Erika Terblanche
| | | SêGoed van Philip de Vos: “Ek kyk liewer nie in kristalballe nie. Toe ek die tarotkaarte gelees het, was dit of hulle van my besit geneem het. Ek wil nie meer weet wat die toekoms inhou nie.” “Ek weet nie watter spanning dit kan meebring as ek vir ’n lewe móét skryf nie. Nóg sang nóg skryf was tot dusver vir my ’n loopbaan: Dit was ’n lekkerte wat ek intuïtief gedoen het.” “Ek’s soos ’n duisendpoot: Vra hom met watter voet hy eerste loop en hy kan nie roer nie. Ek doen eerder dinge, sonder om dit te ontleed. Ek raak vies as mense te veel in my goed lees.” “Ek het mos nooit grootgeword nie.” “Als wat ek doen is intuïtief. As ek dig dan is ek ’n digter, as ek foto’s neem, is ek ’n fotograaf.” “Het ek iets geweet van tegniek, het ek seker veel minder uitgerig. Nou doen ek maar my ding en hoop dat ander mense ook so nou en dan plesier het uit dit wat ek probeer sê.” “Ouer as twaalf sal ek seker geestelik beswaarlik word. Dit is seker waarom ek nog steeds kan skryf oor goggas en diesulkes terwyl my vriende van dieselfde ouderdom maar net hulle grys koppe kan skud en sê: ‘Ag, sjym!’ Dis alleen as ek in ’n spieël kyk dat ek besef daar is plooie en ander nare goed, andersins bly ek steeds nog daar êrens in ’n voor-adolessente stadium vasgevang.” “Ek skryf nie doelbewus vir iemand nie. Ek skryf basies vir myself. Gelukkig geniet kinders en volwassenes dit. Ek twyfel of ek ’n suiwer kindervers kan skryf.” “Rym is vir my baie belangrik. Ek maak kombinasies met rymwoorde, en dan kry ’n mens allerhande belaglike ryme wat jou op ’n spoor bring.” “Ek word snags wakker en tik ritmes uit met my vingers. Ek het gewoonlik ’n idee van die vers, maar dan moet ek eers die ritme regkry.” Wat het sy depressie hom geleer? “Ek glo ek het meer meelewing en simpatie met my medemens. Ek waardeer ook die lewe meer. [...] Jy kom skielik agter daar is soveel wonderlike dinge in die lewe, vriende wat vir jou omgee, die vreugde om by die see te gaan stap met jou hond, ’n stout vers wat jou laat giggel ...” “Ek is nie beskeie nie, ek is trots op wat ek regkry, maar ek verstaan dit nie. Ek noem myself nie eens ’n digter nie, ek is ’n versiemaker. Dis nie poësie nie, dis versies. Ek was destyds skaam om dit aan die uitgewers voor te lê.” “Ek is baie bewus van die verganklike, die hartseer van dinge – maar ek skryf dit weg met nonsens.” “Noudat ek ’n ‘pensionaris’ is, werk ek harder as ooit tevore. Ek vat soms regtig nie grond nie. Maar ek doen alles wat ek nog altyd wou – dis die wonderlikste tyd van my lewe.” “Al sou ek nooit ’n prys gewen het nie, sou alles wat ek gedoen het nog die moeite werd wees. Ek ervaar eerstehands dat ’n profeet wel in sy eie land geëer word.” “Rympies val nie sommer vanself uit die pen nie. Dis ’n lang proses van skryf, uitvee, hardop lees, weer uitvee, doodkrap en baie papier mors voordat jy dit vir mense wys." | Gebore en getoë Philip Wouter de Vos is op 16 Junie 1939 in Bloemfontein gebore. Hy is een van drie kinders wat uit die huwelik van Pa Philip en Ma Matty gebore is. Philip het ’n broer, Jan, en ’n suster, Rea. Hy word groot in Bloemfontein en voltooi sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Willem Postma. Philip se pa was ’n hout- en steenkoolhandelaar, en in die huis in Krieketstraat 13 waar hulle grootgeword het, was daar nie juis boeke en musiek nie. Hy moes dikwels gedurende naweke inspring om sy pa met die werk te help. Philip vertel dat sy ma skaam was vir die huisie, want sy het geweet sy pa kon beter bekostig. “Tuis het ons maar min boeke gehad behalwe The masterpiece library of short stories en die enigste musiek wat ek tuis op die draadloos gehoor het, was goed soos 'How much is that doggie in the window?'.” Op ’n vraag van Laetitia Pople na sy kinderjare en waar hy moontlik die kreatiewe inspirasie ontvang het, vertel Philip: “Sjoe, dit was die jare veertig. Ons het bykans niks gehad nie.” By Riana van oorkant die straat leer Philip boeke ken: “Ons het saam-saam gelees: op die tapyt in haar slaapkamer terwyl ons smul aan Post Toasties met Eno’s bo-oor gestrooi, en deur haar het ek later die plaaslike biblioteek ontdek. Met Mary-Ann langsaan was dit die wêreld van musiek met hulle opwengrammofoon en ons twee wat geluister het na Bing Crosby en Ketèlby se 'In a Persian market'. En dan was daar juffrou Ferreira, my standerd 2-onderwyseres by Laerskool Willem Postma wat ontdek het dat ek ’n stem het en my aan my eerste konsert laat deelneem het. En natuurlik my tante Mimmie in Kimberley met al haar wonderlike boeke.” Hierdie persone het later almal deel geword van Philip se eerste boek, Karel van Krieketstraat. Toe trek die gesin plaas toe en gaan Philip na die Hoërskool Sentraal, waar hy in 1956 matrikuleer. “Daar was kinders vir wie ek groot bewondering gehad het: Blanche Terblanche wat so mooi kon sing; Alva van der Walt wat so mooi kon skryf. Sy het selfs in die skooljaarblad geskryf oor goeters soos ’n velocipede terwyl ek maar net die woord centipede geken het. En Ferdinand Bükes wat kon versies skryf. En ek het gewens ek was ook so slim soos dié talentvolle kinders. Ek het in die skoolkoor gesing. Meneer Cassaleggio het my stem gehoor en gesê: ‘Eendag moet jy sanglesse neem.’” Philip vertel aan Suzette Truter dat hy as kind nooit sportief was nie. “As die kinders spanne moes kies, was ek altyd die laaste wat oorgebly het! Ek was gelukkig op skool; dit was onskuldige pret. Ek het goed presteer, nie omdat ek so slim was nie, maar omdat my ma elke eksamen vir my elke liewe vraag gevra het.” Soos latere titels van sy boeke aandui, is Philip verknog aan goggas, en hierdie voorliefde kom al van kleins af. Hy vertel aan Liesl Pretorius hoe hy eenmaal as kind ’n spul miere een vir een uit ’n kondensmelkblikkie “gered” en afgespoel het. Philip se eerste kamera was ’n klein plastiek Donald Duck-kamera. Dieselfde kamera was later te koop op die internet vir $1 000. En alles wat hy van fotografie weet, het hy homself geleer. Philip wou van kleins af mense laat lag: “Ek het daarvan gedroom om ’n nar te wees.” En hy was versot op AG Visser se gedigte. Terug na bo Verdere studie en werk Philip se pa wou hê dat hy in sy voetspore moet volg en ’n sakeman word, maar, vertel Philip self, as dit sou gebeur het, was sy besigheid al jare gelede bankrot. Hy is na die Universiteit van die Vrystaat, waar hy in 1960 sy BA-graad behaal met Afrikaans en Engels as hoofvakke, “saam met Tromp Schoeman wat later Karel Schoeman geword het”. Hy verwerf ook sy Onderwysdiploma. In 1961 word Philip aangestel as onderwyser aan die Hoërskool Koot Niemann net buite Bloemfontein. Hy beskou 1961 as ’n belangrike jaar in verskeie opsigte wat betref sy toekomstige loopbaan en belangstellings. Dit is die jaar toe hy sy eerste kamera, ’n Pentax, gekoop het en wat sy passie vir fotografie begin het. Ook sy belangstelling in sang neem toe nadat hy, ook in 1961, begin sanglesse neem by Grace Butler. In 1962 vertolk Philip sy eerste rol vir die Bloemfonteinse Choral Society in hulle produksie van Pirates of Penzance. Hierdie optrede kan beskou word as die begin van sy sangloopbaan, wat die grootste deel van sy lewe sou voortduur. Tot Philip se vertrek uit Bloemfontein aan die einde van 1966 tree hy in al die destydse SUKOVS se produksies as solis op. Ten tyde van sy vertrek uit die Vrystaat was hy Engels-onderwyser by die eertydse Hoërskool Model. Aan die begin van 1967 vestig Philip hom in Kaapstad, waar hy Afrikaans gee aan Cape Town High School en sang studeer by Adelheid Armhold en later by die tenoor Lloyd Strauss-Smith. Vanaf 1968 tree hy op in operarolle vir die destydse KRUIK. Hy spesialiseer veral in karakterrolle en bou deur die jare ’n repertoire van meer as veertig karakterrolle op. Teen die middel van 1973, met dertien jaar onderwys agter die rug, besluit Philip om die onderwys te verlaat en om op ’n vryskutbasis opera te sing. Gedurende die volgende vyf jaar tree hy in talle operas, operettes en operatoriums vir beide SUKOVS en KRUIK op. Maar toe sê sy ma vir hom: “Jy kan nie so aangaan nie” en ’n yslike depressie volg, vertel Philip. Ook ’n tydperk van groot krisis, en ’n senuwee-ineenstorting. Vir twee jaar is hy terug onderwys toe. Hy skryf in Kaapse Bibliotekaris dat hy besef het dit is ’n fout, “want ek is basies ’n persoon wat op my eie kreatiwiteit staatmaak vir my oorlewing”. In 1980 keer hy terug na die operawêreld en word lid van KRUIK se permanente operakoor – en tree ook nog as solis op. In 1997 is hulle almal afgedank, en as Philip oor die sewentien jaar by KRUIK terugdink, wonder hy soms of dit verkwiste jare was, “maar dan besef ek – in hierdie jare het ek begin skryf, en in die relatiewe kalm wêreld van die teater het ek nog een van my talente ontdek.” Fotografie was nog altyd een van Philip se groot en belangrike belangstellings en eenmanstentoonstellings word gereeld van sy werk gehou. Van die mees onlangse tentoonstellings is Die Reis / The Journey wat tydens die Woordfees van 2007 op Stellenbosch te sien was. Dit is ’n surrealistiese fotoreeks van ’n enkeling wat op reis vertrek in ’n ruie woud. Op pad kom hy allerlei leidrade en raaisels teë wat hy self moet uitpluis. Laetitia Pople skryf in Beeld: “Die woud word dan ’n metafoor vir die lewe self en keer op keer word leidrade gevolg wat uitloop op oënskynlik niks nie.” Philip vervolg: “Kyk ek is ’n amateur, heeltemal. Hierdie foto’s het ek in die laat jare sewentig saamgestel vir die opening van die Sterrewag-teater in Bloemfontein. Ek moes dit destyds inderhaas doen. Ek het dit bymekaargetrek uit ’n reeks bestaande foto’s wat ek in daardie week afgeneem het, soos foto’s wat ek tydens my wandelinge in die Glen geneem het. Tyd is die groot gelykmaker, maar nou dertig jaar later voel ek daar is steeds iets aan die reeks.” Hy het van die foto’s gemanipuleer met nuwe digitale toerusting tot sy beskikking. Alles wat hy doen, is intuïtief. “Ek werk op aanvoeling en weet eintlik niks van enigiets af nie. Ek dink mens moet net ’n goeie oog hê.” In 1983 en 1984 word Philip aangewys as die algehele wenner van Creative Photography en The Cape Times se fotografiekompetisie. In 2006 verskyn sy fotoboek Milieu, waarin hy bekendes in die Suid-Afrikaanse samelewing in hul leefruimtes afgeneem het – van die joernalis Max du Preez tot die opera-impresario Angelo Gobbato. Oor die boek vertel Philip: “Dit was maklik om bekendes te nader, minder bekendes is die moeilikste. Ek het ’n skaam streep. Dié moet ek in my sak steek as ek gaan foto’s neem. Ek gaan net met my kamera, sonder enige toerusting. Ek verkies natuurlike lig en verwyl dan ’n halfuur of so by die mense. Dan weet ek gewoonlik hoe ek hulle wil afneem.” Teen die einde van 1974 voltooi Philip Karel van Krieketstraat, maar die manuskrip word nie deur die uitgewers aanvaar nie, omdat hulle nie geweet het wat die teikenmark sou wees nie. Leon Rousseau van Human & Rousseau vra hom toe waarom hy nie versies skryf nie. “Ek het nooit geweet ek kan nie, maar toe ek eers begin het, kon ek nie ophou nie.” So is O togga, ’n gogga gebore. Hierdie bundel versies is in 1984 gepubliseer en dit borrel behoorlik oor van pret en lawwighede. In 1986 word Brommer in die sop gepubliseer en ook dit is dadelik ’n treffer by oud en jonk. Elsabe Steenberg beskou beide die boeke as ’n “wonderlike aanwins vir die Afrikaanse kinderliteratuur”. Jan Vermeiren het albei boeke geïllustreer en sy komiese lyntekeninge vul die teks volmaak aan. Philip vertel dat hy geen bepaalde werkmetode volg nie. Hy skryf intuïtief en daardeur verkry hy ’n resultaat wat spreek van oorspronklikheid en humor en wat geen soetsappigheid bevat nie. Van Philip se versies is al getoonset 16 plaaslike komponiste onder andere Albie Louw, Pieter de Villiers, Peter Klatzow en Rosa Nepgen en is met groot sukses uitgevoer. Philip is meestal self die solis. In 1998 is sy eerste CD, Brommer in die sop, uitgereik waarop hy self die Albie Louw-toonsettings van sy versies sing. Philip vertel dat die beste ding wat in al die jare met hom gebeur het, is dat sy verse deur Albie Louw getoonset is. Hy weet dat verskillende komponiste dit al gedoen het, maar Albie Louw is waarskynlik die een wat die naaste kom aan wat Philip met sy verse wil sê. Philip se eerste kinderverhaal, Wolfgang Amadeus Muis, word in 1986 uitgegee. Dit vertel die storie van Letitia, ’n bedorwe musikale meisie, wat muise haat. As die muise per ongeluk in haar klavier na die stadsaal vervoer word, kry hulle kans om wraak te neem. Die verhaal is vol aksie en humor en die skrywer se musiekagtergrond is duidelik waarneembaar en Cora Coetzee se swart-en-wit illustrasies vorm die perfekte agtergrond vir die verhaal. Hierdie boek word in 1988 deur die Internasionale Jeugbiblioteek in München gekies om as deel van hul White Raven-versameling internasionaal uitgestal te word. Dit word ook vir vertaling aanbeveel. Die Internasionale Jeugbiblioteek ontvang jaarliks ongeveer 17 000 nuwe kinderboeke vanuit 44 lande wêreldwyd, waaruit net 400 titels in hulle versameling opgeneem word. Dit is dus ’n prestasie en onderskeiding wat Philip en sy boek te beurt geval het. In 1988 word Karel van Krieketstraat uiteindelik gepubliseer. Hierdie verhaal, wat op Philip se jeugjare in Bloemfontein gebaseer is, word deur Marina le Roux beskryf as ’n boek wat deurgaans sober en ingetoë is. “Dis ’n rustige boek, maar nie sonder verrassende humor nie en dit is totaal vry van neerbuigende paternalisme. Die afronding en slot is besonder bevredigend.” Philip se eerste bundel poësie wat uitsluitlik vir volwassenes bedoel is, Daar’s bitterals in die heuningwals, verskyn in 1988. Hierdie bundel word in 1989 bekroon met die Eugène Marais-prys. Philip se werk is ’n waardige wenner van hierdie prys. Elizabeth de Roubaix beskryf dit as toeganklike verstaanbare poësie met eggo’s van Boerneef se liefde vir sy mense en AG Visser se volksheid. “Dit is voorwaar ’n verfrissende en moreel opbeurende ervaring om ’n bundel poësie van hoek tot kant te lees en by elke gedig aanklank te vind.” Leana Lategan skrif in Cultura van September 1989 dat, net soos by Boerneef, die mees opvallende kenmerk van Philip se bundel die unieke wyse is waarop hy met die woord omgaan. “Dit is nie hier die ‘mooi poëtiese woord’ nie; wel veel eerder die pittige en speelse, die skrynende en beswerende woord.” Belladonna Prima Donna , Philip se volgende kinderboek, word in 1989 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. En soos blyk uit die titel, speel Philip se musiekagtergrond weer ’n rol in die verhaal. Belladonna Muis stel belang in opera, terwyl die ander muise hulle hoofsaaklik besig hou met kos soek. Dit is dan ook Belladonna se teenwoordigheid op die verhoog wat die operaster Maria Canneloni dwing om die eise wat haar rol in die opera aan haar stel, ten volle na te kom – al was dit met redelik ernstige en komiese nagevolge. Philip se eerste bundel met limerieke, Die Worcester Asporcester en ander lustige limericke, verskyn in 1989. Philip vertel dat Kerneels Breytenbach van Human & Rousseau hom gevra waarom hy nie limerieke skryf nie. Sy antwoord was dat limerieke so Engels is as komkommer-toebroodjies. Maar toe word sy motor gesteel en beland dit in Benoni en skryf hy sy heel eerste limerick in Afrikaans: ’n Brose jong maagd van Benoni Sê immer en altyd: “Ninoni!” Haar kêrel sê: “Jinne! Ag, kom tot jou sinne, Want ek kan dit glad nie meerhoni!” Van toe af kon hy nie ophou nie, en in ’n artikel in Kaapse Bibliotekaris van Maart/April 1997 skryf hy uitvoerig oor die tegniek van die limeriek en sluit hy af: “Limericke kan myns insiens net sulke juweeltjies word as die grêndste sonnette. Dus is daar geen skande om te skaaf en te bly skaaf en hardop te lees totdat daardie limerick perfek is nie. Eers dan durf mens publiseer.” George Weideman skryf: “Watter heerlike leesgenot bied dié versameling nie. ’n Mens kan so ’n boek eintlik nie resenseer of vernaamdoenery pleeg oor die man se vormvernuf en die tipiese woordspelings eie aan dié genre nie. Dis net vir proe-proe lees.” Sy volgende limeriekbundel, Die deng van Gauteng en ander ordentlike limericke verskyn in 1996. In 1990 (met ’n herdruk in 2006) word Vincent van Gogga gepubliseer. Dit word in 1991 bekroon met die ATKV Kinderboekprys 8–9 jaar. Dit vertel die verhaal van ’n vlooi, Vincent, wat saam met sy ma en pa en broer, Theo, in die Groot Rooi Woud bly. Hierdie woud, kom ’n mens later agter, is die rooi boskasie van die skelm sigeuner Madame Zelda. Vincent besluit om die pad te vat, maar beland ongelukkig in die grimeerpotjies van Madame Zelda en dit is net hier waar sy loopbaan as kunstenaar begin. Hy ontmoet ’n wêreldwyse Franse vlooi met die naam Paul Ghôghaaa – in Frans spel jy dit, volgens Paul, “Gauguin” en saam gee die twee vlooie vir Madame Zelda van haar eie medisyne. Jeanne Hugo skryf dat De Vos se styl lig en pragtig is, aangevul met Cora Coetzee se komieklike sketse. “Met slaaptyd sal hierdie boekie lekker vermaak vir oud en jonk bied en dit is na my mening ’n goeie oorbruggingsboek na meer gevorderde leesstof vir die jongspan.” Philip se boek oor Mozart, Trazom, verskyn in 1992. Hy erken dat wat musiek betref, hy vasgesteek het by Mozart. Die titel is die komponis se naam van agter af gelees en dit is hoe hy sy briewe geteken het. Wilhelm Grütter meen dat Philip oortuigend daarin slaag om die sosiale dampkring en kultuurbelewenisse van die unieke Mozart vernuftig te skets en sy komplekse stemmingswisselinge begrypend weer te gee. Leentjie Theron skryf dat die verhaal slaag omdat De Vos dit regkry om op ’n besonder subtiele wyse karakteridentifikasie te bewerkstellig. “Trazom is nie ’n verhaal met ’n besonder sterk storie of intrige nie, maar eerder meelewing met die belewinge van Mozart se belangrike veertiende jaar.” In 2007 verwerk Philip Trazom na Totsiens Tommasino: ’n Mozart-verhaal, wat deur Human & Rousseau gepubliseer word. Mariana Loots skryf in Die Burger dat hierdie greep uit Mozart se lewe ook ’n dieper reis in die lewe van ’n kunstenaar is wat selde die ruimte gegun is om sy kindwees te ontdek. Sy meen dat dit toeganklik en deerniswekkend is en met ’n fyn hand geskryf is. In sy resensie bepleit Hennie Aucamp ’n nuwe lewe vir hierdie novelle, “liefs as rolprent, maar dalk ook as verhoogstuk”. Philip se volgende verseboek vir kinders (ook vir volwassenes, soos altyd) is Moenie ’n mielie kielie nie en ander pittige uitinge, met illustrasies deur Piet Grobler. Dit word in 1996 met die MER-prys vir Jeugliteratuur bekroon en ontvang ook in 1998 die Alba Bouwer-prys. Cecile Cilliers meen dat hierdie boek allemansbesit moet word. Gedurende hierdie tyd lewer Philip ook ’n daadwerklike bydrae tot die opvoedingstaak met boeke in die Oxford Storieboom-reeks en in die Ekonopret-reeks, wat entrepreneurskap vir kinders wou leer. Volgens Philip vertel die boek in die Ekonopret-reeks, Van rand en sent tot insolvent, die tragiese verhaal van Buks wat ’n Ibuba-kaartjie kry en oornag ryk word en toe weer net so vinnig arm. Die boek bevat kostelike illustrasies deur Piet Grobler. In 1994 pak Philip die formidabele taak aan om 130 liedere uit Duits vir die Afrikaanse kind op papier te sit en word Die groot sangboek in volle kleur by Rubicon uitgegee. Tydens die Stellenbosse Fees in 1995 word Philip se verwerking van Camille Saint-Saëns se Karnaval van die diere opgevoer. Hy het vir elke dier versies geskryf en in 1998 word dit in boekvorm gepubliseer met illustrasies deur Piet Grobler. Philip se Engelse verse is uitgegee onder die titel Carnival of the animals en in Nederland, Duitsland, Italië en die VSA gepubliseer. Philip word, saam met illustreerder Piet Grobler, ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika na die verskyning van die eerste Kat se blad-strokie in De Kat. “De Kat het gesê hulle wil ’n strokiesprent hê, maar ek het geen idee gehad wat nie,” vertel Philip. “Ek skryf maar altyd in rym – dit is vir my die maklikste – en toe kom die eerste een van Noag. Ek is mal oor Bybeltemas, maar probeer dit bietjie afwissel met sprokies.” Piet sit prentjies by Philip se woorde, en sy stuitige, stoute illustrasies spreek self boekdele. Die twee het nie saamgewerk aan ’n strokie nie. Philip het geskryf wanneer die rym hom pak en het dit dan aan Piet op Stellenbosch gestuur. Die strokies was so gewild dat die reeks in 1999 in boekvorm uitgegee is. In 1997 ontvang Philip en Piet ’n tweede prys in die Mondi-tydskriftoekennings in die afdeling vir rubrieke vir Kat se blad. Philip is deur die jare bekend as ’n uitmuntende vertaler en verwerker van kinderboeke uit veral Engels (maar ook uit ander tale) in Afrikaans en sodoende word van die bekendste kinderboeke ook toeganklik vir jong lesertjies in Afrikaans. In 2002 verwerk hy die bekende Nederlandse skrywer, Annie Schmidt, se verse in Afrikaans en word dit onder die titel Die spree met foete gepubliseer. Weer eens is Piet Grobler verantwoordelik vir die illustrasies. Marina le Roux meen dat De Vos se spitsvondige vertalings en verwerkings nie net humoristies is nie, maar intelligent en sensitief teenoor die oorspronklike teks. Volgens haar is Grobler se illustrasies ’n perfekte visualisering van die teks wat dit nie net komplementeer nie, maar verruim en verryk met verbeeldingryke detail. Volgens Maritha Snyman konkretiseer die illustrasies die woordteks voortreflik. Die rympies is vermaaklik en demonstreer weer eens De Vos se vermoë om Afrikaans kreatief te gebruik. Dit is ook eervol vermeld deur IBBY in 2003. Human & Rousseau publiseer in 2004 ’n keur uit Philip se versies onder die titel Mallemeuleman. Piet Grobler is weer die illustreerder. Fanie Olivier skryf as volg: “Vra iemand my wat nuuskierig oor my skouer saamlees aan die bundel, waarvan ek die meeste hou. [...] Dit is die deurgevoerde ondermyning van sprokies en ’n wonderlike herskrywing van geskiedenisse en Kat se blad en ander strokiestekste. As ek een wens het rondom die verjaardag van Afrikaans, is dit dat élke Afrikaner ’n kopie van Mallemeuleman sou hê, en dat ons ons almal (klein en groot, in alle gedaantes) daarin sal verkneuter hoe wonderlik die taal kan speel in ’n mens se ore en kan tiekiedraai in jou kop.” Marina Le Roux sê: “Die taal is liries en huppelend, die woordspel slim en guitig. Die meeste gedigte is deeglik gekonstrueer en netjies afgerond. De Vos bekoor weer eens met sy wenresep van sober en stuitig, heimwee en humor, erns en luim.” By die KKNK in 1998 is Philip se naam gekoppel aan minstens vyf produksies wat die hele spektrum van sang, fotografie, CD en boek tot by voordrag met ’n simfonieorkes dek. Hy het spesiaal vir die fees die verhaal van Prokofiëf se orkestrale sprokie Pieter en die wolf in rymvorm in Afrikaans geskryf en ook voorgedra by die uitvoering daarvan deur die US Simfonieorkes onder leiding van Eric Rycroft. Sy verwerking van Saint-Saëns se Karnaval van die diere se boek is by die fees bekendgestel. Hy het ook van die liedjies op die CD ’n Brommer in die sop gesing en daar was ’n uitstalling van 75 foto’s deur hom. Tydens die Volksblad Kunstefees in 2002 het Philip ’n uitvoering van sy getoonsette verse gelewer met Japie Human wat hom op die klavier begelei het. Liesl Pretorius skryf dat “De Vos gewaarsku het, raad gegee het, en gewonder het. Hy het soms tong uit die kies gehaal om te sing oor die wind, die lilefde en die verganklikheid. Danksy De Vos se aangename stem, uitstekende diksie en begeesterde vertolking, ondersteun deur knap begeleiding van Japie Human, was hierdie aanbieding ’n lekker feeservaring.” Om die honderdjarige bestaan van Hoërskool Sentraal in 2005 te vier, is ’n produksie waarvan Philip se pittige limerieke die kern vorm, op die planke gebring. Die stuk was getiteld Brommer sonder brieke en Philip het self ook daarin opgetree. ’n Uitstalling van sy foto’s is ook in die voorportaal van die Wynand Mouton-teater op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gehou. In 2006 toonset die komponis Peter Klatzow sewe kort gediggies van Philip onder die titel Net vir jou, en in 2007 word Klatzow se komposisie Kom saam met my na Toorberg, wat op humoristiese tekste van Philip gegrond is, met kinderkoor en orkes uitgevoer. Philip erken dat hy aan depressie ly. “Ek hou daarvan om te skryf oor die verspotheid van dinge. Eintlik ly ek aan depressie – dis half soos daardie óú ding van die clown in die sirkus. Maar selfs wanneer ek depressief is, skryf ek nog, miskien as ’n soort beswering.” Hy het ’n klompie jare gelede op ’n weeklikse basis rympies vir Die Burger geskryf en hy vertel hoe ’n gesukkel dit soms was om dit reg te kry. “Ek soek maar in die koerant rond en dan kom ek op iets af soos Kamp Staaldraad. Dan speel ek daarmee en kom vorendag met iets soos ‘kort van draad’, en dis hoe die rympie begin.” Philip is deesdae ’n vegetariër. Nadat hy die rolprent oor die varkie, Babe, gesien het, het hy besluit om op te hou vleis eet. En sy jare lange bondgenoot, Winnie, ’n Staffordshire-bulterriër, is laat in 2008 oorlede. En ons gee aan Philip die laaste woord: Daar’s ’n liedjie in my sak en ’n versie op my rak vir die dag as ek wil sing of wil bolmakiesie-spring: ’n Versie vir die dag en ’n versie vir die nag en ’n liedjie in my bladsak vir die stomtyd wat nog wag. Terug na bo Publikasies: Publikasie | O togga! ’n Gogga! Lawwe versies vir stoute kinders | Publikasiedatum | 1984 | ISBN | 06240224555 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Rympies en versies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Brommer in die sop en ander vreeslike versies | Publikasiedatum | 1986 | ISBN | 0624023400 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Rympies en versies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | Steenberg, Elsabe: Guitige kinderverse | Publikasie | Wolfgang Amadeus Muis | Publikasiedatum | 1986 | ISBN | 0624024075 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Kinderboeke | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Engels, 1987 | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | Le Roux, Marina: Humor en vermensliking in muis-verhaal | Publikasie | Daar’s bitterals in die heuningwals | Publikasiedatum | 1988 | ISBN | 0624026698 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Eugène Marais-prys 1989 | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Belladonna, prima donna | Publikasiedatum | 1989 | ISBN | 0624025470 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Tafelberg | Literêre vorm | Jeugfiksie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Vincent van Gogga | Publikasiedatum | | ISBN | - 0624029409 (sb)
- 0798146567 (sb)
| Uitgewer | - Kaapstad: Tafelberg
- Kaapstad: Human & Rousseau
| Literêre vorm | Jeugfiksie | Pryse toegeken | ATKV Kinderboekprys 8–9 jaar 1991 | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Trazom: ’n Mozart-verhaal | Publikasiedatum | 1992 | ISBN | 1874901090 (sb) | Uitgewer | Strand: Queillerie | Literêre vorm | Biografiese roman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Van rand en sent tot insolvent (Ekonopret-reeks) | Publikasiedatum | 1994 | ISBN | 0702132985 (sb) | Uitgewer | Kenwyn: Juta | Literêre vorm | Jeugfiksie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Die groot sangboek in volle kleur: meer as 200 volks- en kinderliedere met volkleur-illustrasies | Publikasiedatum | 1994 | ISBN | 1874869553 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Rubicon | Literêre vorm | Volksliedere | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Giere en grille: rympies en raaisels (Oxford Storieboom) | Publikasiedatum | 1994 | ISBN | 0195710673 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Oxford University Press | Literêre vorm | Rympies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Warrelwind se kind: rympies en raaisels (Oxford Storieboom) | Publikasiedatum | 1994 | ISBN | 0195710681 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Oxford University Press | Literêre vorm | Rympies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Sproete en snoete: rympies en raaisels (Oxford Storieboom) | Publikasiedatum | 1994 | ISBN | 0195710665 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Oxford University Press | Literêre vorm | Rympies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Moenie ’n mielie kielie nie en ander pittige uitinge | Publikasiedatum | 1995 | ISBN | 0798134658 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | - MER-prys vir Jeugliteratuur 1996
- Alba Bouwer-prys 1998
| Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | Cilliers, Cecile: Plesierig soos altyd | Publikasie | Die deng van Gauteng en ander ordentlike limericke | Publikasiedatum | 1996 | ISBN | 0798136146 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Limerieke | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Karnaval van die diere | Publikasiedatum | 1998 | ISBN | 079813822X (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Engels 1999 Nederlands 1999 Italiaans 1999 Duits 2001 | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Pret: beste en boosste grappe uit die kuberruimte | Publikasiedatum | 1998 | ISBN | (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Queillerie | Literêre vorm | Grappe | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Kat se blad: stuitige strokies | Publikasiedatum | 1999 | ISBN | 079813898 X(sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Strokies | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | Muller, Braam: Dié stoute pret is nie vir die preutses | Publikasie | Beware of the canary | Publikasiedatum | 2000 | ISBN | 0798140453 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Die spree met foete | Publikasiedatum | | ISBN | - 0798142340 (hb)
- 0798143460 (sb)
| Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Kinderverse | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Verwerking van Annie G Schmidt se Nederlandse verse | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Limericke vir die lekkerte (Rimpelstories) | Publikasiedatum | 2004 | ISBN | 0798666307 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Kagiso Education | Literêre vorm | Limerieke | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Mallemeuleman: ’n keur uit Philip de Vos se versies | Publikasiedatum | 2004 | ISBN | 0798144122 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Milieu | Publikasiedatum | 2006 | ISBN | 1869191307 (hb) | Uitgewer | Pretoria: Protea Boekhuis | Literêre vorm | Foto’s | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Tot siens, Tommasino: ’n Mozart-verhaal (’n verwerking van Trazom) | Publikasiedatum | 2007 | ISBN | 9780798148233 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Roman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Lys van vertalings en verwerking deur Philip de Vos Bak-en-brou, bak-en-brou . Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 Eerste rympies vir kleuters . Kaapstad: Human & Rousseau, 1992 [ISBN 0798129530 (hb)] Ek is ’n teepot . Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 Geluide . Pretoria: LAPA, 2002 [ISBN 0799330620 (kartonboekie)] Kleure . Pretoria: LAPA, 2002 [ISBN 0799330604 (kartonboekie)] Klop, klop, klop . Kaapstad: Human & Rousseau Om en om die blomtuin . Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 Syfers . Pretoria: LAPA, 2002 [ISBN 0799330590 (kartonboekie)] Teenoorgesteldes . Pretoria: LAPA, 2002 [ISBN 0799330612 (kartonboekie)] Andersen, Hans Christian - Die herderin en die skoorsteenveër . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145978 (hb)]
- Die keiser se nuwe klere . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145986 (hb)]
- Die lelike eendjie . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798146001 (hb)]
- Die prinses en die ertjie . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 079814596X (hb)]
- Die teepot . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145951 (hb)]
- Die tonteldoos . Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145994 (hb)]
Beck, Ian: Sarie en die spinnekop. Kaapstad: Oxford University Press, 1989 [ISBN 019570533X (hb)] Blake, Quentin: Almal saam. Kaapstad: Human & Rousseau, 1991 [ISBN 0798127775 (hb)] Clark, Emma Chichester: Vang die hoed! Kaapstad: Oxford University Press, 1989 [ISBN 0195705521 (hb)] Craft, Ruth: Die dag van die reënboog: storie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1989 [ISBN 0798125225 (hb)] Dijkstra, Lida: Muisie, my meisie. Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 [ISBN 0798143762 (sb)] Donaldson, Julia - Die goorgomgaai . Kaapstad: Human & Rousseau, 1999, 2005 [ISBN 0798139536 (sb)]
- Die goorgomgaaitjie . Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 0798146613 (sb)]
- Is daar plek op jou besem ? Kaapstad: Human & Rousseau, 2002 [ISBN 0798142723 (sb)]
Dr Seuss: Die Loraks. Johannesburg: Hodder & Stoughton, 1993 [ISBN 0947054898 (sb)] Faulkner, Keith: Hik!... Hik!... Hik!:’n opwipboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144351 (hb)] Hadithi, Mwenye: Kameelperd wat so lag. Kaapstad: Human & Rousseau, 2008 [ISBN 9780798149341 (sb)] Hartman, Bob: Die wolf wat outjie geskree het. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798144637 (sb)] Hartmann, Wendy - Abrakadabra 123 . Kaapstad: Human & Rousseau, 1993 [ISBN 0798129778 (sb)]
- Abrakadabra ABC . Kaapstad: Human & Rousseau, 1993 [ISBN 0798129611 (sb)]
- Ons hou partytjie . Kaapstad: Human & Rousseau, 2008 [ISBN 9780798149914 (sb)]
Hayes, Fiona: My saamsleep-dieretuin. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 0798146575 (hb)] Jorgensen, Gail: Grilkrokodil. Kaapstad: Human & Rousseau, 1989 [ISBN 0798125977 (hb)]992 [ISBN 0798129093 (hb)] Linden, Anne Marie: Een ouma wat altyd glimlag. Kaapstad: Human & Rousseau, 1992 [ISBN 0798129093 (hb)] Parker, Vic: Beerjolyt. Kaapstad: Human & Rousseau, 1997 [ISBN 0798137118 (sb)] Ramsbottom, Margaret: Daar’s geen rus op die groot geel bus! Kaapstad: Human & Rousseau, 1990 [ISBN 0798127228 (hb)] Ravishankar, Anushka: Vrydag is my dag. Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 [ISBN 079814386 (sb)] Rogers, Paul: Pret met vorms: verse. Kaapstad: Human & Rousseau, 1989 [ISBN 0798125489 (hb)] Thomas, Patricia: Daar’s ’n yslike bries as die olifant nies! Kaapstad: Human & Rousseau, 1991 [ISBN 0798128739 (hb)] Artikels oor Philip de Vos beskikbaar op die internet - http://www.stellenboschwriters.com/devosph.html
- http://www.storiewerf.co.za/cv's/cv_philipdevos.htm
- Breytenbach, Kerneels: Philip de Vos, veelsydige versiemaker
- De Vries, Izak: Izak de Vries praat met Philip de Vos – en vind dit rym!
- Grobler, Piet: Ewig jonk met rympies wat oral pronk
- De Vos ewig jonk met rympies wat oral pronk
- Woordkunstenaar sing en rym soos hy gebek is
- Jacobs, Jaco: “Mallemeuleman” maak steeds rympies
- La Vita, Murray: Die Peter Pan van Afrikaans
- Malan, Mariana: De Vos se verse nou liedjies op CD
- Philip de Vos: skrywer, operasanger, fotograaf
- Pople, Laetitia: Woorde De Vos se enkele inspirasie
Artikels deur Philip de Vos beskikbaar op die internet Terug na bo  Terug na bo Bygewerk: 2009-07-15 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|