Erika Terblanche
| | | SêGoed van Hans du Plessis: “Afrikaans gaan nêrens anders heen as waarheen ons dit vat nie. Ons moet produkte skep wat só goed is dat mense agter ons aanloop.” “Daar moet ontslae geraak word van die elitisme in die Afrikaanse letterkunde. Boeke moet wyer en anders uitgegee word, want daar is ’n mark vir liefdesverhale en dié soort letterkunde moet ook deur onder meer resensies in die media aandag kry.” “Afrikaans moet in Afrika bestaan, en hy doen dit al eeue. Die vraag is net of sy kundiges dit wil weet – ás hulle natuurlik vir die taal Afrikaans net soveel omgee as wat hulle vir die vak Afrikaans omgee ...” In 1992: “Die Afrikaanssprekendes moet end kry met sy eie ongegronde pessimisme oor die toekoms van die taal. Afrikaans se status in die nuwe Suid-Afrika gaan nie bepaal word deur wat die PAC, ANC, NP of die KP daarvan sê nie, maar deur die gebruik van en liefde vir Afrikaans deur sy eie mense, wit, bruin en swart.” “As Afrikaans losgemaak word van sy eie benepenheid en jy kan Afrikaans wyer oopmaak, jy kan ’n hergedefinieerde een kry, dan kan hy brugbouer wees.” “Om oor die digter as vakman te praat, is soos om oor die liefde te praat: wie kan so arrogant wees om te dink jy verstaan daarvan iets?” “Vir my is die digter aan die werk as jy oer-eerlik jou talent kan omsit in die woord. Die digter is aan die werk as jy wat jy teoreties weet, doen sonder dat jy weet jy doen dit. Om te kan dig, is om die vermoë te hê om te gaan sit en dig, en agterna self te wonder wat het jy nou eintlik gedoen.” “Die Afrikaanse boek wat sy sout werd is, bly sy staan staan.” “’n Gekerm oor die agteruitgang van die jeug is eintlik maar die oumense se erkenning van hul eie mislukkings. Die jeug is so goed as wat die oues haar maak. Oumense is die verlede, jongmense is die toekoms en ek is positief oor die toekoms as hy oor homself positief is.” “Ek is al doer in die sewentigerjare daarvan beskuldig dat ek Afrikaans wou weggee! Afrikaans was vir my lank voor dit mode was, die totaal van al sy dialekte. My oortuiging is ouer as die ‘liberals’ en die ‘lefties’ s’n. Dis nie dat ek die onreg wat ons Afrikaans aangedoen het, ontken nie – ek was self deel daarvan. Maar die erkenning van skuld moet ook die vereffening daarvan veronderstel. Die skrywer is deel van die erkenning én die afbetaling, sonder om jou te veel aan die politieke gerinkink daaromheen te steur.” “As ek liefde verstaan het, het ek God verstaan en dan was daar niks om te glo nie. Daarom: Dankbaar om lief te hê en liefgehê te word. Want liefde is in God, maar omdat dit ’n flippen stukkende wêreld is, word liefde te maklik mens.” Hoekom skryf hy? “Nee, ek glo nie ek weet hoekom ek skryf nie. Iets kom staan net in my binneste en sê: ‘Ek wil gesê wees, plak jou neer en sê!’ Daarna word dit al die ander goed, want eintlik skryf ek nie, ek word geskryf.” “Wit het met Afrikaans se geskiedenis, hede en toekoms net mooi niks te make nie, al het ons hard geprobeer om die teendeel wetenskaplik te bewys.” “’n Taal se lewenskragtigheid lê veral in sy variasie. Die woordeboek (Annerlike Afrikaans) is daarom lewende bewys daarvan dat Afrikaans as taal nie naastenby aan die uitsterf is nie.” “Ek sit op my Muse – kreatiwiteit kos harde werk! Dit moet stil en donker wees om my kop. En dan moet hulle nie kom infoeter nie. Dis ’n vreeslike alleenproses. My stimulus is iets mooi ... dis byna nooit mensgemaak nie. Dis eenvoudige goed wat na aan jou is soos die Bosveldse Botterklapperboom wat lyk en proe of die son dit vrystel. Kreatiwiteit gaan ook altyd gepaard met emosie, maar jy moet afstand kry anders is dit net ’n private ache. Die Muse is nie suinig met idees nie – almal kry hulle. Maar dis die ware kunstenaar wat die vermoë het om daardie gawe om te sit in ’n kunswerk. Daar’s tegnieke om dit te slyp, maar dit kos harde werk.” Beteken die Skryfskool iets vir sy eie skryfwerk? “Ek dink so, ja, want deur die skryfskool is ’n mens daagliks besig met skrywers en skryfopleiding. Dit stimuleer ’n mens baie en dit dryf jou telkens terug om te gaan skryf.” Wat het die Griekwas hom geleer? “Vreemd genoeg is die Griekwapsalms van my skryfwerk die goed wat ek die maklikste geskryf het. Miskien juis omdat dit vir my so wonderlik is dat die Afrikaanspraters van die uithoeke, Afrikaans so kan praat sonder die hulp van woordeboeke en Engels. Hulle tel hom sommer so uit die sand uit op en praat hom presies nes hy is. Dit, het ek geleer, is Afrikaans.” Watter bydrae kan die taalkundige benadering tot die voortbestaan van Afrikaans lewer? “’n Reusagtige bydrae, glo ek. Navorsing oor Afrikaans se verskeidenheid binne die sosiolinguistiese benadering het die uitsluitlike wit kyk na Afrikaans verwoes. Skielik kon ons almal sien dat Afrikaans die besit is van almal van ons wat hom in die mond neem. Die lekker Afrikaans, die lewende ene, lewe buite handboeke in die mond van sy mense.” | Gebore en getoë Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore as Hans Georg Wilhelm. Hy is een van vier seuns en word op Silverton groot en woon die plaaslike laerskool by. Hy vertel aan Elfra Erasmus dat Silverton daardie jare ’n plattelandse dorpie was wat vir hulle as kinders ver van die stad af gevoel het. Hy matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hulle moes aanvanklik met die trein hoërskool toe gaan en later met die bus, aangesien daar net ’n laerskool op Silverton was. Hans vertel dat hy en sy broers maar soos plattelandse seuns van die vyftiger- en sestigerjare grootgeword het. “Omdat die mense op ons dorp in die algemeen maar arm was, moes ons ons ontspanning buite in die veld loop soek. Om mispels of stamvrugte of wildeperskes te soek, was deel van ons bestaan.” Hy meen dat sy liefde vir die natuur en ’n empatie met enige agtergestelde mens toe al bestaan het en dat dit ’n groot invloed op sy skryfwerk gehad het. Hans se ouers het ’n groot invloed op sy vorming as mens gehad. “Ek het met boeke grootgeword. Hoewel ek in my laerskooljare nie ’n goeie leser was nie, het ek dit later geword.” Terug na bo Verdere studie en werk Na skool gaan Hans na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy BA-graad behaal. Hy studeer later verder aan Unisa en verwerf sy UOD (Universiteitsonderwysdiploma) in 1969. Hy slaag sy BA Honneurs met lof in 1970 en so ook sy MA-graad in 1972. In 1975 behaal hy sy DLitt et Phil. Na voltooiing van sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde word die Senior Beurs van die RGN in 1976 aan hom toegeken en sit hy sy studies voort aan die Harvard-Universiteit in Amerika, waar hy ’n kursus onder die taalkundige Susumu Kuno volg. In Amerika studeer hy ook verder in die Algemene Taalwetenskap by die wêreldbekende Noam Chomsky, destydse ghoeroe op die terrein van die Transformasionele Generatiewe Grammatika. Na ses jaar in die onderwys (onder andere vier jaar aan die Hoërskool Evander) word Hans in 1971 aangestel as lektor in Afrikaanse Taalkunde aan Unisa. Vanaf 1977 tot 1980 is hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit (vandag die Universiteit van Noordwes). Sy intreerede handel oor die Afrikaanse Taalkunde as besondere wetenskap en hy sê dat mense wat die taalwetenskap bemeester het sonder om die taal behoorlik te kan gebruik en te spel, nie veel vir die taal beteken nie. Hy bepleit ’n instituut vir eietydse Afrikaans aan die Potchefstroomse Universiteit, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Griekwa-Afrikaans en Johannesburgse Afrikaans noodsaaklik is. Hans is al sedert 1985 betrokke by skryfkursusse wat die ATKV saam met die Departement Afrikaans van die Universiteit van Noordwes aanbied, en toe die universiteit in 1989 besluit om ’n Skryfskool te stig, is Hans die logiese keuse om as die eerste direkteur aangestel te word. In 1990 kry hierdie Skool beslag en staan dit bekend as die ATKV-Skryfskool. Hy is in 1968 getroud met Magdaleen Potgieter en die egpaar het vier seuns, Rudolph, Louis, Hansie en Tjaard. Hans se eerste gedigte word in letterkundige tydskrifte soos Kol (1969) en Tydskrif vir Letterkunde (1978) gepubliseer. Benewens verskeie resensies in koerante en oor die SAUK, verskyn daar ook wetenskaplike artikels in onder andere Klasgids, Taalfasette, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Linguistic Inquiry en Die Transvaler. Hans is ook die outeur van etlike taalkundige publikasies soos Sintaksis vir eerstejaars, Variasietaalkunde en En nou, Afrikaans? Saam met Dawie Steenberg is Hans die redakteur van Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk, waarin bekende Afrikaanse skrywers hulle menings oor skryfwerk met lesers deel. Buiten sy skryfwerk lewer Hans ’n belangrike bydrae om Afrikaans van sy historiese en politieke beperkinge te bevry met sy ondersoeke na die variasies van Afrikaans. In die begin van die tagtigerjare het prof Christo van Rensburg, toe van die Universiteit van die Vrystaat, ’n omvattende navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas gelei. Hans was een van die medewerkers en het saam met die navorsingspan veldwerk onder die Griekwas gedoen. Hy lei ook later ’n ondersoek na die gebruik van Afrikaans in Namibië. Soms het hy alleen op ver plekke na Afrikaanse dialeksprekers gaan soek, en kon hy hoor hoe Afrikaans die taal van Afrika geword het. Hans se eerste digbundel, Kleinwild, word in 1978 deur HAUM gepubliseer. Hierdie bundel beklee ’n besondere plek in Hans se hart, omdat hy die oudste is en die swaarste gekry het. Hoewel Hilda Grobler in Hoofstad nie die bundel baie goed ontvang het nie, skryf Rika Cilliers-Preller later: “Die soort epigrammatiese kleingedig van Hans du Plessis se voorkeur, of stemming- en natuurindrukke, vra ’n sintuig vir klank, ritme en beeldevokasie waaroor dié digter, myns insiens, wel beskik. Kleinwild se bekoring het daarin gesetel.” In 1984 word sy tweede digbundel, Gewete van glas, deur Human & Rousseau gepubliseer en hieroor sê Rika Cilliers-Preller: “Dit is egter die digter se werkwêreld in sekere tegnieke wat die aandag opeis. Daar is die reeds genoemde pogings om te skryf soos ons praat (wat ek maar as sambreel vir verskeie prosesse gebruik), reeds in die motto geantisipeer deur die poëtiese ou vertaling deur die nuwe, spreektaalgerigte te vervang. [...] Weliswaar is die digterlike transformasies nog nie konsekwent tot poësie deurgevoer nie en al slaan die dink- en maakwerk nog deur, is [daar genoeg] aanduiding dat ene ‘Kleinhans’ (van ‘Silverton’) tog in die land van die muse bly.” Grensgeval, Hans se eerste roman, word in 1985 deur Human & Rousseau uitgegee. Dit vertel die verhaal van ene Jan Adamse se reis deur Namibië, in die eerste plek om na die wortels van Suidwes-Afrikaans te gaan soek (hy is naamlik ’n taalkundige) en in die tweede plek om op die spoor van sy eie herkoms te kom. LS Venter skryf dat dit ’n alleenreis is, maar Jan Adamse het tog ’n verbeelde reisgenoot, oom AE, met wie hy voortdurend in ’n soort innerlike debat gewikkel is. “Die groot deug van hierdie roman lê nie in die storie of in die oorspronklikheid van die gedagte dat ’n wit Afrikaner bruin voormense het nie. [...] [D]ie deug van hierdie roman lê in sy styl. Du Plessis skryf ’n sappige en soms werklik pittige Afrikaans. Daarby het hy die vermoë om met enkele raak, beskrywende woorde ’n situasie te teken.” In 1990 publiseer HAUM-Literêr Hans se volgende roman, Skuiwelinge. Die roman handel oor drie Suid-Afrikaners uit totaal verskillende agtergronde, wat in ’n kamertjie in ’n parkeergarage vasgekeer word wanneer politieke geweld die stad se strate in ’n slagveld omskep. Hoewel hierdie drie mense, elkeen op sy eie manier, geweld verwerp, word hulle gesamentlik en afsonderlik slagoffers daarvan. En hoewel Barend Toerien meen dat die roman nie werk nie, skryf Heilna du Plooy in Beeld dat die roman sy verhaal op ’n gemaklike en eenvoudige manier vertel en dat dit vlot lees. “Maar dit het meer om die lyf as net ’n storie van mense in Suid-Afrika. [...] Hierdie roman spreek in sy aktualiteit. Die gemaklike verteltrant is toeganklik en die menslikheid van die karakters, veral in die herinneringsvlugte, bewerkstellig warmte en natuurlikheid. Die oplettende leser gaan egter veel meer as ’n storie kry en sal waarskynlik heelwat nadink oor die manier waarop kontemporêre probleme die mense van hierdie land, as individue en as groepe, raak.” Hans se eerste jeugboek, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, word in 1991 ook by HAUM-Literêr uitgegee. Hy dra die boek aan sy vier seuns op, want, sê hy aan Elfra Erasmus, hy het baie by sy seuns geleer. “Baie wat ek nou van myself as kind weet, het ek deur my seuns leer verstaan. Omdat ons ’n hegte gesin is, leer ons (hulle hopelik ook van my) baie van mekaar.” Op ’n vraag hoekom daar destyds so min jeugboeke in Afrikaans was, antwoord Hans hy raai dat ons letterkunde vir die jeug kwalik by die bendeboek verby kon kom, omdat daar te veel taboes vir ’n jeugboek was: “[M]oet nie politiek praat nie, niks seks en kinders vloek mos nie! Ek meen ons het die jong lesers klaaglik onderskat en ons skewe beheptheid met nasionalisme het veroorsaak dat ons ons kinders in dom, wit watte verpak het. En dan, natuurlik, sou jy uit jou eie ’n leser geword het op grond van die klomp goed wat jy op skool (en universiteit) voorgeskryf gehad het?” Sy seuns se reaksie op die boek was volgens Hans verrassend goed, “maar hulle het kritiek gehad wat ek opgevolg het – ek meen tot voordeel van die boek.” Die verhaal speel af midde in die politieke en maatskaplike werklikheid van die destydse Suid-Afrika. Thomas, ’n bruin seun, bly na sy pa se dood saam met sy ma en twee sussies in ’n buitekamer op die perseel van ’n wit gesin, die Ankers. Hulle deel die buitekamer met ’n neef van sy pa wat hulle molesteer en treiter met beledigings. Na sy ma hom agterlaat, is al wat vir Thomas oorbly, sy vriendskap met Dirk Anker, een van die min mense wat hom menswaardig behandel. Dirk en sy pa probeer hom toegelaat kry tot die “blanke” skool oorkant die straat, maar daar wag weer ander probleme in die vorm van Hare Harmse en sy vriende wat glo mense soos hy hoort nie daar nie. Thomas van der Walt meen dat dit een van die uitstaande jeugboeke tot op daardie stadium in Afrikaans is. “Een van die positiewe aspekte van die boek is die lekker taalgebruik, Afrikaans, soos jong mense hom vandag praat, en soos die bruinmense van die Noordweste hom praat. Die humor in die boek spruit gewoonlik ook uit die taalgebruik voort. [...] Dit is egter ’n boek wat vir groot leesplesier sal sorg, miskien juis omdat hy so bitter eerlik is.” Gunther Pakendorf meen egter dat die roman nie heeltemal oortuig nie, omdat dit té skematies en resepmatig is. Op versoek van die dramadepartement van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park in Pretoria verwerk Hans in 1995 Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou tot ’n eenakter. Dit was die eerste keer dat hy sy hand aan ’n toneelteks gewaag het. Die skool bring die stuk op die planke tydens die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie in 1995. Die beoordelaars, Lizz Meiring, Fred Steyn en Etienne Bloemhof, was só beïndruk dat hulle aan Hans die CR Swart-prys toegeken het, ’n geldprys wat jaarliks toegeken word aan ’n nuutgeskrewe eenakter wat in ’n betrokke jaar by die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer word. Volgens hulle word ’n verhaal “wat kennelik behoort aan die Suid-Afrika van die onlangse verlede, met groot ekonomie vertel. Die situasie is kontemporêr; daar is konflik op meer as een vlak; die karakters, ofskoon stereotipes, is aanvaarbaar en die dialoog oortuig feitlik deurgaans. Dit is duidelik dat die skrywer baie tyd daaraan bestee het om die teks te visualiseer, en die praktiese uitvoerbaarheid daarvan deurgaans in gedagte te hou.” Hans se volgende jeugboek is Bakgat, en wat van my? wat in 1995 deur Human & Rousseau uitgegee is. Hoewel baie van die karakters wat in Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou ook in hierdie verhaal optree, is dit nie ’n vervolg as sodanig nie. Herrie is nou die hoofkarakter en hy moet na Johannesburg gaan om sy matriek te maak. Volgens Elsabe Steenberg gaan dit hier om die geestelike groei wat Herrie, baie jare emosioneel verwaarloos deur sy ouers, in die eerste persoon beleef; dit word moontlik deur verhoudings met veral sy pa en die meisietjie Loelien. Steenberg beskou die werk as ’n besonderse jeugwerk. In 1996 verskyn Ditsem, Dawid! by Human & Rousseau. Al die bestanddele van ’n klassieke avontuurverhaal is in dié jeugverhaal aanwesig: ’n probleem wat opgelos moet word, volop aksie, helde en skurke, ’n intrige wat opwerk na ’n klimaks en die ontknoping waar die “goeie” die “bose” oorwin. Dawid word uitgenooi na die Bosveldplaas van die pa van Ernesta, ’n meisie op wie Dawid sy oog het. Daar word hulle by wildstropery betrek. Lindie Visser skryf dat die dialoog die loslit Afrikaans van die tiener is en dat dit lekker lees. Sonder om moraliserend te klink, word die etiek van jag bespreek en word die natuurskoon en diere met liefde en deernis beskryf. Tydens die KKNK in 1997 word Hans se eerste Griekwa-drama, Broerse, opgevoer. Dit word ook beskou as die eerste drama in Griekwa-Afrikaans, hoewel daar al in ander dramas karakters was wat in hul eie dialek gepraat het. Hans vertel aan Theunis Engelbrecht: “Broerse is ’n storie van ’n gesin wat deur kleurvooroordeel uitmekaar geruk word; die storie van broers wat weerskante van die kleurlyn beland, en dan deur ’n kleurbehepte gemeenskap van mekaar af weggehou word. En tussen die twee staan ’n mooi meisie – ’n mooi meisie wat ook nie altyd haar kies gekies het nie. ’n Liefdesverhaal eintlik, maar hoe het mense lief as hulle nie altyd toegelaat word om lief te hê soos wat die liefde dit wil hê nie?” Dit was Salome Combrink se idee dat Hans ’n drama vir die KKNK moes skryf wat iets moet “weergee van die diep wonders van Afrikaans en iets van die mense wat in die ou Suid-Afrika die agterspeen gehad en nou, in die nuwe ene, ook nie juis ’n voorspeen in die mond het nie.” Ben Kruger is die regisseur en die akteurs is Anthony Wilson, James Winkler en Jackie Davids. Saam met Annette du Plessis ontvang Hans in 1997 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Afrikaanse dokumentêre televisieprogramme vir die program Afrikaans: ons eie mixed bredie. In 1999 het Hans met die komponis Wilhelm Joubert kragte saamgesnoer om ’n besonderse stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis na teatergangers te bring. Dit is Liefde en oorlog, ’n kabaret/musiekspel oor die Anglo-Boereoorlog, wat tydens die Aardklop Kunstefees in 1999 opgevoer is. Die produksie is spesiaal vir Aardklop se hooffees ontwikkel. Daar was die klanke van viool en saksofoon wat in teenstelling is met die visuele beeld van ’n outydse Mauser en ’n moderne Waarheids-en-Versoeningsverhoor. Die akteurs was At Botha, Heidi Bouwer en André-Jacques van der Merwe. Die regisseur was Alwyn Swart. Reeds in Hans se bundel Gewete van glas verskyn daar gedigte in Griekwa-Afrikaans. In 1999 publiseer hy self ’n boekie, Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt. Dit is die voorloper van Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte wat in 2001 by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie bundel is die wenner van die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se Algemeen Christelike Kategorie. Dit word die Afrikaanse boek waarvan tot op daardie stadium die meeste eksemplare in die eerste jaar - nagenoeg 38 000 – verkoop is. Hans vertel aan Gert Coetzee dat hy een aand, tydens Christo van Rensburg se navorsingsprojek, in die hotel op Douglas gesit en wonder het hoe Psalm 23 in Griekwa-Afrikaans sou klink. Tydens sy navorsing het Hans besef dat die Griekwas “iets ongeloofliks” in hulle het. “Hulle het ’n kinderlike geloof – amper ’n Europese toegewydheid – in God, maar terselfdertyd leef oer-Afrika se mite in hulle. Dié paradoks in hulle maak van hulle oer-Afrikane, én dat die woord vlerke kry hoe verder dit loop.” Volgens Hans is sy Griekwa-gedigte nie vertalings of omdigtings nie, maar ’n transponering op drie vlakke. “Eerstens is dit ’n transponering in tipiese Griekwa-Afrikaans met ’n vertaler wat eenvoudige taal praat en woorde soos ‘kinderse’ en ‘goeterse’ gebruik. [...] Dit is ook ’n transponering van die omgewing. Dawid slaan sy oë op na die berge, maar in die Kalahari is nie berge nie, ook nie ’n dal van doodskaduwee nie. Daar is wel koppe en strate (tussen die duine). Dawid kan ook nie onder ’n olyfboom sit nie, maar onder ’n kameeldoringboom. En die aarde is net so groot soos Prieska. Laastens is dit ’n transponering op godsdiensvlak. Dawid beskryf die stryd tussen goed en boos deur beelde van oorlog en siekte. Vir die Griekwa is onheil die beerlou, waterslang, son en droogte.” Hans meen dat die sukses van die boek waarskynlik te danke is aan ’n mengsel van die bekende en die onbekende (soos Psalm 121 in onbekende metafore) en omdat die eenvoud van die mense in poësie oorloop. “Ook is daar iets geesteliks in die bundel. Baie mense het aan [my] gesê hulle het nie meer die Bybel gelees nie, totdat hulle dié bundel onder oë gekry het.” Wium van Zyl skryf in sy resensie dat GR von Wielligh in 1925 gesê het: “Hul taal is ongetwyfeld die laagste vorm wat Afrikaans bereik het.” Van Zyl skryf verder: “Die bundel bied egter spanne leesplesier en ’n nuwe ervaring van die rykdom van die Afrikaanse streektaal, sowel as van die literêre skatte van die Bybel en Psalmboek. Dat Afrikaanse digters en taalkundiges vandag aangetrokke voel tot die Griekwataal, bevestig dat Von Wielligh se optiek ver agter ons lê. Hierdie bewonderaars is egter steeds nie-Griekwas, iets wat ’n ligte nasmaak laat: van ’n eens trotse kultuur waarmee nou as kleurryke, onskadelike folklore omgegaan word.” Cecile Cilliers beskou veral Du Plessis se hantering van die psalms as “meesterlik” en sê dat daar in hierdie bundel “’n weelde van woord en mens opgesluit” lê. Hans meen dat Innie skylte vannie Jirre die romantiek van eenvoud vasvang op die manier waarop sterre, doringbome, veldheuning en bokke ingespan word om groot geestesgoed te sê. “Daar is ’n onmeetlikheid, ’n wyd- en woestheid nie net in die landskap en in die Heer se goedheid nie, maar ook in die intense gevoelens wat gedig word.” Hans voel ook dat hy aansluiting gevind het by die Griekwa-benadering tot geloof: dat mens kinderlik afhanklik van God is. Innie skylte van die Jirre het Paulette van Heerden so geïnspireer dat sy ’n unieke reeks linne met uittreksels uit die psalms daarop geborduur, die lig laat sien het. Griqua Linen word vanuit haar huis in Scarborough in die Kaapse Skiereiland bedryf. Die reeks bestaan uit duvetoortreksels met bypassende kussingslope in wit katoenbatis, geborduur in goud of steenkool. Randall Wicomb toonset Hans se Griekwapsalms en bied landswyd konserte aan, met groot sukses. Randall se CD’s is ook suksesvol. Hans se volgende twee bundels is op dieselfde lees geskoei as Innie skylte vannie Jirre. Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied (2002) en Hie neffens my (2003) word ook albei by LAPA gepubliseer. In ’n onderhoud met Elise Tempelhoff vertel Hans dat Randall Wicomb hom gevra het om net een liefdesgedig in Griekwa-Afrikaans te vertaal. “Dis toe dat ek deur die Bybel blaai en op Hooglied 8 afkom. Ek het onmiddellik geweet Hooglied roep om in Griekwa-Afrikaans vertaal te word. Die erotiek en die mistiek van die liefde moes na die Kalahari gebring word.” Hans het Hooglied woord vir woord in die idioom van die Griekwas oorgeskryf, sonder om iets by te voeg of weg te laat. Hy meen dat Hooglied ’n liefdesgedig is waarin die man en vrou hul ekstase oor mekaar uitspreek. “Sommige teoloë meen dis ’n allegorie wat die verhouding tussen die kerk en Christus uitspel. Dit mag so wees, maar liefde is tog Godgegewe. Daarom hoort dit in die Bybel.” Hy erken teenoor Ronél van Oort dat hy nog nooit soveel navorsing en moeite met ’n boek gedoen het soos vir Boegoe nie en dat hy nog nooit so hard gewerk het nie. “Magdaleen, my vrou, het aanvanklik die manuskrip gelees en gesê die liefde is mistiek en Boegoe het dit nie. Sy was reg, en ek het gaan oorskryf. Boegoe is meer literêr gesofistikeerd as Innie skylte vannie Jirre, maar is nie ontoeganklik nie.” Hans raak skoon aangedaan as hy vertel dat hy ’n eksemplaar van die bundel vir een van die Griekwa-kapteins geneem het. “Die man het daaruit gelees en uitgeroep: ‘Maar dis dan in ons Afrikaans’!” Cecile Cilliers skryf in Beeld oor Boegoe vannie liefde dat hierdie samevoeging van ’n liefdesverhaal van ongeveer 2 000 jaar gelede met ou Griekwa-gebruike, maar dan geplaas binne ’n moderne opset, nie vreemd opval nie, maar ’n dinamiese spanning skep. “Alledaagse beelde word afgewissel met liriese gedeeltes van uitsonderlike musikaliteit en digterlikheid. [...] Dit sou maklik wees om te sê dat Hans du Plessis op die rug van Griekwa-Afrikaans ry om die gedigte so bekoorlik te maak. En miskien is dit gedeeltelik waar, want veral met hardop lees word mens verlei deur die ritmes van die tongval. Maar dit is nie hele waarheid nie. Wat sowel opset as raamwerk betref, is hier ’n digter aan die werk. Elke woord is op sy plek, en die oorspronklike Hooglied word (sonder verlies van respek vir die bron) omgeswaai om in die raamwerk van ’n eie verhaal te pas. Selfs die mees uiteenlopende stof word ten volle geïntegreer, onder meer met die gebruik van herhalings of herhaalde gedigte in ietwat veranderde vorm.” Hans se rubrieke wat oor die jare in veral in die Potchefstroom Herald, asook in ander koerante en tydskrifte verskyn het, word in 2004 deur LAPA uitgegee onder die titel Splinters: ’n keur uit rubrieke. Gretel Wybenga meen dat die genre van rubriekskryf vir Hans soos ’n handskoen pas. Hy is ’n “bobaas-oorreder, boonop geseën met ’n gladde tong. En hy kén al die tegnieke.” Na ’n stilte van negentien jaar in die genre van die roman verskyn Hans se roman Verbrande paradys in 2009 by LAPA Uitgewers. Die verhaal speel in die Vredefortkoepel af waar die Koepelaars onrustig woon asof hulle bewus is daarvan dat daar geen beskerming vir hulle teen die noodlot is nie. Willem Pretorius vertel dat die verhaal oor Sybrand Venter gaan wat baie vinnig moet grootword wanneer sy pa tragies sterf; sy broer Henro, wat goed kan “weld”, maar wie se hyser voor die boonste verdieping stop; en Andries Spogter, die atleet. Pretorius beskou die roman as ’n lekker lees. Stoffel Cilliers beskryf die roman as veelvlakkig, iets wat hom nie sommer in ’n genre laat plaas nie. “Tiener- of studenteverhaal is dit nie. Ook nie juis ’n gesinsroman nie. Dit sal beslis kan kwalifiseer as karakterroman. Sommige lesers sal dit ’n natuurroman wil noem. Verskeie temas word in die verhaal aangeraak, soos die verantwoordelikheid van die mens teenoor die natuur, die dood met sy vele gesigte en gevolge en die verganklikheid van die mens. As aktuele, eietydse roman bied Verbrande paradys inderdaad baie stof tot nadenke oor ’n verskeidenheid onderwerpe. [...] Dit bied ’n besonder aangename leeservaring.” In 1977 tydens ’n FAK-byeenkoms op Sasolburg sê Hans dat die bruin mense in Suid-Afrika deel is van die Afrikaanse gemeenskap. In 1998 vertel hy aan Alta van Wyk dat hy toe nie eens bedank is vir sy referaat nie en boonop daarvan beskuldig is dat hy “die taal weggee”. Vandag lag hy lekker oor die petalje, maar sê: “Dit was ons hele probleem met Afrikaans. Die feit dat politiek diegene wat nie sogenaamde Algemene Beskaafde of Standaardafrikaans praat nie, uitgedefinieer het; dat ons nie wou erken dat al die variante van Afrikaans die taal verryk en verruim nie. Dit terwyl Afrikaans hoeka uit Hottentots stam. [...] Die stryd teen Afrikaans was egter nie teen die taal nie, maar teen die witgeverfde gesig daarvan. Daarom is ’n inklusiewe herdefiniëring nodig. Want plaas jy vir Standaardafrikaans baklei, baklei jy vir ’n minderheidstaal. Baklei jy vir Afrikaans in al sy skakerings, bevorder jy ’n taal met sowat sestien miljoen sprekers – die grootste taal in Suid-Afrika!” In 2000 word Hans verkies tot ondervoorsitter van die ATKV, ’n posisie wat hy beklee tot 2008 aangesien hy deur die ATKV se grondwet verplig word om op 63-jarige ouderdom as direksiekid uit te tree. Hy was voorsitter van die FAK se Taalkomitee, voorsitter van die direksie van LAPA Uitgewers, trustee van die Kanselierstrust van die PU vir CHO, en trustee van die Arts and Culture Trust van die President. Hy dien ook in die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees. Tydens 2000 se Aardklop Kunstefees lewer Hans ’n lesing getiteld "Sol Plaatje en Totius" waarin hy die ooreenkomste tussen die Batswana-skrywer-politikus en die Afrikaanse digter-teoloog uitlig. Albei is in 1877 gebore en albei het doktorsgrade ontvang. Hans se uitsprake rondom Afrikaans is alombekend. In 1997 skryf hy in Karring, die Universiteit van Wes-Kaapland se tydskrif vir taalonderrig: “Die bitterbekke wat so kla dat dit deesdae kwansuis sleg met Afrikaans gaan, het die ding aan die stert beet. Dit gaan in die nuwe bedeling inderdaad goed met die taal Afrikaans. Dis by die vak Afrikaans wat dit lol. [...] Dat die vak Afrikaans soveel teenspoed ondervind, veral aan Afrikaanse universiteite, het te doen met die vak self en met daardie universiteite se vakmense wat ongewillig is om by die nuwe eise aan te pas. [...] Kortom, wie wil nog weet van die teoretiese sintaksis of die literêre semantiek? Die twintig wat aangemeld het vir die akademiese vak, ja, maar hulle is nou die minderheid. Versigtig: so mis jy die ander duisend wat Afrikaans wil leer praat, omdat hulle dit op hul werkplek sou nodig kry of omdat dit ’n ander venster op Europa kan oopmaak.” In 2002 lewer Hans die Hoërskool DF Malherbe se sewende gedenklesing. Die titel van sy lesing was Afrikaanses en Afrikaans: van Malherbe tot Mbeki. Hy spreek die mening uit dat Afrikaans vir hom in die eerste plek die somtotaal van al sy dialektiese en sosiolektiese moontlikhede is. “Met dit in my agterkop het ek in 1993 al die term Afrikaanses die eerste keer gebruik, bedoelende daarmee al die moedertaalsprekers van Afrikaans, maar ’n belangrike groep het uitgebly: die gebruikers van Afrikaans wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, maar ’n belangrike deel uitmaak van die sogenaamde sekondêre taalgemeenskap. Juis binne die eksterne omgewing, speel hierdie deel van die Afrikaanse taalgemeenskap ’n belangrike rol.” Hans skryf graag vroeg smôrens, “alleen saam met die voëls wat baie mooier as ek skryf” en gewoonlik vanweë werkdruk op Potchefstroom, maar, vertel hy aan Jeanette Ferreira, “verkieslik in my aardse skylte op Eersterivier waar ek alles wat ek skryf, gaan afrond, want stilte en alleente is dáár vanself, al raas wie ook al. As ek vashaak, wil ek opstaan, die natuur om my hê.” Op ’n vraag van Jeanette Ferreira oor hoe hy skryf – sommer so, of eers met notas, frases, so aan – antwoord Hans: “Lang aanloop. Los woorde baiekeer in die kerk, vroeër agter in die Gesangeboek, maar deesdae sit ek maar altyd skoon papier in my kerkpak se sak.” Hans het sedert die vroeë negentigerjare las van ’n oorerflike oogsiekte waarvoor hy laserbehandeling gekry het. Hierdie behandeling het sy detailsig so aangetas dat hy nie meer kan motor bestuur nie en met behulp van die tegnologie moet lees. Hy spot: “Ek kan byvoorbeeld nie mense se gesigte erken nie, maar dan vóél ek maar wie hulle is!” Ondanks sy sigprobleem gaan hy onverpoosd voort met skryf. In Finesse van Februarie 2002 vertel Hans aan Alita Vorster: “Die genade is mos altyd groter as die moeilikheid, maar moeilikheid se moeilikheid is dat dit so sigbaar is. Genade se genade is daarin dat dit daar is as jy dit die nodigste het, al sien jy dit eers later raak. Eintlik moet genade ook met ’n hoofletter begin, want ek praat van God se Genade. Miskien het ons geloof en godsdiens só ingewikkeld gemaak dat ons dit in sy eenvoud (en ons eie eenvoudigheid) nie wil raaksien nie. Hoe kan die hemelse Genade dan so aards, so alledaags, so wêrelds wees? Tog is dit. En al wat ons moet doen, is om dit raak te sien, en te ervaar. [...] En toe die Genade: die bundel (Innie skylte vannie Jirre) word ’n wegholsukses, Awie (van Wyk) se koor bly sing en Randall (Wicomb) maak met ’n produksie en CD nuwe paaie oop. Maar dit is genadegoed dié, want ek het nie vooraf besluit ek wil ’n godsdienstige boek skryf nie. Ek het gedigte geskryf wat uiteindelik groter as ek geword het. "Die ou met die swak oë en die onvaste woorde word deur die Genade saggies gevat en op ’n pad vol verrassings gesit – ’n pad wat hy nie vir homself só sou kon uitdink nie. Ook maar goed, want die Here se pad loop beter. En dan wonder ons steeds of genade groter is as moeilikheid?” Terug na bo Publikasies: Publikasie | Kleinwild | Publikasiedatum | 1978 | ISBN | 0809701507 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: HAUM | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Wat is wat?: ’n inleidende ondersoek na wat-verskuiwing in Afrikaans | Publikasiedatum | 1979 | ISBN | 08697013200 (sb) | Uitgewer | Johannesburg: RAU | Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Sintaksis vir eerstejaars | Publikasiedatum | 1982 | ISBN | 086874168 (hb) | Uitgewer | Pretoria: Academica | Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Gewete van glas | Publikasiedatum | 1984 | ISBN | 0798117184 (hb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Taalfeite en –foute: hersieningsoefeninge vir Afrikaans | Publikasiedatum | 1984 | ISBN | 0869541692 (sb) | Uitgewer | Johannesburg: Macmillan | Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Grensgeval | Publikasiedatum | 1985 | ISBN | 0798119179 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Roman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Sintaksis | Publikasiedatum | 1985 | ISBN | 086874221X (sb) | Uitgewer | Pretoria: Academica | Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Variasietaalkunde | Publikasiedatum | | ISBN | - 0620115882 (sb)
- 0798635525 (sb)
| Uitgewer | - Pretoria: Serva
- Pretoria: Kagiso
| Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Skuiwelinge | Publikasiedatum | 1990 | ISBN | 0798630574 (sb) | Uitgewer | Pretoria: HAUM-Literêr | Literêre vorm | Roman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou | Publikasiedatum | 1991 | ISBN | 0798632489 (sb) | Uitgewer | Pretoria: HAUM-Literêr | Literêre vorm | Jeugroman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | En nou, Afrikaans? | Publikasiedatum | 1992 | ISBN | 0627018084 (sb) | Uitgewer | Pretoria: Van Schaik | Literêre vorm | Taalkunde | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Skryf ’n storie: praktiese wenke en opdragte vir die voornemende skrywer | Publikasiedatum | 1993 | ISBN | (sb) | Uitgewer | Pretoria: JP van der Walt | Literêre vorm | Letterkundige gids | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Bakgat, en wat dan van my? | Publikasiedatum | 1995 | ISBN | 0798133740 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Jeugroman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Ditsem, Dawid! | Publikasiedatum | 1996 | ISBN | 0798136626 (sb) | Uitgewer | Kaapstad: Human & Rousseau | Literêre vorm | Jeugroman | Pryse toegeken | ATKV-Kinderboekprys 13–15 jaar 1998 | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt | Publikasiedatum | 1999 | ISBN | 0620251921 (sb) | Uitgewer | Potchefstroom: H du Plessis | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte | Publikasiedatum | 2001 | ISBN | 0799328758 (sb) | Uitgewer | Pretoria: LAPA | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Algemeen Christelike Boeke 2002 (Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika) | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied | Publikasiedatum | 2002 | ISBN | 799330507 (sb) | Uitgewer | Pretoria: LAPA | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Hie neffens my | Publikasiedatum | 2003 | ISBN | 0799330256 (sb) | Uitgewer | Pretoria: LAPA | Literêre vorm | Poësie | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | — | Publikasie | Splinters: ’n keur uit rubrieke | Publikasiedatum | 2004 | ISBN | 0799333220 (sb) | Uitgewer | Pretoria: LAPA | Literêre vorm | Rubrieke | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Publikasie | Verbrande paradys | Publikasiedatum | 2009 | ISBN | 9780799343137 (sb) | Uitgewer | Pretoria: LAPA | Literêre vorm | Roman | Pryse toegeken | Geen | Vertalings | Geen | Resensies en besprekings beskikbaar op die internet | | Hans du Plessis as redakteur - Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk. Saam met Dawie Steenberg. Pretoria: Van Schaik, 1992 [ISBN 0627018408 (sb)]
Artikels deur Hans du Plessis beskikbaar op die internet Artikels oor Hans du Plessis beskikbaar op die internet Terug na bo  Terug na bo Bygewerk: 2009-07-09 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|