Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Staan in die algemeen nader
Tessa Louw
2008-12-01 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Met die verskyning van Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde was ek baie opgewonde (om die minste te sê). Hier is iets nuuts, iets eerlik uit die guts; hier is voortreflike poësie, hier is digkuns wat ons baie nodig het, het ek gedink en ek dink dit nog steeds.


Vir my as leser en waardeerder van poësie, is digterlike eerlikheid ('n basiese menslike eerlikheid - dit wat sonder skanse of fassades poëties verwoord word) baie belangrik. Belangrik in terme van hoe ek (persoonlik) die gedigte met die eerste lees daarvan beoordeel. Vir my is 'n gedig suiwer poësie as dit onder my vel inklim en verseg om weer uit te klim; as dit my psige diep raak en my balans versteur; as dit iets van die mens (hoe hy die wêreld sien en beleef, sy weerloosheid ens) blootlê; as die kreatiewe verbeelding vingers vanuit die bladsy voor my uitsteek en my eie verbeelding aanraak. Daarmee sê ek nie dat ek dit van elke enkele gedig in 'n bundel verwag nie, maar 'n digter wat dit kan vermag, al is dit net met een gedig uit sy bundel, is in my oë werklik 'n meester van die woord.

Gaan kyk maar na die gedigte van die Nobelpryswenners; dit is digkuns wat jou diep aanraak deurdat dit met eerlikheid en kreatiwiteit (die metafoor, die beeld ens) die menslikheid (die wonder en wondbaarheid daarvan) verwoord.

Gister koop ek toe Loftus Marais se debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, en vanaf die eerste vers was ek platgeslaan. Ek kan nog steeds nie behoorlik opstaan nie. Ek is nie 'n kritikus nie, ek is nie 'n resensent nie, maar ek kan in alle eerlikheid sê dat hierdie bundel my grootste verwagtinge oortref het. Ek probeer dink of ek al 'n sterker debuut gelees het en ek moet sê dat Loftus Marais se debuut na my mening die sterkste debuut sedert Alruin (1989/9 - Henning Pieterse) is.

Ek is oorstelp. Sy tegniese vaardigheid is bo verdenking. Sy kreatiewe verbeelding is aan die werk soos 'n magiese masjien. Hy het iets om te sê en glo my, hy sê dit met eerlikheid, met erns en ook soms met ironie. Hier is 'n GROOT digter aan die woord. Ek wil ten sterkste aanbeveel: mense, gaan koop hierdie debuut. O, dis poetry ... dit is briljant! Elke gedig in hierdie bundel "packs a punch"!

Die ding waaroor ek nou wonder, maar waaroor ek my as leek seker nie durf uitspreek nie, is die volgende: Is Loftus Marais die nuwe Breyten?

(Hiermee verklaar ek my belange: Ek ken Loftus Marais van geen kant af nie en het hom nog net by twee geleenthede van ver af gesien. Ook Ronelda Kamfer het ek nog nooit ontmoet nie. Ek is nie 'n letterkundige nie, net doodgewoon 'n liefhebber van poësie.)


Tessa Louw



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Cornelle Carstens
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur