| Skrop nes saam met skrywers by Protea Boekwinkel tydens US Woordfees |
Op Saterdag 6 Maart, tydens die US se elfde Woordfees, klink die stemme van voorste Afrikaanse skrywers oudergewoonte op in die Protea Boekwinkel in Andringastraat, Stellenbosch. Al die geleenthede, wat elk 50 minute duur, word gratis vir die publiek aangebied. Abraham Phillips, skrywer van Die evangelis van Kaggelsberg, praat om 09:00 met Wium van Zyl oor sy boek. Phillips het lesers aangegryp met ’n vars perspektief op ’n plattelandse gemeenskap se uitdagings en knelpunte. Die immergewilde Hennie Aucamp deel gedagtes oor sy liefde vir woorde in sy bundel, Die huis van die digter en ander liefdesverhale. Daniel Hugo is sy gespreksgenoot om 11:00. 
Om 12:30 word die jong dramaturg Adriaan Meyer gekonfronteer deur een van sy ‘karakters’ in Prinsloo versus: die kritikus Danie Botha. Botha tree in gesprek met Meyer oor dié bekroonde dramatisering van Koos Prinsloo se kontroversiële werk en lewe.
Desmond Painter gesels om 14:00 met Bettina Wyngaard oor haar debuut, Troos vir die gebrokenes. Dié roman bied ’n sonderlinge binnekyk op ’n plattelandse bruin gemeenskap en het sterk impak gemaak op die plaaslike literêre toneel.
Die res van die Woordfees se omvattende program is op LitNet beskikbaar.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|