Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Heupvuurvrae aan Johrné van Huyssteen oor DEKAT op TV
Melt Myburgh
2009-07-23 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Melt Myburgh het geklets met Johrné van Huyssteen, ddisselblom-sanger en aanbieder van DEKAT, Vrydagaande om 21:30 op SABC3.

Baie geluk aan die DEKAT-span met die program wat Vrydagaande op SABC3 uitgesaai word. Wat is die reaksie op dié joernaalprogram tot dusver?

Op ons webwerf by www.dekat.co.za is daar ʼn hele paar kommentare. Die reaksie is geweldig positief. Ek is al oor die vingers getik omrede ek my taal “mieks”, maar dit is as jy ses jaar lank op ʼn jeugkanaal gewerk het en alles is cool en happening en die dudes is awesome. Ek werk hard daaraan. Die negatiewe kritiek is meestal opbouend en ons groei week vir week.

Daar is nie ʼn tekort aan ʼn aweregse humor in die program nie, veral nie met jou as aanbieder nie. Is humor spesifiek ʼn strategie wat julle inspan om kykers te vermaak? Hoe sien julle die saak?

Dit was nie vooraf beplan nie, maar was ʼn natuurlike proses. Ek glo dat as mens snaaks probeer wees op televisie, dit dadelik gesien kan word. Ek dink dit is eerder nonsens praat met die nodige inligting as om op komedie te fokus. Die reaksie op die aweregse kommentaar was sover positief en ek is bevoorreg om baie vryheid te geniet met wat ek kwytraak. Dit skep definitief ʼn meer ontspanne atmosfeer in die program as presiese woord-vir-woord-uitgewerkte sêgoed. Dit kan maklik gebeur dat iemand ʼn aanbieder moet speel soos ʼn akteur, eerder as om net jouself te wees.

Maar dit werk nie so lekker as iemand aanbieder “speel” nie. Neem nou maar vir Paul Rothman van SABC2. Hy kom wel baie natuurlik oor as hy ʼn Speedo aan het, nie waar nie? Ewenwel, jy is ewe tuis op ʼn Afrika-olifant se rug as in ʼn Switserse borrelbad. Ek veronderstel jy sien deesdae die hele wêreld?

Ons is nog nie op die wêreldwye vlak van toer nie, maar die geleenthede wat mens kry om nie op eie koste te toer nie, is ongelooflik. Ek is in Augustus op pad Zim en Botswana toe met die Rovos Rail. Daar is nie eers genoeg geld op my kredietlimiet as ek dit self moes betaal het nie, so ek voel geweldig bevoorreg. Switserland was werklik ʼn heerlike werktoer, en ek hoop dit maak deure oop vir vele meer. Ons wissel ook toere af met aanbieders; dit is ʼn jarelange DEKAT-beginsel en elkeen word iewers bederf vir harde werk.

Ek dink laasgenoemde is so onnodig. Kan hulle nie maar net vir jou op al die toere stuur nie? Maar waaroor ek wonder is: Watter effek het die TV-program op die gedrukte weergawes van DEKAT?

Die televisiemedium is baie nuut vir ons en dit is nog baie vroeg om werklik die verskil te bepaal. Die navraag vir die tydskrif is baie groter en daar is ook praktiese dinge opgestel vir as jy nie die tydskrif op die rak kry nie. Op die webblad kan jy ons dadelik bewus maak van waar jy is en ons vind uit hoe om meer tydskrifte in die omgewing te kry. Ek dink daar was jare verwarring oor DEKAT se bestaan, maar die televisie is besig om die verdraaide beeld te verander. Ons is nog altyd hier en ons streef na beter en beter.

Julle is ʼn interessante groep aanbieders – van Nataniël wat kos maak tot ... uhm ... jy! Vertel my van jou kollegas.

Nataniël is ʼn legende. Mense kan nie wag vir sy kos-insetsel nie. Al die resepte is ook op die webblad beskikbaar. Dit is vir my ʼn geweldige voorreg om ʼn program met hom te deel. Die roete wat ons gevolg het, was om mense as aanbieders te gebruik wat by DEKAT werk. Ons redakteur, Louïne van der Vyver, maak ʼn uitstekende aanbieder vir ons meer ernstige stories. ʼn Nuweling is Katlego Maboe, wat ook deel is van die sanggroep Flip a Coin. Met geen vorige ondervinding in televisie nie is hy so natuurlik voor die kamera, dis abnormaal. As ek ʼn voorspelling kan waag: hy sal nie sommer in sy lewe weer van televisie af verdwyn nie. Hy is gemaak vir die kassie. Ons motorinsetselaanbieder, Charleen Clarke, is al 25 jaar betrokke in motorjoernalistiek en is ook die president van die SA Gilde vir Motorjoernalistiek. Dan is daar ook die avontuursoeker Minette de Villiers. Sy is die grafiese ontwerper en fotograaf en is prentjiemooi en vol energie. Ons grootkokkedooronderhoude word gevoer deur die uitgewer van DEKAT, Elzilda Becker, en sy is nie skaam om die moeilike vra te vrae nie.

Ja-nee, as ek die redakteur was, sou ek jou seker ook maar van die moeilike vrae weggehou het. Maar ek stem saam, die ander aanbieders is almal talentvol en mooi. Hehehehe. Wat is jou kommentaar aan mense wat julle daarvan beskuldig dat julle elitisties is?

Ons meng nie met hulle nie, hehe. Nee, net ʼn grappie. Ek dink as jy die tydskrif ken en lees, sal jy sien dat die balans tussen die gewone en die meer gewigtige artikels baie goed is. Dit is ʼn persepsie wat ons vir seker nie wil hê nie. Ek dink as jy ʼn tydskrif is wat ʼn koffietafelboek word, kan die idee posvat, maar hy hou so lank, want ons wil hê almal moet dit lees.

Ja wat, en buitendien het nie almal koffietafels nie, nè? Jy is egter ʼn man wat nie skaam is om jou opinie oor ʼn verskeidenheid aangeleenthede te lug nie – veral op LitNet se SêNet. En dan kry jy ook altyd so lekker pak by ander bydraers. En jy het die wonderlikste byname, soos Uintjie van Huyssteen. Hoe ervaar jy SêNet?

Ek kry meestal pak by die meer regse “denkers”. My vrou sê altyd dat ek soms my punt in die ekstreem wil oorbring en soms word ek misverstaan. Om die mense agter die skuilname en gewone name te ontmoet is vir my altyd ʼn SêNet-hoogtepunt. Wat my wel grief, en dit was nog altyd so, is dat as jy enigsins in die openbare oog is, sal jy altyd aangevat word omrede jy jou opinie lug, maar enigiemand anders het vrye teuels. Elkeen is geregtig op ʼn opinie, arm, ryk, dom en genie, solank ons menslikheid respekteer en versigtig omgaan met moddergooi.

Versigtig met moddergooi op SêNet? Seker as die perde horings kry! Maar nou eers ietsie musiekliks: ddisselblom gaan van krag tot krag, en dis behoorlik ʼn familiepoging, nie waar nie? Hou dié ondertrouery darem voordele in vir julle?

Ons is beste vriende ook – al die groeipyne is na nege jaar uitgesorteer en ons ken mekaar werklik uit ons koppe uit. Ek dink die band is baie sterk – ons sal vuisslaan vir mekaar. En glo my, Lienka kan ʼn appel swaai as jy aan my of Jaco raak! Dit is ook belangrik dat ons drie individue bly wat elkeen nie sonder die ander kan klaarkom nie. Dit is soos SêNet – dit is my opinie en nie soseer ddisselblom sʼn nie, maar ek glo ons het dit reggekry om elkeen sy eie stem te kon vestig.

Is daar ʼn nuwe ddisselblom-album in die pyplyn?

Ons is besig met ons vierde album; dit behoort teen September klaar te wees. Ons het ook vir die eerste keer ʼn kontrak geteken met Select Musiek. Dit is so ʼn voorreg om met hulle geassosieer te word; dit is die beste nuwe familie wat die blommefamilie kon kry. Ons het ook vir die eerste keer saam met ʼn ander liedjieskrywer gewerk, so as dit by sterk liedjies kom, gaan daar vele wees, en die album is ook beter gestruktureerd. So hou die rakke dop en die ore oop.

Geniet jy Johannesburg – daar waar DEKAT gesetel is?

Ek is so nie ʼn Johannesburger nie en probeer daagliks die baas se arm draai dat ons iemand in die Kaap nodig het. Ek dink ek gaan sommer dat sy my antwoorde proeflees net om hierdie sin weer te lees.

Sê vir jou baas ek is klaar in die Kaap; and I’m the only one in the village! Ernstig nou: Breyten Breytenbach het jou eenkeer op Oudtshoorn gevra hoe ʼn lelike mannetjie soos jy dit regkry om so ʼn mooi vrou te hê. Wat was jou antwoord?

Alet het dadelik vir my in die bresse getree en vir hom gesê ek is pragtig. Hy het haar nie geglo nie. Vir my was dit die grootste kompliment, want as Breyten dit gesê het, wie gaan met hom stry, ek dare jou, hehe. Ek gee ook hoop vir al die waterverf-ouens daar buite – dit is nie net die olieverfmanne wat die mooistes kan haak nie.

As jy vandag die Lotto wen – sê maar so R30 miljoen – wat sal jy aanvang?

Die presiese plan is al uitgewerk. Sal helse groot advertensies uitneem in DEKAT, my familie sal almal vir altyd kan gaan uiteet, ddisselblom sal in styl toer en ek sal onmiddellik my kantlynbesigheid www.musicformaize.co.za van die grond af kry. Gaan loer gerus.


 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


Shakespeare het die antwoord
DINSDAG; 09/02/10, EERSTE UITGAWE
'n Diskoers oor niks

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Chris van Wyk
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur