Erika Terblanche
 Sêgoed van Heilna du Plooy Oor Afrikaans as wetenskaptaal: “Aangesien die gehalte van wetenskaplikheid regstreeks verband hou met kreatiewe denke en aangesien kreatiewe denke die suksesvolste in die eerste taal geskied, moet die belangrikheid van taal in die beoefening van wetenskap raak gesien word. [...] Indien Afrikaans as wetenskaptaal eenmaal opgeoffer is, sal dit waarskynlik nie teruggebring kan word nie.” “Om ’n digter te wees, is nie maklik nie. ’n Mens stel jouself oneindig bloot.” “Ek het ’n dinkpool en ’n voelpool. En as die twee pole middeltoe skuif, gee dit gestalte aan ’n gedig.” Raad aan jong digters: “Lees als waarop julle jul oë kan lê. Jy kan tog nie ’n kloon van ’n ander skrywer word nie. Gebruik jou brein. Dis soos ’n rekenaar. Stoor dit vol inligting. Kennis is soos vuilgoed in ’n mens se brein. Dit sit aanmekaar vas; as daar niks is nie, kan niks vassteek nie. As ’n mens dit nodig het, kom dit op sy eie unieke manier in ’n gedig uit.” Hoe ontstaan gedigte? “Gedigte ontstaan op verskillende maniere, dit verskil van digter tot digter, maar selfs vir dieselfde digter gebeur ’n gedig op uiteenlopende maniere. Soms broei jy jare op ’n idee en op ’n dag kom daar in jou kop woorde wat die saak aanraak of dalk, as jy gelukkig is, die rigting van ’n antwoord aandui. Soms ontstaan ’n gedig as geheel en kan jy dit direk gaan neerskryf en ander kere skryf en herskryf jy baiekeer aan ’n gedig. Hoe gedigte by my nie ontstaan nie, is om by ’n lessenaar te gaan sit met die voorneme om te skryf. Gedigte ontstaan uit spontane denke en hoe vryer die vloei van gedagtes, hoe vindingryker is die gedig.” “Die poësie is in besonder subtiel en indirek: gedigte werk met beeldspraak wat doelbewus meervoudige betekenis genereer en ook so geïnterpreteer kan word. Daar word dikwels in die gedig net ’n hele spektrum van assosiasies geaktiveer wat die leser se aanvoeling wakker maak en hom aan die dink sit sonder om direk te probeer leer of stellings te maak.” Hoe belangrik is taal vir iemand se godsdienstige belewenis? “Dit is byna nie te omskryf hoe belangrik taal is vir die mens as mens nie. Alles wat ’n mens dink en doen en is, gebeur in en via taal. Jy dink in taal, jy ken waarde toe in taal en die baie spesifieke en genuanseerde aard van godsdienstige belewenis is dus uiteraard onskeibaar verbonde aan die woorde wat die godsdienstige konsepte dra en aan die woorde waarin godsdienstige belewenis tot uiting kom.” “Afrikaanse mense is tans bekommerd oor hulle taalruimte en kulturele ruimte. Daar is egter baie goeie Afrikaanse skrywers en baie mooi boeke in Afrikaans. Die mense moet die boeke net koop en lees en die skrywers so ondersteun en bemoedig. Ek weet dat boekwinkels dikwels nie Afrikaanse boeke aanhou nie, maar as kopers daarna vra, sal hulle die boeke bestel. Dan kan mense lekker lees en die skrywers sal dan aanhou skryf in hierdie mooi taal van ons.” “As daar een ding is wat die nuwe Suid-Afrika myns insiens nodig het, is dit ’n wye kyk. En dit beteken daar moet plek gegun word vir die praktyk sowel as vir die teorie in alle sake, ook in die taalonderrig. Daar moet ook plek wees vir al die variasies van ’n taal, van die loslittigste informele sêgoed tot die professionele terme en formele wetenskaplike formulerings. Alleen dan kan die taal sy gemeenskap in alle fasette van die lewe tot diens wees.” Oor kunstefeeste: “Dit kan egter nie ontken word dat kunstefeeste tans in Suid-Afrika ’n betekenisvolle kulturele verskynsel is wat bepaalde behoeftes weerspieël of daaraan voldoen nie. Dit vervul duidelik ’n funksie, want daar ontstaan steeds nuwe feeste wat as ’n kulturele oplewing of minstens ’n belangrike geleentheid vir kulturele uiting gesien kan word. Die groot verskeidenheid en aard en in gehalte is eweneens ’n kulturele werklikheid en as sodanig is kunstefeeste ’n interessante verskynsel.” | Gebore en getoë Heilna du Plooy is op 2 Mei 1947 in Pretoria gebore as Heiltje Johanna Gertruida Venter. Sy word groot in Bronkhorstpruit en Alberton. Haar pa, Sakkie Venter, het ook soms geskryf en Heilna vertel dat hy ’n man was met ’n wonderlike aanvoeling vir taal. Hy wou egter nooit publiseer nie. Hy is in November 1992 oorlede. Sy matrikuleer in 1964 aan die Albertonse Hoërskool met ses onderskeidings. Terug na bo Verdere studie en werk Na matriek studeer sy aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (vandag Noordwes-Universiteit), waar sy haar BA-graad en ’n onderwysdiploma behaal, albei met onderskeidings. Sy gaan gee vir ’n jaar onderwys, waarna sy in die huwelik tree met Andries du Plooy, ’n teoloog. Die egpaar vertrek na Durban, waar hulle vir ses jaar woon. Hulle het ’n dogter en drie seuns. Vanaf Durban verhuis hulle na Pretoria. Heilna sit dadelik haar studies in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Pretoria voort. In Pretoria het sy vir twee jaar ’n tydelike pos aan die universiteit daar beklee. Sy behaal haar BA Honneurs daar, en haar MA-verhandeling onder leiding van prof Elize Botha was getiteld Die verhaal in “Laat vrugte” en “18-44” (1982). Heilna verwerf haar DLitt aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO in 1986 onder leiding van prof TT Cloete oor Verhaalteorie in die twintigste eeu. In dieselfde jaar word dit deur Butterworths in boekvorm gepubliseer. Vanaf 1982 tot 1985 is Heilna verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika as dosent. In 1986 verhuis die gesin na Potchefstroom, waar haar man professor is aan die Teologiese Skool van die Potchefstroomse Universiteit. Sedert 1987 is sy dosent by Potchefstroom, eers vir vyf jaar in die Departement Algemene Taal- en Literatuurwetenskap en sedert 1992 in die Departement Afrikaans en Nederlands, waar sy tans professor is. Vanaf 2003 tot 2005 was sy vakvoorsitter van die Vakgroep Afrikaans en Nederlands, en in 2003 was sy vir een semester gashoogleraar aan die Universiteit van Leiden in Nederland. Heilna was lid van SAVAL en die Afrikaanse Letterkundevereniging. Sy was van 1992 tot 1996 voorsitter van die nasionale hoofbestuur van die Afrikaanse Letterkundevereniging, asook vanaf 1994 tot 1996; addisionele lid van 2000 tot 2002; en ondervoorsitter van 2004 tot 2006 en van 2006 tot 2008. Sy is ook lid van die Literatorvereniging, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en sedert 2002 van die Letterkundekommissie van die Akademie. Buitelandse lidmaatskap van vakverenigings sluit in die Internasionale Vereniging voor Neerlandistiek en die International Comparative Literature Association for Commonwealth Literature and Language Studies. Sy was ook betrokke by die ATKV-Skryfskool en het ’n aandeel gehad aan hulle publikasie Skryfateljee. Met haar navorsing het sy ’n belangrike bydrae gelewer tot Literêre terme en teorieë wat onder redakteurskap van TT Cloete gepubliseer is: sy was ’n redaksionele medewerker van hierdie publikasie. Heilna skryf kortverhale, waarvan sommige in literêre tydskrifte en in die bundel Voetpad gepubliseer is. Sy publiseer ook in Nederland in die Christelik-literêre tydskrif Woordwerk. Hans Werkman skryf in Zuid-Afrika dat die opvallendste in haar verhale die soeke is na menslikheid in ’n rasionele, deurdagte verhaalstruktuur. In 2000 is Heilna vir ’n driejaartermyn aangewys as nuwe lid van die adviesraad van die Fonds Neerlandistiek, ’n liggaam wat fondse reguleer wat daarop ingestel is om die Neerlandistiek in Suid-Afrika te bevorder. Heilna tree ook gereeld op as referent by vakkongresse. Sy was verskeie kere lid van die keurkomitees vir pryse soos die M-Net Boekprys, die WA Hofmeyr-prys, die RAU-prys en die Helgaard Steyn-prys. In 2001 het sy die VERKA-toekenning vir voortreflike onderrigleer aan die Potchefstroomse Universiteit vir 2000 saam met veertien ander doserende personeellede ontvang. Dit is toegeken vir kontakonderrigleer en die hele spektrum aktiwiteite wat met onderrig en leer te doen het. Sy skryf ook gereeld resensies vir akademiese tydskrifte en dagblaaie. In 2001 is sy as die wenner aangewys vir die Litera-prys vir Kreatiewe Skryfkuns vir ervare skrywers met haar gedig “Elegie”. In 1997 word Heilna se eerste digbundel, Die donker is nooit leeg nie, by Tafelberg gepubliseer. Hans Werkman meen dat sosiaal-menslikheid ook in hierdie digbundel van haar ’n rol speel. Danie Jordaan sê dat die spanning tussen lig en duisternis ’n kernmotief in die bundel is. Volgens hom skakel dit met die skryfmotief (dig) as die beswering van ’n (geestelike) isolasie wat pertinent in "wiggelpen", die eerste gedig van die bundel, verwoord word. Die titel van die bundel is ontleen aan die gedig "Chiaroscuro". Hierdie kunsterm verwys na die hantering van lig en skadu in skilderwerk, maar is ook in die letterkunde bekend, waar dit op oorgange en kontraste dui. Die ondertitel van die gedig is "By Die nagwag van Rembrandt" en dít maak dit vir die leser duidelik dat die digter die beroemde skildery poëties interpreteer ten einde sin te maak uit ’n (troebel) lewe, aldus Jordaan. Die bundel is in vier afdelings ingedeel. Dit open met twee mooi ars poetica-verse. Die tweede afdeling verken die tuiswees in Suid-Afrika – die Hoëveldse winter met sy lelikheid word vir die spreker in enkele van hierdie gedigte ’n metafoor vir die land, en die landskap self ’n geografiese terrein waarin sy haar steeds vreemder en ongelukkiger vind, volgens Fanie Olivier in sy resensie van die bundel. Wat Olivier egter hier verwelkom, is die afwesigheid van die “o so polities-korrekte versugting wat ons so dikwels mee moet saamleef!”. Die derde afdeling werk veral met die donkerte as metafisiese gegewe. “Die digter skets aan ons die verwydering en afstand van God, die aftakeling wat uitloop in die dood waarvan die Afskeidsiklus vertel.” Die laaste afdeling is die langste een, waarin die wete dat skepping as beswering van donkerte sentraal staan. Volgens Olivier bevat die bundel gedigte wat oor die algemeen net-net nie daarin slaag om werklik betekenisvolle verse te word nie. In sy geleentheidswoord by die bekendstelling van die bundel noem TT Cloete dit ’n merkwaardig ryp debuut. Joan Hambidge voel dat dit poësie van die mineurtoon is – gedigte wat dikwels op ’n eenvoudige manier kommentaar lewer op ons kontinent en op persoonlike ervarings of interpretasies. Sy voel dat daar nog veel goeds uit hierdie bundel mag voortspruit. AP Grové beskou die bundel as “oop” en lesersvriendelik. “Soms is hy miskien te oop, te mededelend, te eksplikatief, en is dit op die versweefsel veryl. Ook is daar vormgebreke aan te toon, spanningslose versreëls hier en daar. Maar in die geheel gesien, ’n bundel wat ’n fyn gevoeligheid vir stemming en situasie openbaar, ’n bundel wat sinvol tot eenheid gestruktureer is, terwyl elke afdeling sy kwota uitstekende gedigte bevat.” In 1998 vertaal Heilna die Vlaamse digter Eddy van Vliet se "’n Pleidooi vir poësie", waarin ’n oorsig gegee word oor verskillende sieninge van die poësie en verskillende digters aangehaal word om die spektrum van die poëtiese standpunte weer te gee. Aan die einde van die essay volg enkele gedigte van Van Vliet, enersyds as ’n bekendstelling van sy werk en andersyds ook as toeligting en konkretisering van die sieninge wat in die essay uitgespreek word. Oor opbouende kritiek op haar werk laat Heilna haar as volg uit in ’n onderhoud in Die Kerkblad van September 2003: “’n Mens skryf alleen. In die ontstaansfase is die skryf van poësie nie ’n sosiale aktiwiteit nie. Maar taal is ten diepste met kommunikasie gemoeid en die skrywer, digter of prosaskrywer weet dat woorde vir ’n leser of ’n hoorder bestem is. As daar iemand is wat bereid is om jou gedagtes na te loop en jou woorde met aandag te lees, is die digter reeds dankbaar. As iemand verstaan het wat jy bedoel het, is jy baie dankbaar en as iemand dan hou van wat jy geskryf het, is dit ’n toegif.” Heilna se tweede digbundel, In die landskap ingelyf, word in 2003 by Protea Boekhuis in Pretoria uitgegee. Bernard Odendaal skryf in Die Volksblad dat dit besonder boeiend en stimulerend is. “Dié tweede bundel uit haar pen getuig (…) van sowel intellektuele omvang en diepgang as verfynde sensitiwiteit. Sy bou met erns en digterlike verantwoordelikheid voort op temas soos die problematiek van waarneming en perspektief, kunstenaarskap, die haglikhede van vroulike en (Suid-) Afrikaanse identiteite, asook die verlies van geliefdes en vertroude sekerhede.” Hy voel dat Heilna haar met hierdie bundel as ’n belangrike hedendaagse digterstem vestig. Lucas Malan skryf dat in Heilna se tweede bundel die verbintenis met die geskiedenis en die grond pertinent in die bundeltitel gegee word en hoewel daar nog steeds ’n neiging tot nugter, saaklike mededelinge eerder as beeldende taal is, is dit nietemin ’n veel sterker stem wat hier gehoor word. Ook Philip John is van mening dat Heilna in hierdie bundel stewig op haar eie bene staan, veel meer as wat die geval was met haar debuutbundel. “In die landskap ingelyf is veel soberder, die taal merkbaar gestroop en die metafisiese uitvlugte baie meer onder beheer, soos die spreker in ‘Oop plekke’ inderdaad dan ook sê: ‘ek leer om ydelheid en oordaad af te lê’. Die resultaat is werklik indrukwekkend.” Hy voel dat die sentrale bemoeienis nog steeds in die plek van die self in die ruimte lê. “Die problematiek word uit ’n verskeidenheid hoeke benader, waarvan die eksistensiële en die estetiese die vernaamste is. Die belangrikste insigte wat uit die worsteling met die ruimte in die bundel na vore kom, is enersyds die ongenaakbaarheid en onafhanklikheid van die ruimte en andersyds die ontoereikendheid van die pogings van die self – veral in die gedaante van kunstenaar en reisiger – om die ruimte te bevat.” Volgens John voorspel die vooruitgang wat hierdie bundel verteenwoordig, ’n voorspoedige toekoms vir Heilna du Plooy as digter, en vir poësielesers is so ’n vooruitgang ’n aangename en verblydende ervaring. Heilna het vertel dat baie van die gedigte in haar tweede bundel ontstaan het tydens haar tekenklas se uitstappies na die veld. Dit was moeilik, omdat Potchefstroom en omgewing nie juis baie skilderagtig was nie. Die gedigte in hierdie bundel is vir haar ook meer gerigte gedigte. Heilna voel dat ’n skrywer nie kan skryf as hy of sy nie iets het om te sê nie, maar dat die meeste skrywers tans baie versigtig is om spesifiek of eksplisiet ’n boodskap te probeer oordra. “Dit was anders in die tye van die geskiedenis, maar tans is lerend (didakties) skryf nie in die mode nie. Skrywers wil nie so skryf nie en lesers en kritici verdra dit nie – hulle is almal kinders van dieselfde tyd. Skrywers sê dus hulle sê op verskillende maniere, maar hoe subtieler en indirekter hoe beter. Sommige skrywers verwoord hulle eie belewenis en lesers moet self iets sinvols daaruit haal. Ander skrywers beeld gewoon net die lewe uit en hou as ’t ware die spieël van die tyd voor die lesers. Dan skrik mense hulle dikwels byna dood as hulle hulself of hul eie tyd van buite af sien.” In ’n artikel getiteld "Begryp tog dat mense wat verskil ook kan saamstem" wat in Beeld van 12 Julie 2002 verskyn het en wat die taaldebat as agtergrond het, skryf Heilna dat daar steeds tussen vyf en ses miljoen mense is (van wie minder as die helfte wit is) wat Afrikaans as moedertaal het; ver meer as tien miljoen mense wat Afrikaans in hul daaglikse omgang gerieflik kan gebruik; steeds kosbare akademiese en populêre inligting in derduisende boeke in Afrikaans bewaar word en beskikbaar is; Afrikaans steeds ’n dinamiese en bloeiende literatuur het; dit steeds onontkenbaar is dat ’n deel van hierdie land se verlede en hede in Afrikaans verwoord is en in die taal self bewaar word; en dat Afrikaanse mense steeds geregtig is op ontwikkeling en funksionering in Afrikaans, aangesien taalregte een van die basiese menseregte is. “Dit gaan hier spesifiek oor Afrikaans, maar dieselfde soort gesprek kan oor elke ander taal van Suid-Afrika gevoer word. Die meeste Afrikaners met wie ek in aanraking kom, soek nie ’n nuwe magsbasis nie en is verlig dat die ideologiese en politieke oorgang in die land plaasgevind het. Maar hulle wil steeds graag en in Afrikaans bydra tot die ontwikkeling van die land. As ek die gevolge daarvan bedink dat die reeds teruggedringde ruimte vir Afrikaans werklik ernstig beskadig of selfs vernietig word, om welke aktiewe of reaktiewe redes ook al, sien ek daar absoluut geen voordeel vir enigiemand in nie. [...] “Afrikaanse Suid-Afrikaners mag immers volgens alle inligting tot my beskikking en volgens uitsprake van die bewindhebbers, steeds wees; hulle mag steeds bestaan. As ek die Grondwet reg verstaan, het daardie mees basiese Afrikaanse deel van my lewe bestaansreg in ’n multikulturele land. Anders moet ons die woord multikultureel (die reënboog inkluis) ongrondwetlik verklaar. Daarom mag ’n mens verwag dat Afrikaans in bepaalde plekke en omstandighede welkom sal wees en daarom is dit nie in orde dat daar eindelose spookstories oor Afrikaans en Afrikaanse mense gebruik word om hulle tot selfuitwissing te nooi nie. Op ’n glyskaal tussen ’n magsbasis aan die een kant en uitwissing aan die ander kant, is daar baie moontlikhede. [...] Daar mag en moet gepraat word oor die praktiese voorwaardes en raamwerke wat die bestaan en voortbestaan van Afrikaans binne ’n spektrum van moontlikhede ’n haalbare werklikheid maak.” Sy was lank betrokke by die omdigting van die Psalms deur TT Cloete (sy het in die Tussenkerklike Kommissie vir die 2002-omdigting van die Psalms gedien). En op ’n vraag van Die Kerkblad oor die digterlike gehalte van die nuwe Psalmomdigting antwoord sy: “Die poëtiese gehalte van die nuwe Psalmomdigting is sonder twyfel hoog. In al die Westerse tale en ook in ander tale is goeie poësie tans liefs eenvoudig en helder. [...] Globaal gesproke is die nuwe omdigting ’n uitstekende stuk werk hoofsaaklik omdat die digter(s) oor die vaardigheid beskik het om al die eise van die eksegese, die musiek en die taal poëties te inkorporeer.” Sy is tans lid van die Literêre Advieskomitee vir ’n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans. Heilna is baie lief vir musiek en teken en verf ook ’n bietjie – hoewel dit vir haar meer om die proses as die produkte gaan. Tydens die Versindaba op Stellenbosch van 2009 word van Heilna se skilderye saam met dié van ander Afrikaanse digters uitgestal. Die betrokkenheid by die Psalmomdigting was vir Heilna ’n persoonlike leerskool, poëties en geloofsmatig. “Dit was vir my een van die mees geloofsverrykende ervarings van my lewe.” Terug na bo Publikasies: Publikasie | Verhaalteorie in die twintigste eeu | Publikasiedatum | 1986 | ISBN | 0409112666 (hb) | Uitgewer | Durban: Butterworths | Literêre vorm | Doktorale tesis | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Die donker is nooit leeg nie | Publikasiedatum | 1997 | ISBN | 0624036081 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | In die landskap ingelyf | Publikasiedatum | 2003 | ISBN | 1869190041 (sb) | Uitgewer | Pretoria: Protea Boekhuis | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Heilna du Plooy as vertaler - Van Vliet, Eddy: ’n Pleidooi vir poësie. Pretoria: Protea Poësie, 1998 [ISBN 062022858 (sb)]
Artikels oor Heilna du Plooy beskikbaar op die internet Artikels deur Heilna du Plooy beskikbaar op die internet
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|