| Om ’n volk se onderbroek te vergat |
Deborah Steinmair
Iemand het my vertel van ’n boek oor volkere se nasionale psiges, hoe dit gevorm word en hoe dit hul gedrag definieer. Suid-Korea het blykbaar onaanvaarbaar baie vliegrampe omdat loodse, weens die oorbeleefde aard van hul nasionale persoonlikheid, dit nie regkry om vir die beheertoring te blaf: “F*k, ek is in die moeilikheid, maak plek vir my, ek moet onmiddellik land!” nie. Dit het my onwillekeurig laat dink aan Afrikaanse mans se onderbroeke, wat die joos weet ook moet dui op ’n dieperliggende psigologiese letsel. In Yolanda Barnard se boek Laat die ponies galop onthul sy dat Amore by geleentheid vir haar gesê het sy háát dit as Joost sy onderbroeke met gate in die laai bêre. Kom ons erken dit maar: ons mans se vuil wasgoed is verslons. Kyk, elke nasie het onderbroeke wat uithang. Italiaanse, Franse, Amerikaanse, noem maar op, politici, sportsterre, sangers word met die onderbroek op die enkels betrap. Die verskil is egter: hierdie mans se onderklere is onberispelik presentabel, waarskynlik ontwerpersname met die winkelvou nog sigbaar. Terwyl Joost nou die tweede Afrikaanse man is wie se onderbroek vol gate aan die openbare wasgoeddraad gehang word: Onthou julle nog toe Eugène Terre'Blanche destyds van sy perd afgeval het? Met die joernalis Jani Allen is sy groen onderbroek met gate aan die groot klok gehang. Toe die vroetelvideo van iemand wat op ’n druppel soos Joost lyk, die geel pers slaan, het hy presies geweet waar hierdie raaiselagtige Doppeltgänger die Afrikaner die lelikste in die steek gelaat het en waar dit nodig is om vure dood te slaan: hy het onmiddellik ontken dat hy onderbroeke met gate dra. Het Terre'Blanche ook die groen onderbroek met gate probeer verloën (“ek ken hom nie”)? As hy geweet het wat regtig belangrik was, sou hy. Toe ek ’n kind was, is ’n mens altyd gemaan om ordentlike onderklere te dra, want "jy weet nooit wanneer is jy in ’n ongeluk en word hospitaal toe gejaag nie". Wyse woorde en woorde waarna hierdie mans dalk liewer moes geluister het. Helaas, te laat: die nasionale psige is diep vergat. Miskien is ek rassisties, maar ek glo swart mans het meer styl as wit Afrikanermans. Toe ons president in die stort gegly en bo-op ’n huisgas en binne-in al die spotprente beland het, was daar ten minste geen sprake van stukkende onderklere nie. Sodoende het sy beeld as seksbom ongeskonde gebly. Ek voel sterk dat wit Afrikanermans se knaters ’n spindokter benodig, ’n beeldpoetser. Miskien ’n Calvin Klein-reklameveldtog van Afrikaanse ikone in splinternuwe, skitterwit onderbroeke? My vriend Krisjan Fourie het eenkeer ’n pendoring gewen vir sy reeks "Afrikaners is plesierig"-kondome ("Wat maak oom Kalie daar?" ensovoorts). Miskien kan hy sy talent hier inspan? Solank as die rietjie in die water staan? Mense is eenmaal visueel ingestel, en die simbole wat ons definieer, word onuitwisbaar op die kollektiewe retina ingebrand. En dis nie net mans wat ’n vinger in die volk se geestesoog steek nie. Vandag is vrouedag en helaas, as ek dink aan onvergeetlike Afrikanervroue, doem die moerige, kompromislose gesig van Daisy de Melcker voor my op. Sy wat vir ewig ’n bad hair day het. Onse Daisy was ’n vrou wat haar stempel afgedruk het. Selfs in die dood het sy lotsbestemmings bepaal: Bridget Hilton-Barber skryf in haar boek Garden of my Ancestors dat haar briljante (Afrikaanse) grootoom, Botha de Meillon, dokter wou word en uitstekend gevaar het in sy mediese studies, tot hy eendag ’n kadawer kry om te dissekteer en vaskyk in die pers, verbete gesig van die gehangde Daisy de Melcker. Hy het flou geval, sy kursus verander en entomoloog geword. Ja, Afrikaners maak hul merk. En ons volkie moet opgevoed word. Miskien is dit soos seksvoorligting. Dit help dit nie om vir mense te sê: Moenie skeef trap nie; of selfs: Moenie uitgevang word nie. Die beste wat ’n mens kan doen, is dalk maar om te maan: Was gereeld jou hare en dra heel onderklere.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|