Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Pat Stamatélos (194?–)
Erika Terblanche
2009-10-02 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Sêgoed van Pat Stamatélos

“Ek het ’n storie geskryf om ou koeie te begrawe. Nou word hulle knaend weer uitgegrawe, al is omtrent al die mense in Kroes dood en begrawe. Maar ek wil nie meer spoke in my lewe hê nie; wil nie meer geraamtes in my kas verduidelik nie. Genoeg is genoeg.”

“Met my storie het ek ’n deur oopgemaak en dit het weer ander deure laat oopgaan. Nie net ongelukkige herinnerings nie, ook gelukkiges. ’n Mens kan tog geluk vind. Geluk kom van binne, maar dis iets wat jy moet leer om vergenoeg te wees.”

“As jy my hart oopsny, stroom die seewater uit.”

“Ouderdom is relatief. Ek kan nog opskop en dans in my kop, en so lank ek wil in ’n koffiewinkel sit en gesels. Partykeer pleit ek onkunde weens ouderdom, ander kere verbeel ek my ek weet alles. Die geheim van ouer word, is om te besef, en te aanvaar, dat jy minder keuses het. Hang gliding en ysskaats is uit; jy kan ’n heup breek.”

“Die skryfproses is harde werk en soms bitter, bitter. Baiekeer moet ek so diep uit myself skep, dat ek Prozac nodig het om weer uit die put te klim. Dan lees die keurders die verhaal, met bloed geskryf, sê dis snert en jy begin weer van voor af. Maar as dit uitwerk en alles bymekaar kom, is dit die lekkerste lekker.”

“Genesing is soos vergifnis: dit werk net as mens dit nie weer ophaal nie. Genoeg is genoeg. Nou gaan ek trane afvee, koffie maak en my derde storie uitprint.”

“My kinders is vier en ver en die gemis is groot. Ek sit my ure rustig om en werk, pla niemand, aanbid my God en kyk na gesigte van foto’s teen die muur wat terugkyk. Soms is daar selfs die stille erkentenis van jou menswees. Om enige iets meer te vra of verwag, sal aanmatigend wees.”

“Skryf is inderdaad vir my terapie – ook ’n kans vir ontvlugting. Wanneer niemand na jou wil luister nie en niemand jou verstaan nie, is dit bevrydend om gedagtes op papier te sit, dáár is geen grense nie, en die innerlike vreugde is onbeskryflik.”

“Die skryfproses is geweldig ontblotend en ek moet nog leer om daarmee saam te lewe, juis omdat die publiek nie die geskrewe materiaal van die skrywer wil skei nie. Ek dink tog, ongeag wat ’n mens skryf, dat daar altyd iets van jouself deursypel. My wens is dat mense my stories geniet en nie soveel oor die skrywer wonder nie.”  

Gebore en getoë

Pat Stamatélos is in die laat 1940’s in Goodwood in die Kaap gebore. Haar ma is oorlede toe Pat agt jaar oud was en haar pa het haar by haar twee tantes wat in die Strand gebly het, gaan aflaai. Daar het Pat grootgeword en skoolgegaan. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland.

Pat vertel dat sy op skool goed was met opstelle skryf en dat sy altyd graag haar kinders se opstelle wou skryf, maar dat sy geen droom gehad om skrywer te word nie.

Sy onthou ook dat hulle op skool “so ’n oulike mnr Jurgens” gehad het wat De kleine Johannes van Frederik van Eeden so mooi aan hulle verduidelik het, en tot vandag toe bly dit een van haar gunstelingboeke. Een van Pat se vriendinne se ma was Nederlands van afkoms en elke Saterdag het sy vir die kinders ’n hoofstuk uit De kleine Johannes voorgelees.

Pat is nog steeds baie lief vir die see, waar sy grootgeword het. Sy vertel aan Marida Fitzpatrick: “In die somer het ons op die jetty gesit en wag vir die bote om in te kom, onder die paviljoen gespeel en met laagwater tot in die middel van die oseaan geloop.” Toe Pat na sewentien jaar weer haar voete in die Strand se waters gesit het, was dit vir haar so ’n groot ervaring dat daar meer sout op haar wange was as op haar voete. “Dinge het verander, maar soveel is nog presies dieselfde.”

Ook aan Eep Francken vertel sy: “Bij de zee, daar houd ik veel van. De zuurtjes van de moslimwinkel proef ik nog.”

Pat was as kind baie ongelukkig omdat haar pa haar by haar tantes gaan aflaai het. En haar tantes het hierdie gevoel in haar versterk, veral omdat hy nooit die geld wat hy aan hulle beloof het vir Pat se opvoeding, aan hulle gegee het nie. As jong meisie eggo sy hulle gevoelens, maar later kyk sy tog in ’n ander lig na hom. Nie dat sy ooit begryp het hoekom hy dit gedoen het nie – dit was een ding waaroor sy per se móés skryf, bieg sy teenoor Eep Francken. Haar pa skryf ook gedigte, hy aanvaar sy blanke dogter en met haar boek Kroes “heb ik tegenover hem iets willen goedmaken”.

Verdere studie en werk

Na skool is Pat na die Michaelis-kunsskool, waar sy vir twee jaar studeer het. Oor hierdie tyd (1960’s) vertel sy aan Eep Francken: “[E]r was nog een tweede bruine student, maar geen zwarten. UCT was nogal verlicht. Maar de muur was hoog. Zo ’n overgang was moeilik.”

Haar suster stuur vir haar ’n treinkaartjie om Johannesburg toe te gaan, omdat daar volgens Kay “so baie arty jobs in Joh’burg” was. ’n Paar weke later was haar sussie oorsee “en ek sonder ’n arty job”. Haar tantes trek saam met haar Johannesburg toe.

Sy gaan werk toe by ’n koerant. Dit was in die tyd van die televisiereeks Dallas, oor ryk mense. “Iedereen keek, want ze hoopten: zo rijk kan ik ook worden.” Sy skryf toe ’n anti-Dallas-verhaal vir die koerant met die titel “A car for Maggie”. Sy skryf ook heelwat verhale vir tydskrifte soos Sarie en Fair Lady. Nie almal is egter gepubliseer nie. En hoewel die tydskrifte beter betaal vir die verhale, kan hulle maar goed inlê met die snoeiskêr.

Die res van haar verhaal som Pat in een kort sin vir Marida Fitzpatrick op: “Sin gekry aan ’n Griek, getrou en Randfontein toe gekom.” En dis waar sy nog altyd woon: in Parkstraat in Randfontein. Haar gewese man is ’n eerstegeslag-immigrant uit Griekeland. Hulle het vier kinders: Anastasía, Ioánni, Níki en Aléxis.

Later gaan werk Pat as skakelbordoperateur by ’n klein, private hospitaal – wat, volgens haar, komies is omdat haar gehoor maar sleg is. Sy is mal oor die werk, want die mense daar is soos haar familie wat saam lag en saam huil.

Toe, in 2005, word Pat se eerste boek, Kroes, deur Kwela gepubliseer. En dit sit almal aan die praat. Dit vertel die verhaal van Pattie Peters, ’n bruin meisie van die Strand, wat in Johannesburg verlief raak op ’n Griek. Die verhouding is in apartheid-Suid-Afrika verbode. Pattie en haar vriend oortree die Ontugwet en word gevange geneem. Sy ontdek egter dat daar so baie blankes onder haar voorouers was dat sy ’n kans het om haar te laat herklassifiseer. Dit plaas haar egter in die dilemma dat sy sal moet afsien van haar bruin vriende en familie. Uiteindelik besluit sy wel om met Laki te trou, maar op die vooraand van hulle huwelik sterf hy in ’n motorongeluk.

“Ek’s nie ’n skrywer nie; ek’s ’n storieverteller,” vertel sy aan Gerrit Brand. “Ek het nie gevra vir die kollig nie.” Dit hét lank geneem voordat hierdie teks en die skrywer in die kollig beland het. Sy vertel dat die manuskrip al meer as twintig jaar gelede voltooi is. “Ek het maar sielkundige met myself gespeel. My ma is dood toe ek agt was, en ek kon dit nooit verwerk nie. Ek is ook sommer dadelik (soos Pattie) weggegee vir my twee tantes om groot te maak. Selfs op dertig het ek nog gewonder: Hoekom? Toe haal ek my Olivetti uit, sit my vingers op die keys en begin sommer by die begin. Ná die eerste paragraaf begin ek huil – ek kon dit nie glo nie. So huil-huil skryf ek die hele hoofstuk. En ek hou aan vertel: dinge wat ek onthou het.”

Sy lê die manuskrip voor aan twee voorste Afrikaanse uitgewers en hoewel Rykie van Reenen en Jakes Gerwel publikasie aanbeveel het, het die uitgewers “verbygehou”. Pat kan onthou hoe teleurgesteld sy en haar dogter was, omdat hulle gefantaseer het hoe hulle miljoenêrs gaan word. ’n Paar jaar gelede hoor sy weer iemand praat oor hoe sy gesukkel het om haar pa se dood te verwerk. “Toe het ek die ding weer gaan uitkrap; ek het gewonder of dit dalk tog iets vir mense kan beteken. Kan jy glo, ek kry alles behalwe die laaste bladsy ... Toe ek lees, begin ek weer huil. Met die herlees was ek verbaas om te sien hoe baie woede daarin was. Ek het van dié dinge uitgehaal. Die uitgewers het ook kommentaar gelewer, wat ek verwerk het, maar die boek is nog 99 persent dieselfde.”

Ten spyte van ooreenkomste tussen die skrywer en die hoofkarakter hou Pat vol dat Kroes nie ’n outobiografie is nie. “Dis deels gebaseer op my lewe – elke ou se boek het ’n stukkie van homself – maar dit bly fiksie. Die meeste van die karakters het wel bestaan, maar ek het hulle in ander tydperke en situasies geplaas en ’n bietjie ge-embroider.”

Resensente was oor die algemeen gaande oor Kroes. Louise Viljoen beskryf Pat se skryfstyl as verfrissend en onpretensieus. “Naas die vermoë om ’n onderhoudende storie te vertel, het Stamatélos ook ’n talent om oortuigende karakters te skep. [...] Daarby weet sy hoe om bepaalde kwessies te teken eerder as om te verduidelik. [...] Pat Stamatélos se Kroes is ’n unieke en boeiende leeservaring wat lesers nie moet misloop nie.”

Gunther Pakendorf meen dat Pat met hierdie storie ’n aangrypende beeld van die apartheidsjare gee. “Ondanks sy beskeie voorkoms is Kroes ’n sterk roman. Die roman put sy krag veral uit die geslaagde fokus op Pattie en haar familie en vriende. [...] Die narratief in die eerste persoon vanuit die perspektief van die jong meisie verleen ’n oortuigende outentisiteit aan die verhaal. Die uitbeelding van haar sosiale omgewing, die tantes en susters en vriende, is ewe realisties. Die dialoog is genuanseerd en doen eg aan. Stamatélos het haar ambag dus goed onder die knie. En die feit dat sy haar nie laat verlei om aan te kla nie, maak haar roman des te sterker.”

Hans Ester beskryf Kroes as ’n belangrike roman binne die Suid-Afrikaanse letterkunde as geheel. Dit is nie oor die ervaringe van mense geskryf nie, maar vanuit die ervaring, en dit maak daarvan ’n besondere publikasie.

Pat erken aan Phyllis Green dat sy verras was dat Kroes so goed ontvang is. “Dis eintlik ’n baie eenvoudige storie en dat dit toe op die planke gebring is, slaat my dood! Die opvolg is ook goed ontvang. Ek verwag altyd die ergste tot ek die keurdersverslag kry en besef die boek gaan regtig die lig sien.” Pat beskryf Kroes as ’n roman wat gaan oor keuses, oor liefde en smart. “Maar aan die einde ook oor vergifnis – vergifnis vir die wit man wat met Pattie wou trou, vergifnis vir ’n pa wat sy dogter weggegee het.”

Die val van die dice , die vervolg op Kroes, word in 2007 ook by Kwela uitgegee. Met die titel wys Pat heen na ’n gedig van Adam Small wat die lot van die bruin mens in die vorige bedeling uitbeeld: “die Here het gaskommel/ en die dice het verkeerd geval vi’ ons/ daai’s ma al.” In hierdie tweede roman is Pattie Peters weer aan die woord. Dit gee die verhaal van haar verdere lewe: haar troue met Laki se broer. Omdat hy so baie na sy oorlede broer lyk, val Pattie vir hom. Dae na die huwelik besef sy egter dat hy glad nie soos sy broer is nie: hy is ’n rassis, hy rand haar verbaal aan en hy gun haar geen vryheid nie. En hoewel sy vier kinders by hom het, is dit ’n liefdelose huwelik. Sy is ook die heeltyd bang dat hy sal uitvind dat sy voorheen as Kleurling geklassifiseer was.

JC Kannemeyer beskryf Die val van die dice as ’n ewe meesleurende verhaal as Kroes wat die leser moeilik sal neersit. “Met die talle gebeurtenisse en terugflitse het die vertelling ’n vaart wat dit ’n boeiende leeservaring maak.”

Op LitNet skryf Marius Crous dat dit ’n onderhoudende en vermaaklike roman is wat beslis in menigte se smaak sal val. Hy beskou Stamatélos se eerste twee romans as goeie voorbeelde van outobiografiese skrywing en hy wag met “opgehoue asem” op haar volgende roman. Hy meen ook dat haar romans met EKM Dido se werk vergelyk kan word, want hulle albei fokus sterk op die identiteitsproblematiek van die bruin vrou in Suid-Afrika.

Na die publikasie van Die val van die dice besluit Pat om nie meer persoonlike onderhoude toe te staan nie. In ’n e-pos-onderhoud met Marida Fitzpatrick sê sy: “Soms praat ’n mens uit die kop en soms kap die lem teen die borsbeen. Soos in die geval van Kroes was my skryfwerk vir genesing, vir selfbehoud, vir agterlaat en vorentoe gaan – big time. Soms laat jy daai stukkie van jouself agter, tussen blaaie, onder oë ... Maar jy wil nie hê mense moet jou daarna vra nie.”

Die val van die dice was in 2008 op die kortlys van die ATKV-prosaprys en Kroes was in 2006 op die kortlys van die Jan Rabie/Rapport-prys vir innoverende tekste in Afrikaans.

Pat is gelukkig in Randfontein, hoewel haar kinders dit beskryf as die “gatkant van die wêreld”. Volgens haar is dit bekend en gerieflik. “’n Mens bou mos ’n infrastruktuur. Ek voel veilig en lekker hier. My maats en vriende is hier.” Sy beskryf haarself as ’n roetinemens wat dié tyd opstaan, dít eet, anders is sy verlore. “Dis nou en dan goed om ’n bietjie weg te breek, maar selfs op vakansie word ek op dieselfde tyd wakker, moet ek opstaan en ’iets’ doen.”

Volgens haar kry ’n mens haar nie maklik ontwortel nie; “praat van stick in the mud ... Ek het vroeë aftrede (in 2008) geneem (om te skryf) en sal seker in Randfontein doodgaan. Maar hier ken ek die dokters, aptekers, oogarts, hospitale, my bure, my Fruit and Veggie en vriende wat byderhand is. Mens kan nie 22 jaar op ’n plek bly en nié ’n goeie ondersteuningstelsel in plek hê nie.”

Haar gewese man bly ook nog altyd in Randfontein. Pat sê: “Ongelukkig is die oorlog soos opgeteken in Die val van die dice nog nie verby nie, net ’n ’effense’ skietstilstand so dan en wan. En die lyn in die stof getrek staan steeds vir diékant is myne, dááikant joune. Ek bly voor, hy bly agter, ons sien mekaar daagliks en as ons mekaar nie sien nie, wonder die een oor die ander. Dis al.”

Die feit dat Pat nou ’n pensioentrekker is, beteken nie dat sy by die huis sit en niks doen nie. Haar een kamer is gepak met bokse met derduisende hospitaal-lêers wat sy alfabeties in boeke moet inskryf. Dit hou haar vir tien tot twaalf uur ’n week besig en betaal darem vir haar week se kruideniersware.

Dan het sy ook geskryf aan haar nuwe boek wat in 2009 gepubliseer is onder die titel Die portier. Die verhaal speel in ’n hospitaal af, wat vir Pat bekende terrein is weens daardie jare wat sy op 'n hospitaal se skakelbord gewerk het. Sy vertel aan Phyllis Green dat daar so baie stories in ’n hospitaal is dat jy nie weet waar om te begin nie. Dit was vir haar moeilik om oor ’n man te skryf, omdat mans nie soos vrouens praat nie. Die naam van die hoofkarakter, Max, was maklik om te kry en toe moes sy besluit in watter agtergrond sy hom moet plaas. Omdat sy niks weet van dokter wees nie, het sy besluit om hom ’n portier te maak. “So kom hy met ’n verskeidenheid van karakters in aanraking, gewone mense en professionele mense. En hy het toegang tot verskillende dele van die hospitaal.” Sy vertel dat sy nie hard gesoek het na Max nie – “hy het amper vanself na vore getree uit die hospitaalagtergrond.”

Max ly aan obsessief-kompulsiewe gedrag. Na sy pa se dood het Max neuroties oor vuilheid geword. Dit het so erg geraak dat hy en sy sielkundige, Otto Sas, besluit het dat ’n werk by Strubenshof-hospitaal die beste terapie vir sy “kopsiekte” sal wees en dat hy “tussen kranklike en gepynigde mense” genesing sal vind. Behalwe dat die boek uit Otto se oogpunt vertel word, is die matrone van die hospitaal, Mara, die ander stem in die roman. Pat vertel aan Phyllis Green dat Mara die professionele perspektief aan die roman gee, omdat sy in gesprek kon tree met die dokters en ander mense en sodoende ’n agtergrond kon skep vir baie dinge waarmee Max op ’n ander vlak te doen het.

Max se verhoudings staan sentraal in die storie. “Sy verhoudings gaan oor vergifnis en verdraagsaamheid. Vergifnis teenoor sy ma, teenoor homself en uiteindelik teenoor sy pa. Veral toe hy onthou dat sy pa tog eintlik regdeur sy lewe daar vir hom was. Die karakters Ouboet en Otto speel ’n groot rol in Max se lewe. Max kan egter nie met Ouboet praat nie, maar wel met Otto. Pat vertel: “Ten spyte van Max se naby-verhouding met Ouboet was dit vir hom moeilik om oor sy intieme verhoudings en vrese met Ouboet te praat. Daarvoor moes hy na ’n sielkundige gaan en dis waar Otto in die prentjie kom. Tussen hom en Otto is ’n onpersoonlike verhouding en hy kan daar sy hart uitpraat. [...] Otto is die brug waardeur Max by Ouboet uitkom en uiteindelik ook by homself.”

Volgens Stoffel Cilliers neem Pat die leser op ’n boeiende reis van drie maande saam met die veelkantige karakter Max. “Sy beeld Max se stryd teen sy afwyking oortuigend en in die fynste besonderhede uit. Max se geleidelike oorwinning oor sy uitmergelende dwanggewoontes laat die roman, wat maklik ’n wroegstorie kon gewees het, met sy knap slot ’n goed-voel-boek word. Want soos Max die oorhand oor sy ’kopsiekte’ kry, ontwikkel sy karakter ongelooflik. [...] Die portier Max gaan diep in die harte van duisende lesers kruip.”

Op LitNet skryf Cari Coetzee dat Die portier nie so goed vergelyk met Pat se eerste twee romans nie, maar dat die leser wel meer begrip ontwikkel vir die hel waarin mense leef wat aan obsessief-kompulsiewe steuring ly. Die portier beeld ook die binnewerkinge van ’n privaat hospitaal goed uit.

Pat is al klaar besig met haar volgende boek – ’n verhaal oor ’n mishandelde vrou en die positiewe groei waardeur sy daarna gaan.

In 2008 verwerk Ludolf Parker Pat se boek Kroes vir die verhoog en word dit by die Suidoosterfees in Kaapstad en by Aardklop op Potchefstroom opgevoer met Kim Engelbrecht en Nico Panagiotopoulos in die hoofrolle. Die regie is behartig deur die Vita-wenner Heinrich Reisenhofer. Kroes is ook voorgeskryf vir graad 11-skoliere in die Wes-Kaap.

Pat sien haarself as ’n “argelose” skrywer en sy vertel dat sy vir haarself skryf sonder inagneming van die leser. Naweke is gewoonlik die tyd wat sy skryf, en sy kan ure aaneen skryf, waarvan haar seer rug en kop getuig.

Terug na bo

Publikasies:

Publikasie

Kroes

Publikasiedatum

2005

ISBN

9780795702037 (sb)

Uitgewer

Roggebaai: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die val van die dice

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780795702570 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die portier

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780795702815

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Pat Stamatélos beskikbaar op die internet  

Terug na bo


Terug na bo

Bygewerk: 2009-10-02
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Hein Kleinbooi
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur