Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Heupvuur: Nadine Petrick gesels met Martie Preller
Martie Preller , Nadine Petrick
2010-02-03 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Jy is een van ’n spul bedrewe kinderboekskrywers wat tydens die Woordfees vir Franci Greyling gaan bystaan by die ATKV-Kinderboekskryfskool. Jy het ook verlede jaar Die land van stories - ’n praktiese storiemaakkursus - vir almal met ’n liefde vir stories uitgegee. Dink jy regtig iemand kan léér hoe om te skryf? Is die natuurlike aanleg nie maar die deurslaggewende faktor wat bepaal of jou boeke ooit op die rakke gaan land of nie?

Ek dink jy kan iemand “leer” om te skryf deur die persoon tegnieke te leer om te help om unieke idees te kry, om die unieke idees te omskep in ’n storie; deur die persoon te wys hoe die eie werk verbeter kan word, gemeet aan sy eie opinies oor wat goeie of vervelige stories is. Die deurslaggewende faktore vir sukses (hoe jy dit ook al wil definieer) lê egter in die voornemende skrywer se natuurlike taalaanleg, haar deursettingsvermoë, sy bereidheid om te werk met die woorde en die sinne, ensovoorts. Wat my skryfhandleiding betref, wys ek ook op die verrykende moontlikhede en perspektief-spronge vir ons almal wanneer jy jou eie lewe, of die lewe, as ’n storie sien. Ons almal se lewens is beslis stories en stories gebeur orals rondom ons en ook soms in die spieël!  

Vandag is nie gister nie is jou eerste volwasse roman (ek sal nie waag om te sê jou eerste “regte” roman nie!). Was dit ’n moeilike sprong om te maak, en wat was die grootste uitdaging van die skryf van dié boek?

Baie, baie mense het al vir my gevra wanneer ek eendag ’n “regte” boek gaan skryf. En almal het die woord “regte” gebruik! Dit was vir my skokkend dat mense kan dink boeke vir kinders en jongmense is nie “regte” boeke nie. Ek aanvaar egter dat hulle dit goed bedoel het en hulleself miskien net vreemd uitgedruk het, maar nogtans het daar in my ’n vreeslike weerstand teen die skryf van ’n “regte” boek ontwikkel. Dus was die grootste uitdaging van die skryf van ’n volwasse roman die oorkoming van die weerstand, want natuurlik wou ek graag.  Weerstand is ’n lelike ding en manifesteer in allerhande sluwe gedaantes. Op die ou einde het die karakters my so gepla en wakker gehou in die nag dat ek ingegee het. Nou is hulle, dankie tog, gelukkig dat ’n gedeelte van hulle lewens vertel is, en kan hulle aangaan met die res van hulle lewens in die storiedimensie waar hulle lewe.      

Op ’n tegniese vlak was die sprong van die jeugromans, waarvan ek baie geskryf het, na ’n volwasse roman nie so groot soos byvoorbeeld die sprong van ’n jeugboek na ’n prenteboek nie. ’n Volwasse roman is net langer en die karakters word in meer diepte ontgin as in ’n jeugroman, terwyl ’n prenteboek met sy min woorde en eenvoudige, maar sterk, storie om die kleintjies se aandag te hou, nogal ’n riller kan wees. In my ervaring is min woorde moeiliker om te skryf as baie woorde.   

Hoekom is almal, groot en klein, so lief vir Babalela en Balkie?

Ek weet nie. Elkeen het dalk haar eie redes. Miskien omdat ék so lief is vir hulle? Miskien omdat hulle vir mý so werklik is?

Hoe en wanneer en waar kom klop ’n karakter by jou aan, en weet jy instinktief of dit ’n karakter/storie is wat gaan werk?

Hulle kom enige tyd en enige plek. Ek weet dit kan ’n storie wees as ek sien daar gaan allerhande dinge aan – daar waar hulle bly! Dan dwaal ek ook daar rond en kyk en luister en neem waar en loop agter hulle aan om te kyk/luister wat hulle doen, of nie doen nie. Ek is ’n onsigbare toeskouer/hoorder van die storie en ek skryf neer soos die storie voor my ontvou. 

As jy een stukkie raad vir voornemende kinderboekskrywers kan gee, wat sal dit wees?

Moet nooit, nooit ’n kind onderskat nie. Onthou altyd die sprokie van die keiser se nuwe klere. Kinders is nog nie “ordentlik” nie – hulle sit ’n boek wat hulle verveel, neer, of hulle hou op luister.

Uit die Woordfees-program:

ATKV-Kinderboekskryfskool
(Ondersteun en aangebied deur die ATKV)
Met kursusleier prof Franci Greyling en kenners Jaco Jacobs, Carina Diedericks-Hugo, Martie Preller, Fanie Viljoen, prof Hans du Plessis en Erika Lourens
30 aspirantskrywers kom slyp hul tegnieke drie dae lank en leer hoe om ’n kind of tiener se verbeelding aan te gryp met woorde. Klik op ATKV-Kinderboekskryfskool by www.atkvprojekte.co.za vir inskrywingsvorms en die volledige program. Maak egter seker daar is nog plek vóór jy jou deposito betaal.
Die kursus kos R950 per persoon (etes ingesluit), waarvan ’n R500-deposito betaalbaar is by inskrywing. Sluitingsdatum: Vrydag, 12 Februarie 2010. Kontak Jeanné Naudé (011 919 9088; jeannen@atkv.org.za) of Antoinette Alberts (011 919 9009; antoinettea@atkv.org.za).
3-5 Maart 09:00 – 16:00 ● De Hoek Gastehuis

Klik hier om die volledige program te sien.

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur