| In diens van twee moeders |
Lina Spies
1. Die einde van ’n lewensfase Die einde van die jaar 2009 beteken onder andere vir alle praktiese doeleindes ook die einde van my termyn as lid van die raad van die Universiteit van Stellenbosch, alhoewel my termyn amptelik eers in Maart volgende jaar verstryk. Die afsluiting van ’n spesifieke lewensfase, soos wanneer jy aan die einde van jou laerskool-, middelbare en hoëronderwysjare kom en wanneer jy uit jou beroepslewe tree, beteken altyd vir ’n denkende mens ’n bestekopname van die lewensperiode wat vir jou tot ’n einde gekom het. Ek hou vanaf die publikasie van my eerste digbundel in 1971 – vir my ’n lotsbeslissende oomblik – ’n plakboek by van al die belangrikste en sinvolste gebeurtenisse in my lewe, dus kon ek nou weer teruggaan na die koerantberigte oor die verkiesing van mnr Jacko Maree deur die donateurs en van my en professore Hermann Giliomee en Christo Viljoen deur die konvokasie tot raadslede van die Universiteit van Stellenbosch. Op 26 Maart 2006 het Rapport met groot fanfare die uitslag van die raadsverkiesing aangekondig onder die opskrif in groot vet letters: “Ons wil Afrikaans bly!” Die subhoof het gelui: “Taalstryders seëvier in US-eleksie”. Marlene Malan het na aanleiding van die aantal stemme wat uitgebring is en die ongewoon hoë stempersentasie in so ’n verkiesing die uitslag ’n “weghol-oorwinning” genoem vir die “Afrikaans-opsioniste” teen die “tweetaligheidsopsioniste” en prof Giliomee het die standpunt van ons as die sogenaamde “taalstryders” in hoofsaak as volg saamgevat: Ná dié stemming kan daar nie langer twyfel bestaan oor die wense van die meeste oud-Maties nie. Dis duidelik dat oud-Maties van alle ouderdomme sterk staan en omgee vir die idee dat Stellenbosch primêr ’n Afrikaanstalige universiteit moet wees wat inklusief is en wat primêr deur Afrikaans diversiteit, transformasie en uitmuntendheid nastreef. Wat het ons met ons groot agterbank van oud-Maties in ons termyn vermag om gestalte te help gee aan die visie vir die US wat prof Giliomee by ons verkiesing so klinkklaar uitgespel het? Gesien die onbetwisbare getuienis van statistiek wat onomwonde dui op die toename in die gebruik van die tweetaligheidsopsie binne die universiteit in sy geheel, kan ons besluit dat ons niks bereik het nie en eintlik gefaal het om aan Afrikaans op Stellenbosch ’n vaste plek te gee. Dit het prof Pieter Kapp tydens die konvokasievergadering Donderdagaand 10 Desember 2009 ook in geen onseker terme nie uitgewys. Moet ek dus tot die gevolgtrekking kom dat ek ’n periode van my later lewe beter kon gebruik het? Kon ek nie buite die raad meer vir Afrikaans beteken het nie? Ek is nie iemand wat vergaderingsprosedures op die punte van my vingers geken het nie, wat nog te sê van vergaderings gehou het. Ek moes baie leer en soms het ek met ’n beswaarde gemoed en soms met ligte tred uit die raadsvergaderings gestap. Dit het baie van my kreatiewe energie geverg, maar ek het baie geleer en deur die opbou van goeie menseverhoudings met mederaadslede is my lewe verryk. Die einde van my termyn beteken hopelik nie die einde van hierdie verrykende vriendskappe nie. 2. My alma mater en my moedertaal Die belangrikste rede waarom ek met dankbaarheid kan terugkyk op my termyn as raadslid, is dat ek in diens was van twee moeders: my “alma mater”, die moeder van my en alle oud-Maties, en Afrikaans, my moedertaal. Oor Afrikaans voel ek soos ek glo elke normale mens oor sy moedertaal voel, die eerste taal waarin jy uitdrukking kon gee aan die enigste eienskap wat jou van alle ander spesies onderskei, waarmee jy die interne verbondenheid van lewe deel, naamlik taal, en in die tweede plek voel ek oor Afrikaans soos elke uitvoerende en kreatiewe kunstenaar: Afrikaans is die medium van my kunsbeoefening, en die ontwikkeling van my talent het ek aan die Universiteit van Stellenbosch te danke, waar die digter DJ Opperman my mentor was. Terselfdertyd het ek die voorreg gehad om drie jaar lank aan die voete van die filosoof Johan Degenaar te sit, en aan sy lesings het ek indirek ook die vorming van my lewensbeskouing aan die Universiteit van Stellenbosch te danke: die besef van die imperatief van grensoorskrydende menswees omdat ons almal in eerste instansie uit die skoot van die aarde gebore is. Die noodsaak van diversiteit in die nuwe Suid-Afrika sal geen denkende mens ontken nie; inteendeel. Die vyfde punt van die Visie 2012 van die Universiteit van Stellenbosch lui: “Die bevordering van Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal in ’n meertalige konteks.” Ek heg nie buitengewone waarde aan treffend geformuleerde missies nie, want ek weet hoe gou dié visiestellings in leë clichés kan ontaard. Ek wil dus nou by my uittrede as raadslid die begrippe in dié punt indringend analiseer. Ek begin by die belangrikste begrip in dié visiestelling wat daarvoor verantwoordelik is dat Afrikaans voortdurend afgeskaal word, nl meertalige konteks. Gelukkig kan ek my, in my poging om die begrippe meertaligheid en meertalige konteks presies te verstaan, beroep op een van die grootste digters en denkers in die Engelstalige literatuur, TS Eliot. Eliot, ’n gebore Amerikaner, wat die grootste deel van sy lewe wat die hoogtepunte van sy digtersloopbaan verteenwoordig, in Engeland deurgebring het, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog oral in Europa lesings oor die poësie gehou. 3. TS Eliot: Die funksie en belangrikheid van poësie In 1943 het Eliot voor die Brits-Noorweegse Instituut ’n lesing gehou onder die titel “The social function of poetry”. Hy het begin deur op die algemene funksies van die poësie te wys, onder andere dat dit in eerste instansie, soos enige kunsvorm, plesier verskaf en verder ons bewussynslewe kan vergroot en uitdrukking kan gee aan die ervarings wat die leser gehad het, maar nie self kon verwoord nie. Maar dan kom hy by die kern van sy betoog en by die belangrikste funksie wat hy glo die poësie kan vervul. Hy spreek die oortuiging uit dat elke volk sy eie poësie behoort te hê, nie net vir diegene wat van poësie hou nie, maar omdat dit ’n verskil maak aan die samelewing in sy geheel, waarby hy diegene insluit wat geen plesier het aan poësie nie en selfs nie die name van hulle eie digters ken nie. Wat hy presies bedoel met hierdie stelling, werk hy uit in ’n skerpsinnige, logiese betoog. Eliot wys daarop dat deur die Middeleeue, tot ’n paar honderd jaar voor die twintigste eeu, Latyn die taal van die filosofie, teologie en wetenskap gebly het, maar dat die drang na die literêre gebruik van taal begin het by die impuls om poësie te skryf. Dit is volkome begryplik, sê Eliot, as ’n mens in ag neem dat poësie primêr uitdrukking gee aan emosies wat individueel en persoonlik is, terwyl gedagtes eie is aan gemeenskaplike denke. Dit is natuurlik ’n veralgemening, want ’n groot digter is ook ’n groot denker en dit geld vir Eliot self wat oor die uitdrukking van emosie in die poësie in ander opstelle genuanseerd geskryf het. Maar binne sy betoog het hy wel gelyk dat die volkstaal begin by die individuele uitdrukking van emosie in die gedig. Dit het ook in Afrikaans gebeur ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875, toe een van die vroegste publikasies in Afrikaans-in-sy-kinderskoene, Di Patriot, oorstroom is met meesal onbeholpe gedigte. Uit die puinhope van die Anglo-Boereoorlog het ’n volwasse Afrikaans gestyg om weer eens eerste tot uitdrukking te kom in die poësie waarvan Eugène Marais se “Winternag” (1905) die herout was. Waarom vra die literêre impuls om uitdrukking in die moedertaal en nie in die amptelike taal waarmee die digter/skrywer vertroud is deur onderwys en die openbare gesag van dié taal nie? Eliot se antwoord lui: It is easier to think in a foreign language than it is to feel in it. Therefore no art is more stubbornly national than poetry. A people may have its language taken away from it, suppressed, and another language compelled upon the schools; but unless you teach that people to feel in a new language, you have not eradicated the old one, and it will reappear in poetry, which is the vehicle of feeling. Die digter het in eerste instansie ’n verantwoordelikheid teenoor sy taal: om dit te bewaar en om dit te verryk. Daarom kan ’n taal dit nie bekostig om nie meer digters te hê wat daarin skryf nie, maar ook omdat ’n digter ’n nuwe era kan vertolk en mense bewus kan maak van wie hulle met verloop van tyd word, want geen mens bly van gister tot vandag dieselfde nie. Alhoewel Eliot nêrens in sy rede na die Tweede Wêreldoorlog verwys nie, was dit die agtergrond waarteen hy die lesing gelewer het. Europa was vasgevang in ’n maalkolk van ideologiese konflik wat gelei het tot fisiese geweld en etniese suiwering wat miljoene lewens geëis het. Hoeveel geld Eliot se woorde nie ook vir ’n gewelddadige samelewing in transformasie soos dié van die huidige Suid-Afrika nie? As ’n taalgemeenskap nie meer digters en skrywers voortbring nie, waarsku Eliot, “their language will deteriorate, their culture will deteriorate and perhaps become absorbed in a stronger one”. Die feit dat daar steeds baie in Afrikaans gepubliseer word, is tans nog gerusstellend, maar dit kan ’n valse gerusstelling word. Kwantiteit het nog nooit literêre kwaliteit gewaarborg nie en die dikte van die nuwe Groot verseboek (2008) en die voorlesings van gedigte tydens kunstefeeste kan ’n rookskerm word vir die kwaliteit van wat as poësie aangebied word. Ek gaan nie verder daarop in nie, want dit is nie die hooftema van my betoog nie. 4. ’n Lewende taal binne ’n meertalige konteks Die “meertalige konteks” waarvan daar so prysend gepraat word, is aan die universiteit nog altyd wesenlik ’n tweetalige konteks. Xhosa funksioneer in uitnodigings en kennisgewings, maar nie as onderrigmedium nie. Die emansipasie van ’n taal kan net deur sy sprekers bewerkstellig word. ’n Ander taal kan daarby ’n voorbeeld en ’n hulpmiddel wees, niks meer nie. Die ideaal in Suid-Afrika is sekerlik die wedersydse verryking van verskillende kulture, en kultuur is nie los te dink van die taal waarin dit uitdrukking vind nie. Sien ons hierdie wedersyds bevrugtende beïnvloeding in Suid-Afrika? Leef ons in ’n uitbreidende meertalige konteks? Nee, ons leef in ’n sterker wordende eentalig-Engelse konteks. Eliot was veeltalig. Hy het die klassieke tale geken en Frans so uitstekend beheers dat hy enkele gedigte in Frans geskryf het, opgeneem in sy Collected Poems. In sy tersaaklike rede het hy ’n pleidooi vir meertaligheid gelewer. Hy stel dit duidelik dat hy veeltaligheid binne Europa nie sien as die skep van skeidende grense nie, maar as wedersydse vitale heraktivering van kreatiwiteit. Ons weet hoe die kunsmatige skeiding deur apartheid mense van mekaar vervreem en onnoembare skade aan medemenslikheid berokken het. Nou strewe ons eenheid deur gelykmaking na wat die gevaar inhou dat ons mekaar weer nie sal vind nie. Engels is die instrument tot hierdie gelykskakeling wat geen ware spirituele kommunikasie bewerkstellig nie. Ek is oortuig daarvan dat Eliot se woorde in dié verband ’n tydige profesie is: [I]f separation of cultures within the unity of Europe is a danger, so also would be a unification which leads to uniformity. The variety is as essential as the unity. Prof Pieter Kapp het in sy konvokasierede Afrikaans vergelyk met een van Stellenbosch se eike waarvan die takke steeds meer weggesnoei word, maar wat nog darem diep gewortel is. Laat ons tog asseblief nie uit politieke korrektheid altyd verswyg dat Afrikaans se penwortel Nederlands is en dat Nederlands, in die woorde van Van Wyk Louw, “ons venster op Europa” is nie. Ons strewe na internasionale prominensie word ook deur hierdie dimensie van Afrikaans verbreed. Ek verset my teen die afskaling van Afrikaans tot klein plaaslike taaltjie om onder andere wit Engelssprekende studente op Stellenbosch wat nie bereid is om enige ander taal te leer nie, ter wille te wees. Afrikaans het nou eenmaal vir hom status verwerf as taal van hoër onderwys en wetenskap; neem dié status weg en die Afrikaanse literatuur sal kwyn totdat dit saam met die taal self verdwyn. Ek sluit af met die gevleuelde woorde van Eliot oor veeltaligheid: Poetry is a constant reminder of all the things that can only be said in one language, and are untranslatable. The spiritual communication between people and people cannot be carried on without the individuals who take the trouble to learn at least one foreign language as one can learn any language but one’s own, and who consequently are able, to a greater or less degree, to feel in another language as well as in their own. Dankie vir die wysheid van ’n groot digter in wie se taal ek ook geleer het om te voel soos wat ek dit eweneens in Nederlands kan doen, al is dit nie in dieselfde mate as in my eie geliefde moedertaal nie. Bronne Eliot, TS. 2002. Collected poems 1909–1962. Londen: Faber & Faber. —. 1969. On poetry and poets. Londen: Faber & Faber. Lewer kommentaar op Gerrit Brand se LitNet-blog, DinkNet, of stuur jou kommentaar aan SêNet. << Terug na die invalsblad | Back to the seminar page << << Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|