| Stephan Bouwer (1948–1999) |
Erika Terblanche
|
|
|
Sêgoed van Stephan Bouwer
“Dit is vir my ’n noodsaaklikheid om te dig, want in baie opsigte is dit ’n uitlaatklep en ontvlugting. Dit is ’n intuïtiewe emosionele proses, daarom is dit vir my moeilik om van dinge buite myself te dig.”
In 1974 oor sensuur: “Ek is heeltemal gekant teen sensuur. Strenger sensuur hier is absoluut banaal. Oorsee floreer pornografie, maar dit doen niemand skade aan nie. Die mense gaan hulle gewone gang, handhaaf ’n gesonde balans en is vry. Die groot kunswerke word nog steeds gelewer.”
“Kyk, ek skryf veelal oor dinge wat ek beleef of ervaar of direk waarneem. Ek werk nie doelbewus aan vernuwing nie. Ek dink namate jy ouer word, kry jy ander insigte. Ek het natuurlik ’n voorkeur vir ’n meer belydende liefdesvers – ek het nog nie eintlik iets aangepak wat heeltemal weg van myself is nie.”
“My diere is ’n integrale deel van my lewe en ek kommunikeer goed met hulle almal – soms dink ek ek het meer waardering vir hulle as vir my medemens!”
Oor Pretoria: “As jy op ’n Saterdagoggend in die stad stap, ontmoet jy op elke straathoek familie, aangetroude familie en vriende van vriende. Dit gee my ’n warm gevoel van sekuriteit. Dit is een van die gaafste, dog grusaamste eienskappe van Pretoria.”
Na sy motorongeluk: “Ek was nog altyd gelowig en ’n Christen, hoewel nie openlik daaroor nie. Maar ’n gebeurtenis soos dié bring noodwendig ’n verandering in jou lewe. Vir my was daar ’n verdieping. Ek dink ek is minder ligsinnig. Ek is baie diep onder die indruk van verganklikheid, en terselfdertyd van die tweede kans wat ek gekry het. Wat met ’n mens gebeur, is nie uniek nie, ek is nie die eerste wat deur so ’n trauma moes worstel nie, maar dit ruk jou. Ek was dikwels bewus daarvan dat ek op die rand van die dood was, maar dit was nie vir my skrikwekkend nie. Ek was en is nie bang vir die dood nie. My liggaam het ’n knou weg, en hoewel ek heeltemal gesond geword het, weet ek dat ek op my oudag dalk sal sukkel met probleme soos rumatiek, maar daarvoor is ek ook nie bang nie. Ek het nog altyd voluit gelewe, en die beste van my kans gemaak.”
|
Gebore en getoë
Johannes Stephanus (Stephan) Bouwer is op 8 Augustus 1948 in Pretoria gebore. Hy is ’n direkte nasaat van CNJ du Plessis, een van ons vroegste geskiedskrywers, en sy vader, APJ Bouwer, die Weesheer van Pretoria, was die skrywer van die eerste Afrikaanse handboek oor boedelsake, Die beredderingsproses van gestorwe boedels. Sy ma is in die Riemland (Reitz) gebore met De Villiers- en Blignaut-bloed in haar are.
Stephan was tot graad 7 (in 1961) in die Laerskool Menlopark, graad 8 (1962) in Afrikaans Hoër Seunskool, en graad 9 tot 12 (1963 tot 1966) in die Hoërskool Menlopark, almal in Pretoria. Hy matrikuleer in 1966.
Volgens Roux Engelbrecht, Stephan se jare lange lewensmaat, was Stephan ’n buitengewoon begaafde kind met ’n innemende, ondeunde persoonlikheid wat hom sy lewe lank bygebly het. Hy was ’n uitblinker op akademiese gebied in Afrikaans, Engels en Frans, met min liefde vir wetenskap, biologie en wiskunde. Hy het uitgeblink in atletiek en het Noord-Transvaalse kleure verwerf. Stephan het geen liefde vir spansport gehad nie, “want as hy ’n bewonderende/waarderende gehoor gehad het, was Stephan in sy element. Sy ma het altyd vertel dat Stephan die volkslied kon sing voor hy gepraat het.”
As kleuter, het sy ma vertel, het Stephan ’n denkbeeldige maatjie oor die telefoon gehad met wie hy probleme en geheime bespreek het. Hy was elke dag vir ure met hierdie maatjie in ’n druk gesprek gewikkel.
Stephan se ouers het albei ’n aktiewe belangstelling in die toneel gehad (sy pa het self geskryf en aan ’n amateurtoneelgeselskap behoort) en die liefde vir die toneelwêreld was dus in sy gene. Hierdie voorliefde het ook hand aan hand geloop en ontwikkel met sy literêre belangstelling en vaardigheid. Dit is dus geen wonder dat “hulle hierdie ‘Wunderkind’ van hulle met alles ondersteun en aangemoedig het nie. Dit was spraakklasse, toneelklasse en sanglesse, en met die jaarlikse kunswedstryde (gróót gebeurtenisse, veral in die laat vyftiger-, vroeë sestigerjare) het Stephan die goue medaljes in sang, voordrag en toneel letterlik laat ophoop. In sy ouers se oë kon Stephan niks verkeerd doen nie en die selfvertroue wat hy aangekweek het deur sy ouers se onwrikbare geloof in hom, was waarskynlik die grondslag vir sy latere sukses in alles wat hy aangepak het.
“Die Bouwers was ’n hegte, gelukkige gesin. Stephan was besonder na aan sy ma en tot en met haar afsterwe het hulle minstens een maal per dag telefonies gekuier en ’n hond uit ’n bos gesels. Die dood van sy ouers in dieselfde jaar was vir Stephan ’n geweldige knou waarvan hy nooit heeltemal herstel het nie – hulle was sy mees lojale bewonderaars. Sy ouer broer, Willem, en suster, Hanneli, en twee jonger aangenome susters, Petra en Anette, is almal nog in die Pretoria omgewing en ek (Roux) word steeds as een van hulle beskou en behandel.”
Stephan se eerste gedigte word op sestienjarige ouderdom in die letterkundige tydskrif Sestiger gepubliseer.
Terug na bo
Verdere studie en werk
Na matriek is Stephan na die Universiteit van Pretoria waar hy in 1969 sy BA-graad met Dramakunde, Afrikaans en Engels as hoofvakke voltooi het. In 1970 het hy sy Lisensiaat in Spraakopleiding en Toneelkuns (OLST) aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf, asook die Licentiate in the Theory and Practice of Speech aan die Trinity College of Music in Londen. Sy honneursgraad in Dramakunde het hy met lof geslaag aan die Universiteit van Pretoria en in 1972 het hy sy MA-graad in Dramakunde aan dieselfde universiteit behaal met ’n verhandeling getiteld Vrouepersone in die dramas van Tennessee Williams.
Vanaf 1968 tot 1972 het Stephan as akteur in vyf TRUK-produksies opgetree, onder meer in die hoofrol van Gerhard Beukes se As ons twee eers getroud is. Later het hy ook rolle gehad in Dans van die reier, Die drie Van der Walts, Koopman van Venesië en die Ingrid Jonker-program wat in die Johannesburgse Stadskouburg aangebied is.
Tydens sy nagraadse studie het hy tydelik onderwys gegee aan die Waterkloof Preparatory School en die Laerskool Pretoria-Oos. In die laat 1990’s was Stephan ’n Afrikaans-onderwyser by Four Ways High in Sandton en het hy meegehelp om ’n uitstekende Afrikaans-departement aldaar te skep.
Stephan het in 1972 na België vertrek met ’n studiebeurs van die Belgiese regering. Daar het hy aan die Vrije Universiteit Brussel navorsing gedoen oor die dramakuns van Hugo Claus, filmkuns in Europa en, onder leiding van Jean Weisberger, die Nederlandse/Vlaamse poësie.
Na sy terugkeer uit België is hy in 1973 aangestel as een van die eerste dramaregisseurs by SAUK-TV. Hy het vir veertien jaar as dramaregisseur by die SAUK gewerk en het die regie van meer as sestig produksies behartig. Hy het ses SABC Artes-nominasies vir televisieregie ontvang en ’n Star Tonight!-toekenning vir die produksie van Arme Marat (Arboesof). Hy is in 1987 gevra om te bedank, met rasionalisasievoordele. Hy wou nie uitwei oor die redes hoekom hy bedank het nie en het net gesê dat dit ’n lang, vrugbare verhouding was. “Wat veral ook lekker was van daardie eerste paar jaar by SAUK-TV was die hoeveelheid kreatiewe vryheid wat ons almal gehad het. Voorstelle het ingestroom, oorspronklikheid was altyd welkom. Ook te verstane dat ek wat ’n besondere voorliefde het vir die klassieke drama, kans gehad het om byna al my gunstelingwerke in daardie tyd ‘op die planke’ te kon kry: Ibsen, Strindberg, Tsjechof.”
In die veertien jaar wat hy by die SAUK was, het hy dertig enkeldramas gemaak. Van die laaste dramas wat hy gemaak het, was Halfmanspunt, So ’n liefde, Die koster en Arme moordenaar. Met hierdie werk het hy reeds begin wegbeweeg van die suiwer realistiese benadering en manier van skiet: “Ek sou graag waarmee ek hier begin het, wou opvolg – iets soortgelyks in ’n meer surrealistiese styl miskien. Daar is oneindige moontlikhede op TV.”
Nadat hy die SAUK verlaat het, was Stephan vanaf 1988 tot 1997 lektor in die Departement Kommunikasieleer aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, vandag die Universiteit van Johannesburg, waar hy veral gefokus het op TV- en Filmstudies. Na 1997 het hy op vryskutbasis regiewerk gedoen vir TV-produksies (vir SABC en M-Net). Hy het gereeld fliek- en boekresensies gedoen vir Die Vaderland, Beeld, Rapport, De Kat en Insig, lesings gegee, werkswinkels aangebied en tekste geëvalueer vir SABC, Owen Burgess Uitgewers en Human & Rousseau, asook vir die akademiese tydskrifte Communicare en Communicatio.
Stephan was baie bekend as regisseur van verhoogproduksies en TV-reekse. Hy het opgetree as regisseur van die volgende verhoogproduksies: The human voice (Jean Cocteau), Gianni Schicci (Giancomo Puccini), Charley’s aunt (Robert Bolt), A man for all seasons (Brandon Thomas), Skadu’s teen die muur (Koos du Plessis), Inkleurboek vir twee (PG du Plessis) en Mirakel (Reza de Wet). Hy het ook die regie behartig van die saamgestelde produksies Kort voor lank, Marié du Toit/Eisler, Van blik en snaar tot wie weet waar, Digters en digkuns, Op die Hartstog Boulevard en Van Berlyn tot Bapsfontein.
Onder die enkeldramas wat onder sy regie vervaardig is, was daar baanbrekende Afrikaanse werke soos Hennie Aucamp se ’n Bars loop deur die wasbak, Liesbeth slaap uit van Henriette Grové, en Paulins Smith se Die koster. Hy het die Afrikaanse toneelwêreld verder verryk met voortreflike produksies van klassieke werke uit die wêreldliteratuur soos La musica van Marguerite Duras, Hedda Gabler deur Henrik Ibsen, Drie susters en Die kersieboom van Anton Tsjechof, Juffrou Julia deur August Strindberg en Die dame met die kamelias van Alexandre Dumas.
Radioverwerkings sluit Die verhaal van die wit lyster (Alphonse Daudet), ’n Klavier in die gras (Françoise Sagan) en Die leier van sy mense (John Steinbeck) in.
Bouwer se liefde vir poësie vind ook neerslag in videoproduksies soos Liefdesverse, Kersverse en Fyn net van die woord. Hy hanteer die regie vir twee videoproduksies van operastukke, by name Die medium (Menotti) en Carmen (Georges Bizet).
Met André P Brink se aanmoediging het Stephan ernstig begin skryf en daar het gereeld van sy gedigte, verhale en sketse in literêre tydskrifte soos Standpunte, Contrast en Tydskrif vir Letterkunde verskyn. Van sy kortverhale is ook in versamelbundels soos Blommetjie gedenk aan my (1978) en Japtrap (1979) opgeneem.
Die skryf van lirieke was nog een van Stephan se voorliefdes. So was daar byvoorbeeld “Groot meneer” vir Mynie Grové, wat vir haar ’n groot treffer was en wat sy in In Revue met Merwede van der Merwe op TV gesing het. Ook Laurika Rauch se “Die mense wat ek liefhet” is syne. Hy het lirieke geskryf vir Annali van Rooyen en Amanda Strydom. Van die kunstenaars – onder andere ook Laurika – het gevoel dat Stephan dikwels jong belowende kunstenaars onder sy vlerk geneem en aangemoedig het. Hierop was sy reaksie: “Man, dis baie vriendelik van hulle om so te sê, maar ek beskou myself nie as ’n ‘patroon’ van jong kunstenaars nie. Daar’s baie selfsugtige oorwegings, want as iemand goed vaar, kan ek hom weer in my TV-programme gebruik. Dus het ek nie ’n baie ‘lean and hungry look’ oor aanmoediging nie. Maar ek hou daarvan as talentvolle jong mense hul ding doen. Ek help waar ek kan. Dit stimuleer die hele bedryf.”
Maar Stephan het tog ’n belangrike rol in Laurika Rauch se loopbaan as sangeres gespeel. Sy was vroeg in haar loopbaan as aktrise aan Truk verbonde. Hennie Aucamp het vir Stephan vertel van die verstommende stem. Sy het toe toonsettings van sekere gedigte gemaak en dit in Stephan se program Fyn net van die woord gesing. Dit was haar eerste tree in die vermaaklikheidswêreld.
In 1969 word Stephan se eerste digbundel, So sal ons uitpasseer, deur Voortrekkerpers in Johannesburg uitgegee. In Die Transvaler skryf die resensent dat dit duidelik is dat ons hier te doen het met ’n sterk en oorspronklike talent, ’n digter met ’n eie stem. “(W)anneer ’n mens Bouwer se werk vergelyk met sy tyd- en leeftydgenote s’n, herken jy daarin ’n digter van wie ’n mens nog veel verwag. Twee aspekte van hierdie verse dui dadelik op ’n waarderenswaardige rypheid by so ’n jong skrywer, en dít ’n mooi ontwikkelde sin vir die vorm, vir die gedig met ’n struktureerdheid wat daaraan skoonheid en sinsvolheid verleen. In die tweede plek val die selfspot op. Daar is dus afstand ten opsigte van die self en die eie problematiek. Bouwer dweep nie met homself nie, is nooit vervelig plegtig en oor-ernstig besig om met homself te pieker nie. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie diepte van gevoel en belewing is nie – inteendeel. Hierdie self-ironisering beklemtoon juis op ongedwonge wyse dikwels die smartlike aspek van die verlies, soos blyk uit die liefdesvers ‘Ek kan nie meer onthou nie’.”
Volgens D Botes in Die Staatsamptenaar het die poësie van die dekade sewentig vinnig uit die wegspringblokke gekom met die verskyning van So sal ons uitpasseer, want die bundel is inderdaad ’n verrassend goeie begin. Dit is volgens hom ’n sterk bundel wat veel goeds vir die toekoms inhou.
In 1970 is die stuk Jy’t my gekierang, Dolie op die planke gebring. Die program is deur Lerina Erasmus saamgestel uit die werke van Ingrid Jonker en die regie is deur Bartho Smit waargeneem. Kita Redelinghuis was in die karakterrol en die ander spelers was Stephan Bouwer, Zelda van der Merwe en Peers Hartzenberg. Dit het bestaan uit gedramatiseerde gedigte, ’n kortverhaal, “Die bok”, ’n skets en ’n ongepubliseerde eenbedryf, ’n Seun na my hart.
In Dagbreek en Landstem het Maxie Pienaar geskryf dat Jy’t my gekierang, Dolie aan al die vereistes voldoen van die moderne eksperimentele teater en dat Michal Grobbelaar, hoofbestuurder en direkteur van die Johannesburgse Stadskouburg, op die skouer geklop moet word vir die moed wat hy aan die dag gelê het met hierdie aanbieding. Raeford Daniel skryf in The Rand Daily Mail dat Stephan nog ’n jong akteur is met geweldige belofte. Hy het van die gedigte voorgelees en het die applous wat hy gekry het na afloop van die voorlesing van die stuk se titelgedig, volkome verdien.
Stephan se tweede bundel, Soldag, is in 1973 deur Perskor gepubliseer. Die titel is ontleen aan Noorweegs. Soldag is die eerste dag in Noorweë waarop die son weer skyn nadat dit baie maande lank nag was. Op Soldag word daar fees gevier. Soldag is ook ’n element van alchemie. Net soos in sy eerste bundel verskyn daar in Soldag ook weer liefdesverse met ’n effe ironiese inslag, hoewel Stephan self erken dat hy die vorige twee of drie jaar meer geneig was tot die satiriese of selfkastydende poësie.
’n Hele afdeling in Soldag word gewy aan verse oor België, waar Stephan vertoef het. Die Vlaamse digters met wie hy te doen gekry het, is baie aktief, hoewel hulle volgens hom nie so opwindend is soos die digters in Suid-Afrika nie.
In Soldag is daar vier afdelings, waarvan die eerste te make het met die wêreld van die toneel. In die tweede afdeling is die stateriese inslag veel sterker. Soms is die gedigte te geforseerd-vernuftig om effektief te wees, en soms verval die digter hier, soos ook elders, in ’n fasiele patroonmatigheid. Afdeling 3 bring reisindrukke, terwyl die vierde afdeling liefdespoësie bevat met afskeid en weerontmoeting die oorwegende momente. Ook hier is gedigte waarin die patroonmatigheid te oppermagtig word.
Volgens AP Grové het die vaagheid en jeugdigheid van vroeër in hoë mate verdwyn. “Daar sit meer pit in hierdie verse, en oor die algemeen gee die nuwe bundel blyk van ’n groter verskeidenheid en ’n groter besef van die moontlikhede van die taal. Hiermee is nie gesê dat Bouwer al volkome ’n eie koers en stem gevind het nie. Hy is nog sterk gebonde aan die moment; hy beweeg nog van insig tot insig, van stemming tot stemming, en mens kry nie die indruk van iemand wat duidelik weet waarheen hy wil met sy poësie nie.
“In die slotgedig, ‘Broeikas’, kry ons wel ’n soort samevatting van die bundel en stel die digter terselfdertyd ’n poëtiese ideaal wanneer hy die drie bronne van sy inspirasie - die son, die bome, die geliefde – die ‘kamer’ (van die gedig) wil binnelei. Die wêreld en wat dit bied sou so blywend in die broeikas van die gedig bewaar word. In hierdie bundel het so ’n sintese egter nog net ’n ideaal gebly, dog ’n ideaal wat iets belangriks vir die toekoms beloof.”
In rooi rose skryf Louis Eksteen dat in Soldag die digter se talent blyk om met enkele woorde sy belewenisse te omlyn en terselfdertyd vermoede betekenisse en gewaarwordings by die leser op te roep. “Gedigte wat hulle sout werd is, betrek die leser aktief: hý moet saamwerk om die betekenis uit elke gedig te haal; hý moet saamlewe, en saam bélewe. Daarom is poësie seker nooit ‘maklik’ nie: en ook in Bouwer se verse moet die leser sáám gaan. En hierdie reise van die leser deur die wêrelde wat die gedigte oopmaak, laat hom met ’n nuwe, voller gewaarwording na die lewe om hom kyk. Die poësie word ’n bril.” Volgens André P Brink word die verwagtinge wat Stephan Bouwer geskep het, nie met sy tweede bundel verwesenlik nie. “Soos sy eerste bundel dra die nuwe ’n militaristiese klank. En ’n aanvallende, hekelende, skerpsatiriese trant oorheers inderdaad in die bundel, nogal met verbasende variasie: wisselende vanaf ’n netjiese en bitsige aan die kaak stel van èn akteurs (‘Thespiane’) èn hule gehore (‘Macbeth in Wes-Transvaal’) èn hul kritici (“Gebed vir my ongebore kind’) tot ’n nogal ongenadige aftakeling van persoonlikhede (‘By die tweede asem van middeljarige skrywers; ‘Graham Greene’), ’n skerp hekeling van die barbarisme wat in Pretoria skuilgaan onder die dekmantel van kultuur (‘Requiem’, en andere), tot ’n skermutseling met die sélf (‘Die mense wat ek liefhet’). (...) In weerwil van enkele sterk momente wat ek probeer aanstip het, is daar uiteindelik ’n indruk van ylheid wat dit tot die minder onthoubare bundels van die jonger poësie relegeer.”
PD van der Walt voel dat Soldag mooi en geslaagde gedigte bevat, maar dat ander nie die moontlikhede van die belofteryke grondstof ten volle verwesenlik het nie. Tog is dit, volgens hom, gedigte soos “Diary” wat ’n mens laat besef dat Bouwer "...meer as ’n virtuose hekelaar is en iemand wat in sy hantering van die woord en die strukturering van ’n gedig ’n jong kunstenaar is van ontwyfelbare talent.”
Stephan se derde bundel, Portrette private dele & kantaantekeninge, word in 1980 deur Human & Rousseau uitgegee. Gerrit Olivier noem dit ’n versameling ironiese en dikwels baie humoristiese verse waarin die gewone woord op ’n slim manier gebruik word. “Kenmerkend vir die beste gedigte in die bundel is ’n praattoon met ’n onderkoelde emosionaliteit. Veral in die tweede gedeelte (die ‘private dele’ van die bundel, maar óók van die liggaam) vul die koelheid en die bewoënheid mekaar goed aan. (...) Met die subtiele uitbuiting van dubbelsinnighede en geykte dinge, en die geestige en pretensielose verwoording van emosies is Portrette private dele & kantaantekeninge ’n verademing. Ek dink ook dat dit ’n verbetering is op Bouwer se vroeëre werk.”
Die eerste agt verse in die bundel maak die “Portrette”-deel van die titel uit en het dit oor TV, TV-akteurs en -aktrises, TV-roem, ensovoorts. Verse 9–27 het betrekking op die “private dele” van die titel. Die slotgedeelte, “kantaantekeninge”, is ’n losse versameling verse. Kobus Scholtz skryf dat die meeste gedigte die indruk skep dat dit van buite waarneem sonder om besondere raakpunte of insig te bring. “’n Mens sou tog gedeeltes van die liefdesgedigte kon uitsonder waar teerheid, sentimenteel al dan nie, wel deurdring.”
Op 11 Februarie 1990, die dag waarop Nelson Mandela vrygelaat is, het Stephan laat die Sondagaand gou gery om iets te gaan aflaai, en toe het ’n motor hom getref. Daar is byna ’n halfuur lank gespook om hom uit die wrak te kry. Hy was gelukkig bewusteloos en het in die ambulans net ’n paar sekondes lank bygekom om te verneem of hy droom. Die nagmerrie het net erger geword.
“My bekkenbeen was gebreek,” het Stephan aan Rita van den Heever vertel, “en al die ribbes aan my linkerkant, twee rugwerwels en my stuitjie. Ek dink die meeste van my ingewande het bokant my diafragma gesit. Maar drie dae lank was ek op ’n trollie vasgegespe, en omdat die sale vol was, is ek gestoot na waar hulle dikwels die lyke los. Ek het in dié tyd feitlik geen behandeling ontvang nie. Hulle het nie eens die universiteit gebel om te sê dat ek in ’n ongeluk betrokke was nie. Die Woensdag het my familie en vriende my uiteindelik opgespoor, en het my huisdokter my kom ondersoek. In daardie stadium was ek letterlik besig om dood te gaan aan my beserings en weens die infeksie wat ingetree het. Hulle het my dadelik na ’n ander hospitaal oorgeplaas, en daar het ek twee weke in die intensiewe-sorgeenheid gelê. Al wat ek van die tyd onthou, is sulke ballon-agtige gesigte uit die paar oomblikke wat ek nie in ’n koma was nie.”
Stephan is vir nog twee weke in ’n private saal verpleeg en selfs tóé was hy selde by sy positiewe. Hy was nog altyd ’n sosiale mens, lief vir kuier saam met vriende en familie, maar na die ongeluk het vriendskap vir hom ’n nuwe dimensie gekry. “Sê nou maar ek was in Frankryk in so ’n ongeluk betrokke. Ek dink nie ek sou dit oorleef het nie, want my vriende sou my nie daar kon ondersteun nie. Sonder vriendskap sou ek dit nie gemaak het nie. Vriendskap en gebed. Ek is sowaar op die vleuels van gebed deur dit alles gedra. Selfs pêlle van wie ek dit nie verwag het nie, het vir my gebid.”
In 1992 was Stephan die regisseur van die musiekprogram Skadu’s teen die muur. Dit was ’n produksie van dertig liedjies van Koos du Plessis met Jannie du Toit, Christa Steyn en Marié du Toit as die kunstenaars. Stephan het gevoel dat dit lankal tyd was dat die werk van Koos du Plessis in konsertvorm aangebied word. “Deur Christa se verwerkings word die toonaard en mineur van die komposisies gewysig. Ons bly steeds getrou aan die aard en wese van die musiek, maar daar is ’n onmiskenbaar nuwe klank.” Vir diegene wat meen hulle ken al Du Plessis se liedjies het daar ’n verrassing gewag. “Ons het ’n gedig opgespoor wat nog nie getoonset was nie. Bewonderaars moet kom luister wat Christa daarmee gedoen het.” Die produksie is later met groot sukses in België opgevoer en is ook vir een opvoering na Nederland, waar dit ’n groot treffer was.
Stephan was ’n groot diereliefhebber en het met groot ywer Burmese katte en mopshonde geteel. Die studie wat hy van katgenetika onderneem het, het daartoe gelei dat hy die eerste teler in Suid-Afrika was wat daarin kon slaag om ’n Burmese lila skilderkat (Lilac Tortoiseshell) te teel. Dit is ook deur sy toedoen dat die Tonkinees (Burmees gekruis met Siamees) as rasegte kat in die Suid-Afrikaanse katregister opgeneem is. Sy bekende mopshond, die Nederlander Lubbert van Klawout of Haemstede, het meer pryse in die skouring verower as enige ander mopshond in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Stephan en Roux Engelbrecht se telery, Haemstede, was baie lank bo-aan die lys van mopstelers in Suid-Afrika. ’n Mops wat na Nederland uitgevoer is, is later as ’n wêreldjeugkampioen aangewys.
Op 8 Julie 1999 is Stephan onverwags by sy huis in Linden, Johannesburg oorlede, vermoedelik aan ’n hartaanval.
Huldeblyke
- Lerina Erasmus: A teacher, closet student, and extremely intelligent man with music in his soul, a fine sense of humour and the gift of the gab, he had lived fully, not sparing himself.
- Marida Swanepoel: Daar is min wat hy nie kon gedoen het nie.
- Lochner de Kock: Hy was altyd een met die lewe. Saam met sy lewensmaat Roux Engelbrecht het ons, sy vriende en vriendinne, veel aan die lewe geproe. En soos by alle liefhebbers van mense, diere en inderdaad die lewe self, was daar ’n ruimhartigheid en ’n onbevange meelewing van elke oomblik wat vasgegryp is en ten volle met almal om hom gedeel is. Een van die laaste kere dat ons saam om die kostafel gekuier het, was saam met Stephan, Roux, al hul geliefde vriende en Duifie Duvenhage, hul gevoelige, dierbare mopshondjie. Die geleentheid was ’n Indonesiese rijstafel wat met sorg en keur deur hulle berei is. Wyn, kos en woorde het onbevange gevloei en gedagtes aan die sterflikheid was ver van ons harte en monde. Intussen het ons vriendekring gekrimp (...) en nou het Stephan ook vertrek. Ons tafel en harte is veel leër, maar ek glo daar is goeie gesprekke daar bo met genoeg wyn en liefde. (...) Eet met genot en sê dan saam met my by die verlies van ’n vriend en digter: “Ons harte bly lief vir jou, Stephan Bouwer ...”
- Hennie Aucamp: Dood herdefinieer die gestorwene: sy beeld, sy talent, sy lewe. ’n Mens wil voorspel dat Stephan Bouwer, wat op 8 Julie 1999 oorlede is, in die komende jare herontdek gaan word. Reeds ’n voorlopige bestekopname wys die verbysterende omvang van sy aktiwiteite uit: as onderwyser; as toneelspeler vir Truk; as dramaregisseur by SATV van 1973 tot 1987; as dosent in kommunikasiekunde aan RAU; as kabaretkundige. (...) Om Stephan Bouwer ’n digter te noem, sou net ’n halwe waarheid wees: alles wat hy aangeraak het, het die glans van ’n besielde “maker” (poëet) gedra, soos byvoorbeeld sy drie aanbiedings van poësie op televisie, Liefdesverse, Kersverse en Fyn net van die woord. (...) In baie opsigte was Bouwer ’n opvolger van Uys Krige. Hy het gestileerde praatpoësie geskryf wat telkens ’n urbane gees met ’n wye verwysingswêreld openbaar, nêrens so effektief nie soos in sy ironisering van die TV- en toneelwêreld. (...) Bouwer se vriende, bewonderaars en moontlik verdwaalde vyande kan almal getuig dat sy verskyning in ’n vertrek alle troebelhede en triestighede op die plek verdryf het. Hy was daardie rare verskynsel in die letterkunde: ’n mens sonder ’n enkele selfsugtige haar op sy kop. Hy was ’n gulhartige kollega, ’n toegewyde vriend en wanneer die lewe hom toegelaat het, ’n lewenskunstenaar. Hy was ’n kultuurkrag wat die hele terrein verken en hom beywer het vir die bevordering van literêre kabaret.
- Lucas Malan: Hoe kan ’n mens anders as toegeneentheid voel vir ’n vriend wat jou altyd met “Dag, liewe jonge” begroet? Wat anders as warmte kan daar wees vir ’n digter wat in sy debuut geskryf het: ek is maar nog dieselfde/ afgesien van die krimpvarkie/ wat in my hart kom woon het? Dieselfde digter wat tien jaar later oor ’n onsekere liefde sou skryf: jy slaap nou/ eenkant en privaat/ jou mooi kop ’n kluis vol geheime ... Dis mos iemand wat met alle sintuie oop op die pleine van menswees beweeg; die soort mens wat in Hennie Aucamp se woorde van harte “Ja!” gesê het vir die lewe. So het ek Stephan Bouwer in die middel van die baldadige sewentigerjare leer ken. (...) So was Stephan: gul in sy waardering vir ander kunstenaars, diep lojaal teenoor vriende. Ook vrygewig en mededeelsaam. Deur hom het ek Hans Lodeizen se poësie leer ken; van hom het ek as kado die liriese novelle van Elizabeth Smart ontvang: By Grand Central Station I sat down and wept. (...) Dan groet ons maar, Steefs; soos altyd: Dág, liewe jonge.
Net ’n gedig, as ons dit durf sê, beweeg verby ’n foto in ’n album, ’n innige in memoriam ’n grafsteen waarop ligene broei of ander onklaar sake soos ’n verlore testament. ’n Gedig, ja: onbreekbare, kompromislose steen wat mos bly vergader. (Huldeblyk: Stephan Bouwer)
In Julie 1999, kort voor sy dood, het Stephan die laaste skaafwerk aan sy finale bundel, Sirene van bloeisels, gedoen. Nadat hy die bundel aan die uitgewers voorgelê het, is hy meegedeel dat dit eers oor ’n jaar gepubliseer sou kon word. Dit is in Maart 2000 deur Human & Rousseau uitgegee.
In 1997 het Stephan gesê dat Sirene van bloeisels die verbreking van sy poëtiese stilstuipe was. Hierdie bundel van hom het twintig jaar na Portrette private dele & kanttekeninge verskyn.
Volgens Roux Engelbrecht het Stephan sowat vyf jaar aan hierdie bundel gewerk. “Die bundel handel oor alledaagse dinge, goed wat hy waargeneem het oor ons vriende. ’n Mens kan dit amper ’n testament aan sy vriende noem. Stephan het oor al sy vriende gedig en getreur oor dié wat deur die jare dood is.”
Daar is ook ’n afdeling met gedigte oor Ysland in die bundel. “Stephan het altyd ’n besieling met die koue en die lande van die noorde gehad. Ons het drie jaar gelede in Ysland gaan vakansie hou, en dit was amper ’n voltooiing van ’n sirkel. Sy tweede bundel, Soldag, het begin met ’n gedig oor ys. Een gedig in Sirene van bloeisels, “Yslandindrukke”, is ’n verwerking van ’n hoofstuk van die roman Epiloog van die reëndruppels deur die Yslander Einar Már Gudmandsson. Na my mening is dit die treffendste gedig in die hele bundel. Daar is soveel van Stephan in die gedigte en dit sluit aan by sy beheptheid met die sieletoestande van die noordelinge en die koue. Stephan was op sy gelukkigste in koue, triestige weer.”
Die laaste strofe van die gedig “Yslandindrukke” lui:
Herkoms Einar Már Gudmundsson beweer die mense se preokkupasie met hulle voorvaders is nie ’n genetiese belangstelling nie maar gewoon oor die gebrek aan bome in Ysland: hulle skep nou maar stambome om op dié manier ’n woud te vorm.
In haar resensie skryf Joan Hambidge dat die ontydige dood van ’n digter altyd vra vir herevaluering en besinning oor die posisie van die digter binne die kanon. Sy voel dat Stephan se spontane praatverse met ’n allure van dit-is-soos-dit-is (met ’n skeutjie ironie daarby) ons digkuns verruim het. “Ook het hy tematies ’n bydrae gelewer met sy gedigte wat handel oor die TV-bedryf en dit moontlik gemaak vir ander gay-digters om ná die openlike Portrette private dele & kanttekeninge uit 1980 die posisie van die gay-mens oop te skryf. (...) Bouwer is ’n digter wat onthou sal word vir sy lieflike beeld van die mense wat hy liefhet wat op hom groei soos mos ...”
Wanneer AP Grové Sirene van die bloeisels met Stephan se eerste bundel, So sal ons uitpasseer, vergelyk, word dit vir hom duidelik dat Bouwer oor die jare nie noemenswaardig ontwikkel het of ’n belangrike verdieping ondergaan het nie. “Miskien is hy in die huidige werk meer uitgesproke as vroeër, sekerder van homself, gewaagder soms in sy taalaanwending, meer opsetlik modebewus. Maar wesenlik het ons hier dieselfde digtersfiguur wat ons in die debuut leer ken het. Dis ’n digterskap wat nie dinamies-verkennend of ontdekkend werk nie. Eintlik is die reikwydte daarvan baie beperk met die ek en sy tuiste die sentrum van die digwêreld. Dis die ek en sy gewoontes en ‘hebbelikhede’, die ek en sy vriende, sy blomme, sy troeteldiere. Soms is daar ’n ligte geselsie, af en toe ’n jeugherinnering huislik, gemoedelik, vriendelik.”
Op ’n vraag van Neil Cochrane oor hoe hy Stephan sou beskryf, antwoord Roux Engelbrecht: “Hoe beskryf mens ’n diamant met ontelbare fasette of ’n komeet wat in duisternis sy helderste weg baan? Stephan was gulhartig van gees, gasvry, vrygewig met aardse en geestelike besittings en het ’n deernis met die mensdom gehad wat merkwaardig was. Die uitdrukking ‘the heart and the soul of the party’ kon deur Stephan geïnstigeer gewees het – gevat, vol humor en kwinkslae en nooit op die bek geval nie. Sou jy die astrologiese profiel van die Leeu naslaan, kan jy dit as ’t ware op Stephan van toepassing maak. Hy was vol grappe, kattekwaad (nagte van graffiti pleeg!) en avontuurlus. In die meer as dertig jaar saam met hom het hy sekerlik minstens elke tweede of derde dag met ’n grappie vorendag gekom! Van sy skadukant het min vriende geweet, en die negatiewe, bitter en ontnugterde Stephan het seker net ek ten volle geken.” Stephan se poësie het volgens Engelbrecht oor mense en menseverhoudings gegaan.
Hennie Aucamp het Stephan se poësie as kafeepoësie bestempel. By hom vind die leser geen wye en droewe lande nie, geen koperkapelle wat uit hulle gate kom nie, en geen verheerliking van die seisoene of ’n peerboom in bloei nie. “Omgewing was vir Stephan van sekondêre belang. Op reis het hy die katedrale, historiese geboue en besienswaardighede verbygegaan op soek na ’n kroegie waar hy kon sit en die mense bestudeer en gesprekke aanknoop. Sy insig in die menslike psige was soms verbysterend en hy kon ’n situasie of karakter in ’n paar goedgekose woorde verbeeld. Sy ekonomiese en treffende woordgebruik spreek van sy liefde vir die taal en ure se wik en weeg, skaaf en skuur tot hy net genoeg het om sy idees te vergestalt.”
Publikasies:
|
Publikasie
|
So sal ons uitpasseer
|
|
Publikasiedatum
|
1969 |
|
ISBN
|
(hb) |
|
Uitgewers
|
Johannesburg: Voortrekkerpers |
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen |
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Die Brummers hou bruilof: blyspel
|
|
Publikasiedatum
|
1970 |
|
ISBN
|
(sb) |
|
Uitgewers
|
Johannesburg: Dalro |
|
Literêre vorm
|
Komedie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen |
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Soldag
|
|
Publikasiedatum
|
1973 |
|
ISBN
|
0628004508 (hb) |
|
Uitgewers
|
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen |
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Portrette private dele & kanttekeninge
|
|
Publikasiedatum
|
1980
|
|
ISBN
|
079811035X (hb)
|
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- |
|
Publikasie
|
Sirene van bloeisels
|
|
Publikasiedatum
|
2000 |
|
ISBN
|
0798140178 (sb) |
|
Uitgewers
|
Kaapstad: Human & Rousseau
|
|
Literêre vorm
|
Poësie
|
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
|
Vertalings
|
Geen
|
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
|
Artikels oor Stephan Bouwer beskikbaar op die internet:
- Aucamp, Hennnie: Stephan Bouwer taal se “tweede goue seun”
- Talentvolle Bouwer se bydrae omvangryk
- Bekende TV-regisseur “tree af”
- Bouwer se laaste digbundel verskyn
- Bouwer uit “vuil hospitaal” gehaal
- Cochrane, Neil: Neil Cochrane gesels met Roux Engelbrecht, jarelange lewensmaat van Stephan Bouwer (1948–1999)
- Cochrane, Neil: Stephan Bouwer (1948-1999): 'n Herwaardering met spesifieke verwysing na sy poësie-oeuvre
- De Kock, Lochner: ’n Laaste maal saam met vriend Stephan Bouwer
- Digter se indrukke van die yskoue noorde
- Hefer, Stefanie: Die gehoor bly buite: Van Berlyn tot Bapsfontein
- Horn, Stefanie: “Dis lankal tyd vir ’n Koos Doep-konsert”
- Laaste Bouwer-bundel op pad
- Le Roux, André: Dit begin by Beulah ... en eindig by blomme
- Malan, Lucas: Bouwer was een van veelsydigste TV-talente
- Nieuwoudt, Stephanie: Bouwer se laaste digbundel
- Steenkamp, Lizel: Bekende TV-regisseur, digter en dosent sterf
- Stephan Bouwer bedenklik na ongeluk
- Stephan Bouwer (50) in sy slaap oorlede
- Stephan Bouwer was ’n kultuurkrag
Artikels deur Stephan Bouwer beskikbaar op die internet:

Terug na bo
Bygewerk: 2010-07-28 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|