| |
 |
| Ene Jakkie se grief met resensente |
Marna Duvenage
Dis nou al geruime tyd dat daar van tyd tot tyd briewe verskyn wat akademiese resensies verdag maak, as synde nie toeganklik vir die gewone man nie of dat dit "lekker boeke" sleg laat lyk. Ene Jakkie se brief op SêNet 'n ruk gelede, wat 'n dun gemaskeerde aanval is op Bernard Odendaal vir sy resensie van Jelleke Wierenga se bundel Bloot Mens, eweneens dun gemaskeer as die skrywer wat verdedig word, is so 'n voorbeeld. Ek sê "ene Jakkie", want hy is mos trots op sy allemanstatus. En hy is een in vele, dis gewis. Nou dit is waar dat resensente - ook in Afrikaans - hul akademiese status al op geleentheid misbruik het om 'n pas verskene boek te sink. Dit gebeur dalk omdat die resensent nie hou van die skrywer of self skrywer is en jaloers is op die nuwe boek. Daar kan ander redes ook wees. Maar sulke voorvalle is nie so baie nie. Sulke resensente sink niks behalwe hulself op die duur nie. Maar omdat dit soms gebeur wat hier bo beskryf word, beteken nie dat ons ons verfyndste waardes moet inruil of afskaal sodat Jan Alleman daarmee veilig kan voel nie. Hy het mos sy eie waardes, dan nie? Vra Jakkie. Feit is Jan Alleman is selde 'n behoorlike digter, selde iemand wat 'n goeie resensie na waarde kan skat en selfs selde iemand wat 'n gewone sin behoorlik aanmekaar kan snoer. Hiervan is ene Jakkie 'n goeie voorbeeld. Ongelukkig is dit so dat geletterdheid slegs beoefen word en beoefenbaar is deur 'n klein persentasie van die samelewing. Ene Jakkie is welkom om te leer hoe, ek dink enige iemand is welkom, maar dan sal hy of sy die paal moet haal, hom nie byvoorbeeld rook nie of opsteek nie, wie weet waar, soos ene Jakkie doen. Jakkie, geniet die versies wat daar is vir jou. Daar is soms 'n goeie een op beskuitpakkies of lekkergoeddosies of waar ook al ook. En los akademici en resensente uit om hul werk te doen. Om 'n boek na wense te bespreek moet "groot" woorde soms gebruik word. Moenie die tafel nou ommoer omdat jy nie by die koekie jar klan uitkom nie, jou onnutsige wese. Gaan slaap in die treffiek, man. Of gaan speel karretjies. Jy en al jou jan-allemanmaatjies. Die akademici verwag nie van julle om op hulle vlak te wees nie, het jy al daaraan gedink? So hoekom VERWAG jy van hulle dat hulle om op jou vlak te beweeg? Jy is arrogant verby. Marna Duvenage
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|