| |
 |
| Duiwelswerk en drogredenasies - Swaeltjie 3 |
Heinrich B Zaayman
Die polisie se lykswa hou voor die huis stil. Jy kan nie glo die twee ou mense word met so ‘n vuil en onpersoonlike voertuig weggeneem nie. So onwaardig. Die wit newels begin weer oor jou denke spoel, en jy ervaar ‘n intense haat. Dis hulle skuld, en jy wil hulle in die hande kry om te boet! Hulle moet boet! Sersant Dhlamini bring vir jou ‘n toebroodjie. Dit proe soos rubber en karton, en jy bedank dit vriendelik en wonder of jy ooit weer in jou lewe gaan eet, of ‘n eetlus hê. Daar stop ‘n rooi bakkie voor die huis, en ‘n vriendelike blonde vrou klim uit. Sy verduidelik dat hulle misdaad tonele opruim, en dat ek nie bekommerd moet wees nie. Hulle sal alles skoonmaak, hulle wag net vir die polisie-fotograwe om klaar te maak. Jy glimlag dankbaar. Twee polisiemanne sleep Oupa se lieflingshond aan sy agterpote uit die huis en jy wil op hulle skree om die hond met respek te behandel. Jy vat egter woordeloos by hulle oor en dra die hond se verminkte karkas na die koelkamer, en lê dit saggies neer. Dan gaan haal jy die ander hond, en doen dieselfde. Dan begin jy wonder oor die ander diere, en stap krale toe. Tussendeur veg jy teen die wit newels. En al wat jy hoor is die polisie se doen en late. Die werf, die omgewing is stil. Jy kyk verbaas na die bloed aan jou klere, en wonder hoeveel daarvan is Oupa en Ouma s'n. Asof jy outomaties kan beweeg, gee jy diere voer en water. Selfs hulle lyk verwese. So asof hulle bang is hulle hoor weer gille van die huis af. Dan kom die eerste verlossing. Die buurman, oom Willie en sy vrou Erika kom aangestap. Jy het ook omtrent voor hulle grootgeword, en kan ewe skielik nie meer die trane terughou nie. En die geween van ‘n groot man het ‘n rouheid van sy eie. Dit weerklink van woede, frustrasie en hartseer oor jy nie die tragedie kon keer nie. Oor selfs jou manwees ontoereikend was om jou geliefdes te beskerm. Die twee ou mense hou jou vas asof jy hulle eie kind is. En net hulle aanraking bring bietjie kalmte en verdryf die wit newels. Vir eers. Oupa, Ouma en Boksie is saam begrawe daar op die plaas. Daar waar die Treurwilgers so oor die stroompie langs die huis hang. Heinrich B Zaayman
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|
|
|