ontmaskering. Tog kom die verwagte skuldenaar nie na vore nie en jy begin twyfel of dit ooit so gebeur het. Dit maak van Die versoeking van Thomas Maas ’n veelvlakkige, tergende en verrassende sielkundige roman.”  

In 2020 skryf Chris Karsten ’n spanningsverhaal vir die inperkingstyd gedurende die korona-pandemie spesiaal vir Netwerk24-intekenare onder die titel Man uit die dode. Dit is gedurende Julie en Augustus 2020 op Netwerk24 gepubliseer.

Chris het aan Netwerk24 meer vertel oor Man uit die dode: “Lesers kan uitsien na ’n krimi-storie wat op ’n gekwelde plattelandse dorpie afspeel, vol eksentrieke karakters te midde van aktuele Suid-Afrikaanse maatskaplike en omgewingsvraagstukke. En ’n gewetenlose boef wat ’n eiesoortige metode het om sy slagoffers spoorloos te laat verdwyn, en met ’n jong vrouespeurder wat hom moet vastrek.”

Die private speurder is niemand anders as Ella Neser nie wat na Suid-Afrika moes terugkeer as gevolg van die virus: “Hoe dieper sy begin krap, hoe meer kom sy agter dat sy op ’n baie ongelyke speelveld kragte meet met ’n koelbloedige kliek wat bereid is om op enigeen te trap wat in hul pad staan om miljoene te maak uit bedenklike kontrakte om steenkool aan Eskom se kragstasie te lewer – selfs al word hul eie dorp en sy inwoners in die proses verwoes.

“Op Osspruit in Mpumalanga ontmoet sy besondere karakters, van hulle erg eksentriek, ander aards en ander gewetenloos. En tussen hierdie vreemde skepsels, elkeen met ’n eie storie, is sy genoodsaak om op haar intuïsie te vertrou ten einde by die waarheid uit te kom – maar dit gebeur nie sonder verdere hindernisse en bloedlating nie.” (Netwerk24, 10 Julie 2020)

Die volledige Man uit die dode is teen die middel van November 2020 in boekvorm uitgegee.

In Vrye Weekblad (23 Oktober 2020) skryf Anneliese Burgers: “Karsten neem die problematiek van die steenkoolmyne, die konteks van klimaatsverandering en die groter gesprek oor die verantwoordelikheid en etiek van Big Business, en verweef ’n onderhoudende, vermaaklike en dikwels baie snaakse misdaadverhaal waarby lesers groot aanklank sal vind. 

“Nie net is dit heerlik om weer van Ella en Lou en hul verhouding te lees nie, maar daar kom twee uiters indrukwekkende karaktersketse in Man uit die dode uit die verf: die Italianer Tony Acido – kuggie in die mou, beslis nie sy regte naam nie, maar een wat veel verklap oor sy voorliefde vir sekere middels – en die fassinerende Cornelius Cornelissen, wat moontlik baie van baie verskillende dinge weet.” 

En Stefaans Coetzee skryf sy lesersindrukke vir LitNet: “Die boosdoener is ’n Italianer genaamd Tony Acido, en kenmerkend aan skurke in die Ella Neser-romans is hy wreedaardig boos en duiwelslu. Tony se steenkoolvragmotors loop 24/7 en verkrummel die dorp se teerstrate. Die inwoners teken protes aan, maar die burgemeester is doof vir hul klagtes. Januarie se straatbetogings spoel met felheid oor na Februarie en kos Tony en sy vennote miljoene rande.

“Op Maandag 23 Maart kondig die Staatspresident die 21 dae inperking af. Net die volgende dag verdwyn die eerste belhamel en die dag daarna die tweede een. Na die derde belhamel verdwyn, word Ella genader om ’n privaat ondersoek van stapel te stuur. Ons weet uiteraard dat dit nie die laaste persoon is wat gaan verdwyn nie en dat die moontlikheid bestaan dat Ella self kan verdwyn. Sy dra immers ’n letsel as bewysstuk dat Chris se heldin nie aldag ongedeerd wegloop nie.

“Man uit die dode is vol kleurvolle karakters, waarvan Cornelius en die Deysel-gesin my gunstelinge is. Ek sou egter meer van die oudspeurder Lou Pepler, wat ek in Die verdwyning van Billy Katz ontmoet het, wou lees.

“Chris se verhaaltempo is vinniger as wat Quinton de Kock in kitskrieket kolf, sy taalgebruik suiwer en sy storielyn sekuur. Net voor die klimaks spring daar egter ’n kisduiweltjie uit wat ek nie sien kom het nie.

“Die laaste keer dat ’n dun krimi my soveel genot verskaf het, was Deon Meyer se Die vrou in die blou mantel. Tog moet ek erken: Ek het gemengde gevoelens oor die dun krimi. Aan die een kant voel ek gekul omdat Chris my altyd wegvoer met ’n speurtog wat my ’n dag of twee laat vergeet van ons huidige hoë misdaadsyfer, en aan die ander kant sou ek graag ’n bundel van sy speurverhale wou lees.”

Soos Chris Karsten se lesers nou al gewoond geraak het, is daar in 2021 weer ’n nuwe Chris Karsten-roman op die rakke onder die titel Gerugte van ’n ontvoering en ook hier span hy Ella Neser in om die probleme op te los.

Gerugte van ’n ontvoering word só opgesom op die agterflap van die boek: “Wanneer Harry Grimbeek asemskep tussen sy gevaarlike omswerwinge deur Afrika, kom kuier hy by sy geliefde ma in Johannesburg. Gusta is veral na aan sy hart nadat sy pa haar vir ’n jonger pop gelos het. Gelukkig weet Harry sy is veilig in haar weelderige penthouse in Ponte Towers, wat sy deel met ’n erfstuk van groot sentimentele waarde: ‘Jong vrou met boek’, geskilder in die veertienhonderds deur die Vlaamse meester, Petrus Christus.

“Maar dan sterf sy skielik. Het haar eensame lewe inderdaad vir Gusta tot selfdood gedryf, soos die polisie bevind het? En wat van haar kosbare skildery wat uit haar woonplek verdwyn het? Van die oomblik dat hy in sy ma se penthouse instap, kry Harry die reuk van ’n groot gekonkel. En die skuldiges sal aan die pen ry, die hele lot van hulle! Nie eens daardie parmantige Ella Neser gaan hom keer nie.

“Nog ’n hoogtepunt in Chris Karsten se oeuvre. ’n Vermeende moord, ’n vermeende ontvoering … Waar lê die grens tussen waarheid en leuen, tussen reg en verkeerd? Sal Ella tussen die twee kan onderskei?”

En in Rapport van 17 Oktober 2021 skryf Jonathan Amid dat hierdie “trefseker” sesde titel in die Ella Neser-reeks van die begin af die leser vasgenael hou: “Die onsekerhede oor ’n moeder se dood en die diefstal van ’n skildery met veel meer as net sentimentele waarde, vorm die dryfvere vir ’n boeiende leeservaring waar die vertelkuns ’n byna perfekte balans tussen vermaak en letterkundige waarde handhaaf.

“Die skuif van Neser as protagonis uit die SAPD-binnekring na ’n minder rigiede rol buite die amptelike gesagstrukture as private ondersoeker maak saak: Hoewel sy nou meer vryheid gegun word om sake te ondersoek wat sy en haar vennoot, Lou Pepler, graag wil, gaan dit nie meer oor die najaag van geregtigheid te alle koste nie. Klem word nou juis geplaas op die soeke na waarheid en die betreding van donker dieptes waar die uiteindelike antwoorde nie noodwendig berusting vir haar kliënt óf vir haar sal bring nie.”

Stefaans Coetzee (Netwerk24, 4 Oktober 2021) skryf as volg oor Gerugte van ’n ontvoering: “Soos ’n meesterskilder gebruik Karsten min woorde om kleurvolle karakters te skep. Sy 40 jaar ondervinding as ’n joernalis gee hom beslis genoeg insae in die psige van misdadigers om vir aksie op elke bladsy te sorg.

“Hoewel die boosdoeners in Gerugte van ’n ontvoering nie, kenmerkend van die Ella Neser-romans, wreedaardig boos en duiwel-slu is nie, trek Karsten die spanningslyn oudergewoonte snaarstyf. Sy blitzkrieg-skryftempo veroorsaak dat die boek soos ’n Jason Bourne-fliek lees, sy taalgebruik myns insiens weer ATKV-prosaprysgehalte.

“Karsten verf ook die liefdesdriehoek grasgroen met Peta wat 20 jaar gelede vir Harry met sy ouer broer, Ben, verkul het en nou vir Folkers & Leys werk. Asook die oudspeurder Lou Pepler, wat Ella in Die verdwyning van Billy Katz ontmoet het, wat by sy eks, Lente Roos, in Pretoria kuier. (…)

“Net soos Deon Meyer het hy net twee woorde nodig om sy boeke te bemark, naamlik: Chris Karsten.”

Maryke Roberts gee op LitNet as leser haar indrukke van Gerugte van ’n ontvoering: “Dat Chris Karsten nou behoorlik in sy vel as misdaadskrywer ingegroei het, is gewis. Nie alleen gooi hy die verhaal heeltemal onderstebo met die verdagte wat die heeltyd aan Ella Neser bekend is nie, maar hy begin ook die boek met ’n hartroerende verhaal van ’n skilder uit die laat 1400’s gegrond op die skilder Jan van Eyck. Hy skets hoe die kunswerk, Jong vrou met boek, bykans 600 jaar later ’n reeks lyke in haar spore agterlaat. Sommige besef haar finansiële waarde, maar vir Harry Grimbeek is dit die sentimentele waarde wat hom tot moordgedagtes en ontvoering dryf.

“Chris se karakters is goed ontgin – net genoeg om konteks en diepte te gee sonder om te veel kollig op sommige te plaas en die ander in die skaduwees te laat kwyn. Soms verloor skrywers en hul redakteurs hier en daar tred met elke karakter se presiese gewoonte of verwysing, maar met Chris kan nie in hierdie opsig fout gevind word nie.

“Chris het ’n dekade terug in ’n onderhoud aan my gesê dat hy in al sy boeke poog om uit verskillende oogpunte te skryf, om te wys dat selfs die grootste booswig tog diep binne-in wel menslik is. In hierdie boek slaag hy weer meesterlik daarin. Maak nie saak hoe diep Harry se wraak loop nie, daar bly ’n simpatie by die leser, omdat die karakter bekend is; sy diepste gedagtes en versugtinge met die leser gedeel word. (…)

“Hy bewys weer dat hy iemand is wat die lewe waarneem en op die regte plek op die bladsy daardie waarnemings neerpen en die leser wegvoer: ‘[H]y kyk deur die oop vensters na die sfumato van kleure wat min kunstenaars die natuur kan nadoen: die ondergaande son wat die blou hemel kleur in rooi en oranje en ligte geel waar dit stadig versmelt in ’n see persblou jakarandas. Hy drink sy bier en onthou die laaste keer toe hy en sy ma saam hier gestaan het. Daar was ’n skynsel van kleure op haar gesig asof ’n kwas besig was om haar op ’n verfdoek te verewig, met perfekte skakerings en skaduwees vir haar vel en mond en wange en neus en hare.’

“Dis egter François Bloemhof se woorde: ‘... daarmee saam natuurlik Chris se skryfstyl; hy sou selfs ’n telefoongids boeiend kon aanbied,’ waarmee ek my die meeste vereenselwig.

“Gerugte van ’n ontvoering beweeg weg van die gedetailleerde moord- en verminkingstonele kenmerkend van hierdie genre – selfs ook van die vreeslikhede wat Abel Lotz kon aanvang – maar neem nie ’n snars weg van die spanning wat die verhaal bied nie. Dis beslis een van Karsten se heel bestes nog.”

Met sy volgende boek wat in 2022 onder die titel Die pad na Moormansgat: ’n roman. Die verhaal van Billy Foster en Koos de la Rey gepubliseer is, begewe Chris Karsten hom op min of meer dieselfde gebied as met sy eerste roman, Frats, naamlik dié van die historiese roman. En met Moormansgat kry hy in 2023 nog pryse vir sy kaggelrak – die ATKV-Prosaprys, die kykNET-Rapport Herman Binge-prys: Film en haal hy ook die kortlys van die kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Op die agterflap van die boek Op pad na Moormansgat word die verhaal só uiteengesit: “Die Boereheld Koos de la Rey word die aand van 15 September 1914 in Johannesburg doodgeskiet by ’n padblokkade wat vir die berugte Fosterbende opgestel is. Was hy op pad Potchefstroom toe om ’n rebellie teen die regering te gaan lei? Het iemand sy planne probeer dwarsboom, of was sy onverwagse dood pure toeval?

“Skaars 30 uur later word Billy Foster wel in ’n grot op die Kensingtonkoppie vasgekeer en kom sy en sy desperate makkers se lewe tot ’n einde. Saam met hom sterf ook sy vrou, Peggy. Die enigste een wat oorleef, is sy babadogter.

“In 1936 word die jong Helena Breitenbach saam met haar ewe jong minnaar, Andries du Plessis, betrek by die moorde op vyf mense: twee verkoolde lyke word naby Brakpan gevind, en net dae later nog drie slagoffers naby Volksrust.

“Kyk ’n mens terug die verlede in, is De la Rey se skietdood die nag in Langlaagte soos ’n klip wat plons in die water, en niemand onaangeraak laat nie: Daar is Billy Foster se dogter, Helena, op soek na haar herkoms; hensopper Segrys Heyns en sy agterryer Tappies Mahlangu wat ’n sukkelbestaan voer op Tonteldoos; Elisabetta Heyns in die Mafikeng-kamp wat niks met haar vervreemde man te doen wil hê nie; die stemme van Sol Plaatje, Nonnie de la Rey, Emily Hobhouse en Siener van Rensburg ...

“En midde-in al die onstuimige gebeure ondersoek sersant Izak Heyns, seun van Segrys, vyf moorde terwyl sy eie verlede hom agterhaal.”

Chris het aan Phyllis Green (Sarie, 6 Januarie 2023) van die foto wat die inspirasie agter Moormansgat was, vertel: “Die koerantfoto van September 1914 van die aankoms van Billy Foster se vrou, Peggy, by die Kensingtonkoppie is vir my ’n roerende en visuele beeld van waaroor alles gaan en van die verhaal wat ek wou skryf. Die grootste raaisel destyds terwyl ek met die navorsing besig was, was natuurlik: Wat het geword van daardie baba in haar ma se arm? Gelukkig kon ek toe ’n klein leidraad opspoor.”

Chris het verder aan Green vertel van dít wat verder bygedra het tot die skryf van die roman: “Mense en hul hebbelikhede interesseer my, in hierdie geval hoe dit gebeur het dat die spore van ’n ou Boereheld en ’n jong Engelse rampokker so noodlottig met mekaar gekruis het.

“Maar om hierdie tragiese kruispunt te bereik, het ek dit nodig gevind om baie lewens oor baie dekades te verweef ten einde reg te laat geskied aan daardie emosionele, onrustige en bloederige tye in die geskiedenis van ons land en al sy mense.”

Op pad na Moormansgat vertel die storie van hoe voortvlugtige booswigte tot die ontydige dood van ’n volksleier gelei het en hoe hierdie voorval die verloop van die geskiedenis verlê het,” skryf Francois Bekker op Netwerk24 (31 Oktober 2022). “Karsten span ’n wye doek om een van die mees fassinerende stories uit ons geskiedenis te vertel. ’n Spanningsvolle episode gekenmerk deur patos en hoogdrama wat die verbeelding meer as 100 jaar later steeds aangryp.”

Helena Breitenbach is ook op soek na haar verlede nadat sy as baba en weeskind by die Marx-gesin beland het. Haar soektog na haar verlede sleur die leser mee op ’n reis “wat nie net haar persoonlike lewe in skerper fokus plaas nie,” gaan Bekker voort. “In die hande van ’n virtuose skrywer word dit ’n aangrypende verhaal van misplaaste bravade wat patriotisme paradeer en jeugdige voortvarendheid gestroop van gesonde oordeel. (…)

“Met ’n reikwydte van epiese omvang word ’n verhaal van Sturm und Drang en verdwaalde drif vertel wat die leser enduit boei. Met kwistige kwashale kom die geskiedenis ruimskoots, maar veral menslik, aan die bod. (…)

“Net ’n meesterlike romansier kan ’n storie met velerlei verhaallyne so treffend bymekaar hou en ook sinvol vertelruimte aan ’n indrukwekkend uitgebreide dramatis personae gee. Karsten slaag op uitsonderlike wyse daarin om historiese gebeurtenisse onmiddellik en lewendig aan die leser voor te hou. Dit is ’n storie bevolk met helde, kansvatters, dwepers en gewone mense gewikkel in ’n daaglikse stryd om kop bo water te hou. Uiteindelik ’n priemende blik op die psige van die Afrikaner. (…)

“C Louis Leipoldt (aan wie die titel van die roman ontleen is) besing die serene spieëlbeeld van daardie donker poel wat as Moormansgat bekend staan. Met hierdie roman word daardie natuurtoneel ’n kragtige metafoor, ’n magiese herinnering dat die verlede homself dikwels herhaal en soms meer raaiselagtig as die toekoms kan wees.

“Chris Karsten se Op pad na Moormansgat is ’n lieflike publikasie – die keurige versorging daarvan strek die uitgewer tot eer. Veelvlakkig, ontstellend en meesleurend. Die skrywer het nie minder nie as tien jaar aan die roman gewerk en sy deeglike navorsing verdien spesiale vermelding. Op pad na Moormansgat is ’n merkwaardige prestasie wat op ’n besonder hoë niveau funksioneer en ’n belangrike bydrae tot historiese fiksie funksioneer in die algemeen wat ’n wye leesgehoor verdien.”

Op LitNet (17 Januarie 2023) skryf Maryke Roberts oor Moormansgat: “Die boek hou my vasgenael en ek vang myself dikwels dat ek dit vir eers opsyskuif dat die woorde goed in my gemoed kan nesskop, want die geskiedenis is toe regtig ’n lewende ding en met ’n ompad om, meer deel van my as wat ek kan begryp.

“Dis egter die proloog wat my bybly – selfs ná so ’n omvangryke stuk skryfwerk soos Moormansgat –  waar die karakter ’n blikboks vol skoolkladboeke wat oorkruis met ’n draad blou wol saamgebind is, beskou. ‘Asof ’n verlede so netjies saamgevat en saamgehou kan word, dink sy [...].’”

Die beoordelaars van die ATKV-Prosaprys het die volgende oor hierdie roman gesê: “Op pad na Moormansgat is ’n verbluffende roman. Dit is terselfdertyd geskiedskrywing, misdaad, politieke geskiedenis, sosiale kommentaar, ’n persoonlike dagboek én ’n tragiese, fatale liefdesverhaal. Die onderskeie genres word op meesterlike wyse saamgebind in ’n ketting van stemme wat nie net een verhaal vertel nie, maar die fassinerende en komplekse mosaïek wat die Suid-Afrikaanse landskap in die vroeg 20ste eeu uitbeeld. Die resultaat is ’n priemende blik op die psige van die Afrikaner en ’n aangrypende verhaal, gekenmerk deur patos en hoogdrama. Dit alles in ’n taalaanbod wat liries en weelderig en verrassend en vloeiend is.

“Wat veral vermelding verdien, is die vernuftige manier waarop die outeur elke vertellerstem se unieke ideolek aangewend het. Dit het nie net ’n verrykte narratief tot gevolg nie, maar met hierdie stylgreep, meesterlik aangewend, het hy veelkantige, geloofwaardige karakters geskep met wie die leser kan identifiseer en selfs simpatiseer – al kan sommige van die karakters as die booswigte van hierdie aarde geklassifiseer word. Met hierdie uitsonderlike roman word historiese figure as mens-mense uitgebeeld.

“Die deeglike navorsing wat die skryfprojek van meer as tien jaar onderlê, verdien spesiale melding. Historiese fiksie was lanklaas so opwindend en meesleurend.

“Op pad na Moormansgat is ongetwyfeld ’n hoogtepunt in die veelsydige Chris Karsten se oeuvre.” (LitNet, 22 September 2023)  

Ook die filmkeurders vir die kykNET-Rapportprys vir Films was beïndruk met Op pad na Moormansgat: “Filmgoud. ’n Verhaal wat reeds al die bestanddele vir ’n spanningsvolle boek én film bied, is nie genoeg vir Karsten nie. Soos die kraai vlieg, trek Op pad na Moormansgat ons oor tyd en plek om ’n reliëfbeeld van ’n uiters plofbare tyd in Suid-Afrika uit te beeld. In swiep en omvang het ons hier te make met oorlog, politiek, misdaad en selfs groter sosiologiese onderstrominge. Karsten is egter nie ’n kraai wat vlieg nie, maar ’n jagter, wat sy karakters se spore oor berge en dale bekruip en van naderby bestudeer in ’n veerkragtige verhaal met ’n geheelbeeld van ’n universele tema: ons verweefdheid as mense. Akteurs sal vuisslaan om karakters soos Nonnie de la Rey (in haar gebroke Afrikaans), Tapiwa Mahlangu, met sy droë humorsin, of die stokstywe Isak Heyns te vertolk.” (LitNet, 23 September 2023)

Oor generaal De la Rey en Siener van Rensburg se verhouding en dat die generaal soveel waarde aan Van Rensburg se visioene geheg het, sê Chris Karsten aan Phyllis Green: “Dis ’n vraag sonder ’n maklike antwoord. Ek vermoed dat godsdienstige oortuigings ’n groot rol gespeel het. Van Rensburg en De la Rey was albei diep gelowig en het gemeenskaplike berusting en vertroosting in die Bybel gevind.

“Ek het Van Rensburg en sy visioene nie probeer uitpluis nie, soos ook nie De la Rey se leierskaprol in die Rebellie van 1914 nie. Ek laat val eerder die soeklig van die verbeelding op karakters se innerlike konflikte as om feitelike antwoorde te probeer vind.

“Al die stemme is soos om om ’n vuur te sit en mymer oor wat die waarheid is en wat nie.”

Publikasies

Publikasie

Floris Sapiens: ’n fantasie

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022021 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Sanlam-prys vir jeugverhaal, silwer 1985

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Afrikaans books. Weekly Mail, 27 Junie – 3 Julie 1985
  • Donker temas by inheemse jeuglektuur. Vaderland, 4 November 1985
  • Jeugverhaalwedstryd lewer baie genietbare werke. Die Burger, 21 November 1985
  • Potgieter, Erne: Floris Sapiens. Die Burger, 21 November 1985
  • Van oermense en ’n komeet. Volksblad, 9 November 1985

 

Publikasie

Die jokkie wat met perde kon praat

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036324 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

2001 Nederlands; De jongen die met paarden kon praten vertaal deur Mies Pols-Haaijman

Resensies en besprekings

  • Coetzee, Bettie: Ons keuse. Rooi Rose, 27 Mei 1998
  • Die jokkie wat met perde kon praat. Beeld, 9 Desember 1997
  • Le Roux, Marina:
    • Boekrak. Sarie, 11 Maart 1998
    • Storie oor resiesperd sal flenters gelees word. Rapport, 14 Desember 1997
  • Nieuwoudt, Stephanie: Joernalis skryf jeugboek met ’n verskil. Beeld, 9 Desember 1997
  • Van Manen, Mariette: Kort begrip. Die Burger, 8 April 1998
  • Weideman, George: Die jokkie wat met perde kon praat. Skrywers en Boeke, 8 Februarie 1998

 

Publikasie

Opspraak deur moord: Suid-Afrikaanse doodslag skok

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147170 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Riller in die raaisel: onopgeloste Suid-Afrikaanse misdade

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147187 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

2007 Engels; Unsolved – no answers to heinous South African crimes

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Frats

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148801 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

ATKV-prosaprys 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798148993 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

2007 Engels; Bad kids vertaal deur Herman Fourie

Resensies en besprekings

  • Krügel, Danie: Jeugmoorde: vrae ontstaan oor wreedheid. Volksblad, 17 Maart 2008

 

Publikasie

Dodelike vroue: wanneer passie in bloed eindig

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149006 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 Geen

 

Publikasie

Boos en bisar: wrede Suid-Afrikaanse misdade met ’n kinkel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149747 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boos en bisar. Huisgenoot, 23 Oktober 2008
  • Kemp, Theo: Dié reeks is ’n spieël vir SA regering en inwoners. Beeld, 6 Oktober 2008
  • Krügel, Danie: Bisarre feite oor bekende misdaadsake. Volksblad, 22 Desember 2008

 

Publikasie

Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149891 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Ware misdaad-reeks

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Resensie. Huisgenoot, 30 Oktober 2008

 

Publikasie

Charlize: Ek leef my droom

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150279 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels; Life’s one helluva ride vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings

  • Charlize: ek leef my droom. Huisgenoot, 11 Junie 2009
  • Charlize: ek leef my droom. Landbouweekblad, 24 Junie 2009
  • Fitzpatrick, Marida: Charlize – afgeskil soos ’n ui. Beeld, 6 Junie 2009
  • Fitzpatrick, Marida: Merkwaardig, maar dis reeds ou nuus. Beeld, 22 Junie 2009
  • Roux, JB: Charlize: ek leef my droom getuig van ’n gesoute vakmanskap. LitNet, 1 Desember 2009
  • Schoeman, Le Roux: Ook Charlize-boek bly in brand in slag. Beeld, 25 April 2009
  • Van Rooyen, Reza: Drome word tog waar. Volksblad, 6 Julie 2009

 

Publikasie

Seisoen van sonde

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2018

ISBN

  • 9780798150385 (sb)
  • 9780798173940 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sielkundige riller

Pryse toegeken

ATKV-prys vir spanningslektuur 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Abel se ontwaking

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151306 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

  • ATKV-prosaprys 2011
  • ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur 2011

Vertalings

  • Engels 2012; The skin collector vertaal deur Elsa Silke
  • Filmuitgawe 2014

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Abel se lot

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152921 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2013; The skinner’s revenge vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die afreis van Abel Lotz

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156400 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2014; Face-off vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings

 

Publikasie

’n Man van min belang

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157766 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

  • Tweede Prys NB-Uitgewers se Groot Romankompetisie 2012
  • ATKV-prys vir goeie gewilde prosa 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die respektabele meneer Hartslief

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167840 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die respektabele meneer Hartslief

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167840 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die verdwyning van Billy Katz

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798171076 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

  • 2016 kortlys ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur
  • 2016 kortlys kykNET-Rapport-boekeprys vir films

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die dood van ’n goeie vrou

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174183 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Koms van die motman

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176224 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

  • 2018 kortlys kykNET-Rapport-Boekprys
  • 2018 kortlys ATKV-Woordveertjie spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Anderman se vrou: ’n Wim Kellerman-roman

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798179829 (sb)

Uitgewer

Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

2020 ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die versoeking van Thomas Maas

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798181167 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

2021 kortlys ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Man uit die dode: ’n Ella Neser-roman

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798181631 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Gerugte van ’n ontvoering

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780798182393 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

2022 ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Op pad na Moormansgat: ’n roman. Die  verhaal van Billy Foster en Koos de la Rey

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780798183222 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

  • 2023 ATKV-Prosaprys
  • 2023 kykNET-Rapport Herman Binge-prys: Film
  • 2023 kortlys kykNET-Rapportprys vir fiksie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Chris Karsten

Chris Karsten se ATKV LitNet-Skrywersalbum is op 02-03-2017 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top