Gebore en getoë Ebenhaezer Venter is op 29 September 1954 in die distrik Burgersdorp gebore waar sy pa ’n boer was op die plaas Die Vlei. Hy behaal sy matriek aan Grey Kollege in Bloemfontein waar Charles Malan, vandag ’n bekende letterkundige en skrywer, sy begeesterde taalonderwyser en mentor was. Hy sien hier hoe Stephen le Roux (Etienne Leroux) sy kind by die koshuis aflaai en is geboei deur dié eksentrieke mens wat nie soos ander ouers was nie. Die saadjie vir sy toekomstige skryfwerk is vroeg gelê, aangesien hy grootgeword het in ’n familie waar sy pa en ander voorgeslagte goeie storievertellers was. “Dis ’n Venter-tradisie, die kleurvolle, sensuele manier van oorvertel,” sê Eben self.
Verdere studies en werk Na skool is Eben na die Lugmag vir sy weermagdiens en is hy ook betrokke by die Weermag se aksies in Angola. Hy gaan na die Potchefstroomse Universiteit, waar hy in die teologie studeer. Hy verwerf sy BA Honneursgraad aan RAU en sy MA in Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Hierna verhuis hy na Johannesburg, waar hy as joernalis en kopieskrywer werk.
In 1986, net na die verskyning van sy eerste bundel kortverhale, Witblitz (Taurus), voel hy hom genoodsaak om Suid-Afrika weens die noodtoestand en die algemene politieke milieu te verlaat. Hy emigreer na Australië en volg sy ouer broer, wat in daardie stadium met die sangeres Clarabelle van Niekerk getroud was, na Sydney, waar hy in sy broer se restaurant skottelgoed was. Hy vestig hom later in Melbourne en word ’n vennoot in ’n restaurant, Wild Rice, wat in mikrobiotiese kos spesialiseer.
Voor die publikasie van Foxtrot van die vleiseters huur Eben ’n huisie in die noordweste van die Ierse Republiek in die Donegal-graafskap vir vier maande se intensiewe skryf na die voorafgaande jare se aantekeninge maak. Daar stap hy, eet, en skryf elke dag vir agt uur lank. Hy stuur die manuskrip aan Frederik de Jager van Tafelberg Uitgewers, wat onmiddellik besef dat hy hier met ’n uitsonderlike boek te doen het.
Volgens Eben werk hy op sy beste in afsondering. Met Foxtrot van die vleiseters skryf hy ook baie van sy woede teenoor die politieke situasie in Suid-Afrika uit. Skryf is vir hom terapie. En alles was die moeite werd, want na publikasie en al die gunstige resensies ontvang Eben in 1994 die WA Hofmeyrprys vir Foxtrot.
In 1995 keer Eben tydelik terug na Suid-Afrika, huur ’n huis in Prince Albert in die Karoo, waar hy hom weer afsonder, en begin skryf aan Ek stamel, ek sterwe. Hy keer terug na Australië, waar hy in ’n internetkafee gaan werk en agt maande spandeer aan die afronding van sy nuwe roman. Sy nuwe roman het VIGS as tema, hoewel dit nooit by die naam genoem word in die roman nie. Ook vir hierdie roman ontvang hy die WA Hofmeyrprys, in 1997. Ongelukkig kon hy nie in aanmerking kom vir die M-Net-prys vir Ek stamel, ek sterwe nie, aangesien hy ’n Australiese burger is.
In 1999 onderneem hy ’n baie suksesvolle skrywerstoer deur Suid-Afrika om sy nuwe boek, My simpatie, Cerise te bemark. Hy en sy lewensmaat open ’n tuisrestaurant, The Long Table at Redhill, in Melbourne, waar hulle een maal per maand sestien tot agtien mense onthaal. In November 2003 keer hy terug na Suid-Afrika om sy pa, Willem-Frederik, tydens sy siekbed by te staan en uiteindelik te begrawe. Sy tagtigjarige ma, Maureen, bly tans op Jeffreysbaai. Hy vestig hom weer op Prince Albert.
Gedurende April en Mei 2005 bied hy klasse in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Adam Mickiewicz Universiteit in Pole, asook by die Skool van Neerlandistiek aan die Palacky Universiteit in die Tsjeggiese Republiek. Hy is ook genooi om in 2007 etlike maande in Wassenaar in Nederland te vertoef as inwonende skrywer by die Netherlands Institute for Advanced Studies in Literature.
Intussen publiseer Eben nog ’n bundel kortverhale, Twaalf, en twee romans, Begeerte en Horrelpoot. Vir Begeerte ontvang hy in 2004 weer die WA Hofmeyrprys. Talle van sy kortverhale is ook opgeneem in versamelbundels, onlangs in The new century of South African short stories.
Publikasies:
’n Keur van artikels oor en deur Eben Venter beskikbaar op die internet:
- ABSA Ketting: Ingrid Winterbach gesels met Eben Venter (LitNet)
- ABSA Ketting: Eben Venter gesels met Marlene van Niekerk (LitNet)
- Venter, Eben: Erotiese vervulling as invalshoek vir outobiografiese prosa (LitNet)
- Eben Venter, inwonende skrywer by NIAS (LitNet)
- Gräbe, Ina: Apokalips nou of later? Eben Venter se siening van die Suid-Afrikaanse samelewing in Horrelpoot
- Die mond is nie geheim nie: Francois Smith in gesprek met Eben Venter oor Begeerte (LitNet)
- Die mond is nie geheim nie: LitNet se klets met Eben Venter (LitNet)
- Venter, Eben: Oor Prince Albert en oorlewing
- LitNet | Sanlam VraNet: Pieter du Plessis vra Eben Venter (LitNet)
- Burger, Willie: Op reis na die hart van die donker (Beeld 13.11.2006)
- Woorde vir die onsegbare (Beeld 22.11.2006)
- Burger, Willie: Roman Begeerte verryk Afrikaanse vertelkuns - 'n Stewige bydrae tot Venter se oeuvre (Beeld 11.08.2003)
- Nieuwoudt, Stephanie: Terug uit die vreemde Karoo se stilte roep emigrant-skrywer Eben Venter (Beeld 12.07.2003)
- Gaigher, Louis: Venter se vierde 'n meesterlike roman (Rapport 06.07.2003)
- Aucamp, Hennie: 'n Stemtoon milder as vroeër - Venter verras met toeganklike verhale (Beeld 29.08.2000)
- Nieuwoudt, Stephanie: Ek wil nie weer so intens skryf - Venter (Beeld 05.08.1999)
- Skrywersberaad: Gedagtes oor hibriditeit as voorwaarde vir selftoleransie en mede-menslikheid (LitNet)
- Burger, Willem: Ek stamel ek sterwe; Roman se sterkste eienskap die taalgebruik (Beeld 17.02.1997)
- Burger, Kobus: Skryf van doodsroman was terapeuties (Beeld 13.12.1996)
- Grütter, Wilhelm: "Aan die vrese het niks verander nie" (Beeld 19.08.1993)

Bygewerk: 2007-08-08 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|