Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
In reaksie op die briefwisseling oor Thula-thula
Annelie Botes
2010-02-01 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Om te reageer op die Thula-thula-debat op LitNet, kan die pyle reguit in my eie bors laat vassteek. Maar die stemmetjie sê ek moet liefs iets sê, eerder as om stil te bly en in my eie klein hoekie nié te skyn nie. Want toe ek die boek geskryf het, het ek mos goed geweet ek gaan die wind uit alle rigting kry, en dat ek straks soos ‘n tolbos sal rol. Waarheen ook al.

Vanselfsprekend kan geen skrywer alle lesers tevrede maak nie. Dis só en klaar. ‘n Tannie van 78 op Despatch het al die pad Baai toe gery om haar Thula-thula met groot misnoegdheid vir my te kom teruggee. Vát hom, sê sy, vát hom net; ek wil hom nie in my huis hê nie. Toe gee ek die R165 vir haar terug, uit my mayonnaise-bottel waarin ek spaar vir ‘n dunplankies-doodskis. ‘n Tannie van 88 het uit ‘n ouetehuis in Bloemfontein gebel en huilend gesê sy wens sy kon Thula-thula gelees het toe sy 18 was, dan sou haar lewe straks beter uitgedraai het. Kalmeer, vra ek nou, daar is nog genoeg in die mayonnaise-bottel vir omtrent 10 terugbetalings. Die ou gryse kan my sommer in ‘n Pep Stores-boks weglê. Whatever.

Laat ek myself net gou onderbreek met ‘n storie doer uit Adelaide in die Oos-Kaap. Mos my buurdorp gewees vir 16 jaar. Ewentwil, so kom Triomf van Marlene van Niekerk doer in 1994 of 1995 uit. Groot opspraak. Heelwat mense het op die rand van beskyt gestaan. Sophie, ‘n góéie-góéie vrou van Adelaide, neem die papgeleesde boek by Adelaide se biblioteek uit. Sy deurweek dit met paraffien en verbrand dit. Heksegoed, mos. Dis haar goeie Calvinistiese reg, want sy't die ordentlikheid gehad om skadevergoeding vir die boek te gaan betaal by die biblioteek. Solank Triomf net van die aangesig verdwyn.

Mense, mense. Dit kán Triomf nie laat verdwyn nie. Ergste van alles is dat vele mense Marlene van Niekerk aangevat het oor blasfemie en vieslikheid en alles wat kan etter drup. Dalk dink ek deur my aars, maar hoekom wil hulle háár platvee? Dis mos nie sý wat Triomf (se geskiedenis) geskryf het nie. Dis mos Triomf wat homself geskryf het. Sy was maar net die dapper medium wat regop gestaan het toe die uitdaging aan haar toegedeel was. En enduit regop gebly het. Of wat praat ek nou alles?

Steeds onderbreek ek myself. Iewers in 2001 loop ek my eendag in ‘n winkelkompleks hier in die Baai, neffens Dulce's, tromp-op in ‘n bejaarde, elegante tannie van Graaff-Reinet. My kind, fluister sy, Raaiselkind is só ‘n mooie boek. Maar hoekom het jy so lelik gevloek in dié mooie boek. Haai, Tannie, sê ek, welwetende waarheen ek wil stuur, ek het nie gevloek in die boek nie! Ja, sê sy, jy het, op baie plekke. Nee, Tannie, dan weet ek nou nie so mooi nie. Kom ek koop vir Tannie tee en flapjacks by Dulce's, dan vertel Tannie my van Tannie se bekommernis. Ons bestel tee en flapjacks en begin gesels. Ek stry aspris oor die vloekery. Sy stry terug. Uiteindelik sê sy agter haar hand: My kind, daar is ‘n klomp donners en moere en bliksems en jirres en gottatjies, en kak ook nog, in die boek. O, nou verstaan ek wat Tannie bedoel, sê ek asof ek glad nie tot daartoe verstaan het nie. Tannie bedoel seker Dawid en Evert en Jeremia het gevloek. Dit was soos ‘n sterrelig wat vir haar opgegaan het. Om ‘n lang storie kort te maak, ek en die Tannie van Graaff-Reinet skryf tot vandag toe vir mekaar.

Liewe lesers, ek is net die medium, soos enige skrywer net die medium is. As ‘n boer en sy trekkerdrywer in die land aan't sukkel is om die ploeg aan die trekker te haak, en die drywer laat val die ploeg op die boer se voet, dan sal die boer seker sê: "Eina, jou stouter! Ek weet dit was ‘n ongelukkie, maar volgende keer gaan ek jou ‘n tikkie gee!" Aikôna. Werk maar vir julle self uit wat die boer sou sê. Julle weet bleddie goed. Vir ‘n skrywer om die waarheid, soos uit die boer se mond, weer te gee, is om getrou aan die realiteit te wees. ‘n Skrywer mág nie die realiteite verdraai net om soos ‘n monnik te probeer klink nie. Of kom ons sê die dominee is op huisbesoek, en Oom Stoffeljan is dik vir die kerk, en hy soek nie ‘n dominee oor sy drumpel nie. Hy sê vir die dominee: Vat jou donnerse Bybel en lóóp, of ek bliksem jou van my werf af. Dis moontlik dat Oom Stoffeljan, as hy regtig moerig is vir die kerk, só kan sê. En met die oorhaastige groetslag antwoord die dominee hom, volgens die imaginêre skrywer: Ag, ou Stoffeljan, fokof sommer uit my gemeente, en laat jou ou dik Meraai wat so na sweet stink, sommer saam met jou fokof. Aikôna, dis hoogs onwaarskynlik dat die dominee so sou antwoord. Hy sou wóú, maar hy sou dit net in sy gedagtes sê. Daarom mág die skrywer nie daardie woorde aan die dominee toedig nie. Bloot omdat dit nie realisties is nie.

Het julle al gehoor hoe praat mans (en baie vrouens ook) wanneer hulle rugby kyk en die skeidsregter doen glo weer iets onregsinnigs? My ou gryse, wat ‘n bedaarde man is, se toppunt van emosionele uitbarstings was nog altyd teenoor ‘n onnosel skeidsregter. En dan praat daardie normaalweg bedaarde man in tale uit die vagevuur se agterste oonde. Dis vir my (en enige skrywer) bykans onmoontlik, en ook verbode, om die ontstemde ou gryse se woorde neer te skryf as: "Ai, ek wens ek kon saam met die skeidsregter ‘n koppie koffie drink en sekere aspekte van die game met hom bespreek." Ek belowe julle, as ek hom ooit iets só besadig van ‘n kwasi-onnosel skeidsregter moet hoor sê, sal my pantie se rek skiet.

Só het elke storie, karakter, stel van omstandighede en sisteem ‘n taal en styl en aura van hulle eie. Braaivleisstories. Army-stories. Polisiestories. Sinodestories. Vissermanstories. Tolla-stories. Nazi-stories. Grensoorlogstories. En ook thula-thula-stories. Die skrywer mág nie lieg of vroompies verdraai nie.

Hoekom het ek die boek geskryf? Komaan, julle dink tog seker wragtig nie ek het dit vir sensasie gedoen nie? Vir sensasie sou ek sommer weer my buurvrou gedonner het oor ‘n blaffende worshond; dan was my gesig weer op die lamppale met die onderskrif dat ek vir aanranding aangekla is, en dan het ek lekker sensasie veroorsaak. Op 52 is sensasie nie meer iets waarna ek jag nie. Ek wil my nie eens verwerdig om dit in enigiemand wat dit nié verstaan nie se klapperdop te kry wáárom ek die boek geskryf het nie. Dis ‘n sosiale kwessie wat aangespreek moet word. Slush. Net soos wat verstoting van die underdog ‘n kwessie is in Raaiselkind, en soos wat die swart gat van dobbelverslawing ‘n kwessie is in Trippel Sewe. Darem maar snaaks, niemand vra ooit hóékom het ek Klawervier geskryf nie. Want fynbosbewaring (dis ‘n bedreigde wêreldplanteryk) is seker nie sappig genoeg nie.

In die tyd toe ek met Raaiselkind besig was, het ek slapelose nagte beleef oor die skokkende hoeveelheid seksuele misbruik teenoor gestremde kinders, en ook teenoor gestremde grootmense. Dit het gevoel asof daar ‘n wurm in my kop rondkruip en hy hou nooit op met roer nie. As ek nie ‘n defektiewe maagklep gehad het wat my snags laat opkook nie, kon dit my na papsakwyn toe gedryf het. Waarskynlik was hierdie skokfeite die sneller wat my na Thula-thula toe geskiet het. Wou julle liefs gehad het ek moet stilbly? En wou julle gehad het Marlene van Niekerk moes eerder stilgebly het?

‘n Ander deuntjie wat aanhoudend gesing word, is dat daar sieklike eksplisiete seksuele beskrywings is. Iemand noem dit selfs pornografie. Tot naarwordens toe. Vir dié wat wil naar word, doen so, sommer in jou eie skoot. Want dis iets om van naar te word. Enige normale mens wat Thula-thula gelees het, sal siek voel op sy maag. En gegru. As hy nié siek en gegru en ontsteld voel nie, moet hy bietjie selfondersoek doen. Maar nou moet ek vra: Bedoel die briefskrywer(s) eksplisiete tonele, en/of vieslike tonele wat in detail uitgespel is? Indien vieslik, op watter bladsy staan dit? Eksplisiete tonele wat enige leser in Thula-thula raaklees, en dit straks as vieslik vertolk, is doodeenvoudig tonele wat hy of sy uit sy éie verwysingsraamwerk ingevul het en by vieslik uitgekom het. As ek vertel: Eendag was daar ‘n dogtertjie wat aan die rand van die woud gebly het. Haar ma het gesê sy moet haar manteltjie omhang en met ‘n mandjie lekkernye deur die woud na haar ouma toe stap ... Dan weet ons almal dis Rooikappie, en ons almal kan die storie voltooi soos ons dit goed dink. Soos ek hier voor hierdie masjien sit, kan ek nie aan één plek in Thula-thula dink waar ék die prentjie voltooi het nie. Die leser het dit self voltooi. Moenie mý blameer vir die skeeftes of nie-skeeftes in júlle koppe nie. Ek het elke toneel hanteer met al die deernis in my hart. Maar met deernis alleen gaan mens nie oral kom nie. Daar is realiteite waarby ek nie kon verbykom sonder om ongeloofwaardig te wees nie.

My dominee-vriend hier in die Baai sê hy het Thula-thula ontsaglik ontstellend gevind. Nie oor ‘n paar sekstonele nie, maar omdat dit duidelik blyk dat die maatskaplike sisteem van só ‘n onvoldoende aard is dat stilbly soms by verreweg die beste opsie is.

Ek weet nie waar kom statistieke regtig vandaan nie. Ek is seker iewers is daar ‘n bron wat sal kan sê watter persentasie mans tussen 35 en 40 is oorgewig, linkshandig, impotent en eet nie appelkose nie. My statistieke het ek onder kenners en ervarenes versamel. In 2002 was die voorkoms van bloedskande geskat op 1 uit 5 (blanke) gesinne. Toe ek in 2007 die boek begin skryf, het ek weer seker gemaak daarvan, want dit was vir my ontstellend hoog. Toe skiet my pantie-rek baie amper, want intussen is die geskatte verhouding opgeskuif na nagenoeg 2,6 uit 5 gesinne. Per implikasie net-net meer as die helfte. Van een ding kan die lesers dóódseker wees: Hierdie siekdonker geheim dwaal agter báie voordeure; in huise waarvan dit nimmer vermoed sou word.

Voorlaastens wil ek vir die arme agtertiet wat so hard probeer het om ‘n paar druppels stremselmelk in Tafelberg en Kwêla se keelgate af te drup, sê: Jy weet van uitgewers en hulle werkswyses soveel soos ‘n kat van saffraan. Die ou wyse woorde sê: Rather remain silent and be thought a fool, than to speak out and prove yourself to be one.

Laastens, dankie aan almal wat wyer kon kyk as die seksuele. Dis só verblydend.

En allerlaastens, nou moet julle nie ‘n klomp spiese na my toe skiet nie, want ek het baie werk om te doen en is nie lus vir redekawel nie.

Annelie Botes

 

 

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Ansie de Kock
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur