Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Duiwelswerk en drogredenasies - Swaeltjie 2
Heinrich B Zaayman
2009-07-08 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

By die stoeptrappe het ‘n onbekende jong swartman gelê, met arms aan flarde, en sy gorrel weggebyt. Van hom af het ‘n breë bloedspoor teen die trappe opgelei, deur die voordeur en na die kombuis toe. Daar het ek hulle gekry. Oupa en Ouma het langs mekaar gelê. Albei se voete, hande en skedels was verbrysel met ‘n bebloede hamer wat langs die tafel gelê het. Bo-op hulle het Boksie gelê, met sy kop styf tussen die oumense se liggame ingedruk. Sy hele agterlyf en ribbekas was met ‘n panga uitmekaar gekap. Sy regterbeen het net aan ‘n sening gehang, en die linkerkant van sy kop het aan ‘n vel oor Ouma se bors gelê.

Dit moes ‘n onmoontlike poging van hom gevat het, om homself teen die stoeptrappe op, deur die voordeur tot by sy geliefde Oubaas en Ounooi te sleep, om tog net saam met hulle die dood in te gaan. Ek lei af Oupa het nog geleef toe Boksie hom by hulle aangesluit het, want sy bebloede en gebreekte hand was op die hond se kop, en hy en Boksie het in mekaar se oë gelê en kyk.

Die wit newels van waansin

Terwyl die Polisie om jou rondskarrel om leidrade te probeer vind, sit jy op die stoep in die son, op ‘n snikhete Desember-oggend onder ‘n kombers en ruk. Die simpatieke sersant wat op haar hurke by jou sit het vir jou ‘n koppie walglike soet swarttee gebring.

Dit is asof jy van buite af ‘n grusame riller rolprent aanskou. Die bloed, die liggame, die stilte oor die werf. Jy kom agter dat die voëls nog steeds stil is. Jy probeer kalm bly, maar daar is sulke wit newels wat oor jou redenasievermoëns spoel. Jy probeer die emosies wat saam met daardie newels kom ontleed, en dan besef jy daar is net een beskrywing - waansin.

Want jy voel waansinnig hartseer en kwaad tegelyk. Jy soek iemand om te beskuldig, en jy wil daardie iemand vermorsel. Jy wil hom laat sterf op die wreedste manier denkbaar. Jy wonder waar was God om toe te laat dat twee sulke wonderlike en gelowige mense so wreed moes sterf, en jy verwyt Hom. "Waar de fok was Jy? Hoekom - hoekom -hoekom?" prewel jy, maar daar is nie antwoorde nie.

Jy kyk weer na die swarte wie se keel deur die honde afgeruk is, en jy dink; "Goedso Bliksem, ek hoop jy het stadig gevrek en geroggel in jou eie bloed."

As jy die soet tee drink begin die newels so bietjie terugtrek en jy besef jy moet die familie laat weet. Soos ‘n zombie loop jy na die telefoon en bel vir Ma en Pa. Dit is Ma wat antwoord. "Ma ek het slegte nuus," begin jy. "Here Heinrich wat is fout?" skree-vrae Ma as jou stem jou gemoedstoestand weergee. "Ma dit is Oupa en Ouma," begin jy. "Nee, Here asseblief tog nee!!!" skree Ma en die volgende oomblik is Pa op die lyn. Hy bring soos altyd bietjie kalmte in jou lyf. Jy verduidelik dat Oupa en Ouma vermoor is, maar los die detail uit. Dit voel net onmoontlik om dit te beskryf, so asof dit onwerklik is. Pa belowe hulle sal dadelik ry, en jy stop hom en sê dat Ma dit nie mag sien nie, hulle moet eers later kom. Sonder verduideliking verstaan Pa.

Dan begin jy wonder hoe jy die huis gaan skoon kry, so sonder hulp. Hoe jy jouself sover gaan kry om skoon te maak. Al die bloed ...

Vervolg ...

Heinrich B Zaayman



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Jeanne van Heerden
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur