Chanette Paul (1956–)

  • 4

Gebore en getoë

Chanette Paul is – volgens haar geboortesertifikaat – op 20 Oktober 1956 iewers in Johannesburg gebore. Toe sy vier maande oud was, het haar regte ouers haar by die Johannesburgse weeshuis gaan haal en haar na Stilfontein geneem, waar haar pa ’n elektrisiën op die myn was. Sy ken nie haar biologiese ouers nie, maar sy weet dat sy met geboorte as Marion Cathleen Hughes geregistreer is en dat haar aanneming waarskynlik daaraan te wyte was dat haar biologiese pa ongeveer drie weke na haar geboorte oorlede is. Op Stilfontein is sy Chanette gedoop – aanvanklik sou sy Jeanette genoem gewees het, maar uiteindelik is sy as Chanette Meyer geregistreer. Die gesin trek baie rond en voor sy skool toe is, bly sy reeds in Cullinan, Sunnyside, Villieria, Rietfontein en Menlopark. Haar grootouers van moederskant immigreer kort na die Tweede Wêreldoorlog uit Nederland na Suid-Afrika en bring kosbare erfstukke saam wat later, na haar ouma se dood, in Chanette se huis gehuisves word.

Sy gaan vir die eerste keer skool toe in Silverton en voor sy klaarmaak met haar laerskooldae, woon sy skole in Meyerspark, Generaal Hendrik Schoeman op Schoemansville en Laerskool Louis Leipoldt in Lyttelton by. In standerd vyf word sy verkies tot onderhoofleier en sy wou nie weer trek nie, maar sy moes maar die plaasskool in die omgewing van Bon Accord-dam bywoon. Halfpad deur haar standerd 6-jaar verhuis hulle na Durban en daarna na die Suidkus, waar sy aan die Hoërskool Kuswag skoolgaan tot vroeg in standerd 8, toe hulle na Newcastle trek. Haar standerd 9- en matriekjaar voltooi sy aan die Hoërskool Ermelo.

Chanette se pa het geskilder en haar ma het haar vandat sy klein was met stories grootgemaak, en vandat Chanette kon skryf, timmer sy stories aanmekaar. Sy het al in standerd twee ’n A4-boek met ’n spiraalrug gehad waarin sy stories begin neerskryf het. In standerd agt word een van haar kinderverhale, “Tant Mollie en die stoute feetjie”, oor Siembamba voorgelees deur Kosie Venter, wat hulle buurman in Meyerspark was. Sy ontvang die vyf rand daarvoor. In matriek skryf sy haar eerste volwaardige kortverhaal, maar dit bly in die laai lê. In ’n onderhoud met François Bloemhof in Vrouekeur (9 April 2004) vertel Chanette dat sy baie bevoorreg is om ouers te hê wat begrip het daarvoor dat sy so “op die periferie van die werklikheid” woon en self “miskien so ’n bietjie dromerig” is.

Chanette onthou dat die Huppelkind-boeke van WO Kühne vir haar altyd sal uitstaan: “Die stories het my kinderdae met verwondering gevul oor ’n lewe ‘in die middel van die wêreld in die middel van die vlei’. ’n Paar jaar later het Die Uile van Cor Dirks my gunsteling geword. Ek glo dis hierdie twee reekse wat my weetlus en liefde vir geheimenisse aangewakker het.” (Huisgenoot, 26 Mei 2016)

Karin Brynard wou op Crime Beat weet wanneer Chanette begin lees het: “Vandat ek kan onthou het my ma my met stories gevoer, of dit nou vertellings of voorlesing was. Ek het self begin lees vandat ek kón. My absolute gunsteling as kind was die Uile-reeks van Cor Dirks. Dis seker waar my liefde vir spanning sy vroegste grondslag gekry het. Daarna is ek deur ’n Ena Murray-fase – vandaar sekerlik die liefde. ’n Boek wat ek voos gelees het, een wat my Hollandse ouma vir my gegee het en een van die min boeke wat ek besit het, was School-Idyllen van Top Naeff. Elke keer snot en trane gehuil. Maar ek het nog altyd feitlik alles gelees waarop ek ook al my hande kon lê. Die groot deurbraak het gekom toe ek begin Engels lees het – ongelukkig relatief laat omdat my ma nie Engels magtig was nie en ons gevolglik net Afrikaanse en Nederlandse boeke by die biblioteek uitgeneem het. (Ek kon Nederlands en Vlaams destyds baie vlotter lees as Engels). Maar toe ontdek ek wat ’n Book Exchange is en daarmee saam so met verdrag vir Wilbur Smith, Arthur Hailey, Harold Robbins, Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Leon Uris, Robert Ruark, Irving Wallace, Stephen King, Shirley Conrad, Jean Auel ... ag, al die bestsellers en page turners van destyds. Op universiteit het ek darem ook literêre werke amptelik ontdek alhoewel ek reeds vroeër daarmee kennis gemaak het, maar ek het altyd my voorliefde vir ontspanningsfiksie behou ondanks ’n meestergraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde!”

Verdere studie en werk

Chanette is na die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, waar sy in 1977 haar BA-graad verwerf met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke. In 1978 vertrek sy na Bloemfontein, waar sy haar Hoër Onderwysdiploma met lof slaag. In 1979 hou sy vir twee maande skool in Groblersdal en vir die res van die jaar gee sy Afrikaans Tweede Taal vir immigrante aan Edenvale High School.

Chanette trou in 1980 met Jack Otto Paul. Hy doen kontrakwerk en hulle gaan bly langs die Limpoporivier in ’n karavaan, 80 km vanaf die naaste telefoon. Om haar tyd te verwyl, skryf sy haar in by Unisa vir Kriminologie II, Volkekunde I en Argeologie I, nie vir graaddoeleindes nie. Sy slaag laasgenoemde twee met onderskeiding. In 1982 behaal sy haar BA Honneursgraad met onderskeiding, wat haar moed gee om vir haar meestersgraad in te skryf, maar weens ’n sameloop van omstandighede moes sy opskop.

Gedurende 1985 keer hulle terug na die Rand en maak sy gebruik van die kans om weer te studeer. Sy skryf in 1987 by die Randse Afrikaanse Universiteit in vir haar MA-graad, wat sy in Junie 1988 met lof slaag. Sy ontvang vir haar skripsie, Funksies van die fisiese ruimte in Toorberg, onder leiding van prof Johann Johl, die Simon Weinstein-prys.

Intussen raak Chanette betrokke by die klerebedryf en word sy ’n vennoot in ’n klerefabriek en behartig later haar eie fabriek en boetiek.

In haar tweede jaar op universiteit diep sy haar lank-terug se verhaal op en begin om dit ingrypend te verander. Sy stuur dit aan Sarie, wat haar laat weet dat hulle waardering het vir die verhaal, maar dit nie kan plaas nie, aangesien hulle ’n soortgelyke een deur Elsabe Steenberg kort tevore geplaas het. Chanette stuur dieselfde verhaal aan Bennie Fritz van Die Huisgenoot, wat dit aanvaar met sekere voorwaardes. In 1976 word die verhaal gepubliseer en ontvang Chanette die “prinslike som” van R86 daarvoor. Bennie Fritz ontvang die een verhaal na die ander van Chanette, maar almal word teruggestuur, meestal met opbouende kritiek en aanmoediging. Vroeg in die negentigs probeer sy weer, maar weer wag teleurstelling vir haar. Sy besluit dus dat skryf nie vir haar bedoel was nie en hoewel sy nou en dan ’n verhaal aanpak, word dit nooit voltooi nie.

In Oktober 1994 woon sy die jaarlikse Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat by en gesels met Esme Mittner, verhaleredakteur van Sarie, wat haar aanmoedig om aan te hou probeer.

In Desember 1994 trek Chanette en haar man na Hartebeespoortdam. Sy is 38, uit die klerebedryf en moet besluit wat sy met die res van haar lewe wil doen. Sy besluit dat sy haarself ’n jaar gaan gun om voltyds te skryf. Sy koop die goedkoopste rekenaar op die mark en begin skryf. Haar eerste poging is ’n novelle van ongeveer 9 500 woorde, wat Esme terugstuur met die versoek dat dit ingekort word tot 3 500. Chanette begin met oorgawe skryf aan ’n Mills & Boon-boek in Engels, maar ook dit word teruggestuur. Teleurgesteld begin sy skryf aan ’n liefdesverhaal in Afrikaans. Sy ontmoet vir Cecilia Britz van Perskor en gee haar die eerste paar hoofstukke van haar verhaal. Cecilia stel belang en in die eerste week van Desember 1995 lewer Chanette die voltooide manuskrip van Maalstroom van ekstase by Perskor se kantore af. Sy begin ook werk aan die redigering van die verhaal wat sy aan Esme Mittner gestuur het, en ’n paar dae uitmekaar, net voor die Kersseisoen, hoor Chanette dat albei aanvaar is – en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Amper 50 romans het al uit haar pen verskyn en die einde is nog nie in sig nie. Vir haar eerste roman ontvang sy in 1996 die Perskor-prys vir die beste romantiese fiksie, en Wip van die droomvanger is in 1999 die naaswenner van die ATKV-Prosaprys.

Chanette en Jack woon op ’n stadium by die Hartebeespoortdam en as hy kort-kort weg is van die huis as gevolg van sy werk, bly sy, die twee katte en honde en ’n hand vol visse agter om mekaar geselskap te hou. Haar huis en sy inhoud is ’n duidelike weerspieëling van Chanette se kreatiewe ingesteldheid.

In 1998 verskyn haar roman Vlerkaf, wat handel oor drie vroue wat elkeen met hulle persoonlike probleme worstel. Die esoteriese figureer sterk in die verhaal en daar is ook verwysings na die mitologie en spesifiek na koning Arthur. Chanette vertel vir Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 28 April 1998) dat sy baie navorsing gedoen het oor die esoteriese en die Arthuriaanse. Sy is nie self ’n aanhanger van “enige esoteriese denkrigting nie, maar het ’n groot belangstelling daarin”.

In ’n onderhoud in Sarie van November 2004 beken Chanette dat sy die liefdesverhaal-genre gekies het omdat sy as enigste, eensame kind skoolvakansies omgelees het aan liefdesverhale. “Toe ek begin skryf het, was my vertroue in my skryfvermoëns maar eina, maar ek het vir ’n liefdesverhaal kans gesien en gehoop dit sou vir my ’n soort skryfleerskool wees.” Sy verpes die term hygroman: “Dit gaan oor romantiek en begeerte tussen karakters wat hulle in ’n ontwikkelende liefdesverhouding bevind, asook die emosionele belewing hiervan by die heldin – nie grafiese beskrywings van die seksdaad nie. Ek is in murg en been ’n romantikus.”

In 2003, terwyl Chanette op De Rust naby Oudtshoorn woon, voltooi sy haar MA in Skeppende Skryfwerk (cum laude) onder leiding van prof Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad nadat sy ’n beurs van Human & Rousseau Uitgewers ontvang het. Die roman wat hieruit voortgespruit het, Leila word lig, haal die kortlys van die ATKV-Prosaprys in 2006. Dit is die eerste roman wat sy publiseer onder die naam Chanette Paul om dit te onderskei van haar ligter fiksie, wat sy as Chanette Paul-Hughes skryf.

In 2003 trek Chanette en haar kat Vasti na Stanford, naby Hermanus, aan die oewer van die Kleinrivier, en sy raak liries oor die uitsig vanuit haar studeerkamer op die rivier en die Kleinerivierberge. “Daar is vir my iets magies hier. Ek hoor feëvlerke in die melkhoutboom en soms dink ek ek sien die wenkbroue van ’n waternimf wat oor die meniskus van die rivier na my loer. Ek verneem dit kan dalk vlermuise en otters wees wat my verbeelding op loop het, maar ek verkies om anders te glo.” (aan Sarie, November 2004) Chanette “speel” eienaar-bouer van haar huis in Stanford en vertel van haar al haar wedervaringe in April 2005 se Rooi Rose se rubriek “Agterstoep”. Sy vertel dat die man in haar lewe, Ernie Blommaert, eindelose geduld het met haar wanneer “ek in storie-mode ingaan en nie heeltemal in die gees teenwoordig is waar die vlees haar bevind nie”.

Chanette en Ernie trek in 2022 Groot Brakrivier toe waar hulle op die gholflandgoed gaan woon – ’n plek waar sy kan skryf en Ernie sy liefde vir gholf kan uitleef.

Chanette se huis is vir Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010) soos iets uit ’n sprokie. “Aan weerskante van die voordeur is sementmeerminne – een met vlerke en een sonder vlerke – wat Koos Malgas van Nieu-Bethesda kort voor sy dood vir haar gemaak het, ’n klimop is stadig besig om die mure toe te groei en oral is blomme en ’n paadjie wat jou laat dink Gouelokkies gaan netnou hier afgehuppel kom om iets te ete te soek. Aan die agterkant strek die grasperk tot by die rivier, waar Blom se rivierboot, die River Rat, vasgemeer is. Hiermee neem hy toeriste op riviertogte.

“Die onderste verdieping van die huis is gevul met ’n eklektiese mengsel van goed. Daar is uitstalgoed op oop oppervlakke, helderkleurige plakkate van wulpse vroue, skilderye van feeagtige vroue, droomvangers, windklokkies. Saam met die baie hout – van die venster- en deurkosyne tot die vloer en deure – verleen dit warmte aan die vertrek wat vol herinneringsgoed is. Soos die meubels uit ’n ou Duitse schloss wat ’n Joodse vlugteling ná die Tweede Wêreldoorlog by haar Nederlandse oupa laat aflewer het. Dit was sy manier om dankie te sê vir haar oupa se hulp aan die Jode tydens die oorlog.

“Haar stamboom is nog interessanter as ’n oupa in die Nederlandse ondergrondse weerstandsbeweging. Volgens Chanette stam haar familie af van ’n buite-egtelike kind van Floris die Vyfde (1254–1296 nC) wat eeue gelede oor Holland regeer het.

“In haar slaapplek is oral boekrakke vol gepak met allerlei boeke. Van sprokies tot filosofie en natuurlik rye vol van Chanette se eie boeke. Sy het immers al meer as 30 geskryf. Die boekrakke dien as mure wat haar werkplek van die slaapplek afskei.

“Om haar rekenaar en om die bad se rand is ’n feërie – feetjies, elwe, dwergies en ander – uitgepak. Wanneer sy in die bad is, is dit asof die tuin in haar badkamer is. Plante loer om die vensterbank van die badkamervenster op die boonste verdieping. Ook in haar werkhoek word sy omring deur plante wat van buite af ruig om die vensterbanke krul.”

Chanette vertel aan Nieuwoudt: “Feërieë verteenwoordig al die mens se eienskappe: Boosheid en goedheid. Hulle is ’n afskadu van hoe ons is. Ek hou van die verbeelding agter die mitologie van feërieë.”

Meerminne en die mites wat om hulle verweef is, is vir haar ’n bron van inspirasie. Die visvrou figureer ook in die reeks met Gys Niemand as speurder. “Die meermin is by uitstek die uitbeelding van die vrou as intuïtiewe wese in haar oervorm,” skryf Chanette op haar blog. “Sy is vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ’n onderlyf verg, en die vermoë om te kan asemhaal. Sy hunker immer na ’n maat – een wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy nie heel voel nie.”

Chanette is van tyd tot tyd betrokke by leeskringe, skryfskole en skryfwerkswinkels en hou in 2003 haar eerste Manuskripfabriek vir skrywers van romantiese fiksie. Sy doen ook manuskripkeuring vir LAPA-uitgewers, lei skrywers op in die romantiese genre en evalueer manuskripte vir voornemende skrywers. Sy is ook een van die dryfvere agter die daarstelling van LAPA-uitgewers se drukkersnaam Romanza, wat kontemporêre en histories romantiese fiksie publiseer.

Deesdae (2019) doen sy manuskripontwikkeling vir LAPA Uitgewers. “In Engels sou jy dit seker structural editing kan noem, maar dit strek heelwat wyer as dit. In SA moet jy maar altyd meer as een ding in jou werksomskrywing inkorporeer. Deesdae lees ek so een tot twee manuskripte per maand, maar voorheen was dit veel meer. Ek het egter aansienlik afgeskaal omdat ek andersins nie genoeg tyd vir my eie skryfwerk kry nie,” vertel sy aan Phyllis Green. (Sarie, 20 Julie 2018)

“Ek werk ook deesdae net met manuskripte van skrywers saam met wie ek al ’n lang pad gestap het, almal nou reeds gepubliseerde skrywers, en slegs nou en dan met ’n manuskrip van ’n nuweling wat werklik baie potensiaal het. Verder doen ek op informele vlak navorsing oor genres en trends in die internasionale ontspanningsfiksiemark. Dis vir my en my uitgewers belangrik om te weet wat in die internasionale speelveld aan die gang is.

“Ek het voorheen skryf-/slypskole aangebied, maar dit het net te tydrowend geraak. Ek word egter steeds soms uitgenooi om oor skryfsake te praat en doen dit graag as ek tyd het. Ek het ’n paar bydraes gemaak tot Die Afrikaanse skrywersgids, wat dit makliker maak om vir skrywers, veral beginnerskrywers, daarheen te verwys pleks van telkens dieselfde raad te gee.”

Op ’n vraag oor hoe lank sy aan ’n boek skryf, sê Chanette dat dit afhang van die boek, van haar tyd en van die nood. Sy het ses van die sewe boeke in die Davel-reeks in elf maande geskryf – gemiddeld twee maande per boek! Maar aan Leila word lig het sy vier jaar geskryf. Sy sit so gemiddeld twaalf uur per dag agter die rekenaar.

Op haar blog skryf Chanette: “Ek skryf semi-voltyds. Ek doen manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers wat gemiddeld so 1–2 weke per maand van my skryftyd steel, maar ek is baie dankbaar daarvoor, want dit beteken ek nie net afhanklik is van my tantieme om te oorleef nie.

“Wanneer ek skryf, skryf ek hard. Ek sit so 10–12 ure per dag voor die rekenaar. Dit sluit natuurlik navorsing en allerhande ander dinge in – onder meer staar. Maar eintlik ‘skryf’ mens 24/7, want jou kop bly maar voortdurend by die storie. Ek het nou die dag saam met Blom, die geduldige man in my lewe, gaan rugby kyk by ons plaaslike pub. Toe ek weer sien, kyk almal om my na my pleks van die skerm. Blom sê ek het met my hand op my knie geslaan en gesê ‘yes! ek het hom’. Dit was op die oomblik toe iets oor een van die hoofkaraktes van Dryfhout (dis nou Gys nr 5) vir my duidelik geword het – terwyl die Stormers die een fout na die ander gemaak het.

“Ek stel vir my losweg ’n target van 12 000 woorde per week vir my skryfweke. Meestal doen ek so 2 000-3 000 woorde per dag. Soms is die 50 woorde, en soms as ek op ’n roll is tot 7 000. My rekord was oor die 8 000 woorde op een dag, maar dis die stukke wat altyd baie redigering nodig het.” (Op Chanette se blog)

Volgens Chanette is die heldin die spil waarom die liefdesverhaal draai. Sy vertel aan François Bloemhof in Vrouekeur “die leser wil deur haar oë sien, deur haar emosies ervaar en deur haar lyf voel. [...] Ek dink nie my heldinne uit nie, hulle klop by my aan. Hulle kan soms baie wederstrewig wees, veral oor wie die held gaan wees, maar ook oor name. Hulle laat hulle nie voorskryf oor wat hulle wil aantrek en hoe hulle veronderstel is om sop te eet nie. En wanneer die held hulle die eerste keer gaan liefkoos nie. Partykeer het ek al my dae om die twee net in ’n omhelsing te kry.”

Haar belangstellingsveld is wyd – benewens lees (alles wat voorkom, maar veral raaiselfiksie), reis (waarheen ook al) en musiek (van Chris Chameleon tot Chopin) is sy passievol oor tuinmaak, simboliek, mitologie, die misterieuse en esoteriese, kajakvaart, skubaduik, snorkel en onderwater-ekologie. Sy is lid van die South African Amateur Underwater Ecology Society wat universiteite help om navorsing op koraalriwwe te doen. “Ek duik graag op Ponta D’Ouro in Mosambiek, met sy wonderlike gevarieerde riwwe. [...] Wanneer ek duik, kom ek met ’n hele nuwe dimensie in my in aanraking. Miskien het dit iets te make daarmee dat duik amper simbolies kan wees van die wegsink in die vrugwater van die onderbewussyn, daar waar alles inderwaarheid begin.” Dan is seiljagvaart en motorfietse ook op haar lys belangstellings. In 1999 vertel sy vir Alita Vorster dat sy nog witwatervlotry op die Zambezi, ’n reksprong, ’n valskermsprong en ’n toer deur Afrika met ’n 4x4 beplan “so skuins voor ek vier en tagtig jaar oud is”.

In 2007 begewe Chanette haar op ’n heel ander terrein, naamlik dié van die spanningsverhaal, maar nog altyd met ondertone van romanse daarby. Springgety, die eerste van vyf boeke waarin die speurder Gys Niemand en konstabel Fortuin die geheime moet ontrafel, is deur LAPA uitgegee (soos ook die ander vier).

In Springgety gaan Lily Reynecke na Kruisbaai om Maja se spore na te volg. Kort na haar aankoms eis Springklip, die hoë krans waar reeds vier kruise staan, nog ’n lewe. En dit sit ’n hele string van gebeurtenisse op tou wat deur Gys opgelos moet word.

In Literator van Desember 2008 skryf S Meyer oor Springgety dat die karakters die leser op ’n persoonlike vlak in die storie intrek. “Die oortuigende motivering wat die verlede en jeugomstandighede ten opsigte van verskeie karakters se optrede bied, bring vir die leser die moontlikheid om hom-/haarself iewers te vind: in Ben wat as kind net skraapsels van ouerliefde geken het; in Kassie wie se enigste sekuriteit in sy ouer broer lê; in Ada wie se gewigsprobleme haar emosionele onsekerheid verraai; in Rina wat deur haar pa gemolesteer is; of in Maja wat met haar goeie bedoelings en swak oordeelsvermoë diegene rondom haar se lewens eindeloos kompliseer.

“Die hegte struktuur en fassinerende storielyn maak van hierdie dik roman meesleurende vakansieleesstof. Daar is genoeg kinkel in die verhaalkabel om die leser tot aan die einde te laat raai.”

Springgety is in 2016 herdruk en oor die herdruk skryf Yolanda Wessels op LitNet dat die skrywer goed daarin slaag om die leser aan te gryp en te laat vereenselwig met die verhoudings tussen die karakters, omdat almal al probleme ervaar het met verhoudings waarin daar wantroue is. “Dit is die realiteit, daarom is dit maklik om jou in te leef, veral as jy al bietjie lewensondervinding onder die knie het. Jy kan nie help om vinniger te lees om te sien wát die uiteinde is, wie die skuldige is en wat gaan gebeur nie. Natúúrlik is dit ook ’n roman, so jy soek daardie bietjie romanse en die hoop beskaam geensins vir ’n prentjiemooi liefdeseinde nie.

“Chanette kwyt haar goed van haar taak in haar eerste spanningsroman. Die leser se aandag word deurentyd behou, daarom soek jy amper ’n wegglipkkansie om nog ’n bietjie te lees en voor jy jou oë uitvee is ’n paar uur verby en spoed jy deur haar gemaklike, vloeiende skryfstyl.”

Die tweede in die reeks, Fortuin (2008, met ’n herdruk in 2016), speel af rondom die joernalis Xanthe Tredoux wat na die afgesonderde landgoed Paradyskloof in die berge moet gaan in opdrag van die redakteur van Tuisfront om uit te vind wat agter Eva van Eeden en haar Paradyskloof skuil.

Chanette vertel aan LAPA (LAPA-boekkatalogus Oktober–Desember 2008) meer oor Fortuin: “Skryf is, benewens harde werk en ’n Trojaanse toertjie in selfdissipline, ook ’n magiese ervaring. ’n Goeie voorbeeld hiervan is speurder-sersant Gys Niemand, die karakter wat in Springgety veronderstel was om ’n terloopse een te wees. Maar Gys het ander planne gehad, en nie net in Springgety nie. Hy het besluit om sommer Fortuin ook te kaap om sodoende sy storie te vertel.”

Hierna volg Boheem (2009), Meetsnoer (2010) en Dryfhout (2011), almal met Gys as speurder. Al drie titels is in 2016 en 2017 heruitgegee. In Boheem ontmoet die leser vir Kayla Cilliers wat drie jaar na die moord op haar man na die kunstenaarskolonie Bohemia gaan nadat sy ’n skryfkompetisie gewen het. Kort na haar aankoms kom sy op ’n lyk af en is daar mense wat wil verhoed dat sy hierdie skotvry daarvan afkom en moet Gys Niemand weer al sy speurvernuf inspan om die skuldiges aan die pen te laat ry.

In Die Burger (19 Oktober 2009) skryf François Bloemhof dat as daar iets is waarvan lesers seker kan wees, dit is dat Chanette Paul kan skryf. “Sy bly produktief, sonder insinkings in die gehalte van haar werk.”

Vir Bloemhof was dit ’n probleem dat die romanse en spanningsverhaal in Boheem so verweef is, want soms het dit gevoel asof die twee elemente met mekaar bots.

“Daar is baie mense vir wie bostaande ‘beswaar’ oor die vermenging van genres nie sal geld nie; die skrywer se getroue lesers behoort die boek baie te geniet. Verder – hoeveel Afrikaanse vroueskrywers is daar dan nou wat hul voet op spanningsterrein waag? Na my beste wete is dit ook slegs dié skrywer wat dit tans plaaslik waag om daardie twee genres te kombineer, en daarvoor verdien sy vir seker krediet.”

Hoewel die boek lank is, is die intrige verwikkeld genoeg dat dit die leser se aandag sal behou. Bloemhof gaan voort: “Dit is ook gul gepeper met fyn humor en waarnemings wat van navorsing spreek.”

Op Crime Beat vertel Chanette in Desember 2010 aan Karin Brynard dat die hele kwessie van die jaar 2012 wanneer na aanleiding van die Maja-kalender van 5 120 jaar tevore die einde van die mensdom gaan begin, haar verbeelding aangegryp het. Meetsnoer is egter lank voor 2012 begin en hierdie kwessie was dus nie die ding wat die boek geïnspireer het nie. Oor die jare was daar ook baie profete wat die einde van die aarde en die oordeelsdag voorspel het. In Meetsnoer word daar geskryf oor só ’n profeet en die sy aanhangers. Meetsnoere dui ook op die standaarde waaraan buitestanders vir Raine Quinn, die hoofkarakter, meet, en haar reaksies daarop. En dan, aan die einde van die boek, die standaarde waaraan sy haarself, haar naaste, haar huidige lewe, asook haar toekoms, meet.

Die kerk waaroor dit in Meetsnoer gaan, is die Meetsnoer-kerk en dit, saam met die broederkerke, is almal die uitvloeisels van Chanette se verbeelding. Dit is gegrond op min of meer dieselfde kerke in die werklike lewe. Haar navorsing was redelik uitgebreid en tydens haar soektog het sy op webwerwe afgekom waarop haatspraak en fanatisme hoogty gevier het en haar geweldig geskok het.

Om ’n boek met godsdiens as ’n hooftema aan te pak, is altyd ’n waagstuk en baie sensitief. Dit is ook nie iets wat normaalweg in ’n romantiese spanningroman aangepak word nie. Maar vir Chanette het nie daarvoor teruggedeins nie, want haar geloof is dat enige tema in ontspanningsfiksie kan voorkom, solank dit ontspanningsfiksie is. Sy vertel verder aan Karin Brynard: “Ek hoop ek kry dit met Meetsnoer reg om nie idees af te dwing nie en om objektief te bly. Ek hoop dat dit steeds net ’n storie bly wat ’n mens wegvoer van die werklikheid en jou na ’n ander, verbeelde realiteit neem. As dit die leser ’n bietjie laat nadink, is dit ’n bonus.”

Oor die finale titel in die reeks, Dryfhout, skryf Jaybee Roux (Beeld, 25 Julie 2011): “Sommige karakters, soos Gys en Fortuintjie, draf gemaklik in al vyf boeke rond. Maar nuwelinge en vars intrige is daar genoeg in dié grande finale.

“Die heldin is Aengel Rousseau en Roarke is die volmaakte romantiese held. Natuurlik sorg Paul as gesoute romanse-skrywer dat dié twee rede het om nie dadelik in mekaar se arms te val nie, al gril ’n mens ’n bietjie wanneer die heldin se mond uiteindelik deur die held ‘geplunder’ word. Sulke clichés is gelukkig min.

“Wat die storie self betref: Aengel kom nie met haar Bolandse familie oor die weg nie en vestig haar in Kierangbaai. Sy leer gou die ander inwoners ken. Vier van hulle word een ná die ander vermoor en amper enigeen van die karakters met hul probleme en intrige kan skuldig wees.

“Die wisselwerking tussen hede en verlede boei. Die dagboeke van Angelique d’Avignon, Aengel se voorsaat, speel ’n belangrike rol in die verklaring van die legende van Annie, oor wie ons in Springgety gelees het. Dié aspek snoer al vyf titels finaal saam en pas by die ou porseleinskerwe waarna Roarke so soek op die strand.

“Paul weet hoe om spanning en romanse in ’n ligte, leesbare storie te kombineer. Die mites en legendes verskaf ’n magiese ondertoon wat haar werk laat uitstyg bo die gewone speur-prul. Watter boek die hoogtepunt van die reeks is, is seker persoonlike voorkeur, maar ek glo Paul bewys met Dryfhout vyf is presies die regte getal boeke vir ’n reeks soos dié.”

Oor haar wegswaai van suiwer romantiese verhale na romantiese spanningsverhale vertel Chanette aan Karin Brynard op Crime Beat dat spanningsromans nog altyd ’n leesvoorkeur by haar was. Sy het al in 1999 Wip van die droomvanger geskryf, maar toe was mense nog nie so gaande oor Afrikaanse spanningsverhale nie, al was Deon Meyer toe al op die toneel. “Omdat ek om den brode skryf, het ek teruggegaan na suiwer romantiese verhale. In 2006 het ek egter die historiese Davel-reeks klaargemaak en toe besluit om aan die diep kant in te spring en weer te probeer. Die Gys-reeks is die resultaat al was dit nie aanvanklik bedoel om ’n reeks te wees nie.”

En die resensente stem saam. Oor Meetsnoer skryf Stephanie Nieuwoudt op LitNet: “ ... Al lyk Paul se boeke in die Gys Niemand-reeks na speurverhale, en al loop die spanning soms so hoog dat die leser asem ophou, is Paul gesteld daarop dat haar boeke suspense-verhale is.

“Volgens Paul is die speurder in die suspense-verhaal ’n sekondêre karakter. Die hoofkarakter is nie ’n opgeleide speurder nie, maar is ten nouste by die saak betrokke. Die leser van die suspense-verhaal het gewoonlik ook meer insae in die moord en die moordenaar as die hoofkarakters. En natuurlik is daar ’n sterk romanse aan ’t ontwikkel.

Meetsnoer is die vierde boek in die Gys Niemand-reeks. In al die boeke probeer die speurder Gys Niemand en sy kollega Fortuintjie om ’n moord op te los. En soos in al die vorige boeke is die milieu waarin die verhaal afspeel, prentjiemooi.

“Raine Quinn trek in die sprokiesmooi huis op die pragtige landgoed Fluisterbos in. Sy het die huis gekoop nadat die eksentrieke, interessante Joanie vermoor is. En langs Fluisterbos is die stuk grond waar ’n sekte, onder die leierskap van Profeet Sias, wortelgeskiet het. En Sias wil Fluisterbos in die hande kry. Intussen moet Raine ook nog sin maak van haar gevoelens oor Flint, die aantreklike susterskind van die vermoorde Joanie.

“Paul skroom nie om te skryf oor omstrede dinge nie. In Fortuin word byvoorbeeld ’n vorm van Wicca bedryf en die skrywer gaan simpatiek met die alternatiewe godsdiens om; in Meetsnoer word ’n sekte van naderby bekykgewis minder simpatiek.”

Chanette se navorsing beïndruk vir Nieuwoudt. “In Meetsnoer draai ’n groot deel van die gebeure om ’n oerplant, Annie-se-lot, ’n soort varing. Sy het deeglik navorsing gedoen oor die voortplantingstelsel van varings, en hoe die plante oorleef, maar vir die doel van die verhaal, het sy, soos sy in die outeursnota skryf, nie die feite in die pad van haar verbeelding laat staan nie. ’n Mens is half teleurgesteld dat daar nie werklik so ’n besonderse plant bestaan nie.

“Sy slaag daarin om die spanning enduit vol te hou. Sodra jy dink jy het nou agter die kap van die byl gekom oor wie ‘goed’ en wie ‘sleg’ is, wag ’n verrassing en laai die spanning weer op.

“Dis dié karakters wat elke nuwe boek in die reeks soos ’n tuiskoms na bekendes laat voel. Dis jammer Paul neem met haar finale boek in die reeks, Dryfhout afskeid van Gys, Fortuintjie en Gertjie.

“En mag Paul se naam ook in die toekoms onthou word wanneer daar oor die misdaad- of spanningsverhaal geskryf word. Want al beskryf sy haar werk as suspense, speel sy op dieselfde veld as ander skrywers wat bekend is in die misdaad- of spanningsgenre.”

Oor die suspense-verhaal verduidelik Chanette aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010): “In Afrikaans word die term spanningsroman te wyd gebruik om regtig ’n onderskeid te tref soos in Engels, waar daar onder meer onderskei word tussen ‘suspense novels’ en ‘detective nov­els’. Daar is natuurlik ook baie ander subgenres in die misdaadgenre.”

“As mens wil hare kloof, is daar ook ’n onderskeid te tref tussen ‘romantic suspense’ en ‘gewone suspense’. Die beste waarmee ek vorendag kan kom (en dis onbevredigend), is romantiese spanningsroman. In ‘romantic suspense’ is ’n vlegsel van twee storielyne, naamlik die romantiese lyn en die spanningslyn. Albei behoort ewe sterk en verweef te wees. Dit wat op romantiese vlak gebeur, moet ’n uitwerking hê op die spanningslyn en andersom. Gesamentlik laat dit die protagonis ook ’n emosionele reis beleef. Waar die speurverhaal om die speurder draai, is die speurpersoon en hoofkarakter (nie ’n opgeleide speurder nie) in ‘suspense’ nie sekondêre karakters nie. In die ‘suspense’-verhaal weet die leser gewoonlik meer as elkeen van die karakters en word dus self ’n speurpersoon.”

In 2012 word Chanette se Maanschijnbaai-tweeluik gepubliseer. Jo en Sue is die eerste en Nana en Jeannie die tweede. Hierdie twee was só gewild dat hulle op ’n stadium beter verkoop as die topverkoper Fifty Shades of Grey. Jo en Sue het in 2012 die Lekkerlit-toekenning ontvang. LAPA Uitgewers het hierdie prys ingestel waardeur lesers gevra watter boek hulle die voorafgaande jaar die meeste geniet het.

Vier verskillende vroue, almal Calitze, word in bogenoemde twee boeke aan die leser bekendgestel. Elkeen is op ’n ander stadium van hulle lewe en elkeen het haar eie eienaardighede, maar bowenal het elkeen ’n verlede, met ’n hoofletter V. Die vier beland op Maanschijnbaai nadat Casper sy turkoois huis aan hulle bemaak het. Die mense van die stranddorp wil die huis laat platslaan, maar vir die vier vroue is dit ’n heenkome.

Hulle meen dat as hulle die ou krot van ’n huis weer leefbaar kan maak, sal dit hulle help om weg te kom van hulle verlede. Jo was in ’n verhouding betrokke wat haar nie net finansieel geruïneer het nie, maar ook geestelik; Sue moet op ’n manier van al haar vorige minnaars wegkom; Nan het haar werk verloor en Jeannie moet ontsnap van die Maidens of Sappho. Maar so maklik raak hulle nie van die verlede ontslae nie, want op Maanschijnbaai is daar iemand wat nie daarvan hou dat die “vier slette” Casper se erfgenames is nie.

Op LitNet wou Naomi Meyer by Chanette weet watter van die vier Calitze haar gunstelingkarakter is. “Dis dalk ’n geykte antwoord, maar dis werklik dieselfde as om vir ’n ma te vra watter kind die liefste het. Elkeen van die Calitze het ’n baie spesiale plekkie in my hart. Jo het die storie aan die gang gesit met die finansiële en emosionele flaters wat sy begaan en in aller yl probeer regstel, maar dan net al dieper in die moeilikheid beland. Haar deursettingsvermoë beïndruk my en ek hou van haar sagtheid wat tog deur staal gerugsteun word.

“Daarna het Nan en Jeannie hulle opwagting gemaak. Ek het dadelik ’n baie teer plekkie ontwikkel vir Nan, wat haar familie so bo alles, ook haarself, stel sonder om sentimenteel te wees daaroor of erkenning te verwag. Ek was egter baie bly vir haar onthalwe toe sy in die tweede boek ’n bietjie meer na haar eie belange begin omsien het.

“Met Jeannie het ek gesukkel. Ek kon die klein snip aanvanklik nie kleinkry nie, maar die kwesbaarheid agter die veroordelende houdinkie het my simpatie gewen. Veral in die tweede deel van die tweeluik het ek haar bitterlik lief gekry, omdat ek haar toe soveel beter leer verstaan het.

“Sue was die laaste Calitz wat haar in my storie ingewurm het, en soos Sue maar is, het sy dit met ’n bang! gedoen. Ek het dadelik van haar gehou, al is sy so ’n pes waar dit mans aangaan. Weer eens was daar ’n kwesbaarheid wat haar hardegatgeid onderlê, en dit veral, maar ook haar eerlikheid en reguit manier van sê en doen, het my hart verower.

“Tog het ek in die begin baie baklei teen Sue se toetrede. Ek kon sien sy gaan my storie in heel ’n ander rigting stuur as wat ek beplan het. Nou is ek haar egter ewig dankbaar dat sy haar opwagting gemaak het. Ek dink Sue sit die pit in die verhaal, al mag sy sommige lesers dalk affronteer met haar geswets, haar gerook en gedrinkery. Ironies genoeg, is sy baie lesers se gunsteling.”

Oor die kwessie van nog ’n Maanschijnbaai-titel sê Chanette aan Naomi Meyer op LitNet dat die Calitze baie gelukkig is waar hulle is. “Ek dink nie ek gaan verder met hulle lewens inmeng nie. Ek is dit aan hulle verskuldig om hulle in rus en vrede op Maanschijnbaai te laat voortwoeker.

“Voorlopig is ek eers weer terug by spanningsromans. Labirint is reeds op die rak en ek het onlangs begin skryf aan nog ’n enkelstaande spanningsroman, al is dié nou weer geskoei op ’n heel ander soort spanningslyn as die voriges.

“Dis vir my ’n groot verligting dat my lesers aanvaar ek skryf uiteenlopende stories en kan nie uitsluitlik aan een genre gebind bly nie. Die goeie terugvoer wat ek kry oor sowel ’n reeks soos die Daveltjies as die Gys-boeke, en veral nou die Calitz-slette, laat my vry voel om te skryf ongeag die soort storie wat na my kant toe kom. Dis dan ook die lojaliteit en entoesiasme van my lesers wat van die Maanschijnbaai-tweeluik ’n sukses maak.”

Labirint vertel die verhaal van Vasti de Leeuw, ’n kunstenaar, wie se lewe al ’n paar liederlike draaie geloop het, skryf Marinda Ehlers op LitNet.

Sy was nog ’n skooldogter toe haar ma oorlede is nadat sy onder die ploegskaar beland het terwyl haar pa die trekker bestuur het. Terwyl sy ’n student was, raak sy betrokke by ’n man wat haar verkrag en swanger agterlaat. Sy trou met hom, maar die huwelik werk nie uit nie. Ná sewe jaar pla Dolf Verster haar nog altyd oor die telefoon en haar senuwees is gedaan.

Net voor haar veertigste verjaardag word daar by haar blyplek by die Hartbeespoortdam ingebreek en die plek word omgekeer. Terselfdertyd word ’n hele klomp van haar skilderye ook verwoes. As gevolg van hierdie gebeure neem sy die besluit om na haar geboortedorp terug te gaan en trek in haar ouma se ou huis langs die rivier in.

Maar dit is verniet of sy ontslae kan raak van die telefoonoproepe en dinge op die rustige dorpie in die Overberg is ook nie aldag pluis nie. Nie lank na haar aankoms daar nie, word sewe mense vermoor.

Ehlers skryf verder (LitNet): “Paul het duidelik heelwat navorsing vir hierdie boek gedoen. As jy min van kuns af weet, sal jy ’n hele paar dinge te wete kom. Ook van die Griekse mitologie. En natuurlik van labirinte en doolhowe. Die taalversorging is nie oral wat dit moet wees nie, maar dit sal die meeste lesers waarskynlik nie eens pla nie. Dit is ’n stewige roman hierdie: 540 bladsye. Aanhangers van haar werk sal sonder twyfel hierdie jongste boek geniet.”

In ’n onderhoud op Chanette se webwerf wou JB Roux weet hoe sy voel oor die dikwels vergeefse pogings van uitgewers om gewoonlik heelwat geld te bestee en baie moeite te doen om digbundels wat in klein oplae gedruk word, uitverkoop te kry. En dieselfde moeite word nie gedoen om ontspanningsverhale te bemark nie.

Dit laat Chanette effe vieserig voel, maar nie briesend nie. “Dié soort voorkeurbehandeling spreek van elitisme en die leser word nie geag nie. Dis met goeie rede dat daar net oplae van 300 gedruk kan word. Dit dui daarop dat daar hoogstens 300 moontlike kopers is, met net ’n bietjie meer lesers as ’n mens biblioteke en boekklubs in ag neem. Lig daardie 300 kopers in oor die werk, gee dit gepaste blootstelling, ja, maar nie ten koste van ander genres wat dit juis moontlik maak om digbundels te druk nie. Dit geld nie net digbundels nie, maar dikwels literêre prosa ook.

“Dit maak ook nie vir my besigheidsin nie. As dieselfde geld bestee en blootstelling gegee word aan ’n boek wat sonder blootstelling ’n hele paar duisend kopieë verkoop, dink net hoe goed kan dit doen as dit behoorlik onder die lesers se aandag gebring word.

“Ek dink egter nie dis die uitgewer per se wat die wortel van die kwaad is nie. My ondervinding met my uitgewers spesifiek is dat hulle moeite doen met al hulle boeke. Hulle loop hulle egter allerweë vas met die media wat ontspanningsfiksie betref. Ek skiet myself dalk nou in die voet, maar ek lê die skuld hoofsaaklik voor die deur van elitistiese boekebladredakteurs wat by uitstek konsentreer op literêre publikasies en hulle merendeels afvee aan enigiets wat na ontspanning lyk. Selfs wanneer daar wonder bo wonder wel ’n resensie van ’n ontspanningsroman is, word dié veels te dikwels oorgelaat aan ’n resensent wat nie genrekundig is nie. ’n Goeie voorbeeld daarvan was ’n resensie in ’n vrouetydskrif oor Sophia Kapp se liefdesroman Die tuiskoms. Dit was vir my duidelik dat die resensent die genre nie eens begín begryp het nie. Dis logies dat resensente nie almal ewe kundig is oor sekere genres nie. Maar dêmmit, dan moet iemand wat niks van liefdesromans weet nie, nie ’n Sophia Kapp-boek probeer resenseer nie.”

Oor die oorgang van die genre van romanse na suspense het Chanette haar as volg uitgelaat teenoor JB Roux: “Die oorgang was ongelooflik moeilik. Die brug blyk toe ’n gevaarlike, hangende een oor ’n krokodilvervuilde rivier te wees - of so het dit gevoel. Enersyds was ek amper té gekonfyt in romantiese fiksie. Andersyds het ek die genre onderskat. Die grootste probleem was egter die verskil wat lengte aan die werkinge en dinamika van ’n storie maak. Dis amper soos om skielik ’n enorme vragmotor met iets soos sewentien ratte te bestuur terwyl jy aan ’n Golfie met ’n vyfspoed-ratkas gewoond was.

“In die romanse lê die spanningslyn hoofsaaklik op die vlak van die ontwikkelende liefdesverhouding. In suspense lê dit op vele eksterne en inherente vlakke. Dis nie net die wie-het-dit-gedoen-lyn nie. Suspense gaan ook oor emosies en karakterontwikkeling. En dan is daar nog die liefdeslyn wat baie meer verwikkeld is as in die romanse. Dis nou benewens die uitdaging om die leser dwarsdeur die storie te laat naels kou.

“Die meer tegniese sy het ook vir my probleme opgelewer, onder meer wat perspektief betref. In die romanse word net die heldin se perspektief gebruik en by uitsondering die held s’n. In Springgety het ek aanvanklik ook net Lily se perspektief gebruik. Uiteindelik moes ek egter die hele boek oorskryf en ook Gys se perspektief inspan om die storie tot sy reg te laat kom. Wat beteken het dat my navorsing verdriedubbel het, aangesien ek moes agterkom hoe speursake en verwante dinge werk, maar daarbenewens moes ek ook probeer om in die kop van ’n man in sy vyftigs te kom.

“In Fortuin het ek amper oorkompenseer deur iets soos vyf karakters se perspektiewe te gebruik. Dit was vir my nuwe vaarwaters. Ek het boonop ’n redelik waaghalsige tema gebruik wat ek met groot omsigtigheid moes benader sonder om die impak daarvan op die storie te verminder.

“In Boheem voel ek dat ek die tegniese sy van die saak onder die knie gekry het en ek het ook baie makliker (met die klem op die -er) daaraan geskryf as die ander twee.”

Of daar enige iets is wat ontspanningskrywers self kan doen om die erkenning te kry wat hulle dalk verdien, weet Chanette nie. “Dis al asof my sporadiese gekyf op LitNet en elders, asook voorsprake wat mense soos onder meer Maritha Snyman in die pers gedoen het, uiteindelik tog ’n paar oë laat oopgaan het,” sê sy aan Roux (op haar blog). “Gesprekke soos die een oor romantiese fiksie waaraan ons deelgeneem het op die Woordfees, help ook om onkunde teë te werk (maar mens moet natuurlik eers genooi word)

“Die effek bly egter beperk. En mens vra jou af: Wat is nou eintlik my taak? Om te skryf of om onkunde te probeer teenwerk? Om my karakters tot hulle reg te laat kom in my storie of om blootstelling vir my boek te probeer kry? Want uiteindelik gaan dit weer eens oor blootstelling eerder as erkenning. As mens ingeligte blootstelling kry, sal erkenning volg of nie volg nie, afhangende van hoe goed jy jou van jou skryftaak kwyt.

“Uiteindelik dink ek die belangrikste is dat ons as ontspanningsromanskrywers aanhoudend aan ons skryfwerk slyp, werklik erns daarmee maak en ja, aanhou skryf - al voel dit later asof Sisufos se probleme in Tartarus ’n vulletjie teen joune is.

“Verder probeer ek die snobisme en onkunde ignoreer en my beste moontlike werk te lewer vir mense wat wel my boeke lees en dit geniet. Ek skryf my stories vir húlle, nie vir resensente of boekebladredakteurs of elitiste of wie ook al anders nie.”

In 2013 word Siende blind gepubliseer en vir die tweede agtereenvolgende jaar gaan die LAPA Lekkerlit-toekenning na Chanette.

Sy het aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Januarie 2014) gesê hoe sy oor hierdie toekenning voel: “Dit was reeds ’n heerlike verrassing laasjaar toe die eerste deel van die Maanschijnbaai-tweeluik as wenner aangewys is, maar hierdie jaar kon jy my met ’n veer omtik toe ek hoor Siende blind het gewen.” Sy beskryf die boek as “’n spanningsroman met ’n skeut liefde by en boonop ’n moord­storie sonder ’n noemens­waardige speurder”.

“In Afrikaans is hierdie ­vermenging van genres nog nie heeltemal gevestig nie. Die speurverhaal waarin ’n slim speurder die hoofrol speel, is baie meer ­bekend as die soort ‘woman-in-jeopardy’ boeke wat ek skryf. Siende blind het ook teen besondere sterk kompetisie te staan gekom. Dis dus vir my ’n reuse-pluimpie dat die boek hierdie jaar as die wenner aangewys is.”

Wat Lekkerlit vir haar “besonder spesiaal maak”, is dat dit die lesers is wat stem. “Dis immers hulle wat die boeke koop en dis hul goeie reg om te kan stem vir hul gunstelinge. Daarbenewens sê hul stem vir my ek is op die regte pad. Dit sê ook vir my dat hulle my vergewe vir die genre-spronge wat ek maak. Dit gee my die moed om aan te hou en my karakters en stories te bly vertrou, al is dit tot ’n groot mate baanbrekerswerk in ’n bedryf met baie slaggate.”

Chanette meen ook dat daar nie genoeg pryse en toekennings is vir die genre ontspanningsfiksie nie. “Buiten Lekkerlit is daar ­omtrent net die ATKV-Veertjietoekennings, en die kategorieë daar is redelik beperk. Ek hoop hierdie inisiatief van Lapa om aan lesers ’n stem te verleen, sal van krag tot krag gaan en dat die opbloei in Afrikaanse genrefiksie nog heelwat meer geleenthede vir erkenning sal skep.”

Siende blind is die eerste in ’n drieluik wat afgesluit word met Raaiselspieël en Ewebeeld.

Op Protea Boekwinkel se webwerf word die storie van Siende blind so opgesom: “Op ’n Sondagoggend terwyl hulle ontbyt maak, vra Cara haar sielemaat en eggenoot van twintig jaar waarom hy die afgelope so stil is. Sy kry ’n sielsverbysterende antwoord. Vir haar voel dit soos die einde van alles wat vir haar betekenis inhou. Dis egter net die eerste tand van die duiwelsvurk wat haar veilige kokon deurboor. Haar hele lewe verander in ’n blivet, daardie optiese illusie waar twee onversoenbare perspektiewe tegelykertyd ewe daar, en nié daar is nie. Om te oorleef, moet Cara vasstel waarom sy die teiken is van die oormag rampe wat haar tref – en wie die hef in die hand het. Maar as rykmansdogter en fiksieskrywer wat glo in gelukkige eindes, is sy allesbehalwe toegerus daarvoor.”

Sophia Kapp, romanskrywer, se aanbeveling lui as volg: “Ek het teen die einde daardie tipiese paniek-lees ervaar wat ’n mens kry wanneer ’n storie jou so meegesleur het dat dit letterlik voel asof jy oor ’n waterval getrek word: Daar is net nie keer nie.”

Carla van der Spuy vra op LitNet aan Chanette: “Jy vertel in die voorwoord van die boek dat jy in jou navorsing op interessanthede afgekom het, soos byvoorbeeld die blivet, en dat dit ’n ideale motief is om in die boek te gebruik. Dalk kon die woord ook ’n titel vir die boek gewees het, maar aan die ander kant impliseer ‘siende blind’ dat die boosheid reg voor ons is, maar dat ons dit dikwels nie raaksien nie. Vandaar dalk die titel?”

Chanette se antwoord: “Blivet is ’n te volksvreemde woord vir ’n titel in hierdie genre. Aanvanklik was die titel Duiwelsvurk, die Afrikaanse vertaling wat vir blivet aangegee word. My uitgewer was heeltemal tevrede daarmee en ek het dink dis baie toepaslik. Terwyl ek nog geskryf het, verskyn daar toe ’n boek met die titel Duiwelsklip. Kort voor ek my manuskrip klaar het, verskyn daar nog ’n boek. Die titel? Duiwelsasem. Toe weet ek: dit gaan nie werk nie. Ek moes vinnig dink, want die manuskrip was al in die drukgang van publikasie.

“Terwyl ek speel met idees rondom oëverblindery, kom die titel Siende blind toe by my op. Ek het dadelik geweet dis eintlik ’n baie beter titel en pas soveel lekkerder by my storie. Want dis presies wat die blivet aan die oog doen: die optiese illusie verblind jou terwyl jy dink jy kan sien.”

Carla van der Spuy wou weet of die leser baie van ’n skrywer se voorkeure en renonse kan aflei uit die storie wat die skrywer skryf.

Chanette se reaksie was: “Dis ontstellend hoe kwesbaar die skrywer voor die fyn leser staan. In my manuskripontwikkeling het ek agtergekom hoe duidelik die mens agter die storie deurskemer. Dit het weinig te doen met outobiografiese gegewens; dit is die lewensingesteldheid wat so duidelik spreek. Veral in rou stories wat nog nie deur die meul van redigering en dies meer is nie. In sommige gevalle kan ek sien die skrywer is sagmoedig en deernisvol, in ander kan ek sien dis ’n harde kalant hierdie, maar sy etiek sit op die regte plek. Sommiges verklap versugtinge wat mens aan die huil wil sit. En dan is daar dié wat my regtig laat skrik.

“Ek dink Cara verklap heelwat van my, alhoewel ons in die meeste opsigte baie van mekaar verskil. Een van die trekke wat ons deel, benewens die liefde vir wyn, is inderdaad dat ek ook mense te maklik vertrou. Ek is al baie beter – daar kom darem ’n bietjie wysheid met die ouderdom saam – maar dit is so dat ek, soos Cara, makliker raaksien wat goed is in ’n mens as wat dalk boos kan wees.”

In Beeld van 5 Augustus 2013 skryf Erika de Beer dat Siende blind die leser nooit vervelig laat nie. Hierdie familiedrama, roman én riller, toon dat Paul beslis weet hoe om ’n verhaal te laat vloei. Nie alleen getuig dit van grondige navorsing nie, maar dit is ook duidelik dat die skrywer daarin geslaag het om beheer oor haar karakters uit te oefen.

In 2014 verskyn Raaiselspieël, die tweede deel van die drieluik. Die hoofkarakter is vet Frieda Ferreira wat na agt jaar getroude lewe nog nie weet hoekom die beroemde professor Victor Ferreira met haar getrou het nie. Sy sien van kleins af beelde en hoor stemme, maar weet nie wat haar makeer nie. Dan moet sy ook nog probeer om haar pa se moord op te los, al sit die skuldige in die tronk. Sy het nie eintlik ’n keuse in die saak nie, want haar pa, Nils van der Sluis, ’n moeilike Belg wat sy geld gemaak met die skilder van vet vroue, dring daarop aan, al is hy al dood.

Chanette skryf oor Raaiselspieël op haar blog: “The arts then act like a reflecting mirror. The artist is like the hand that holds and moves the mir­ror ... (Ngugi)”

“Bogenoemde aanhaling is ’n gedeelte van die motto voor in Raaiselspieël. Kuns en spieëls vorm inderdaad belangrike simbole in hierdie verweefde spanningsroman. Paulus se Bybelse versugting dat dinge aan hierdie kant van die dood bloot ’n dowwe spieël is in vergelyking met die lewe ná die dood, moet ook nie geïgnoreer word nie. Nils van der Sluijs, die befoeterde Belg wat ryk en beroemd geraak het danksy sy vetvrouskilderye, is dood. Daar is reeds ’n man agter tralies, maar Nils is skynbaar nie tevrede dat dit die regte persoon is nie en nou praat hy met sy dogter, Frieda, deur vir haar beelde en flitse te wys. Uiteindelik is daar ook die kwessie dat ’n aantal van sy skilderye skynbaar meer openbaar as kaal lywe; mense is selfs bereid om te moor sodat hulle daardie skilderye in die hande kan kry.

“In die gemoed van sommige Afrikaners word Siener van Rensburg en Johanna Brand se heldersiendheid as belangrik beskou. Raaiselspieël tree in gesprek met hierdie twee sieners en vra die leser om die talle simbole, wat stuk-stuk nagespeur word, uit te pluis saam met Nils se dogter, Frieda, en sy biograaf, Stas Stassen – ’n toenmalige uitgewer.

“Dit is vir die leser, soos vir die fiktiewe biograaf, nodig om bewustelik ’n ‘suspension of disbelief’ te openbaar tydens die lees van hierdie teks. Dit is iets wat gewoonlik onbewustelik gebeur tydens die lees van ’n goeie storie, maar hier moet alle partye harder werk om Frieda se gawe te probeer verstaan. Selfs Frieda sukkel om vrede te maak hiermee – sy weet ook nie of die beelde wat sy van kleins af sien en die stemme wat sy hoor, beteken sy is psigies of psigoties nie.

“Deur dit alles heen word die draak gesteek met akademici wat hulle beter ag as gewone mense, dink aan ’n Seder val in Waterkloof as interteks. Die leser moet maar self in die raaisel kyk om al hierdie kloutjies by die nodige oortjies te kry.”

Tydens ’n onderhoud op die US Woordfees van 2014, waar die boek amptelik geloods is, het Chanette gesê sy is baie opgewonde dat lesers van haar ligter romans nou ook die meer komplekse, verwikkelde werke geniet. Siende Blind, wat ook meer kompleks is, het só goed verkoop dat dit binne weke herdruk moes word.

Chanette gee glad nie om te erken dat sy amper uitsluitlik vir die ontspanningsmark skryf nie. Maar daar is tog iets vir die leser wat iets meer soek, want in haar tekste is daar oorgenoeg simboliek en letterkundige verwysings. En tydens ’n onderhoud met die SASNEV-krimifees het sy gesê: “Boeke is soos vye of turksvye, ek skryf vye.”

In Beeld (11 April 2014) skryf Erika de Beer dat Raaiselspieël nie ’n speurverhaal in die gewone sin van die woord is nie, aangesien die bonatuurlike té veel na vore kom. En dit bewys net weer dat Chanette Paul met ’n goeie storie die leser se aandag vasgevang kan hou, want al beslaan die storie 500 bladsye, kan ’n mens die boek kwalik neersit. Haar skryfstyl vloei, maar vir De Beer het die manier om sinne sonder onderwerpe te skryf, gehinder.

Chanette was onlangs in die nuus toe van haar boeke wederregtelik afgelaai is van die internet sonder dat sy daarvoor betaal is. Oor hierdie praktyk laat sy haar uit teenoor Carla van der Spuy op LitNet: “Ek wil net hê mense moet bedag wees daarop dat daardie boeke wat hulle gratis of goedkoop aflaai, vernietigend is vir ’n skrywer. Veral een wat in Afrikaans skryf. Ons het rééds die agterspeen beet. Ons skryf in ’n taal met betreklik min moedertaalsprekers, en boonop is daar nie ’n sterk leeskultuur hier gevestig nie. Boeke is duur omdat die oplae so klein is, daarom koop mense tweedehandse boeke waarop die skrywer nie ’n sent maak nie. Ons leen onder mekaar uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak nie.

“Ons neem boeke by biblioteke uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak behalwe by die oorspronklike aankoop daarvan nie. In die meeste ontwikkelde lande kry die skrywer ’n klein, gesubsidieerde bedrag elke keer as ’n boek in ’n biblioteek uitgeneem word. Baie soos die tantieme wat betaal word elke keer as ’n musieksnit op die radio, in eetplekke en dies meer gespeel word. In Suid-Afrika nié.

“Ek neem lesers nie kwalik dat hulle boeke op die goedkoopste moontlike manier bekom nie, maar as iemand met die slim plan vorendag kom om boonop my e-boeke te kaap en dit vir eie gewin, trek ek die streep. As so iets sou eskaleer, sal skrywers desnoods moet ophou skryf en hulle verdienste elders moet kry. Die meeste van ons het alreeds júis ’n ander werk wat die pot aan die kook moet hou. Daar is uitsonderings soos skrywers wie se werk vertaal word en geld maak uit hulle oorsese verkope, en daar is die gelukkiges wat mans of vrouens het wat hulle onderhou. Maar die meeste van ons kan nie voltyds skryf nie, omdat ons nie op tantieme alleen kan oorleef nie.

“Hierdie soort diefstal sal mens seker nooit heeltemal kan keer nie, maar deur my sterk daarteen uit te spreek, weet almal waar hulle met my staan. Die betrokkenes gaan vervolg word deur die uitgewery in samewerking met SAFACT, wat hulle toespits op die bekamping van roofkopiëring. Ek hoop dit skrik dié af wat dieselfde truuk wou gebruik.”

In 2014 verskyn Chanette se volgende roman, Ewebeeld. Vir Chanette gaan dit in Ewebeeld primêr oor die houvas wat een persoon oor ’n ander kan hê. “Die soort houvas wat so geleidelik ontwikkel dat dit die slagoffer blind maak vir wat eintlik aan die gebeur is. Prince Charming wat Bloubaard word sonder dat die prinses dit agterkom,” verduidelik sy aan Naomi Meyer op LitNet. “In elk geval nie voor dit te laat is nie. Emosionele mishandeling is eintlik ’n onderliggende tema in die meeste van my boeke, maar hier pak ek dit doelbewus aan. Ek gebruik tot ’n mate die hiperbool om uit te lig wat daagliks in heeltemal te veel huwelike en verhoudings gebeur. Een party word afgekraak, ontmens sodat die ander in beheer kan voel.

“In Ewebeeld gaan dit oor die mag en beheer wat ’n man oor ’n vrou kan hê, maar dit kan uiteraard ook andersom wees, of twee mense van dieselfde geslag.”

Vir Chanette was die moeilikste deel by die skryf van Ewebeeld om, op tegniese vlak, Lanie se verlede en die hede soos dit in die verhaal gebeur, bymekaar uit te bring. “In ’n spanningsverhaal kan jy nie begin by die begin nie. Jy val halfpad in die storie in en moet tegelyk agtertoe en vorentoe werk – veral as dit wat gaan gebeur, ’n voortvloeisel is van wat voorheen gebeur het. Daar was baie dinge wat daartoe gelei het dat Lanie in Ludolf se kloue beland het en dit was nie maklik om dit op so ’n natuurlik wyse as moontlik in te pas nie.

“Op storievlak was dit moeilik om my werklik in Lanie se skoene te probeer indink. In ’n stadium kon ek haar stem nie meer hoor nie – dalk omdat sy soveel jonger is as my meer onlangse hoofkarakters. Of dalk omdat ek haar soms aan haar maer skouertjies kon skud. Ek moes hard werk daaraan om [sy] te word, maar ons het mekaar uiteindelik wel gevind.”

Chanette vertel aan Naomi Meyer dat sy meestal stories skryf wat hoofsaaklik op haar karakters fokus. In Ewebeeld is dit ook so, “maar ek dink die intrige en die tema spreek heelwat harder as voorheen. Ek dink dit versterk die spanningslyn, maar dit was moeilik om nog steeds genoeg aandag aan karakterisering en karakterontwikkeling te gee.”

In Ewebeeld ontmoet die leser vir Lanie du Toit, Ludolf von Fürstenberg se derde vrou. Sy lyk baie na sy vorige twee vroue, wat albei oorlede is. Ander karakters in die spanningsverhaal is Roux, ’n kunstenaar wat met loodglas werk, en Jojo Richter, die speurpersoon.

Vir Riëtte Grobler is Chanette se karakters mense van vlees en bloed, “van hul unieke geite tot hul bagasie, infleksies en maniërismes. (...) Omdat baie mense betrokke is, begin jy in ’n stadium wonder hoe op dees aarde alles bymekaar gaan kom. Maar Paul hou die leisels stewig vas, knoop die spanningslyn geleidelik al stywer en los in die ontknoping alle raaisels op waaroor jy dalk sou wonder. Paul is ook op ’n ander manier ’n vernuftige woordargitek. Daar vloei geboue en plekke uit haar pen dat dit later vir jou begin voel jy was dalk al self daar. Sy is ook ’n skrywer wat weet hoe om navorsing te doen en die verhaalwêreld daardeur soveel meer geloofwaardig te maak.” (Die Burger, 22 November 2014)

Te danke aan Ewebeeld is Chanette in 2015 vir die derde maal aan die ontvangkant van LAPA se Lekkerlit-toekenning. Oor hierdie prys sê sy op LitNet aan Naomi Meyer dat hierdie driekuns vir haar besonders is: “Dit laat my voel die eerste twee was toe darem nie net vloekskote nie. Daar was elke jaar sterk kompetisie, maar hierdie keer het ek regtig nie gedink ek gaan die paal haal nie.”

In 2015 word die eerste van Chanette se Offer-romans gepubliseer, onder die titel Offerlam. Dit is in Engels en Nederlands vertaal.

Vir Helen Schöer (Die Burger, 14 November 2015) is dit die eerste boek van Chanette wat sy lees, maar beslis nie die laaste nie.

In Offerlam takel Chanette ’n gróót storie, wat drie generasies en drie vastelande (Suid-Afrika, België en die destydse Kongo) bymekaarbring. In die storie is ’n 53-jarige Suid-Afrikaanse vrou, Caz Colijn, die middelpunt. Sy moet onverwags na België toe om haar vervreemde ma wat op sterwe lê, te gaan besoek.

In België wag daar heelwat onaangename verrassings op Caz en word sy by verskeie polisiesake betrek, en word sy ook as verdagte in haar suster se moord beskou. Die romanse bly nie agterweë nie en daar is ook ’n professor wat teen sy eie sin in Caz begin belangstel.

Schöer skryf: “In dié lekker mengsel het Paul ook ’n tikkie Afrikamistisisme en ’n sak vol diamante gegooi, en asof dit nie genoeg is nie, neem sy jou op ’n reis deur België (en in ’n mindere mate ook deur die Kongo).

“Die boek het regtig vir my ’n unieke stem. Die taalgebruik voel plek-plek ietwat outyds – ek verbeel my dis ’n Vlaamse invloed – maar dit werk goed. Paul gebruik woorde wat ’n mens ken maar al van vergeet het. (...)

Offerlam se einde is regtig net ’n pouse in die aksie, ’n plekkie van tydelike verligting. Die booswigte is nog steeds op vrye voet en sonder twyfel is daar groot fout met Caz se dogter se kêrel. (...) Daar is ook Caz se penarie wat sy nog moet oplos met die diamante en dan is daar nog die professor ook. Ek wag dus in spanning vir die tweede deel, Offerande, se ink om droog te word.”

In Rapport van 24 Januarie 2016 is JB Roux glad nie positief oor Offerlam nie. Nadat hy die eerste 100 bladsye gelees het, vind hy die storie oninteressant, nutteloos en dat hy beslis nie uitsien na die opvolg nie. Hy beskryf die meeste van die karakters as ‘onopwindend’ en sluit sy bespreking as volg af: “Dis nooit lekker om ’n gevestigde en bewese skrywer se werk neer te skiet nie, maar boeke is duur en lesers moet gewaarsku word teen ’n mislukking soos hierdie. Hierdie keer het Paul heeltemal uit die bus geval.”

Met hierdie resensie het JB Roux ’n ligte herrie in die pers en op LitNet veroorsaak. Deon Adriaanse het in Rapport (31 Januarie 2016) geskryf dat so ’n resensie nie gepubliseer moes gewees het nie, aangesien dit nie as ’n resensie beskou kan word nie.

Ook Daniel Hugo het sy misnoeë te kenne gegee. In Beeld (28 Januarie 2016) skryf hy: “Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lesers ‘gewaarsku’ word teen ’n boek wat op geen manier – polities, seksueel of godsdienstig – grensoorskrydend is nie.”

Dit het ook gelei tot ’n artikel op LitNet deur Francois Verster getiteld “Oor resensiekuns, ’n stuiwer” waarop heelwat persone kommentaar gelewer het.

Op LitNet was Riette Rust die resensent: “Offerlam, wat in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en België afspeel, werp lig op die beheer wat België oor die Kongo gehad het. Kolonialisme, wat met magsug, hebsug en heerssug gepaard gegaan het, word kundig ondersoek. Die karakters word uitgebuit. Die woord ‘offerlam’ suggereer juis die gebrek aan respek vir ander se lewens.

“Die skrywer lewer gebalanseerd kommentaar op die misdaadsituasie in Suid-Afrika. (...) Daarby word die uitdagings wat sogenaamde veelrassigheid bied, bekyk en word Sandra Laing, die biologiese bruin kind van wit ouers, se geskiedenis só in herinnering geroep.

Offerlam word geslaagd uit vier perspektiewe vertel. Die verskillende karakters het almal outentieke stemme. Paul kry dit besonder goed reg om in veral Erevu, die Kongolees, se wese te klim. Nie maklik nie – hy is immers ’n man wat dink dat sy land deur die wit diewe van Afrika gesteel is! (...)

“Daar is nie veel wat pla nie. Dalk net enkele ‘toevallighede’ (sien resensie vir dié ‘toevallighede’). Paul se taalgebruik skitter en sy geur die teks gepas met Nederlandse en Vlaamse woorde. (...) Jy sal die roman nie wil neersit nie. Daar is enkele los drade, daarom kan jy uitsien na die opvolg, Offerande. Dis beslis die moeite werd om geld aan dié tweeluik te bestee. Neem byvoorbeeld hierdie paragraaf wat na aanleiding van ’n telefoonoproep geskryf is en aan Ingrid Jonker se ‘Die kind’ herinner: ‘Die diep sug ruis in haar oor. ’n Sug wat in Gent begin, reis deur België, oor die helfte van Europa, oor die lengte van Noord-Afrika, Sentraal-Afrika, Suider-Afrika tot by die kothuis aan die voet van die Overbergse Kleineberge.’”

Offerande, die vervolg op Offerlam, verskyn in 2016, en vir lesers wat nie kon wag om te lees wat van Caz geword het nie, was dit ’n welkome gesig op die boekrakke van boekwinkels.

Caz is inderdaad terug, en saam met haar is daar ’n groot klomp diamante. “Is dit waarom haar eksman skielik opdaag? Is dit waarom ’n Kongolese vrou haar as ’n kunshandelaar voordoen en 2000 Euro's vir dáárdie beeldjie aanbied? Is dit waarom daar op bladsy 100 reeds talle lyke rondlê?” wil Ronel Nel in Rooi Rose van November 2016 weet.

“Soos altyd skryf Paul ten eerste om te vermaak maar enigeen wat al ooit ’n bietjie dieper gekrap het, weet ook dat daar baie vlakke in haar werk is. Offerande ondersoek identiteite soos min ander. Wie is ’n Afrikaan en wie is ’n Europeër? Is dit jou velkleur, jou ouers, of jou paspoort wat dit bepaal?

“Caz en haar dogter gaan op soek na waar hulle vandaan kom en saam met die spannende storie is daar soveel brandende vrae. ’n Ernstige leser sal die dikke roman weer wil lees om die nuanses en die fyn webbe van die woord raak te sien.”

Louise Viljoen van Jeffreysbaai gee haar indrukke as leser van Offerande op LitNet: “In Offerlam dek Paul die tafel meesterlik met ’n komplekse, weldeurdagte en waagmoedige verhaal wat handel oor Caz Colijn wat koelbloedig deur ander as offerlam geoffer word ter bevordering van hulle eie selfsugtige agendas. In Offerande span Paul die net behendig en meedoënloos stywer wanneer Caz haarself dié keer vrywillig en met liefde op die altaar plaas ten einde haar dogter te red. Voeg daarby internasionale diamantsmokkelary, ’n ekstreme rebellegroep wat rassehaat aanblaas en volksmoord voorstaan as gevolg van die vergrype wat hulle onder kolonialisme beleef het, voorvadergeeste wat op bisarre wyses vanuit die graf toutjies trek, en selfs ’n subplot waarin ongelisensieerde vuurwapens en renosterstropery ’n rol speel, en jy kom onder die besef van die oorbluffende grootsheid van dié spanningsroman.”

Viljoen is van mening dat Chanette Paul elke kompliment wat sy ontvang, oor en oor verdien. Daar is nie baie skrywers wat met “soveel aplomb” só ’n groep karakters en newekarakters met sulke wyd uiteenlopende persoonlikhede kan verbeeld en tot hul reg kan laat kom nie: “Dít terwyl die fyngeknoeide, ineengestrengelde storielyne jou as leser reeds kiertsregop laat sit en notisie laat neem dat ’n meesterskrywer aan die woord is. Paul pak die verhaal soos ’n ervare skerpskutter aan wat met volle vertroue in haar vernuf aanlê op die teiken wat sy in haar visier gestel het. Sy vuur die skoot af en die koeël trek sekuur en seker deur ’n byna surrealistiese maar georkestreerde chaos wat nie net as randfiguur in die leser se periferiese visie huiwer nie, maar ook dreig om die leser te oorrompel en in te suig. Paul lei haar leser soos ’n opgeleide snuffelhond deur ’n mynveld tot by die laaste hoofstuk van die boek wanneer die proses van ontknopings jou laat voel dat jy nog die heeltyd met die slagpennetjie van ’n handgranaat in jou hand gestaan het. Na 502 bladsye se uitmergelende intriges, spanning en kophou, word die leser beloon deur die bevredigende wete dat elke los draad stewig vasgeknoop en deur ’n bedrewe kunstenaar in ’n artistieke dog funksionele mandjie ingeweef is.”

Wat Paul met Offerande ook regkry, is om lesers in Afrika te dwing om dieper te kyk na hulle Afrikaanskap en ook na hoe die mense se gene inmekaar pas.

Viljoen gaan voort: “Offerande vereis van die leser om na te dink oor vergifnis en al is versoening dalk nie realisties haalbaar in die volle sin van die woord nie, moontlik ’n middeweg te vind om ’n toekoms tegemoet te gaan waar die een die ander nie heeltyd wil verdelg oor dinge wat in die verlede lê en niemand ’n jota of tittel aan kan verander nie. (...)

“Paul se taalgebruik in Offerande skitter soos almasi (diamante). Woorde soos ‘kurk floep’, ‘wyn reutel’ en idiomatiese uitdrukkings soos ‘’n appeltjie vir die dors’, ‘so slinks soos die houtjie van die galg’ en ‘aartjie na sy vaartjie’ het my telkens laat huiwer en wéér lees net vir die lekkerte daarvan. Paul se Offer-tweeluik neem sy regmatige plek in as persoonlike gunstelinge op my boekrak.”

Jojo Richter is in 2017 terug in Paaiboelie. Die roman speel af op die Crystal Crags-landgoed. Jojo word aangestel om vas te stel wat sewe jaar vantevore gebeur het toe Eduard Zwiegelaar vermoor is. Om ’n voet in die deur te kry, doen sy haar voor as ’n barmhartige Samaritaan en help sy Eduard se weduwee, Zaan Mentz, of Lezanne Swiegelaar, om in haar nuwe huis op die landgoed in te trek. Só leer sy ander inwoners van die landgoed ken, soos Lalie Laslap, Morbid Megan die Gothic Ghostbuster, Tertia de Wet en vele ander. En dan is daar ook die paaiboelie van die titel in die ‘persoon’ van die haaslipseuntjie wat verdrink het en aan mense verskyn net voordat hulle doodgaan.

“Die verskyning van die paaiboelie is nie die enigste Gotiese element in dié riller van ’n roman nie,” skryf Daleen Venter op LitNet. “Die onheilspellende atmosfeer wat op Crystal Crags heers, die raaiselagtige verdwynings, die sin(ne)begogelende Crystal Manor met sy Trompe-l'œil-muurkuns en die begroeide grondvroue in die tuin wat lyk asof hulle hulle ‘probeer losworstel uit die aarde’ sorg vir naelkouspanning. Die Duiwelsdriehoek se bose geheime word oopgevlek en kwessies soos verbode seksuele drange en die sondes van die vaders word blootgelê. (...)

“Paul slaag skynbaar moeiteloos daarin om ’n oortuigende stem aan elke karakter te gee, twee verhaallyne deeglik te verweef sodat ’n mens male sonder tal kopkrap, en ’n ontknoping neer te pen wat jou mond behoorlik sal laat oophang.

“Die feit dat karaktername nogal ooreenstem (Estian en Eduan; Tessa en Tertia) kan moontlik bydra tot die misterie, maar is tog verwarrend – veral as ’n mens vinnig wil lees om te sien wat op die volgende bladsy gebeur. Die leser word ook plek-plek met inligting gebombardeer, en al noop dit jou om aandagtig te lees, is daar hier en daar dele waar die dialoog langdradig is.

Paaiboelie sal nogtans soos soetkoek deur spanningsvrate verslind word. En Jojo Richter-aanhangers sal hoop dat sy in die volgende Paul-roman weer met haar ‘kwikstappie’ aangestoom sal kom.”

Jonathan Amid (Die Burger, 7 Augustus 2017) is ook beïndruk met Paaiboelie. Namate hy hom verdiep het in die roman se “verkenning van die ideaal van ’n landelike Paradys wat geïsoleer staan van die wêreld buitekant, onafhanklik en goed toegerus”, het dit Amid laat dink aan Tana French se Broken harbour.

“Op ’n dieper vlak is daar beslis filosofiese onderstrominge wat ons al die pad na Sewe dae by die Silbersteins terugneem.

“Paul werk spesifiek met die idee van die Trompe-l'œil, wat vertaal as ‘fool the eye’, ’n kunstegniek waar die grens tussen illusie en werklikheid vervaag. Paaiboelie vra uiteindelik, te midde van die plesierige terugkeer van die amateur-speurder Jojo Richter, verskeie vertakkings van die Gotiese romanse, en ’n onverwagse dog heerlik speelse inspeel op die rol van die (ont-) spanningsfiksieskrywer, wat die gevolge is wanneer die spoke van die verlede en die sondes van die vaders ons inhaal.

“Paul was al in die verlede geroskam in resensies oor die hebbelikhede van te veel karakters, te veel vertellers en die geneigdheid om die leser te oorweldig met te veel detail en verskillende storielyne. Paaiboelie trap nie in hierdie slaggate nie.

“Lesers sal dalk met my saamstem dat daar steeds oomblikke van oordrewe emosie en melodrama in die vertelling insluip, maar Paul se beheer oor haar diep menslike karakters en hul beweegredes beïndruk. Paul is immers ’n skrywer van karaktergedrewe romans – in hierdie geval lê baie van die genot juis om speurder te speel en jou te verkneukel in hoe karakters in die groter legkaart inpas.”

Daar is geen einde aan Chanette se vermoë om die een blitsverkoper na die ander te skryf nie. In 2018 word Uit die bloute gepubliseer en hierdie keer begewe Chanette haar op die terrein van vreemde vlieënde voorwerpe, of VVV’s.

Kortliks gaan dit oor ’n groep vroue wat in die Akkedisberge woon en glo hulle is uitverkorenes wat deur die moederskip weggevoer gaan word na ’n planeet waar hulle nooit oud gaan word nie. Jojo Richter is weer die sentrale figuur. Sy word deur die nuwe vrou in haar eksman se lewe, Irene, gevra om ondersoek in te stel na die verdwyning van Diana, Irene se vervreemde suster.

Sy ontvang ’n handgeskrewe brief van Diana en gaan spreek die grafoloog Ayla om vas te stel of die brief eg is. Dit sit ’n reeks gebeure aan die gang wat die leser vasgenael hou.

Oor die vonk wat werklikheid aan Uit die bloute gegee het, vertel Chanette aan Phyllis Green (Sarie, 20 Julie 2018) dat sy kan onthou dat sy al as kind gefassineer was deur vlieënde pierings wanneer sy saam met haar ouers verby die Flying Saucer Roadhouse in Pretoria gery het. “Ek het al baie daaroor opgelees en kyk graag na programme op The History channel oor die onderwerp. Ek wou al ’n geruime tyd iets daaroor inweef in ’n storie, maar dit het nooit so gebeur nie.

“Toe sit ek eendag in ’n besonder mismoedige bui oor al die misdaad, aggressie en magsug – nie net hier nie, maar die wêreld oor – en wonder waarom mense nie in vrede kan saamleef nie. Nie elkeen hulle plekkie in die son kan gun nie. En toe wonder ek in ’n lawwe oomblik of die aarde nie dalk ’n strafkolonie is van ’n ander sterrestelsel nie, soos Australië die strafkolonie van Brittanje was. Of al die aggressiewe, magsugtige mense van daardie sterrestelsel of planeet nie Aarde toe verban is nie. Dat dit is waarom hier soveel haat en nyd is. Dis net daar dat ek geweet het ek gaan iets daaroor skryf, al klink dit hoe verspot. Uit die bloute het in groot mate hieruit voortgespruit.”

Chanette moes baie navorsing doen voordat sy aan Uit die bloute kon begin skryf. “En nie net oor VVV’s nie, maar ook oor grafologie, oor begrippe soos Indigo, Crystal en Rainbow Children. Oor Stockholm-sindroom en sommer ’n menigte ander goed. Gelukkig geniet ek navorsing!”

Jonathan Amid som Chanette en haar skryfwerk in sy resensie van Uit die bloute (Beeld, 11 Junie 2018) as volg op: “Chanette Paul skroom nie om haar karakters deur die grootste beproewings denkbaar te sit nie. Hoewel Paul heerlik speel met opvattings rondom gender en seksualiteit en belang stel in kwessies soos die bemagtiging en bevryding van vroue, weet lesers ook dat die goeie uiteindelik oor die bose sal seëvier. ’n Goeie skeut romanse skyn altyd deur in die immer optimistiese Paul-slot.

“Die vraag met die verskyning van elke nuwe boek (hoe kry sy dit reg?) is in watter mate dit haar getroue lesers tevrede sal stel wanneer sy subtiel aan haar resep verander. Die Offer-tweeluik het nie weggeskram van temas soos volksmoord, neokolonialisme en wit bevoorregting nie. Die broeiende, donker aanslag het sekere lesers op sosiale media en in skrywe aan die skrywer self laat smeek vir ’n terugkeer na die aweregse speurfiguur Jojo Richter.”

En in Uit die bloute staan sy, soos in Paaiboelie, weer vierkantig in die storie. Uit die bloute het nie net ’n klompie grusame moorde nie, maar die eerste twee derdes van die storie se fokuspunt is die onderwerp van VVV’s en vir Amid is haar navorsing uitstekend en word dit baie goed by die teks geïnkorporeer. “’n Magdom feite verhelder vir die leser ’n wêreld waaroor baie lank nog bespiegel en gestry sal word.”

Op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Uit die bloute af met: “Tipies van Paul is haar mooi taalgebruik en landskapsbeskrywing: ‘Die lug is poskaartblou. Die see wat van die voet van die kranse af dein tot waar dit die onmeetlike op die horison ontmoet, nog ’n dieper blou. Die son skyn vol somerbeloftes al is dit nog vroeglente. Seemeeue krys in vlug en swarttobies swiep oor die rotse.’ Ja, daar is die gewone ‘mooi’ en ‘gelukkige’ einde, maar dit pla gelukkig nie, want dit is ’n tipiese kenmerk van Paul se skryfwerk.

Uit die bloute is ’n boek wat ek nie kon neersit nie. Dit het my tot die einde toe geboei – nie net oor die intriges nie, maar ook oor die interessante karakters, die kinkels en spanningslyn en die interessante inhoud wat maak dat hierdie boek gelees moet word.”

Intussen het Chanette vir Jojo Richter ’n ruskansie gegee en in 2019 word Lira gepubliseer – die eerste van drie in die Vywervrou-reeks. Die ander twee is Mirre en Corali.

Die uitgewers som Lira as volg op: “Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak, maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ’n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ’n winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ’n vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ’n sterwende vrou en ’n kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ’n waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ’n man sy taaibosspies deur ’n vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: ‘Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.’”

Intussen het Chanette haar roman van 1998 Wip van die droomvanger verwerk en word dit in 2020 heruitgegee onder die titelDroomvanger. Só bemark die uitgewers hierdie “nuwe” titel: “Die mistigheid is klam en koel en dwarrel in vlae teen haar vel. Sy sak weg daarin. Los daarin op. Die mis rol nog digter teen haar aan, begin haar versmoor. Sy asem die digte klamheid hortend in. Nou is dit ook binne-in haar. Sy stoei vir asem ... Die droomwip moes haar drome verklaar, maar sy weet steeds nie wat hulle inhou nie. Die runesteen moet haar beskerm, maar die eerste aand op die plaas in die Maluti’s is daar ’n moord. Die antieke manuskrip kan dalk haar toekoms verseker ... as sy oorleef.”

In 2020 word die tweede deel van Chanette se Vywervrou-trilogie uitgegee onder die titel, Mirre. Oor hierdie roman vertel Louise Viljoen van Jeffreysbaai ons meer op LitNet: “Ek het heerlik gelees aan Mirre, die tweede deel van die Vywervrou-trilogie. Mirre word voorafgegaan deur Lira en opgevolg deur Corali. Die reeks handel oor vroue wat harde lewenslesse leer, maar bo hulle omstandighede uitstyg en hulle nie laat onderkry nie, al is die pad ook hóé swaar en uitdagend. Dit vier dus die universele vrou se reis vanaf weerloos na weerbaar. Die sentrale boodskap is dan ook dat die mishandelde vrou wél haar kop kan oplig en daarop kan aandring om menswaardig behandel te word. Sy kán wegbreek uit ’n skadelike verhouding, al lyk dit aanvanklik hóé onmoontlik.

“Ene Lelani, ’n leser van Lira, se kommentaar verskyn op Mirre se agterplat: ‘Paul pak die tema van mishandeling in al sy gedaantes meesterlik aan sonder dat dit te swaar voel en dit gee diepte en emosionele lae aan die storie.’ Dit verg inderdaad ’n vaardige én dapper skrywer om met ’n gewigtige onderwerp soos mishandeling in fiktiewe prosa om te gaan. Paul doen dit egter met ’n ingebore finesse en besondere meelewing en insig in haar karakters se psige.

“Die menslike aspek vier hoogty in Paul se werk. Dit is juis hierdie kwaliteit wat haar so gewild maak as eietydse skrywer in Afrikaans, want sy beeld haar karakters natuurlik en realisties uit – asof ’n mens maar net in jou kar kan klim en Vywerbaai toe kan ry en vir Lira, Mirre, Corali, Marilyn, Boeta, Fynn en al die ander karakters, wat deur die loop van die boek vir die leser soos ou kennisse begin voel, daar sal aantref waar hulle besig is om hulle lewens te leef. Dit maak dit vir haar lesers makliker om emosioneel betrokke te raak en deur die storie beïnvloed te word.

Mirre, nes Lira en Corali, is ’n dik boek van bykans 600 bladsye. Paul neem haar tyd om die storielyne te ontvou. Die wel en wee van haar karakters is volkome in haar hande, en welwetende waarheen die storie op pad is, laat sy haar nie aanjaag wanneer dit by die vertelslag kom nie. Sy rek die heerlikheid uit soos net ’n meesterstorieverteller kan. Nadat Mirre Dreyer se man, André (nogal ’n befaamde huweliksberader), haar ernstig aanrand, vlug sy met net die klere aan haar lyf na haar vriendin Corali op Vywerbaai. Corali ontferm haar oor die erg beseerde Mirre en gee aan haar herberg.”

En dan sluit Viljoen haar bespreking af: “Behalwe die hooftema van ’n vrou wat ternouerdood van haar gewelddadige man weggevlug het en ’n lewe vir haarself probeer maak sonder hom, is daar ook baie interessante subtemas wat Paul soomloos verweef met Mirre se verhaal. Hierdie subtemas sluit in jaloesie, ontrouheid, veroordeling en verkeerde keuses, maar ook liefde, vriendskap, ouerskap, aanvaarding, vergifnis, tweede kanse en so meer. Hierdie boek wil aan mishandelde vroue wys dat daar wel uitkoms is. Ek is tevrede met Mirre se heel bevredigende slot. Ek is ook baie bly dat Corali nog op my wag, want ek is nog nie gereed om afskeid te neem van Vywerbaai se mense nie.”

Oor die trilogie – Lira, Mirre en Corali – skryf Nenette de Lange op haar blog: “Hierdie drie boeke het my sommer weer laat verlang na die ondersteuning van vriendinne wat jou ondersteun, deur goed en sleg en dan vrek sleg. Wat soms jou wys dat daar wel iets goed daaruit kan kom. Waar is Vywerbaai!! Ek wil sommer nou soontoe verhuis. Ek sal in Lira se winkel gaan werk as enige iets en sal help in die kombuis. Dit sal ek afwissel om Corali ook te gaan help met die mosaïek. As ’n mens dink, drie boeke, oor die selfde omgewing met dieselfde karakters, sal sieldodend wees, maar dit was die teenoorgestelde. Ek kon myself in elkeen van hierdie vroue inleef en sommer gevoel wanneer hulle by hul draaipunt kom, dat ek saam kan opstaan. Vreeslik dankie Chanette vir hierdie drie ongelooflike boeke.”

In 2021 publiseer LAPA vir Marilyn nadat haar lesers baie mooi gevra het om vir hulle meer te vertel van Marilyn wat in die Vywervrou-trilogie ’n newe-karakter is. Dit is wat Chanette gesê het oor Marilyn: Marilyn is ’n belangrike boek in die sin dat dit gaan oor ’n ouer vrou wat bevriend is met die Vywervroue,” sê sy. “Ek dink dis belangrik om te sien hoe ’n mens dink as jy die sestig-mylpaal bereik het en al verby is. Ek wou baie graag vir Marilyn ’n tweede kans gee.” (Facebook)

Chanette was al klaar besig met ’n ander boek, maar ná veelvuldige versoeke het sy besluit om daardie boek vir eers op die lange baan te skuif en vir Marilyn haar eie storie te skryf, maar, vertel sy, Marilyn was ’n harde neut om te kraak. Sy wou nie sommer op die voorgrond tree nie. En hoewel wiskunde nie haar sterkpunt is nie, het sy besef dat boek vier van ’n trilogie nie gaan werk nie. Dus is Marilyn nie ’n vywervrou nie, maar ’n kaivrou, verduidelik sy aan Izak de Vries op LitNet.

Lesers wil ook klaar weet wat van karakters soos Leah en Anna, maar hieroor is Chanette doodseker: “Die vier boeke het my egter emosioneel uitgemergel. Onthou, terwyl ek skryf, beleef ek elke emosie self, en daar is heelwat betrokke. En ek beleef dit nie net een keer nie, ek gaan herhaaldelik daardeur wanneer ek redigeer en herskryf. Daar is ’n paar tonele wat my so ontstig het dat ek verby hulle begin lees het wanneer ek vir die soveelste maal deur die manuskrip gaan.

“Daarom het ek besluit op ’n heel ander storie toe ek ’n nuwe manuskrip aangepak het. ’n Storie wat ek aanvanklik voor die vywervroue, en uiteindelik ná Corali wou geskryf het. Een waar die klem weer op ’n raaisel val, al sal daar seker ’n romantiese kinkel in die kabel kom.

“Of ek Anna en Leah se stories ooit gaan te boek stel, weet ek nog nie. Dalk. Maar beslis nie nou nie. Ek het ’n blaaskans nodig.

“Beulah s’n durf ek egter nie skryf nie. Haar verwysingsraamwerk is te anders as myne. Ek sal haar ’n onreg aandoen as ek haar beleweniswêreld sou probeer weergee,” vertel sy aan De Vries.

Oor die verskil tussen vywervroue en die kaivrou brei Chanette uit teenoor Izak de Vries: “In Beulah se woorde: ‘Die soort [kaaiman] waarvan ons praat, is halfvis, halfvrou met lang swart hare. Hulle se oë gloei soos brandende kole vuur en hulle se lywe het so ’n silwerwit skynsel. Skree glo te arig. Trek kinders en mans die water in en verdrink hulle.’” En later: “‘Daardie kaaimans, hulle is die bose hekse van die varswaters.’

“Marilyn bevraagteken egter in dieselfde toneel die woord ‘kaaiman’ en reken dit behoort ‘kaaivroue’ te wees, maar dit klink volgens haar te veel na vroue van die nag wat op ’n kaai vir matrose wag. Sy besluit dan dit moet ‘kaivrou’ wees. Haar redenasie en regverdiging daarvoor word in dieselfde toneel uiteengesit.

“Kortliks kom dit daarop neer dat die vywervroue van die see hulle streke het, maar nie inherent boos is nie. Daarteenoor is die kaivrou van nature ’n bose watervrou wat in varswater skuilhou.”

Oor die beplanning van die plot van ’n boek, vertel Chanette aan De Vries dat sy baie by Cecilia Britz wat oorlede is, geleer het: “Dis by Cecilia dat ek onder meer geleer het dat dit juis die uitstel van die vervulling van die hoofkarakters se begeerte na mekaar is wat ’n sterk spanningslyn oftewel ’narrative pull’ in romantiese fiksie bewerkstellig.

“Hoe beplan ’n mens alles? Jong, dis die ellende van my manier van skryf. Ek beplan weinig. Ek laat die karakters toe om my te lei namate ek hulle beter leer ken. My beplanning strek selde veel verder as ’n paar hoofstukke op ’n slag. En dan werk wat ek beplan het, meestal in elk geval nie so uit nie.”

Izak de Vries is van mening dat Chanette haar in haar boeke baie duidelik uitspreek teen die gebrek aan behoorlike seksopvoeding aan kinders. Hierop reageer sy as volg: “Ek spreek my inderdaad sterk uit teen patriargale aspekte soos mans wat reken hulle mag domineer net omdat hulle mans is. Maar dis nie net manlike dominansie wat vir my ’n steen des aanstoots is nie. Ek spreek my ook sterk uit oor vroue en selfs kinders wat manipulerend optree. Eintlik teen enige vorm van emosionele misbruik.

“Ek kom uit dieselfde era as Marilyn. Ek was self die slagoffer van gebrekkige seksvoorligting. Ek vermoed egter seuns/mans weet baie vroeër baie meer van seks af as meisies/vroue. Ek het ook in ’n verhouding beland waar beweer is as ons nie seks het nie, is ek nie lief vir hom nie en al die ander snert wat ook deel was van Marilyn se ervaring. Ek het gelukkig die verhouding betyds verbreek en ­– al was daar redelik skrikwekkende nagevolge – uiteindelik finaal daaruit ontsnap.

“Gebrekkige seksinligting, blote waarskuwings dat seks sonde is en dies meer, veroorsaak meer ellende as wat mens in ’n boek kan beskryf. Ek praat nie net van voorligting ten opsigte van die biologiese werking van seks nie. Dis die minste. Niemand het byvoorbeeld vir my gesê dis lékker as ’n man hier of daar vat, streel of voel nie. Niemand het my gewaarsku dat ’n man nie noodwendig luister as jy nee sê nie. Of dat hulle sal lieg om hulle sin te kry. Ek het nie eens geweet hoe belangrik seks vir mans is nie, en ook nie hoekom dit so is nie.

“Dit het my en soveel ander meisies weerloos gelaat. Daar was destyds net soveel mites oor die seksuele. Onder meer dat ’n meisie wat nee sê, eintlik ja bedoel. Liewe – amper swets ek – deug! Aan die ander kant is dit nie net gebrekkige seksinligting wat die probleem is nie. Seuns word dikwels nie geleer hoe om ’n meisie/vrou en haar wense te respekteer nie of waarom hulle wense respek verdien nie.”

Nog ’n punt van bespreking tussen Chanette en De Vries is kinders se regte, voorregte en moeilikhede wat ook in Marilyn bespreek word: “Kindertehuise lê my na aan die hart. There but for the grace of God, go I. Kinders vra nie om gebore te word nie. Hoe durf ouers, familie en die staat hulle faal!

“Eintlik ondersoek al vier die boeke kindskap uit verskillende hoeke. In Lira is daar die moeilike Celeste; in Mirre Boeta se kinders; in Corali Thomas se kinders en sy verhouding met Boeta se jongste.

“Ek het egter as enigste kind grootgeword en het ook nooit self kinders gehad nie. Gevolglik weet ek bitter min van kinders af behalwe wat ek op ’n afstand waarneem, en dan natuurlik my herinneringe aan my eie redelik traumatiese jeug.

“Inderwaarheid gaan die boeke eerder oor moederskap en dat moederskap nie net een patroon hoef te volg nie. Lira glo byvoorbeeld sy kan nie ’n goeie ma wees nie. Mirre is van nature moederlik, maar het aanvanklik nie self kinders nie. Corali wou om meer as een rede nie kinders hê nie, maar Thomas wel. Marilyn beskou haarself as ’n swak ma, maar gaandeweg kom ’n mens agter wat sy alles vir haar kind opgeoffer het.

“Miskien is dit omdat my biologiese ma my op vier maande oue ouderdom aan my grootmaakouers afgeteken het dat moederskap in sy vele gedaantes my fassineer. En wat my fassineer, beland maar altyd êrens in ’n boek of boeke.”

Chanette se jongste boek en haar 49ste roman, Murasie, word in 2022 deur LAPA uitgegee.

Didi Potgieter is die resensent op LitNet (24 Oktober 2022) en sy begin haar bespreking: “Met die lokteks: ‘Moles is nie ongekend op Verlatenfontein nie. Moord ook nie. Inteendeel,’ nooi Chanette Paul in haar nuutste spanningsroman die leser om die boek oop te slaan en deel te word van die raaisels en familie-intriges op die plaas Verlatenfontein.

“Ná ’n twiet wat sy besef sy nooit moes plaas nie, vlug Georgie Rabie na haar peetma se strandhuis op Verlatenfontein. Daar ontmoet sy vir Ras Erasmus, wat die opstal op Verlatenfontein wat al drie keer gedeeltelik afgebrand het, wil herstel na sy oorspronklike glorie, die plaas dalk ook. Ras het egter nie rekening gehou met ’n huurpag wat daar op die grond is, of verwag dat die vrou wat tans daarvan gebruik maak, sy aandag so sal prikkel nie.

“In haar outeursnota aan die einde van die boek vertel Paul dat Verlatenfontein losweg gebaseer is op die plaas Ratelrivier en dat van die gebeure wat daar afgespeel het, ‘verminkte neerslag’ in die verhaal vind. Tog is die karakters in die boek so deeglik ontwikkel en geloofwaardig uitgebeeld dat dit moeilik is om te glo dat hulle fiktief is en nie werklik deel van hierdie lewe is/was nie.”

Die verhaal van Verlatenfontein in die Strandveld speel af in die hede en verlede met twee stelle hoofkarakters. Die leser ontmoet in die hede vir Georgie, ’n grafiese ontwerper, asook die restoureerder, Ras, wat deur sy ouma Kate ’n verbintenis met Verlatenfontein het.

Die hoofkarakters van die verlede is twee susters, Hendrien, die valerige en minder mooi sussie, en Katryn, wat pragtig is. Hulle pa is ’n regte buffel wat ná ’n woedebui sy dogters aan hulle eie genade oorlaat.

Potgieter skryf verder: “Myns insiens verg dit ’n bedrewe skrywer om die storielyn uit vier oogpunte te vertel sonder om die spanning in te boet en om die leser te laat aanhou lees om antwoorde te kry op baie subtiel-gestelde vrae. Paul kry dit goed reg om die leser deel te maak van al vier die hoofkarakters se belewinge, en empatie vir elke karakter te verseker. In beide die hede en die verlede staan die plaas Verlatenfontein sentraal.

“Die plaas word ’n fisieke sowel as emosionele bestemming vir die karaters. Die ligging van hierdie stuk grond skep moontlikhede vir konflik, plotdraaie en natuurlik raaisels. Die plaas word amper nog ’n karakter wie se wel en wee vir die leser belangrik is en die strewe na die behoud van die plaas, sy mense en ook die verlede wat eie is aan Verlatenfontein, sorg vir spanning wat die leser deurgaans geboei hou.”

Potgieter het ook getwyfel of sy sou kon byhou met die spronge tussen verlede en hede, maar die skrywer slaag uitstekend om deur sekere merkers die leser seepglad tussen die tydvakke te laat beweeg.

“Alhoewel Murasie hoofsaaklik ’n spanningsroman is met raaisels wat die leser saam met die karakters oplos,” skryf Potgieter, “is die aantrekking tussen die twee hoofkarakters in die hede ’n element wat nie misgelees kan word nie en aanhangers van Paul se liefdesverhale sal nie teleurgestel wees deur hierdie storielyn nie.

“En hoewel Murasie ontspanningsfiksie op sy beste is, spreek die verhaal van ernstiger temas wat die leser twee maal laat dink. Van die eerste bladsy af skep Paul ’n duidelike rasse- en politieke landskap waar vooropgestelde idees dadelik aan die lig kom. Hierdie landskap van rasseskeiding is ’n bron van goed-geformuleerde konflik, innerlik en uiterlik. Die karakters deel nie die vooropgestelde idees van hulle tydgenote nie en interaksie oor die kleurgrens dra by tot die effektiwiteit van die verhaal en die oordra daarvan.

“Nog ’n sterk tema in Murasie is die regte van vroue, of die tekort daaraan, en hoe uitgelewer hulle eens was aan die hand van die mans in hulle lewens. Dit word beklemtoon deur die onregte wat Katryn en Hendrien aangedoen is net omdat hulle vroue is, teenoor die vryheid wat sommige moderne vroue in dieselfde situasies kan beleef.

“Ten spyte van hierdie swaar temas belemmer dit nie die ontspanningswaarde van die verhaal nie en ondersteun dit eerder die leeservaring en die impak wat die storie op die leser het. Murasie is Paul se 49ste roman en dit is duidelik dat die skrywer meer en meer bedrewe raak met elke nuwe verhaal en lank nog nie haar vermoë om ’n leser te boei, verloor het nie.”

Ook Jonathan Amid (Netwerk24, 2 Oktober 2022) is beïndruk met Chanette se 49ste titel: “Paul het ’n klompie jaar gelede besluit om die meer tradisionele liefdesverhaal se fokus op die wel en wee van die heldin en haar reis tot volwaardige vrouwees met elemente uit die spanningsroman, speurroman of riller te kombineer. Só bly die vraagstuk van die liefde voorop terwyl Paul uiteenlopende, selfs verrassende maniere vind om historiese en moderne sienings oor die rol en plek van die vrou en die verskeie uitdagings en bedreigings op te teken wat vroue beleef. (…)

“Paul is behendig met haar hantering van mitologiese en historiese verwysings om die lot van feilbare, menslike heldinne te illustreer. Sy kry dit met elke boek reg om ’n boeiende gesprek tussen hede en verlede en personasies oor tyd en grense heen vir lesers te verhelder.

“Getroue lesers sal weet hoe Paul gereeld intriges bou rondom die idee van eiendom – beide letterlik in die vorm van ’n huis of woning en dit wat in die hede ontwikkel of nagelaat word onder raaiselagtige omstandighede, en die vrou as besitting of ‘rykdom’ wat bewaak en beheer moet word. Die titel van hierdie roman bied reeds ’n leidraad oor die inhoud en fokus wat lesers te wagte kan wees.”

Amid beskou die plaas Verlatenfontein en die Strandveld waar dit geleë is as die middelpunt van Murasie – al die intriges draai om die plaas. Die verhaallyn van Murasie wat in die hede afspeel, hanteer die Covid-19-pandemie baie goed en betrek ook Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Dit is dan na Verlatenfontein waarnatoe die een hoofkarakter in die verhaallyn vlug nadat sy getwiet het en in ’n onderonsie met die EFF betrokke geraak het.

“Georgie se kollega en vriendin Didzi, beeldskoon en nie op haar mond geval nie, is een van die lekkerste newekarakters wat Paul onlangs geskep het,” skryf Amid. “Dis voorwaar ’n vreugde om jou in Georgie se verhaal te verdiep soos sy agter die kap van die byl probeer kom oor ’n huurpag wat moontlik tot moord gelei het.

“Georgie se paaie kruis met dié van die argitek Ras Erasmus, wat deur sy ouma Kate se stories alles en nog wat leer oor ene Bert Brewis. Bert se verhouding met sy vrou en twee dogters speel ’n beduidende rol wat met die ruimte van Verlatenfontein gebeur en hoe die opstal telkens op ’n belangrike datum vier keer in 120 jaar deels afbrand. (…)

Murasie gryp behoorlik die verbeelding aan. Paul bou, steen vir steen en paragraaf vir paragraaf, ’n rotsvaste intrige wat ’n meer geleidelike, verlaagde verhaallyn en intrige uit die verlede inkleur om die spannende konflikte van die hede aan te vul en ook te verhelder. Paul slaag ook uitstekend daarin om spitsvondige en soms skreeusnaakse dialoog te skep met karakters wat vere voel vir vloek en gesprekke waar streekswoorde en -uitdrukkings soos helbesem, hokskaap, kaifels, komkykmaer, kerriederrie en konkelfoes voorkom. Murasie wemel van intrige, kinkels en kleur – dis werklik puik ontspanningsfiksie.”

Oor Vrouedag spreek Chanette haar as volg uit teenoor Terésa Coetzee in Beeld van 8 Augustus 2014: “Soos vele ander spesiale dae is daar kritiek teen Vrouedag. Dis gekommersialiseer, ’n geldmaakstorie. Feministe het ’n rits besware. Heelwat daarvan is geregverdig, maar net as ons dit toelaat. Vrouedag behoort ’n dag te wees waar ons kyk na wat vroue vermag – danksy en desondanks.

“Dis egter veral ’n dag waarop ons behoort na te dink oor hoeveel vroue op sowel fisieke as emosionele en geestelike vlak misbruik word. Dis ’n dag waarop ons moet sê ons duld dit nie. (...)

“As jy ’n vrou is wat gerespekteer en waardeer word, steek ’n helpende hand uit na iemand na aan jou wat misbruik word – hulle is daar. As jy die ma van ’n seun is, maak seker hy weet hoe om die vroue in sy lewe te respekteer. As jy self ’n misbruikte vrou is, klop aan om hulp. Dis nié oukei om verniel te word nie, nie fisiek of emosioneel nie. Kom ons maak ’n daadwerklike verskil. Vrouedag is ’n goeie plek om te begin.”

Publikasies:

Publikasie

Maalstroom van ekstase

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036175 (sb)
  • 1415000174 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Perskorprys vir romantiese fiksie 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Woestynliefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036272 (sb)
  • 1415000778 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Leerskool van die liefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2001

ISBN

  • 0628036396 (sb)
  • 186904679X (hb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlerkaf

Publikasiedatum

1998

ISBN

0628036965 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Eiland van begeerte

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036698 (sb)
  • 1415000867 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Wip van die droomvanger

Publikasiedatum

1998

ISBN

0628037252 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlerke van goud en ander liefdesverhale

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326550 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Bittersoet wals

Publikasiedatum

1999

ISBN

062803749X (sb)

Uitgewer

Midrand: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Rots van liefde

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2002 (grootdruk)

ISBN

  • 0628037414 (sb)
  • 1869047605 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Legende van die liefde

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

0624040402 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 1

Publikasiedatum

2002

ISBN

0624040690 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Liefde in laventel

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0624041735 (sb)
  • 0415001162 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Oerdans van die liefde

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2005

ISBN

  • 0624041476 (sb)
  • 1415003289 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geld wat krom is

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004

ISBN

  • 0798143029 (sb)
  • 1415001146 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Letsels

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624015130 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die goue vreugde: ’n keur uit jare se leesgenot

Publikasiedatum

2003 (grootdruk)

ISBN

0799330736 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlerke vir ’n visvrou

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2006 (grootdruk)

ISBN

  • 07993
  • 1415004765 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: LAPA
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Krinkels in die maan

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005

ISBN

  • 0799332437 (sb)
  • 1415003955 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fleur
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Perlemoenmaan

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fynbos vir ’n feeks

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042316 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Troupant

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042529 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Toorliefde

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042820 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Op soek na ’n held

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334766 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tamara

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2011

ISBN

  • 0799334936 (sb)
  • 9780799351453 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Porselein van staal

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334960 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Leila word lig

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144408 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Willemien

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799335956 (sb)
  • 9780799351491 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Annabella

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336033 (sb)
  • 9780799351507 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Deborah

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336114 (sb)
  • 9780799351514 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Isabelle

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933619X (sb)
  • 9780799351521 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Maryn

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933717X (sb)
  • 9780799351538 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Fleur

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0799337250 (sb)
  • 9780799351545 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 2

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780624044793 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 3

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045922 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Springgety

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338775 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fortuin

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 4

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048084 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Branders van liefde (Duette van twee)

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343311 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Onder seespieël

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780799345759 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Boheem

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344646 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Finalis vir ATKV-Veertjie in die spanningsromanafdeling

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meetsnoer

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2016

ISBN

  • 9780799347234 (sb)
  • 9780799381535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dryfhout

Publikasiedatum

  • 2011
  • 2017

ISBN

  • 9780799348828 (sb)
  • 9780799381597 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Jo en Sue

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Lekkerlit-kompetisie deur lesers as die lekkerste boek van 2012 aangewys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Nan en Jeannie

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799358384 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Labirint

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795800443 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Siende blind

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799361346 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

LAPA se Lekkerlit-toekenning 2013

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Raaiselspieël

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799364934 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Ewebeeld

Publikasiedatum

  • 2014
  • 2015

ISBN

9780799372144 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • LAPA se Lekkerlit-toekenning 2015
  • Finalis vir ATKV-Woordveertjies vir Liefdesroman 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eendag op ’n Maandag (Samevatting van Krinkels in die maan en Vlerke vir ’n visvrou)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799369939 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Offerlam

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799377118 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels (Sacrificed) 2017, vertaal deur Elsa Silke
  • Nederlands 2016

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Offerande

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799381320 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir liefdesroman 2017

Vertalings

Nederlands 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paaiboelie

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799385397 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die bloute

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388947 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie 2019

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lira (Vywervrou-reeks)

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799394474 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans 2020

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mirre (Vywervrou-reeks)

Publikasiedatum

  • 2020
  • 2022 (grootdruk)

ISBN

9780799398175 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Corali (Vywervrou-reeks)

Publikasiedatum

  • 2020
  • 2022 (grootdruk)

ISBN

9780799398670 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Finalis: ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans 2021

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Droomvanger (herskrywing van Die wip van die droomvanger (1998))

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639605470

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Marilyn (Vywervrou-reeks)

Publikasiedatum

  • 2021
  • 2022 (grootdruk)

ISBN

9780799307337 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Finalis: ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans 2022

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Murasie

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781776352357

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Chanette Paul as vertaler

  • Donald, Robyn: Maagd vir ’n miljoenêr. Parklands: Jacklin, 2004 [ISBN 1415001561 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Graham, Lynne: Sy vrou, die minnares. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415004080 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Milburne, Melanie: Sy onhebbelike vrou. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003041 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Oakley, Natasha: Ter wille van ons kinders. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003602 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)

Artikels deur Chanette Paul:

Artikels oor Chanette Paul:

Chanette Paul se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2019-09-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 4

Kommentaar

  • Ek is op soek na die Romanza-reeks deur Chanette Paul: 147Die Davel-vroue” (die oorspronklike reeks voor die herdruk). Waar sal ek daarvoor kan soek?

    • Beste Danette
      Ek hoop dit gaan goed.
      Kontak LAPA Uitgewers, hulle sal dalk kan help.
      Vriendelike groete

  • Elize Cerfonteyn

    Chanette, ek het altyd my neus opgetrek vir romanses, maar ek het so pas jou drie Vywervroue VERSLIND. So opreg, so menslik, so ongefokkenlooflik lekker en sonder literêre pretensie. Skryf nog, asseblief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top