| |
 |
| Duiwelswerk en drogredenasies - Swaeltjie 1 |
Heinrich B Zaayman
Jy wil met my praat oor "Lawyers for Human Rights"? Hieronder is 'n samevoeging van twee essays wat ek omtrent twee jaar terug vir SêNet geskryf het. Ek hoop en bid jy hoef nooit in jou lewe so-iets deur te maak nie. Die leier van hierdie moordenaars het as gevolg van een van jou sogenaamde lawyers for human rights skotvry gekom op 'n tegniese punt. Is 'n leeftyd se trane genoeg? - Die Hart van 'n Hond Boksie was van onsekere herkoms, alhoewel dit nie gemaak het dat hy ‘n lelike hond was nie. Hy was groot met ‘n mooi gevormde kop, groot hangore en vriendelike groot bruin oë. Een van sy ouers moes ‘n Boerboel gewees het, die ander moontlik ‘n Labrador. Oupa het eendag op pad van die dorp af terug plaas toe, ‘n skoenboks langs die pad sien lê, en net voor hy verby ry, die boks sien beweeg. Hy het gestop, en die boks wat met maskeerband toegeplak was, oopgemaak. Opgekrul binne-in, was die ligbruin hondjie, alreeds swak van ontbering en ‘n tekort aan suurstof. Oupa, wat ‘n groot diereliefhebber was, het die hondjie gemasseer, en lug in sy neus geblaas, en met vreugde aanskou hoe die outjie reëlmatig begin asemhaal het, en sy oë oopgemaak het. Hy het die hondjie huis toe geneem, en hy en Ouma het die maer klein dingetjie met groot liefde begin versorg en grootmaak. En die klein maer dingetjie, gedoop Boksie oor waar Oupa hom gekry het, het gedy onder hulle versorging en liefde, en ‘n yslike hond geword. Vir hulle was hy soos ‘n kind in die huis. Hoe ouer Boksie geword het, hoe meer het hy verstommende intelligensie getoon. Maar sy grootste deug was sy absolute liefde en trou aan Oupa en Ouma. Hulle kon hulle nie buite die huis roer nie, of Boksie was op sy pos tussen hulle, net voor hulle, net agter hulle. As hulle dorp toe gegaan het met die bakkie, het hy op die voorstoep gelê, tot hy die bakkie kon hoor aankom, dan het hy na die werfhek gehardloop en daar met groot geblaf gewag dat Ouma moet uitklim om dit oop te maak. En na hy haar gegroet het, het hy sommer stertswaaiend die werf skoongemaak van al die hoenders, ganse en wat ook al net om seker te maak sy Oubaas en Ounooi kan ongehinderd terug in die huis kom. Met die al hoe groterwordende sekuriteitgevaar, het ons probeer om Oupa te oorreed om die plaas te verkoop, maar hy wou niks weet nie. Die plaas was vir hom en Ouma hulle hele lewe. Ons het hom darem later oortuig om nog ‘n groot hond te kry (Nero was ‘n Rottweiler) en toe te laat dat Boksie in die huis slaap. Ek was op pad terug Gauteng toe, na ‘n drie dae lange besoek aan ‘n kliënt in die Noord-Kaap, toe ek skielik en onverklaarbaar die behoefte voel om vir Oupa en Ouma te gaan verras met ‘n besoek. Dit sou ‘n ompad van honderd kilometer beteken, maar ek kon nie die behoefte ignoreer nie. Ek moes onraad vermoed het toe ek hulle van die afdraai probeer bel het, en nie antwoord kon kry nie. Toe ek by die werfhek stilhou, sien ek iets is verkeerd. Die hek staan oop, ek sien geen hond nie, en al die deure van die huis staan oop. Die waenhuis het ook oopgestaan en Oupa se bakkie was nie daar nie. Alles hoogs onreëlmatig. My nekhare het onmiddellik begin rys. Ek het uit my kar geklim en versigtig na die huis gestap met ‘n yskoue hand wat heeltyd my hart omklem het. By die hoek van die huis het Nero gelê, doodgeskiet. Vervolg ... Heinrich B Zaayman
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|