| |
 |
| Doodse stilte oor die Nag van die Lang Messe - Leon |
Afrikaan
Leon
Hoeveel het jy daagliks te doen met die swart- en bruin middelklas? Ek wil myself glad nie voordoen as 'n kenner van hierdie twee groepe nie, maar in my skrywe oor uhuru het ek oor hierdie middelklas, spesifiek swart, gepraat. En ja, ek het natuurlik vertroue in hierdie swart middelklas, want die handjievol vriende wat ek het uit daardie groep is vir my 'n voorbeeld. Dan ook die swartmense wat ek daagliks in besigheid ontmoet, en soms praat ons verder oor Suid-Afrika van vandag. Hulle word net soos ons wit middelklas mense, waarvan ek een is, geraak deur misdaad en korrupsie. In baie gevalle, in plekke soos Soweto en Mitchell’s Plain, nog meer as inwoners van ander voorstede.
Dié mense is nie bekommerd oor die uhuru-bangmaakpraatjies nie. Hulle het soveel opgebou en besef dat ons mekaar nodig het in ons land. Hulle het eenvoudig te veel om te verloor om net op die kantlyn te staan en te kyk sou witmense agv hul velkleur geteiken word. Onthou, die middelklas swartes werk daagliks met opgevoede, belese en berese blankes, soms is hulle die blanke se baas of andersom, maar elke dag wat ons vorentoe beweeg op ons pad van rekonsiliasie, word daar nouer bande gesmee tussen regdenkende Afrikaners, blankes en swartes in ons land. Vriendskappe word gesmee, meestal in ons groter stede en maatskappye. Dit is waarna ons op pad is, en dit is ons redding, 'n klasverskil en nie 'n rasverskil.
So ‘n week of wat gelede was ek by 'n vergadering in Johannesburg, en ek raak aan die gesels met 'n jong swart man van een van ons groot banke. Hy het gepraat oor sy werk en vertel van sy kollegas, dan van Gerhard en dan weer van Mpo. So gewoon soos oor brood en botter. Wanneer jy genoeg tyd spandeer met sulke mense, en met swart vriende, dan raak jy meer en meer bewus van die "kleurloosheid" wat intree. Tog voel ek dat sommige swart mense nog te bewus is van kleur, veral ons politici, en ook sommige witmense, veral Afrikaners.
Ongelukkig is die meeste mense wat so bewus is van kleur en ras juis die mense wat die minste kennis het van ander rasse. En ek bedoel nou nie kennis wat op 'n afstand opgedoen word nie. So dikwels lees ek van mense wat skryf dat hulle jare in so-of-so departement gewerk het en alle "k's" is lui/dom/skelm of mense wat nie eers hulle huishulp se van ken nie, wat vertel van hoe sleg sy is en hoe sy suiker steel, ensovoorts. Ek soek witmense en swartmense wat darem al ten minste probeer het om in mekaar se skoene te staan. Met hulle kan ons 'n pad stap.
Ek wag in spanning om te sien of iemand die mense wat die e-posse en SMS'e oor Madiba die wêreld instuur hier op SêNet gaan veroordeel. Ek wag verniet. Die mense wat so gou op hul perdjie kan spring wanneer Mbeki, die ANC of enigiemand swart iets sê of doen, is nou doodstil. Skande! Hierdie nag-van-die-lang-messe-profete se optrede word met stilswye aanvaar. Ek skaam my dat sulke gevaarlike opstokers nie in die bek geruk word nie. Ek hoop hulle sit binnekort saam met hulle broers in C-Max.
Ek wil weer 'n beroep doen op mense, reik uit, leer die mense ken, jy sal verryk word daardeur.
Afrikaan
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|