| Vraag aan dr Dan Roodt oor kerk en politiek |
Cornelius Henn
Beste dr Roodt, Ek volg jou "Twee eeue van onreg deur Engelse" met groot belangstelling. Hierdie element vir jou volgende besprekings lyk belowend: Soweto en die swartbewussynsbeweging wat grootliks deur die Anglikaanse kerk en die SA Raad van Kerke met Britse en Sweedse geld geskep is ... Ek haal aan uit "Die lewe van Calvyn" - geneem uit die VCHO-studiestuk nr 12, "Die Protestantse staatsbeskouing en verset": Weens die positiewe veranderinge wat in Genève plaasgevind het, het Calvyn in 1541 na Genève teruggekeer. In dieselfde jaar het die stadsraad van Genève Calvyn se Kerklike verordeninge aangeneem. Hiermee het Calvyn daarna gestreef dat die menslike gemeenskap deur die Woord van God regeer moet word. Ek het lank gelede hierdie vir jou gevra: Wat is die rol van fundamentele Calvinistiese ideologieë in die Geskiedenis van die Afrikaner? Nog ʼn vragie wat gereeld by my opkom is: Kan die Afrikaner ander beskuldig vir sy ondergang as die Afrikaner self Godsdiens vir ideologie verruil het? ...en wat van die rugsteek deur die liberale Nederlanders en ander Dietses? Ek is in my hart oortuig dat die regeer van mense "deur die Woord van God" ʼn ernstige dwaling is. Jesus Christus ons God het opdrag gegee om heen te gaan en dissipels in Sy naam van al die nasies te maak; vir seker nie dissipels van een of ander ideologie nie. Ek sien eerlik uit na jou verdere besprekings en antwoorde op my vrae. Katolieke groete Cornelius Henn
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|