| Resensente en verskuilde agendas – Jakkie |
"koos sas"
Jakkie, ek neem aan dat jy dit het oor die resensie van Jelleke Wierenga se Bloot Mens op Versindaba se webblad. Ek neem ook aan dat dit jy die Jakkie van der Colff was wat daar so heftig gereageer het op Bernard Odendaal se resensie.Jy moet besef dat ‘n resensie bloot ‘n opinie is. Dit gaan oor die werk wat die digter in die openbare domein geplaas het. Sodra dit gebeur verloor die skrywer tot ‘n sekere mate eienaarskap van hulle werk en maak elke leser dit op ‘n unieke manier hul eie. In ‘n resensie gaan dit dus oor die persoonlike ervaring wat ‘n werk by ‘n kundige ontlok. Ons as leke kan dan hierdie opinie lees en dit verwerp of nie. Omdat die skrywer se werk op ‘n sekere manier apart staan van die persoon wat dit geskryf het behoort positiewe of negatiewe kommentaar nie gelees te word as ‘n aanval op of verdediging van die persoon nie. Die resensie gaan oor dit wat voorgelê is vir openbare verbruik. In haar titel sinspeel Jelleke dan self dat dit gaan oor ‘n ontbloting - wat sy juis in die openbaar doen. Haar doel is tog seker om reaksie te uit te lok. Jy behoort ook te weet dat daar geen werk is wat sonder foute is nie. Alle kunswerke is per definisie gebrekkig op die een of ander manier. Dit is soms juis hierdie gebreke wat tot ons spreek. In Jelleke se geval is al die gebreke wat Bernard Odendaal aanwys teenwoordig. Ek is egter nie seker dat dit uit ‘n sekere oogpunt dan nou juis gebreke of foute is nie. Ek het dit eens met hom, maar het gedink dat Jelleke bewustelik so dig. Sy is dan juis Bloot Mens en dan juis nie perfek nie. Die gedagte dat die ontblote mens gedig moet word in perfekte poëtiese taal is vir my ‘n absurde gedagte. Ek weet natuurlik nie of Jelleke dit so bedoel het nie, maar die foute wat Bernard Odendaal aandui is vir my uiteindelik deel van die digbundel se bekoring. Dit maak vir my deel uit van hierdie bundel se idioom. Verder moet jy ook verstaan dat dit Jelleke Wierenga was wat gekies het om haar gedigte aan te bied vir publikasie. Sy het haarself onbloot in haar gedigte. Hiervoor is ek dankbaar, maar kan ook insien dat hierdie onbloting nie totaal is nie. Sy skuil steeds en daar is wat my betref heelwat verborge. As daar enigiets is wat verkeerd is met die bundel is dit juis dit. Die gedigte sinspeel op ontbloting, maar uiteindelik is sy Bloot Mens en bedek sy nogal baie - soos die vrou op die voorblad. Bernard Odendaal se kritiek is wat my betref dus gemik op die gedeelte wat die (uiteindelik) skugter vrou ons wou laat sien. Op hierdie punt is die fout - as ek dit so kan noem - dus joune, want jy dink die "ek" in Jelleke Wierenga se gedigte is die totaliteit van ‘n vrou. Dit is nie en dit is juis hier waar Bernard Odendaal se aanmerking oor nuansering ter sprake kom. Ek sou wou hê dat die interaksie/speling tussen die figure (die Digter, Bloot Mens, ontblote mens en Jelleke Wierenga) baie duideliker moet wees. Ek sou aanvoer dat Mnr Odendaal uiteindelik reg is en dat die "Digter" heel te veel op die voorgrond is. Hierdie aspek neem oor en doen al die woord goëlery. Terloops is dit dieselfde kritiek wat ek teen Gert Vlok Nel se Om te Lewe is Onnatuurlik het. Ten laaste dink ek dat dit effens sinies is om te kla oor die kwaliteit van ‘n resensie en dan in dieselfde brief die gedigte van daardie resensent krities te bespreek. Groete, "koos sas"
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|