| Barend J Toerien (29 Maart 1921 – 4 September 2009) |
Helize van Vuuren
Barend J Toerien is op die plaas Steenwerp buite Porterville (vandag ’n tronk) gebore. Baie jare later het Breyten Breytenbach hom op ’n Sederbergse staptog in 1973 tot "die Bul van Porterville” gedoop (in Seisoen in die paradys beskryf). Dié naam het bly steek. Hoewel Barend gereeld na sy eie “wortelloosheid” verwys het, was hy onwrikbaar verknog aan hierdie Bolandse wêreld van berge, fynbos, en Boesmantekeninge in Die Hel met sy waterval en die magiese versteekte bergpoel, hoog in die Winterhoekberge. Hierheen het hy dwarsdeur sy lewe bly terugkeer – vir stap in die berge en swem by die waterval. In 2002 publiseer World Literature Today ’n resensie deur die Vlaming Ludo Stynen van Toerien se laaste digbundel, Die huisapteek, wat ’n goeie oorsig bied oor sowel die digter se lewe as die aard en waarde van sy poësie: Die Huisapteek (The Medicine Chest), a collection of poems, was published on 29 March 2001, on the occasion of the eightieth birthday of Barend J Toerien, a longtime reviewer of Afrikaans literature for WLT. A short italicized poem featuring a muse visiting the poet serves as a motto and explains the collection's title: verse as medicine, as a recipe against the absurdity of life and time. The first section, titled "Ek" (I), revives moments of the author's youth, giving us evocations of a young boy against a background of nature, images of sparrows, clouds, et cetera, a boy witnessing older people discussing apartheid and their moral duty to teach and educate blacks, who as a people were entrusted to them by God. Mostly, however, these poems sketch moments of a mere Arcadian or idyllic type: a boy shearing sheep or playing with the wool, a group of visiting uncles. There is no sign of a mother, and the father is a rather gloomy, surly presence. He seems to have been a stubborn, difficult man with whom the author had little in common. Once he even dreamed he had killed the man. In other poems in this first section Toerien remembers moments of lust and passion. The first time he made love and the link between love and death make him very much aware of decay, and he wonders how to learn to live with imminent death. "Die plek" (The Place), the second major section, is devoted to the country and to the place – literally - of the poet within it. Nature, death, and violence predominate in these poems. While meditating in one poem on traces of spilled semen and toenails left behind, in another Toerien contemplates the now empty place of his youth. Several of these poems have a manifest ideological component as well: village schoolteachers praising Afrikaans literature as if it were the best, the neglect of black people in South African history, and evocations of the land when it was newly colonized; how the whites were influenced by what they found, their perception of native people, and later violence during the Boer Wars and even in the last decade. In the closing poem of this section, space seems ever-decreasing and linked to old age. The final two sections, containing fewer than a third of the poems, are less personal: a few humorous pieces - very indicative of the conceptual underpinnings of Die huisapteek - and translations of work by Stefan George, Sandor Weores, Ahmad Shamlu, Theophile de Viau, and some seven other authors. Barend J Toerien's poetry, often in blank verse, is not complicated and is obviously not meant to revolutionize contemporary poetic practice. The author is a good observer, however, always finding the right words to evoke a past world or a contemporary situation, paying close attention to significant details, to smells and tastes, and to the natural environs surrounding the sketched event. Undoubtedly, Toerien wrote these fragments in an effort to grasp passing time, to preserve his fading memories. Verse as medicine, indeed. Dis ’n merkwaardige resensie, omdat dit soveel aspekte van die mens en die digter in kort bestek raakvat: die digter se ars poetica (verse as medisyne teen die vervlietende tyd en teen die absurditeit van die lewe), sy outobiografie (plaasafkoms, problematiese vaderbinding, die landelike milieu as idille), ideologiese instelling (kritiek op apartheid en Afrikaner-nasionalisme), humor in die werk, vertaling as konstante aspek in sy oeuvre (reikwydte van vertalings, belesenheid in die wye spektrum outeurs uit wie se werk vertaal is), en beperktheid van die poësie (nie grensverskuiwend, of normdeurbrekend nie). Na skoolopleiding op Porterville gaan Toerien vir tersiêre opleiding na Stellenbosch (waar hy saam met Etienne Leroux en Hubert du Plessis, sy neef, in Dagbreek was) en Kaapstad (hier was hy as onderwysdiploma-student in die klas by Van Wyk Louw, wat filosofie van die opvoedkunde gedoseer het, glo “erg vervelig”, en gevolglik het hy die kursus gedop, daarna ’n biblioteekdiploma gevolg). Met die geld wat hy uit twee Afrikaanse pulp-romannetjies verdien het, het Toerien in 1947 per boot na Engeland vertrek, soos baie van die jongelinge van sy generasie. In Londen en Europa het hy ’n tyd lank saam met uitgewekenes soos Uys Krige, Sheila Cussons, Gawie Nienaber en Hennie Truter gereis en gewerk, voordat hy hom in New York gaan vestig het as bibliotekaris by die VVO. Hier trou hy met ’n Tsjeggiese vrou, ook by die VVO werksaam, en het ’n dogter, Janna, wat gimkana afrig op haar perdeplaas in Maryland, VSA. (Dit was sy tweede tuiste vir al om die ses maande vanaf 1993, toe hy kwansuis “permanent die land verlaat” het. Terug het hy egter altyd bly kom, in die ewige pendulum van kom en gaan waarin hy vasgeraak het. Op 87 vir die hoeveelste keer verklaar hy: “My grootste kommer is nou waar om my laaste dae te slyt.”). Hy skei in 1963. Gedurende sy verblyf in die VSA (1949-1983) keer hy elke dekade vir lang tye terug na Suid-Afrika om berg te klim en die “heuning van die name te kom drink”. Hier vat ’n swerwersmentaliteit pos en ’n rusteloosheid wat hom nooit sou verlaat nie. ’n Patroon word vasgelê van voortdurend tussen kontinente te bly beweeg, veral tussen Suid-Afrika, Amerika en Engeland/Europa, wat hy sou volhou tot die einde van sy lewe – ewe tuis op alle kontinente met oral vriende, oud en nuut, en in baie tale tuis. Hierdie kosmopolitiese aard kom sterk na vore in sy briewe en poskaarte deur die jare uit aller oorde. In Augustus 1991 (toe al sedert 1983 terug in Suid-Afrika, gevestig in Holyrood-woonstelle in Koningin Victoriastraat, Kaapstad, en hoofsaaklik besig met bergklimtogte, soveel as hy kan inpas, in die Bolandse berge) vlieg hy na Moskou vir ’n maand, op uitnodiging van ’n Russiese uitgewershuis. Vergesel van Albert Pieterski, ’n jong, Rus as vertaler en metgesel, gaan hy bergklim in die Ukraine, dien as verteenwoordiger van Afrikaans, beland in ’n putsch in Moskou, en belewe veel. Op terugreis in Frankfurt, en later Luxemburg, stuur hy die volgende poskaarte: 1 Sep 1991 Frankfurt/Mainz Hart van my hart! Ek is terug uit die 2de wêreld wat erg stink. Dis ’n verlossing om weg te kom uit USSR, wat neerdrukkende land! Bloemies skitter in vergelyking. Ek het vir jou wel geskryf, maar hul posdiens – soos alles – is opgef**. Hier in F/M is ’n fees aan die gang op die oewers – wonderlike belly dances, akrobate dansgroepe – beter as wat ek nog gesien het. (Is my boek al uit?)* Frankfurt is damn exciting. Moscow is ’n cemetery. B (*Terwyl hy daar is, verskyn sy bundel Parte speel in 1991.) Lux 3 Sep 1991 Hierdie is Fees vir die Fettes: Phantastiese Phoedsel: Schnecken (escargot), Forellen, Belgian Waffles – Leben die Demokratie! Ich fahre ab in einige Minuten. Je t’aime. Baissers. B In 1993 gaan bly hy vir ’n maand of wat alleen in die digter-diplomaat Julian de Wette se ou vervalle plaashuis in Bretagne. Hy kweek groente, ry daagliks per fiets dorp toe (op 72!) vir inkope en koffie in die plaaslike Tabacs, waar “almal jou met die hand groet”, en luister na Janacek, Richard Strauss en Mahler, terwyl hy sy Frans verbeter deur die lees van Xaviera Hollander … En lang briewe skryf, hoofsaaklik in Frans. Later vertrek hy na Berlyn, gaan ’n huis oppas in Darmstadt, en gaan bergklim in die Switserse berge. Briewe en poskaarte uit dié periode dan meesal in Duits. Ek het hom ontmoet op ’n bergklimtog in die Pieke bo Jonkershoek in 1983. Wars van konvensie en pretensie, was hy onder die berg soms ’n moeilike man, maar trippelend op bergpaadjies, singend en neurieënd, pure plesier ... Om “Ode an die Freude” uitgegalm te hoor in sy diep basstem bo in ’n bergkloof, bo die geraas van die bergstroom (“Alle Menschen werden Brüder ... Tochter aus Elysium!”), was ’n sonderlinge ervaring. En sy geheue van lirieke kon verras met rare vondste van wie weet waar. Op ’n Port Elizabethse oujaarsaand in 2001 het hy ter aller vermaak ’n volksagtige liedjie gesing wat hy “as kind op die radio” gehoor het: Koffie is ’n ding wat lekker smaak, water is om mee te was koeimelk smaak te veel na die gras bokmelk smaak vir my ook nie lekker nie maar met wyn saam kan jy binne lekker kry, lekker – tot die diener jou vang! Maar wie’s nou vir ’n poliesman bang? Hierdie tuiswees oor ’n wye spektrum, van verhewene tot banale, was tiperend van ’n man wat ewe veel plesier kon vind uit luister na die musiek van Hindemith of Janacek as uit gesprekke met bergies in Koningin Victoriastraat waar hy hof gehou het in Holyrood, die mooi ou woonstelblok met sig op die Kompanjiestuine, Tafelberg en Duiwelspiek. ’n Ware kosmopoliet was onse Barend, soos ook blyk uit die aanhef van brief ’n dekade later in Junie 2002: Mein Herzenskind, Enfin! Une lettre de toi und die Tinte noch nass! Ja, ek het geen nuus, geen gedagtes geen drome, keine Geschichte. Sonder ereksie geen injeksie en bowenal geen refleksie drum keinen Gedichten mehr … Hieruit blyk ook sy tipiese self-ironisering, debunking van die self, en humorsin: hy is 82 as hy hierdie brief skryf op sy ou tikmasjien met ’n inkerige lint (nooit met komputers kon regkom nie, howel Zoë Wicomb hom op ’n stadium haar komputer geleen het vir ’n tyd lank, in Holyrood waar dit staan en stof vergader het). Sy outobiografie het hy na lang aandrang onlangs aan begin, ook op dieselfde tikmasjien in sy stowwerige eenmanswoonstel. Maar na veertig bladsye het hy gestuit en botweg geweier om verder te gaan, “want dan sal ek oor my pa moet skryf, en dis te onplesierig …” Hoewel hy al in 1946 saam met Cussons, Watermeyer en Ina Rousseau in Stiebeuel gedebuteer het, verskyn sy eie debuutbundel, Gedigte, relatief laat, eers in 1960 toe hy byna 40 jaar oud is. Sy nagelate oeuvre bevat Gedigte (1961), 39 gedigte (1964), Verliese en aanklagte (1973), Illusies, elegieë, oorveë, transfusies (1976), 'n Plek op die land. Catskillverse (1985), Parte speel (1991), Christian Morgenstern: Houtjies van die galg (Vertaal uit Galgenlieder) (1997), Die huisapteek (2001) en ’n bloemlesing uit sy werk deur Louise Viljoen, Om te onthou (2006). Daarnaas ’n reisboek, Augustus in Moskou (1992), genealogiese werke in Toerien-stamboom (1979) en Toerien-familie/family (2002), ’n naslaanwerk, Afrikaans in Translation. A Bibliography (1992), en die historiese werkie oor ’n slaaf en sy eienaar, Die wegraak van Frans Joosten (2004). Vir baie dekades (tot onlangs nog) was hy ook die hoofresensent van Afrikaanse letterkunde in die toonaangewende Amerikaanse tydskrif World Literature Today. Saam gelees, bied hierdie resensies ’n boeiende literêr-historiese beeld van buite op die hoogty van die Afrikaanse letterkunde, én van Toerien se evaluering van ons letterkunde in internasionale verband. Hy was ’n besonderse mens, ’n kleurvolle mens met ’n humorsin soos min … en wat mense erg kon kwaad maak deur sy direktheid – soos die siniese filosoof Diogenes van Sinope, met geen respek vir staat of instansie nie, wat in die vat gebly het. Toe Diogenes eendag in die son naas die vat lê en bak, kom Alexander die Grote verby om na dié raarling te kyk wat in ’n vat woon. “Is jy Diogenes?” vra Alexander. “Ja”, antwoord Diogenes, “Maar staan tog uit my son uit!” So ’n man was Barend Toerien – ’n man wat die son geniet het, sonder aansiens des persoons … Helize van Vuuren NMMU Port Elizabeth
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|