Gebore en getoë Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore, die oudste van vyf kinders van Willem Krog, ’n boer van die plaas Middenspruit, en die bekende Afrikaanse skryfster Dot Serfontein. Antjie se oupagrootjie, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad ná die Anglo-Boereoorlog. Antjie het een suster en drie broers. Sy matrikuleer in 1970 aan die Hoërskool Kroonstad. As agtienjarige skoolmeisie skryf sy: "Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand/ vrede en liefde kan bring in my mooi land." Dié gedig waarin dié woorde verskyn, asook ander gedigte, word in haar skool se jubileumblad gepubliseer en veroorsaak ’n groot ophef landwyd in die koerante. Verdere studies en werk In 1971 gaan Antjie na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), soos dit toe bekend gestaan het, en studeer BA met Afrikaans en Nederlands, Engels, en Wysbegeerte. Tydens haar studentejare dien sy in die redaksie van Irawa en Shimla, twee studentekoerante. Na die verkryging van haar BA-graad behaal sy ook ’n honneursgraad in Engels in 1976 aan UOVS. In 1983 voltooi sy haar MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof AP Grové, en die titel van haar verhandeling is Familiefigure in die poësie van DJ Opperman. Na ’n kortstondige huwelik met die pianis Albie van Schalkwyk tree sy in 1976 in die huwelik met John Samuel, ’n argitek en ’n jeugliefde van haar. Hulle het vier kinders en is ook al grootouers van twee dogters, van wie een Antjie se name geërf het. Antjie gee onderwys by ’n bruin hoërskool in Kroonstad en in 1993 verhuis die gesin na Kaapstad, waar Antjie aangestel word by die tydskrif Die Suid-Afrikaan. Sy bedank in 1995 by Die Suid-Afrikaan nadat sy aangestel word as politieke verslaggewer by die SAUK en dra haar redakteurskap aan Sandile Dikeni oor. Vir langer as twee jaar (1996 tot 1998) doen Antjie verslag van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Aanvanklik is sy slegs deel van die span, maar later voer sy die radiospan aan. Antjie het ook in ’n Nederlandse publikasie, Nieuw Wereldtijdschrift, verslag gedoen oor die WVK onder die titel "Brief uit Kaapstad". Hierdie blootstelling aan die WVK en die trauma wat daarmee gepaard gegaan het, veroorsaak dat sy geestelik en fisiek ineenstort. Sy besef dat sy ’n anker nodig het en vind dit deur “al die seer, verdriet en woede en haat wat dag na dag uitgestort is” neer te pen in Country of my skull, wat in 1998 gepubliseer is. Sy skryf dit aanvanklik in Afrikaans, maar vertaal dit later saam met Ivan Vladislavic. In 2000 bedank sy as politieke redakteur by die RSG, want sy glo sy kan nie dig as radiojoernalis nie: “Daar was net te veel stemme waarvoor jy ’n kanaal word.” Dit is met Country of my skull dat Antjie haar merk op die internasionale mark maak. Sy ontvang in 2000 die Year 2000 Award van die Hiroshima Foundation for Peace and Culture vir haar bydrae tot waarheid en versoening in Suid-Afrika. In 1999 word die boek ook eervol vermeld in die Noma-toekennings. Antjie ontvang in 1996 die Buitelandse Korrespondente-prys vir uitmuntende joernalistiek vir haar artikels wat in Mail & Guardian verskyn het. En ook in 1996 word sy en haar span bekroon met die Pringle-prys vir uitmuntendheid in joernalistiek vir hulle dekking van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. In 1999 deel sy die Alan Paton Award for Non-fiction met Stephen Clingman en ontvang Country of my skull ook die South African Booksellers’ Choice Award. Hierdie eer val haar weer te beurt in 2004 toe A change of tongue ook die toekenning ontvang. Country of my skull word in 2001 met die Olive Schreiner-prys bekroon. Country of my skull word in New York, Londen, Milaan, Denemarke en Nederland gepubliseer. Dit word verfilm met die titel In my country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle, maar die film word nie so goed ontvang soos die boek nie. Maar lank voordat Antjie Country of my skull geskryf het, maak sy indruk as een van die beste digteresse in Afrikaans. Na die oproer wat die publikasie van haar gedigte in haar hoërskool se jubileumblad veroorsaak het, word haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, in 1970 gepubliseer. In 1972 verskyn Januarie-suite en ontvang Antjie die Eugène Marais-prys vir haar eerste twee bundels. Januarie-suite beleef in 1987 ’n sewende druk – iets wat amper ongehoord is vir ’n digbundel in Afrikaans. In 1977 word Mannin en Beminde Antarktika met die Reina Prinsen-Geerligsprys bekroon. Hierdie prys is ingestel om Nederlandse vroue en dogters wat hul lewens in versetbewegings teen Duitsland in 1940–45 verloor het, te gedenk. Sedert 1952 word die prys elke drie jaar aan ’n Suid-Afrikaner toegeken. Jerusalemgangers word in 1987 met die Rapportprys bekroon en in 1990 ontvang Antjie die grootste een – die Hertzogprys vir Poësie – vir Lady Anne, ’n digbundel wat deur die destydse ”ondergrondse” uitgewery Taurus gepubliseer is. Ook Antjie se Engelse digwerk word bekroon – sy ontvang die FNB-Vita Poetry Award in 2001 vir Down to my last skin en die beoordelaars se kommentaar is dat hierdie gedigte nie as vertalings lees nie, maar as skeppings uit eie reg. Hierdie bundel is ook in Afrikaans gepubliseer as Kleur kom nooit alleen nie. Die Afrikaanse bundel word eweneens bekroon, en wel met die eerste RAU-Prys vir Skeppende Skryfwerk. In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat Antjie se Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Antjie vertaal ook Long walk to freedom, die biografie van Nelson Mandela, in Afrikaans as Lang pad na vryheid. Die Nederlandse skrywer Henk van Woerden se boek oor Tsafendas, Mondvol glas, word deur Antjie vertaal as Domein van glas. Mamma Medea, ’n toneelstuk van die Belgiese skrywer Tom Lanoye, word deur Antjie vertaal en by Aardklop in 2002 ontvang die regisseur Marthinus Basson Beeld Plus se Aartvarkprys vir innoverende werk vir sy ontwerp en regie van hierdie stuk. Dit is dus nie vreemd nie dat Antjie tydens die KKNK in 2004 in ’n skrywersgesprek met Ingrid Winterbach, die Hertzogpryswenner, bepleit het dat die boek wat die Hertzogprys wen, as ’n gegewe in Engels vertaal moet word, sodat Afrikaanse skrywers deel kan word van die ander stemme in die land. Antjie se mees onlangse digbundel is Verweerskrif, wat terselfdertyd in Engels gepubliseer is as Body bereft. Weer veroorsaak dit opspraak met ’n foto van ’n naakte, ouer vrou op die voorblad. Op 53 wou Antjie "skryf oor ’n leeftyd, oor ’n lyf wat haar irriteer én boei”. Byna veertig jaar na die verskyning van Dogter van Jefta draai haar gedagtes toenemend na haar liggaam, verál na die ligte beroerte in 2002. Die Proteaprys vir poësie word aan Verweerskrif toegeken. Oor die toekenning sê Antjie: "'n Digter skryf vandag in Afrikaans in die volle wete dat dit geen werklike statuur het nie. Jy skryf omdat jy móét en jy weet dat selfs ’n Afrikaanse rock band waarskynlik ’n groter omset as jy het. Dit is daarom dat ’n prys soos dié soos jasmyn in die voortuin is vroeg September … ’n Taal word as taal erken as hy die poëtiese kan uitdruk. ’n Taal begin taal wees in die stemme van digters. ’n Taal sonder digters is ’n sterwende taal: daarom is die bevordering, koestering, instandhouding en erkenning van poësie in Suid-Afrika en in Afrikaans belangrik.” Kwela-uitgewers publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê "tsau": Xam-gedigte in Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo. Dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. In 2006 beweer Stephen Watson, digter en ook hoof van die Universiteit van Kaapstad se Departement Engels, in die tydskrif New Contrast dat Antjie plagiaat gepleeg het. Hy beweer in die artikel dat Krog “die hele gedagte Die sterre sê 'tsau' van hom gesteel het sonder enige erkenning”. Antjie se kommentaar op hierdie aanklag is: “Dis ’n verskriklike ding omdat dit die heel belangrikste ding in jou lewe aangaan, en dis jou integriteit. Daar’s nie ’n manier wat jy dit kan herstel nie. As ek jonk genoeg was, kón ek. Maar ek kan NIKS daaraan doen nie.” Antjie se eerste en enigste toneelstuk, Waarom is die wat voor toyi-toyi altyd so vet? (1999), is onder andere by die Aardklop Kunstefees en by die Markteater in Johannesburg opgevoer met Marthinus Basson as regisseur en Nomsa Xaba en Tess van Staden in die hoofrolle. In 1979 word Antjie genooi om die NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. Die titel van haar voordrag is "NP van Wyk Louw: die pad vorentoe". In 2004 word sy weer genooi om dié lesing te lewer by die Randse Afrikaanse Universiteit met die titel "Die beautiful woorde van Van Wyk Louw". Antjie bevind haar vanaf die publikasie van daardie eerste gedigte op die voorgrond in Suid-Afrika en die akkolades bly nie uit nie. In 1986 vervaardig Carl Theunissen en André van den Heever ’n televisieprogram oor Antjie wat ’n ATKV-prys wen. In die laat tagtigerjare is sy een van die groep Afrikaanse skrywers en intellektueles wat deur Idasa na die Watervalberaad in Zimbabwe genooi is om met uitgeweke skrywers en ANC-lede te gesels. In 1989 lees Ahmed Kathrada, ’n eertydse gevange ANC-leier, ’n Engelse vertaling van haar gedig "My mooi land" voor op ’n massasaamtrek in Soccer City in Soweto. Antjie se verse het so ’n indruk op hom gemaak terwyl hy in die tronk was dat dy dit “gekoester" het en dit vir hom “moed gegee" het. Antjie is nie iemand wat al ooit gehuiwer het om te sê wat sy dink en hoe sy voel nie. Dit is die rede waarom almal wat haar ken, haar eerlikheid en haar oortuiging om getrou te bly aan dit wat sy dink reg is, uitsonder. In 1987 het sy met Ton Vosloo, besturende direkteur van Nasionale Pers, gebots oor Dene Smuts se bedanking as redakteur van die tydskrif Fair Lady. In 1990 het sy by die Afrikaanse Skrywersgilde-beraad onder haar medeskrywers ingeklim oor die Gilde se apatie en dat Afrikaans van die Gilde bevry moet word. Tydens die funksie met die toekenning van die Boekjoernalis van die Jaar aan André P Brink in 2000 is Antjie die gasspreker. Sy bepleit in haar toespraak dat koerante hulle kunsblaaie ernstiger moet opneem, omdat daar “binne die kunste en kulturele verbande altyd meer ruimte bestaan vir bevraagtekening en begripvorming”. Tydens ’n simposium wat in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch gehou is oor die uitdagings waarvoor die NG Kerk in ’n veranderende Suid-Afrika te staan kom, sê Antjie dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie ken nie. Die kerke moet mense help om nuwe verhoudings as gelykes te bou. En een van die maniere om dit reg te kry is dat die Kerk gesamentlike etes vir wit en swart moet reël. In 1990 veroorsaak Antjie se aanstelling op die NG Kerk se Psalmkommissie opspraak. Sy dien in hierdie kommissie tot 1992 toe sy bedank as gevolg van te min tyd. In 1992 word sy genooi om saam met digters uit ander wêrelddele deel te neem aan die Poetry International-poësiefees in Rotterdam, ’n eer wat haar weer in 2004 te beurt val. In 2003 word sy genooi om die Internasionale Letterkundefees Winternachten in Den Haag te open met ’n orakelspreuk oor die toekoms van Afrikaans. Antjie word in 2001 verkies tot die komitee wat ’n taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse tersiêre sektor moet ondersoek. Die komitee was onder voorsitterskap van Jakes Gerwel en die ander lede was proff Njabulo Ndebele en Willie Esterhuyse en dr Nomsa Satyo. Erkenning van akademiese kant bly nie agterweë nie. In 2002 ken die Tavistock-kliniek in Londen ’n eredoktorsgraad aan haar toe vir die bydrae wat haar werk tot die veredeling van wêreld-humanisme gelewer het. In 2004 ken beide die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Antjie toe. Na afloop van die KKNK in dieselfde jaar word die Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke aan haar toegeken. Ook in 2004 neem sy saam met die Nigeriese skrywer en akademikus Kole Omotoso deel aan ’n bespreking in die Sol Plaatje-diskoers. 2004 is ’n jaar van vele toekennings aan Antjie. Sy word saam met Coenie de Villiers en Gert Grobler deur die Kovsie-Alumnibond vereer en word benoem as Oud-Kovsie van die jaar. Die Universiteit van Stellenbosch verkies haar in 2004 tot die raad van dié universiteit en in dieselfde jaar word sy aangewys as Buitengewone Professor van Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Tydens Exclusive Books se jaarlikse veiling by hulle tak in Hyde Park behaal ’n handgeskrewe gedig van Antjie, "Country of grace and grief", R3 700. Die gedig is opgeneem in Down to my last skin. Die gedig "Van litteken tot rivier" behaal R1 900. Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies. Robert Dorsman vertaal van haar gedigte in Nederlands en gee dit in 1999 in die bundel Om te kan asemhaal in uit. Country of my skull word aan universiteite in Amerika en Europa voorgeskryf as deel van die leerplan wat handel oor die optekening van die verlede. Tydens die skryf van A change of tongue, wat in Afrikaans gepubliseer is as ’n Ander tongval, kry Antjie ’n ligte beroerte-aanval, maar sy herstel gelukkig feitlik heeltemal – iets wat sy glo toegeskryf kan word aan haar gereelde joga-oefeninge. ’n Ander tongval is deur Saartjie Botha omgesit in ’n toneelstuk met Nina Swart wat die rol van Antjie vertolk. In 2006 onderneem Antjie ’n toer van ses weke saam met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Dit is aangebied deur Behoud de Begeerte, ’n onafhanklike kunsliggaam wat hom uitsluitlik beywer vir die bevordering van die Nederlandse/Vlaamse literatuur. Na die toer sê ’n Nederlandse vrou in Nederlands aan Antjie: “Dis die taal. Toe jy jou mond oopmaak, skiet die Afrikaans my deur die hart.” Publikasies: Antjie Krog as vertaler - Browning, Robert: Die rottevanger van Hameln. Pretoria: Daan Retief, 1989 [ISBN 0795920830]
- Van Woerden, Henk: Domein van glas. Kaapstad: Queillerie, 1999 [ISBN 0795800096 (sb)]
- Mandela, Nelson: Lang pad na vryheid: die outobiografie van Nelson Mandela. Florida Hills: Vivlia, 2001 [ISBN 1868674983 (sb)]
- Met woorde soos met kerse. Kaapstad: Kwela, 2002 [ISBN 0795701187] Algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse vertaalwedstryd 2003.
- Lanoye, Tom: Mamma Medea: na Apollonios van Rhodos en Euripides. Kaapstad: Queillerie, 2002 [ISBN 0795800142 (sb)]
Antjie Krog as samesteller - Serfontein, Dot: Deurloop: keur uit die essays van Dot Serfontein. Saamgestel deur Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 1992 [ISBN 0798129808 (sb)]
- Losvoor: ’n versameling van Afrikaanse poësie. Saamgestel deur Antjie Krog. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter, 1996 [ISBN 0796009473 (sb)]
- Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde. Saamgestel deur Johann de Lange en Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998 [ISBN 0798135646 (sb)]
- Met woorde soos met kerse. Saamgestel deur Antjie Krog. Kaapstad: Kwela, 2002 [ISBN 0795701187 (sb)]. Algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse vertaalwedstryd 2003.
- Nuwe stemme 3. Saamgestel deur Antjie Krog en Alfred Schaffer. Kaapstad: Tafelberg, 2005 [ISBN 062404288X (sb)]
Werke oor Antjie Krog - Conradie, Pieter: Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. Rondebosch: P Conradie, 1997 [ISBN 0620 20719 1 (sb)]
Keur van artikels beskikbaar op die internet Gedigte van Antjie Krog op die internet Artikels deur Antjie Krog beskikbaar op die internet Plagiaat-debat op LitNet na aanleiding van Stephen Watson se aantuigings in New Contrast  Bygewerk: 2008-02-27 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|