Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Zandra Bezuidenhout (1945– )
Erika Terblance
2009-08-12 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

SêGoed van Zandra Bezuidenhout:

Wanneer weet sy as ’n gedig klaar is? “Wanneer dit klínk; as die klokkie lui sonder dat daar te veel gesê is, en die struktuur my geheel en al bevredig.”

Die mooiste woord in Afrikaans? “Klank. In daardie enkele lettergreep sit ’n hele geluid-reeks, en dan ook nog stilte en betekenis.”

Wanneer is ’n gedig vir haar naby volmaak? “Digkuns moet verras en die leser raak. Beelde moet vars wees. Woordspel moet vernuftig en nuut wees. Tegniek moet nooit doelbewus aangewend word nie. Suiwerheid is die geheim.”

Oor die verwagting vir die tweede bundel: “Dit klink vir my of daar verwagtinge is, maar ook dat die aard daarvan van leser tot leser verskil. Dit maak dit moeilik, maar bied tegelykertyd die uitdaging om eerstens jouself tevrede te stel: jy skryf wat jy nou móét en kán skryf.”

Wat maak ’n gedig goed? “Ek soek ’n gedig wat met my praat, my roer, of my iewers ’n pomp in die ribbes gee. Dit gebeur danksy die teenwoordigheid van elemente soos trefkrag, egtheid, varsheid, tegniese vaardigheid, digtheid en ’n naatlose integrasie van intellek en emosie.”

“Om te dig is vir my ’n spel. Ek wag nie op inspirasie nie, omdat ek permanent in my kop en hart en niere daarmee besig is; dis onkeerbaar, dis ’n passie. Daarom is dit ook gevaarlik, want jy moet jouself dissiplineer om nie te maklik en te veel te skryf (of te publiseer) nie. Jy moet gedurig proppe indruk, en eers laat gis.”

Hoekom skryf sy poësie? “Dit is my manier van met die wêreld omgaan; af te tas in die self, in die ander, die samesyn, die bestaan, die verhouding met die Ewige. So skep, benoem en voltooi ek in ’n mate my werklikheid; poësie is vir my ’n soort gemeenskap met al die verrukking, vreugde en droefheid van die lewe.”

Oor die titel Dansmusieke: “Ek ervaar die lewe soos variasies van ’n dans met dieselfde ritmiek, polsing en passie.”

Oor literêre kritiek: “Na my mening is ons literêre kritiek ingelig en regverdig, en dit lyk of resensente respek toon vir die gepubliseerde woordkuns – al is daar diegene wat pleit dat ons mekaar ’n bietjie meer moet karnuffel.”

“’n Mens kies werklik nie vooraf jou temas en besluit of jy daaroor sal skryf nie. Dit besoek jou in oomblikke van weerloosheid en verwondering. Persoonlik stel ek my oop vir alles; dit gebeur net so dat jy op ’n sekere tyd gedrewe voel om woord en dink en voel by mekaar uit te bring – ongeag die tema.”

“Ek het baie dink- en droomtyd nodig, en wil dat alles onder die son my aandag binnedring, veral om te kan skakels maak tussen tema en tema.”

Oor die Groot Verseboek in die algemeen: “Ek het met groot ontsag ... oral ligte potloodmerkies gestip, en gedink dit moet vir enige mens ’n Everest-ervaring wees om ’n vers daarin gepubliseer te kry.”

En noudat sy self daarin opgeneem is: “Ek voel naak op Everest, ja.”

Oor die Groot Verseboek in ’n blik: “Myne het nou al op tien plekke in die huis gestaan en is oral ewe onaptytlik, immer in die pad, ongemaklik om te hanteer, en ja, bliksems blikkerig.”

“Digterskap is ook werk.”  

Gebore en getoë

Zandra Bezuidenhout is op 15 Junie 1945 in die Strand in die Wes-Kaap gebore. Sy is gedoop Susanna Margaretha Bauermeister, maar haar noemnaam is Zandra. Sy word groot in die see en op Melkbaaistrand.

Sy vertel aan Jac Kritzinger op LitNet dat wanneer haar ma smiddae geslaap het, sy haar digbundels van Visser, Du Plessis en die ander ouer digters uit die buffet gehaal en vir hulle huishulp voorgelees het terwyl sy stryk of kosmaak.

Zandra voltooi haar laerskoolloopbaan aan die Laerskool Hendrik Louw in die Strand en dit is hier waar haar eerste gediggie, “O, skone lente!”, in Die Jongspan gepubliseer word toe sy nog net tien was.

Sy matrikuleer in 1962 aan die Hoërskool Hottentots-Holland in Somerset-Wes.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Zandra gaan na skool na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1965 haar BA-graad behaal met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke. Gedurende haar derde studiejaar is sy lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Sy gaan werk aanvanklik as vertaler in Pretoria, waar sy in 1966 in die huwelik tree met Gert Johannes Bezuidenhout van King William’s Town; hulle ken mekaar reeds sedert hulle universiteitsdae. Drie kinders, Charl, Gerhard en Marga, is uit die huwelik gebore. Zandra was gedurende hierdie jare baie entoesiasties betrokke by die versorging van haar gesin en huis. Sy en haar man woon sedert 1992 op Stellenbosch.

Zandra studeer verder aan Unisa en in 1977 behaal sy haar Hoër Onderwysdiploma. Na hulle verhuising na die Kaap gee sy onderwys in Afrikaans en Engels aan verskeie hoërskole in die noordelike voorstede van Kaapstad. Sy behaal haar magistergraad met onderskeiding onder Lina Spies. Sy was die eerste uitruilstudent van Stellenbosch wat as deel van die magisterkursus ’n jaar lange Nederlandse letterkundestudie aan die Rijksuniversiteit van Leiden onderneem het. Dit gebeur in 1994/5. Die tweede deel van die studie is gewy aan ’n skripsie oor die laat-fase-poësie van Elisabeth Eybers.

Zandra was van 1992 tot 2004 assistent in die Departement Afrikaans en Nederlands en die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

In 1999 en 2000 doen sy sewe maande lank navorsing in Nederland en België vir haar doktorsgraad en vanaf 2001 wy sy haar aan die voltooiing van haar proefskrif vir die graad DLitt. Die DJ Opperman-beurs vir letterkundestudie word in 2001 aan haar toegeken en in 2005 verwerf sy haar doktorsgraad onder leiding van prof. Dorothea van Zyl onder die titel Sosio-literêre perspektiewe op die eietydse digkuns van vroue in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde.

Zandra begin vanaf 1994 ernstig skryf en haar gedigte word vanaf 1995 in literêre tydskrifte soos Concept (’n Vlaams-Nederlandse-Afrikaanse publikasie), Tydskrif vir Letterkunde, Insig, Boekewêreld, LitNet, Meander (’n Nederlandse elektroniese poësietydskrif), Karapaks, Vlugskrif en Penseel gepubliseer. In 2000 word haar gedig “Apollo in sy laboratorium” aangewys as een van die vier finaliste in ’n Nederlandse poësiekompetisie en opgeneem in die bloemlesing Tegen beter weten wat in Amsterdam gepubliseer is. Drie gedigte uit haar eerste bundel, Dansmusieke, word ook opgeneem in Groot Verseboek 2000 en in die elektroniese weergawe, Verswêreld.

Zandra spreek gereeld leeskringe toe en neem deel aan voorlesings van haar eie gedigte by die Woordfees, die Dorpstraat Teaterkafee en die KKNK. Sy lees ook van haar gedigte oor die radio voor. Sy lees gedigte – haar eie en van ander Afrikaanse digteresse – by poësiegeleenthede in Amsterdam en Leiden.

In 2002 neem sy deel aan Elly de Waard se poësieslypskool in Leiden en aan die Nederlandse Taalunie se werksessies in literêre vertaling te Utrecht en Antwerpen. Nederlandse vertalings van haar gedigte deur Jacqueline Caenberghs het in Maart 2001 in die Vlaamse Letterkunde- en Kunstydskrif Deus ex Machina verskyn. Sy doen op vryskutbasis vertaling en skryf letterkundige en/of kulturele artikels vir onder meer Die Burger, die destydse Insig en De wereld morgen van België.

Zandra se eerste digbundel, Dansmusieke, word in 2000 deur Suider Kollege Uitgewers gepubliseer. En in 2001 word dit met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Die beoordelaars van die Ingrid Jonker-prys, Ronel de Goede en MM Walters, was eenparig in hulle besluit. Hulle het melding gemaak van die afgerondheid van Bezuidenhout se verse en die netjiese strukturering van die bundel. Hulle het die bundel bestempel as ’n debuutbundel wat getuig van rypheid, belesenheid en ’n ondersoekende gees.

Zandra vertel in ’n onderhoud dat Dansmusieke veral te make het met beweging, uitbundigheid en genot – “'lewensmusieke’ wat jou laat dans, selfs by die verdieping aan die einde”. In Kaapse Bibliotekaris van Maart/April 2003 skryf Zandra dat as geheel wil hierdie bundel ’n viering van die dans van die lewe wees. “Elke afdeling verteenwoordig ’n sekere oerbeweging van die lewe en ’n meedoen of saamdans met bepaalde musieke op die lewenspad – soms met passie en vreugde, ander kere met pyn en rou. Die onderliggende boodskap is dat al hierdie ervaringe met oorgawe beleef kan word, en selfs ’n sekere skoonheid verwerf soos wat elkeen sy eie ‘dans’, ‘musieke’ of ‘dansmusieke’ vind om self betekenis daaraan te gee.”

Bernard Odendaal beskryf Dansmusieke as ’n debuut wat genoeg bevat wat digterlik uitstaande is vir Bezuidenhout om toekomstige digwerk met selfvertroue aan te pak. AP Grové meen dat elke afdeling sy verrassende vindinge en oortuigende gedigte bring. “Die bundel as geheel maak ’n volwasse indruk, veral danksy die digteres se vermoë om te objektiveer, afstand te kry en deur verskillende brille na die werklikheid te kyk. Terugskouend is dit duidelik dat die aksent op die dans juis die objektiveringsideaal wou beklemtoon.”

Volgens TT Cloete is die titel van die bundel goed gekies, aangesien dit ritmies dansende en kenmerkend musiese gedigte is en hy meen dat alles bymekaar Dansmusieke ’n bundel vol mooi gedigte van ’n aantreklik liriese egtheid is, “gedigte van eenvoud, bowendien is dit ’n bundel met ’n mooi verskeidenheid ondanks die miskien te veel herhaling van sekere beelde en motiewe. Dit is nietemin onmiskenbaar gedigte van ’n lirikus met ’n gawe vir dansmusieke.”

Zandra se tweede bundel, Aardling, word in 2006 deur Protea Boekhuis in Pretoria uitgegee. Sy vertel tydens die Versindaba op Stellenbosch dat die bundel gaan oor die mens as aardling, “die ‘geaardheid’ van ’n wese wat enersyds in die aarde gewortel is, daaruit groei en bloei, en tegelyk daarvandaan uitreik”. Volgens haar is daar in Aardling, soos in haar eerste bundel, ook sprake van die fisieke en die sintuiglike, maar die verwondering oor die verstrengeling van stof en gees staan sentraal.

In Literator skryf P Verster dat die gedigte in Aardling van wisselende gehalte is, maar dat die bundel die blootstelling verdien om gepubliseer te word en Verster is oortuig dat die bundel veel vreugde aan ’n wye leserskring sal bied. “Die leser word inderdaad op bevatlike wyse op die lewensreis van die aardling betrek en verskeie gedigte sal gevind kan word waarmee hy/sy sal kan vereenselwig.”

Ampie Coetzee meen dat die titel meer suggereer as wat dit sê – soos assosiasies met swerweling, enkeling, bekeerling, hemeling; en van dié betekenisse kan ook hier opgeroep word. “Ook die titels van afdelings markeer sekere tydperke in die lewe van die verteller. ‘In Stof’ is jy gebore; ‘Deurreis’ deur Europa, en die lewe is ook ’n reis; ‘Tot Stof’ sal jy terugkeer; en ‘Gees’, waar die geestelike oorheers. Hierdie poëtiese ‘dokumentasie’ (maar dis nie tot die letter presies uitgemeet nie) gee struktuur aan die bundel, en leiding vir die leser. [...] Aardling is ’n baie aangename bundel.”

Fanie Olivier beskou Aardling as ’n veel sterker bundel as Zandra se eerste een, waar daar onsekere versgrepe, slordighede en heelwat herhalings was. Hy meen dat daar tematies wel talle ooreenkomste tussen die twee bundels is, terwyl Zandra weer eens die formele organisasie van die gedigte knap hanteer. Die gedigte in die eerste afdeling ontsnap nie altyd aan die sentimentele nie en die afdeling sou gebaat het by ’n strenger snoeiskêr. “Ek vemoed dat die digter nog steeds huiwer tussen stoor en fles, opgaar en inmaak – tien weggesnoeide gedigte sou dit iets buitengewoons gemaak het. Daar is genoeg gedigte wat ek weer en weer wil lees, en heerlike versreëls vir die sprokkel, maar ek voel iewers dat ons in Aardling nog nie die beste van Zandra Bezuidenhout gesien het nie.”

Zandra het dit aanvanklik oorweeg om musiek te studeer en is ’n nasaat aan moederskant van die bekende Paarlse komponis en orrelis Rocca Catorzia de Villiers. Sy vind in die musiek, die dans, en trouens al die kunste, ’n sterk stimulus vir die skryf van poësie, en het ’n besondere aanvoeling vir klank en ritme. Sy is ’n hartstogtelike Bolander en haar voorsate aan albei kante was meestal van die Paarl en Wellington. In ’n biografiese skets vertel sy dat sy haar skryftalent kon ontwikkel danksy al haar mense se vindingrykheid met die taal, hul belangstelling in en aanvoeling vir die estetiese, en hul gemoedelike omgaan met mense.

Zandra vertel dat sy selfs terwyl sy haar drie kinders grootgemaak het en skoolgehou het, voor haar siel geweet het sy gaan nog eendag skryf. “Daar was baie gedagtes en woorde wat gewag het om op skrif gebore te word. Ek het net vir die regte oomblik gewag.” En daardie oomblik breek toe aan terwyl sy met ’n atletiekbyeenkoms die kinders in rye moes laat afmarsjeer om te gaan roomys koop. “Op die sportpaviljoen het ek in ’n klinkklare oomblik besef ek is nie gemaak om roomysroetes by skole uit te werk nie. Ek het net daar gedros na die universiteit en gaan aanmeld by die Departement Afrikaans en Nederlands sodat ek my letterkundeloopbaan kon voortsit en hopelik begin skryf.”

Sy sien haarself as ’n gedrewe eerder as ’n gedissiplineerde skrywer, en sy skryf veel meer as wat sy publiseer. “Ek verwonder my aan alles, en wil dan met woord en gedagte speel soos ’n kind met Lego of volwassenes met blokkiesraaisels. So probeer ek op my manier ’n greep op ontwykende dinge kry, terwyl ek spelenderwyse iets staanmaak.”

Zandra is baie lief vir mense, die see en die natuur in al sy verskyningsvorme. Sy lees graag oor die godsdiens, filosofie en die kunste en hou van reis en die teater.

Sy reken dat die Nederlandse digters haar van die begin af besonder geboei het omdat sy in hulle werk ’n dimensie van diepte en verfyning herken wat haar geweldig aangespreek het – iets wat sy nie altyd by Afrikaanse digters aantref nie. Baudelaire en Mallarmé is twee Franse digters wat Zandra fassineer, veral omdat sy nie hulle werk in vertaalde vorm hoef te lees nie, aangesien sy Frans magtig is. Sy geniet dit ook om die vertalings te lees van die werk van Pessoa, Montale, Szymborska, Achmatova, Enzensberger en baie ander. “Maar ek moet nog baie meer kennis opdoen van hulle werk. Wat Afrikaanse digters betref, het ek werklik poëtiese verrukking vir die eerste keer deur die werk van NP Van Wyk Louw ondervind. En Breyten Breytenbach is ’n unikum in ons taal. Vir Stockenström het ek groot respek.”

Zandra vertel aan Marius Crous op LitNet dat sy haar wel aan kritiek steur: “mens leer uit almal se sienings, maar ek lees ook wat in die kritiek ongesê bly, of onderspeel of geïnsinueer word. Tog spreek geen enkele resensent die laaste woord nie. Reaksies van lesers (leke, kenners, kritikasters) kom op vele ander maniere na vore, en selfs jou eie instink en kennis lei jou.”

Op ’n vraag van Madri Victor of ’n mens as digter gebore word, antwoord Zandra dat digters gebore word met ’n ontvanklikheid vir die wonderbaarlike en as jy nie weet wat dit is nie, is jy geen digter nie. Hulle word ook gebore met die vermoë, sowel as die drif, om skeppend met taal om te gaan. “Jy word vroeg in jou lewe hiervan bewus, al doen jy nie dadelik mee nie. Dalk is dit goed om dit in die geheim te laat sluimer tot jy ryper is, maar oefen solank vir die laai – wie weet! Maar dan moet hierdie aanvoeling, belangstelling en vaardigheid egter ontwikkel en geslyp word. Dis ’n lewenslange proses wat slegs kan gedy deur liefde vir jou vak, toewyding, oefening, en ’n voortdurende blootstelling aan die literatuur.”

Die nuwe uitgawe van Groot Verseboek (2008) bevat nog sewe van Zandra se gedigte uit haar tweede bundel, Aardling, terwyl ses van haar kinderverse in die Nuwe Kinderverseboek (2009) opgeneem is. Zandra is tans ook 'n medewerker aan die komende nuwe Bybelvertaling.

 

Terug na bo

Publikasies:

Publikasie

Dansmusieke

Publikasiedatum

2000

ISBN

0620263377 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch : Suider Kollege Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 2001

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Aardling

Publikasiedatum

2006

ISBN

1969191285 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Coetzee, Ampie: Reis deur lewe én vreemde in heerlike verse vergestalt
  • Hugo, Daniel: Daniel Hugo resenseer Aardling deur Zandra Bezuidenhout
  • Olivier, Fanie: Heerlike versreëls vir sprokkel
  • Artikels oor Zandra Bezuidenhout beskikbaar op die internet

  • Kritzinger, Jac: ’n Vis kry ’n ekstra paar vinne: Jac Kritzinger gesels met Zandra Bezuidenhout
  • Zandra Bezuidenhout
  • Zandra Bezuidenhout: die klank van die aarde
  • Zandra Bezuidenhout
  • Victor, Madri: Verskliniek: Zandra Bezuidenhout
  • Artikels deur Zandra Bezuidenhout beskikbaar op die internet

  • ABSA Ketting: Zandra Bezuidenhout gesels met Gilbert Gibson
  • Afrikaans klink aan verre strande [artikel]
  • As die taal die dag sy gatkant wys [Taalskatkis]
  • As mens die taal blink vryf, dan skrie hy eers [Taalskatkis]
  • As tale van hare verander [Taalskatkis]
  • Bewaar tog asseblief ons taal van Afri-knolle [artikel]
  • Bontpraters, twakpraters en galbrakers Afrikaans en Nederlands [Taalskatkis]
  • Brief aan Oostende [gedig]
  • “Dan sê meneer die vis is duur?” [Taalskatkis]
  • Dis die saampraat wat die verskil mak [Taalskatkis]
  • Erica recurvata [gedig]
  • Falliese vrou [gedig]
  • Feestelike potjiekos van woorde in Eikestad [Taalskatkis]
  • Gaan op taalreis sonder die bagasie [Taalskatkis]
  • Gedigte
  • Die gedoente met “doen” [Taalskatkis]
  • Groot pool praat Afrikaans [Flapteks]
  • ’n Haikoe vir Augustus [gedig]
  • “Hertaling”: die Afrikaanse roman op weg na welgelesen [artikel]
  • Hoe dink vol taal sit, en taal vol dink [Taalskatkis]
  • Intiem [gedig]
  • Jy’t ’n aanspraak op jou uitspraak [Taalskatkis]
  • Kan Engelse gedigte ook Afrikaans praat? [Flapteks]
  • Kelderkwatryn [Mont du Toit-kwatryn]
  • Kombuistaal of taalkombuis? [Taalskatkis]
  • Die kosbare kraak van my koerant [Taalskatkis]
  • Laat Anna jou van valse vriende red [Taalskatkis]
  • Lekker kopstamp met woorde nou nog [Taalskatkis]
  • Lentetyd is Leipoldt-tyd [Taalskatkis]
  • Met woorde van lig, uit liefde gemaak [Taalskatkis]
  • Die middag van die ooms [gedig]
  • Middelwêreld [gedig]
  • Min kanse om Poolse grote te leer ken [Flapteks]
  • Nie die wat nie, maar die hoe [Taalskatkis]
  • Niks soos die vonkel in die oog van die pedagoog [Taalskatkis]
  • Nuwe oeuvre, nuwe geluid [Taalskatkis]
  • ’n Ode aan die radio [Taalskatkis]
  • Olimpies [gedig]
  • Om eiewys te wees is (soms) ’n deug [Taalskatkis]
  • Omen[gedig]
  • Oor boeke en briewe en g’n rakleeftyd [Taalskatkis]
  • Op die spoor van redekawel [Taalskatkis]
  • Priesteres van digkuns en voedoe praat poësie [onderhoud met Maria van Daalen]
  • Praat ons nou van dieselfde ding? [Taalskatkis]
  • Rêverie: Midi [gedig]
  • ’n Ruiker vir die knoopsgat van die skrywer [Taalskatkis]
  • So is onse maniere gemessel in onse tale [Taalskatkis]
  • Sonder lees is ons onnosel [Taalskatkis]
  • Spel-spel deur die koerant [Taalskatkis]
  • Summer holiday [gedig]
  • Susters van Sestig [artikel]
  • Die taal is so slim soos sy spreuke [Taalskatkis]
  • ’n Taal se tekstuur sit in sy klank [Taalskatkis]
  • Taaltrommels se versteekte bodems [Taalskatkis]
  • Taalvitters, taaltassie(s) en taalpitperskeboom [Taalskatkis]
  • Tolk [gedig]
  • Transformasie Junie 2008 [gedig]
  • Tuistoerisme in eie taal [Taalskatkis]
  • Van roomys en rock [kortverhaal]
  • Van roomys tot rock [kortverhaal]
  • Die vertaler as kulkunstenaar [Taalskatkis]
  • Vreemde oorde van ons taal en woorde [Taalskatkis]
  • Die vyftigerjare: hemel van sand en see [artikel]
  • Wasprogram [gedig]
  • Wat is ’n knaap sonder ’n katel en ’n katel sonder ’n knaap? [Taalskatkis]
  • Wat maak die taal met die susters? [Taalskatkis]
  • Wees versigtig met benaminge, want woorde is stempels [Taalskatkis]
  • Wêreldrekordboek [gedig]
  • Terug na bo


    Terug na bo

    Bygewerk: 2009-08-12
    Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



    Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




    The Dean's concert @ Wits
    Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
    Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

    Word 'n Vriend van SêNet

    Read more about Gillian Schutte
    © 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
    Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
    Webblad ontwerp deur