| Heupvuur: Nadine Petrick gesels met Pieter Fourie |
Pieter Fourie , Nadine Petrick
Jy is die mees gepubliseerde en bekroonde dramaturg in die land, en hoewel die meeste van jou dramas voor die jare negentig gepubliseer (en planke toe) is, skryf jy steeds onverpoosd. Is dit in hierdie dag en datum (waar Afrikaans gereeld die onderspit delf) steeds die moeite werd om jou tyd aan Afrikaanse dramas te spandeer? Ja, maar dan sal ek onvoorwaardelik moet aanvaar ’n drama is vandag borggedrewe, feesgerig en sy raklewe ’n toevalligheid. ’n Cliché, maar ’n nodige vraag: Wat dink jy van “nuwe” dramaturge, en sou jy ander jong skrywers aanraai om in die genre te delf? Hulle word ongelukkig gemuilband deur twee feestentakels: ’n borghongerte vir kunstenaars met sepiestatus en ’n bestuursnuk vir minimale rolverdeling. Jong dramaturge van ’n Willem Anker se statuur sal dit egter oorleef en ’n nuwe groeipunt vir Afrikaanse drama word. Johan Coetser merk in ’n resensie van jou jongste teks, Jasmyn, op dat die hoofkarakter, Beulah, teen ’n patriargale magsuitoefening te staan kom, en mens dink dan onwillekeurig aan die twee Annas (in Ek, Anna van Wyk en Die Koggelaar). Is dié deurlopende tema in jou oeuvre doelbewus en indien wel, waarom? Beslis ja. Dis seker die mees weersinwekkende karaktertrek in die universele geskiedenis van “beskawing”. Die post-1994 grondwetlike wegkalwing hiervan het by ons ’n magsverliessindroom geskep wat van Angus Buchan ’n aartappelmiljardêr gaan maak as al die sindroomlyers eers hulle tjips gehad het! Die Beulah-karakter word as volg beskryf: “Die liggaam bly die gewildste prooi van tyd. Die verstand wat in haar vervalle liggaam gehuisves word, is egter nog naaldskerp.” Jy word dié jaar 70 (baie geluk, so tussen hakies!). Voel jy soms soos ’n “has been” wat dalk nou eerder op sy stoep in Stilbaai wil sit as om steeds by teater betrokke te wees? Aan die een kant van die munt, ja. ’n Oorheersende, borggedrewe, feesgerigte of sepiestatus-dramaturgie lê buite my ervaringsveld en ’n poging in dié rigting sal aan my die titel “has been” bekragtig. Aan die ander kant van die munt, nee. Dramas wat ná twee en drie dekades op die rak weer die mark betree en deur resensente, kunstenaars en gehore dieselfde erkenning gegee word as met hulle destydse première-seisoene sou kwalik die werk van ’n “has been” kon wees: - Ek, Anna van Wyk na twee dekades
- Faan se Trein en Faan se stasie na drie dekades
- Mooi Maria na twee en ’n half dekades
- Die proponentjie (twee en ’n half dekades) en Die plaasvervangers (na ’n wiegie-dood drie dekades gelede) is albei vir vanjaar geskeduleer. Enigiets kan egter nog gebeur.
Jy het onder andere meer as 60 verhoogstukke se regie behartig, was artistieke direkteur van KRUIK, TRUK se in-house dramaturg, en hoofdirekteur van die KKNK. As jy terugkyk oor jou 70 jaar, wat is die een ding wat jy nié sou wou doen nie, sou jy kon oor kies? Ek sou nie graag weer die onontbeerlike oorgang vanaf subsidies na borgskappe wou beleef nie. Die filosofie van subsidie is die aanvaarding van finansiële en artistieke risiko in ’n proses van verantwoordelike kreatiwiteit. Die hoofslagaar van ’n borgskap is die aandrang op teenprestasie. Dit kan enigiets beteken. En bedelaars moet vat wat hulle kry! Uit die Woordfees-program: Pieter Fourie (70) Een van Afrikaans se grootste dramaturge word 70 in 2010! Fanie Olivier en Franz Marx gee ’n oorsig oor ’n lewe vol verskeidenheid en hoogtepunte. Antoinette Kellerman kom lees voor uit sy werk. Three Ships whisky word bedien. 4 Maart 19:00 ● Sasol Kunsmuseum ● 60min ● R40 Klik hier om die volledige program te sien. |
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|