| Stephanie Nieuwoudt gesels met Margie Orford oor misdaadromans |
Margie Orford, Stephanie Nieuwoudt
Dié seminaar word moontlik gemaak met behulp van die volgende borge: In ’n onlangse onderhoud het die misdaadskrywer Margie Orford gesê geweld is die lingua franca van Suid-Afrika. Dit is die taal wat almal in die land verstaan. Dit is juis dié gemeenskaplike taal en haar eie behoefte om sin te maak hiervan wat haar dwing om deur haar boeke diep te delf in die donker hart van die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing. In die proses kalwe sy ook aan die gemeenskaplike onderbewuste van ’n land wat swaar dra aan die letsels van geweld. In haar boeke, Like Clockwork, Blood Rose en die jongste, Daddy’s Girl, belig sy veral geweld teenoor vroue en kinders. Stephanie Nieuwoudt het haar oor dié dinge uitgevra. Hoe diep delf jy in jou eie donker plekke wanneer jy skryf? En hoe ambivalent is jy oor geweld wat tegelyk weersinwekkend is maar ’n mens tog aantrek? Ek delf baie diep in baie donker plekke. Die ervaring van die slagoffer – en ek was self al op verskeie maniere ’n slagoffer – is vreesaanjaende kloustrofobie en woede. Die donker plek, die dieper plek, was vir my om toegang te kry tot my eie “magswil”. Ek glo ons het elkeen die vermoë om pyn te veroorsaak, om beheer van iemand anders te neem bloot omdat ons kan. Daar is groot genot in mag. Mag en seks is nou verweef. Kyk maar net na enige nuwe politikus wat sy eerste rit in sy nuwe Mercedes neem; kyk na die ouer kind wat ’n kleiner een wegstamp sodat hy eerste kan swaai; kyk na die man wat sy vrou by ’n ete verneder. Dit is so maklik om in daardie donker plek in te reik en mag te misbruik. Ek glo nie dit is besonder boosaardige mense wat slegte dinge doen nie. Boosheid kry gestalte in mense wat die bande van moraliteit en beheer ontglip om te sien wat is anderkant die taboe. Of dit is mense wat deur die dun, klein muurtjies van hul gesosialiseerde self klouter. Beskadigde mense is gevaarlik. En Suid-Afrikaners is diep, diep beskadig. Geweld is ’n eie taal. Dit is eenvoudig, direk en baie doeltreffend om te kry wat jy wil hê. Geweld is egter teenstrydig, want interpersoonlike geweld is tegelykertyd mag en swakheid. Dit is tegelyk die mislukking van die persoonlikheid en sy vlietende oorwinning. Ek stel belang in hoe die taal van geweld deur generasies oorgedra word. Hoe besmet dit die slagoffer en diegene wat haar liefhet? Dis moeilik om oor geweld te skryf, want dit is ’n skouspel. Om oor geweld te skryf, kan maklik pornografies raak in die visuele uitbeelding daarvan – veral omdat die vrou wat oorrompel word, so sentraal is in hoe erotiek dikwels uitgebeeld word. Die feit dat dit gekompliseerd is om oor geweld te skryf, is juis waarom dit my aantrek. Slagoffers vind dit moeilik om dít wat met hulle gebeur het, in woorde om te sit. Geweld vind dikwels anderkant taal plaas. En dit is die mag van geweld. Dit wis taal uit, en daarmee saam die individualiteit van die slagoffer. Om oor geweld te skryf is om die ervaring terug te bring na taal toe; om dit weer menslik te maak. Die heldin van jou boeke, Clare Hart, is ’n vrou in ’n wêreld wat deur mans oorheers word – sy werk met geweldenaars en manlike kollegas sáám. Hoekom? Ék is ’n vrou in ’n wêreld wat deur mans oorheers word. Dit was dus logies om dié karakter te skep. Ek het geleer om op my eie voete in dié wêreld te oorleef. Dit het reg gevoel om dit wat ek geleer het, te deel. Met ’n vrouekarakter kan ek verken hoe wetenskaplike intelligensie en intuïsie saam kan bestaan. Clare is emosioneel geweldig intelligent. Dis interessant om hieroor te skryf. Twee jaar gelede het jy vir my gesê jy dink altyd aan jou dogters terwyl jy skryf. Waarom? Ek skryf oor my ergste vrese. Misdaadfiksie is wonderlik, want dit volg die logika van storievertel. Jy vang die slegte ouens; jy kan die balans wat deur ’n geweldsdaad versteur is, herstel; jy kan die prinses in die kasteel red en die draak vermorsel. My pragtige dogters is in my kop omdat ek wil weet waarom iemand hulle – of enige meisie – wil seermaak. Om kinders te hê, leer jou die ware betekenis van vrees. Soms voel ek bietjie soos Sjeherezade – as ek kan aanhou om my stories te vertel, kan ek my dogters en ander vroue se kinders veilig hou. Ek weet dis nie rasioneel nie. Maar ek kan ten minste stories skep waarin goeie mense die balans herstel. Met Daddy’s Girl is ek veral gemoeid met mans, met pa’s, met patriargie – om ’n outydse woord te gebruik. Ek wou verstaan wat gebeur wanneer manlikheid so ekstreem raak dat dit alles wat voorkom, vernietig. Vroue en meisies verteenwoordig simbolies die toekoms. Waarom word ons dan so gereeld deur mans vermoor? Dit is ’n eenvoudige oorlewingsvraag, maar die antwoorde is baie kompleks. Is jou skryfwerk ’n manier om jou woede oor die geweld teenoor vroue en meisies te verwerk? Ek is betrokke by Rape Crisis – só kan ek op ’n praktiese manier iets doen. My skryfwerk is ’n manier om die vreesaanjaende en gewelddadige plek wat ek so lief het, te verwerk. Dit is hoe ek die verwarrende manier waarop afgryse en skoonheid saam voorkom, verweef. Ek glo ’n goeie misdaadroman is een waarin die skrywer daarin slaag om afgryse én skoonheid uit te beeld. Jy skryf net so intiem oor die slegte karakters as die goeies. Ek dink dit was Ian Rankin wat gesê het misdaadskrywers skryf oor eietydse sosiale vraagstukke – mensehandel, dwelms, georganiseerde misdaad – terwyl meer literêre skrywers daarvan wegskram. Please feel free to comment on LitNet’s letter page, SêNet, by sending a letter to webvoet@litnet.co.za. << Terug na die invalsblad | Back to the seminar page << << Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|