Afrikaan
Ek het pas teruggekeer van 5 weke in Suid-Afrika. En die ervaring het my weer laat swel van trots dat ek van dié sonnige suiderland kom. Van die oomblik wat ons, ek het 'n Amerikaanse vriend as reis-partner gehad, in Jhb geland het, was ek impressed. My immigrant-vriende uit Indië, al 26 jaar in SA, het ons by die lughawe ontmoet. Die indrukwekkende infrastruktuur verbeteringe was trots aan ons uitgewys. Die volgende dag se rondry in Jhb, oa na die nuwe sokkerstadion, was werklik indrukwekkend. Die aand se ete was by 'n wêreldklas restaurant in Jhb saam met die Indiërs en van my Tswana-vriende wat jare in die VSA studeer het, maar verkies om hul kennis in hul eie land te belê. Ook die Indiërs, een 'n neuro-chirurg, kan hul kennis buite die land gaan gebruik, teen astronomiese salarisse. Tog het hulle 'n keuse gemaak om in SA te bly. My punt is dat SA sulke mense nodig het. Nie die swartgallige ou aanhoudende wit moaners in ons midde nie. Ek self het vir persoonlike en career-doeleindes gekies om nou in Europa te woon en te werk, maar ek het 'n ewige irritasie met die bly-gly-debat (as jy dit 'n debat kan noem, liewers 'n gebitch). Ons as wit Afrikane is almal afstammelinge van glyers, by wyse van spreke. Ek en my extended familie is ook persoonlik geaffekteer deur BEE en alles wat daarmee saam gaan, maar die slagoffermentaliteit van sommige Afrikaners is om van siek te word. Skouer aan die wiel, meerwaardigheid in die vullisdrom, baasskap op die ashoop en met trots jou werk doen, enige werk doen, eerlike werk doen. Dit is deel van die resep wat die Afrikaner in Afrika sal red. My Amerikaanse vriend het op een plattelandse dorp uitgeroep: Where the hell am I? Dit na die vriendelikste diens van die bruinmense by twee restaurante op die dorp waar ek belange het. (Onthou, ons is gewoond aan die slegte diens van Amsterdamse restaurante) En na gesprekke met boere van die omgewing, het ons geweet dat daar min probleme in dié distrik sal wees tussen boere en hul werkers. Koppe wat reg aangeskroef is, van beide kante. In die Madikwe-wildreservaat het ons fantastiese ervarings gehad. Ons kon ons huurkar, met ons tasse in, veilig parkeer by 'n sentrale kantoor waar daar baie mense kom en gaan. Alles veilig met ons terugkeer. Ons swart gids was die toonbeeld van gasvryheid en styl. Toe hy hoor ek is Suid-Afrikaans, die enigste in die lodge, was ek op die hande gedra as 'n fellow African en brother. Die Duitse-, Amerikaanse- en Australiese-besoekers was opvallend jaloers. My Afrika-bloed het nog dikker gevloei, en ek kon met my beperkte Tswana die gids se byna vlot Afrikaans probeer beantwoord. Die enigste voorval van rassisme wat ons teëgekom het, was by die Wimpy in Zeerust, waar 'n jong Afrikaanse mannetjie in kakieklere 'n bejaarde swart vrou in swart geklee, as teken van rou, bitterlik beledig het in die openbaar. Ek het my geskaam, maar was trots op die waardigheid waarmee die vrou en haar familie die insident hanteer het. Ek het weer eens geweet ek is meer van 'n Suid-Afrikaner en Afrikaan as 'n Afrikaner. Want ek het meer in gemeen met haar as met hom. Ons het 'n wonderlike geleentheid om met die sokker weer die gevoel van 1995 te herhaal. En wanneer ek lees wat die meeste mense voel, dan weet ek dit gaan gebeur. Die enigste mense wat hoop en bid dit gaan fout, is mense wat nog nie genoeg gesuffer het nie, mense wat met die witbrood onder die arm kla. Die werkloses en die armes hoop en bid vir sukses, want dit kan werk genereer, vir swart en wit. Tog kom die enigste bedreiging, as jy dit so kan noem, van regse, wit Afrikaner kant. Wat 'n skande op die naam van die Afrikaner! Gelukkig weet ons dat die regses nie die braafste van mense is nie. Hulle plant bomme by skole en in townships waar onskuldige mense kan sterf. Al criteria wat vir hulle tel is dat hul slagoffers swart moet wees. Mense wat byvoorbeeld dink dat die bittereinders van die Boere-oorlog helde was, is in my boekie net gewoon dom. Hoe kan jy nou dink dat om 'n verlore oorlog uit te rek, terwyl jou mense se vroue en kinders in konsentrasiekampe sterf, heldhaftig kan wees? Net so is die ou volkstaters en die Praag-bende die bittereinders van vandag. Hoe langer hulle aanhou met hul onverdraagsame houding teenoor egte Afrikane, mense soos my Tswana-vriende, die vrou van Zeerust en ekself, hoe langer stel hulle ons mense in gevaar met misdaad en plaasmoorde. Ek het gedurende my besoek baie gelees oor hoe sommige mense en leiers van organisasies hul standpunte verander het oor sekere dinge. En hul standpunte is nou, na hul verandering in denke, nader aan wat ek al jare propageer op SêNet. Maar dit sal ek toelig in 'n ander skrywe. Afrikaan
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|