| |
 |
| Resensente se galbitterbekke |
Jakkie
So af en toe kom ‘n mens ‘n resensie oor ‘n boek of gedig of film teë wanneer mens in ‘n koerant rond blaai of oor die radio daarna luister. Resensente sê geniepsige, nydige, kwetsende en beledigende dinge net soos en wat hulle wil. Hulle sit in ‘n onaantasbare posisie. Hoe kan iemand hulle aanvat. Net soos wat ‘n klerk dit onmoontlik sal vind om die besturende direkteur van onbekwaamheid te beskuldig. Die maatjies staan bymekaar. (Terloops, ek weet van ‘n film wat die agterent gesien het en sy ondergang het begin by ‘n resensent se persoonlike en verwronge siening. So pas ook ‘n resensie gelees waarin persoonlik kwetsende dinge kwytgeraak word en agterna sê die resensent hy's jammer. Kan mens glo. Wond iemand en sê dan jammer.) Resensente vind ek merendeels, kraak af met hoogdrawende vakterminologie. So asof hulle dink dis die doel van ‘n resensie. Lyk so asof hulle wil wys watter swak skrywer/digter/filmmaker ens die persoon is oor wie hulle skryf. En soms raak van hulle persoonlik. Soms matig die resensent hom dinge aan asof hy die digter/leser/filmmaker ken en tas persoonlikhede aan. Nee, eintlik kraak hy af. Ek wonder hoe so ‘n digter/skrywer/filmmaker moet voel as hulle so te nagekom word? En ook hoe voel so ‘n resensent as hy iemand anders se persoonlikheid afkraak en selfs beledigend is. Of is hulle dikvellige buffels sonder menslikheid? Na my mening behoort ‘n resensie te gaan oor die objektiewe en positiewe evaluering van ‘n werk. En nie om soos van die resente net te kritiseer en dan sê hulle doen dit objektief nie. Die meeste is na my mening eintlik bullebakke. En tog kan hulle hoop en glo ek, objektiewe kommentaar lewer en nog steeds wys hoe die persoon op sy werk kan verbeter. Hulle moet net leer wat beteken die begrip positief en hulle by die geskrif hou en die digter/skrywer/filmmaker se persoon uitlos. Ek het pas onlangs gedigte gelees van ‘n manlike dosent verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat wat ook sy lyf digter hou. As gewone leser wat begin dink het ek behoort in die toekoms meer gedigte te lees, weet ek nie meer so mooi nie. As ek kommentaar moes lewer op sy gedigte wonder ek wat ek sou kon sê. Dalk is ek as gewone leser nie intellektueel genoeg ontwikkel om goed te verstaan wat soos dit vir my lyk uit ‘n verwarde brein kom nie. Net so kol-kol maak dit sin uit. Kuns moet vir my ‘n geheel vorm. Ek moenie wonder wat kort nie. Aan die anderkant weer lyk dit of die man met woorde kan speel, maar nie toor nie. So hier en daar moes ek raai en dit laat my dink aan ‘n tandarts wat ook ‘n kunstenaar in eie reg is, maar wat tande met happe en gate maak en dit as sy kunsvorm voorgee te wees. Dit maak mos nie sin nie. ‘n Gedig moet ‘n deurlopende storie vertel anders kan dit nie verteer word nie. Ek wil die hoop uitspreek dat ek asseblief nie ooit weer enige resensent se bek uitwas van uit hul minderwaardige maar meerderwaardige voordoenigheid, sal teëkom nie. Die gewone mens soos ek kan gemaklik sonder hulle klaar kom en gelukkig wees in wat ons lees wat aangebied word. Jakkie
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|