Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Vader Bonaventure Hinwood (1930– )
Erika Terblanche
2009-06-09 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Gebore en getoë

Edward Victor Hinwood, of Ted soos hy onder sy vriende bekend staan, is op 12 Februarie 1930 in Hillbrow gebore. Sy ma was ’n Afrikaanse nooi wat afstam van die Vissers wat saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het. Sy het later heeltemal verengels. Sy pa se familie was Hewitts wat hulle in 1832 uit Engeland in Somerset-Oos kom vestig het. Sy Engelse pa was betreklik tweetalig, dus het die jong Ted nie “heeltemal sonder Afrikaans” grootgeword nie.

Hy voltooi sy laerskooljare aan Orange Grove Primary en gaan dan na Highlands North High, albei skole in Johannesburg.

Hy vertel aan Anastasia de Vries dat sy lewe een is van ommekere en inkere. “Ek is in die Metodistekerk gedoop, het in die Anglikaanse Kerk grootgeword en later ’n Franciskaanse priester geword. Eers het ek net in Engels geskryf, en nou net in Afrikaans.”

Van sy skooljare af skryf hy al gedigte en is hy ook betrokke by die verhoog.

Sy belangstelling in die biblioteekwese het reeds op hoërskool begin toe hy studentebibliotekaris was. “My liefde vir boeke het daartoe gelei. Ek het altyd baie gelees. Toe ek op skool was, het ek boeke verorber. Enigiets wat leesbaar was. Ek was as jong mens nie baie gesond nie en kon nie aan sport deelneem nie, dus het ek gelees.”

Terug na bo

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Ted na die Universiteit van die Witwatersrand, waar hy na vier jaar ’n BA-graad met Geskiedenis en Engels as hoofvakke behaal, asook ’n honneursgraad in Geskiedenis. Terselfdertyd ontvang hy opleiding as bibliotekaris. Universiteite het dit nie destyds as vakgebied aangebied nie en die Suid-Afrikaanse Bibioteekvereniging het die opleiding verskaf.

Na universiteit gaan werk Ted vir twee jaar as bibliotekaris by die Johannesburgse Openbare Biblioteek.

Maar toe, in 1951, word hy lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk en volg hy ’n ander roeping: in 1953 word hy die eerste Suid-Afrikaner wat as kandidaat vir die Franciskaanse Orde aanvaar word. Hy vertel aan Elsa Krüger: “In so ’n besluit is God die hoofspeler. Ek was altyd geïnteresseerd in kerksake toe ek jonk was. Ek is Metodis gedoop, Anglikaans aangeneem en Rooms-Katolieke priester georden en heelwat van my familie is NG Kerk!” Op ’n vraag wat hom omtrent hierdie Orde getrek het, antwoord hy: “Die Orde is om twee eienskappe vir my aantreklik. Enersyds die broederlikheid, die noue emosionele band onderling, die hegte persoonlike verbintenisse en andersyds die klem op die armoedige lewenswyse.” Volgens vader Bonaventure glo en leer die Katolieke Kerk daar is waarhede wat onbeweeglik is, wat ons móét glo, wat nie betwyfel kan word nie. “In die kerk se tradisie, geloofsbelydenisse, algemene leer en in die liturgiese praktyke is die kerngeloofswaarhede ononderhandelbaar. Dit is wat ons glo. Punt.”

In 1951 is vader Bonaventure vir drie jaar na Ierland en daarna vir byna elf jaar na Rome. In 1964 stuur die Kerk hom terug na Suid-Afrika, waar hy aangestel word as studentekapelaan aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat hy vir sewe jaar beklee het.

In 1963 skryf hy – in Latyn – vir sy doktorsgraad ’n teologiese besinning oor ras en vertaal dit ook in Engels. Nege jaar later verwerf hy sy meestersgraad in Biblioteekkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Hy verskuif later na die St John Vianney-kweekskool in Pretoria, waar hy tot en met sy aftrede professor in Teologie was. Hy bly tans in Santa Sofia, gemeentehuis van die Orde van St Franciskus in Waterkloof, Pretoria, waar hy sy rus en vrede vind. Maar nie dat sy lewe rustiger verloop nie. Benewens sy digwerk is hy voog van Santa Sofia, doen hy vertaalwerk vir die Afrikaanse Katolieke apostolaat, gee raad oor priesteropleiding, waak oor die biblioteek van die Katolieke seminarie in Waterkloof én die vyf biblioteke van die Franciskane, gee af en toe klas, en is vir die Pretorianers al jare lank ’n simbool van vreedsame naasbestaan en welwillendheid tussen uiteenlopende kerke.

Tydens sy jare oorsee het vader Bonaventure se Afrikaans nog meer “vervalle” geraak. Nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika en studenteleraar by Tukkies geword het, het hy besef dis onmoontlik om die werk te verrig sonder dat hy tweetalig is. Elsa Krüger vertel dat hy begin het om koerant te lees, radio te luister en by elke moontlike geleentheid Afrikaans te praat – al was dit een woord Afrikaans, een Engels en een Italiaans. Binne ses maande het hy Afrikaans onder die knie gehad.

Sedert 1965 begin hy versies in Afrikaans skryf, ook in ’n poging om sy taal te verbeter, “en dit het selfs beter gegaan as my Engelse pogings,” vertel hy aan Marinda Uys. Van toe af kon hy nie meer in Engels skryf nie. Hy kan dit nie verklaar nie. “Jy weet, gedigte kom vanself by my in Afrikaans op – ek kan nie sê hoekom nie. As ek privaat bid, is ek geneig om in Afrikaans te bid. Dit kom spontaan. Afrikaans spreek my blykbaar net op ’n sekere vlak aan wat Engels nie doen nie.” Vader Bonaventure praat ’n besonder suiwer Afrikaans en hy kan dit nie verdra om tale te meng nie. Die gedigte het begin ophoop en daar het selfs ’n paar in tydskrifte soos Rooi Rose verskyn.

In 1965 ontmoet vader Bonaventure vir Franz Marx en word hy aangemoedig om te begin skryf. In 1966 ontstaan daar in Pretoria ’n digterskring waarvan vader Bonaventure deel is. Sy vormingsjare as digter bring hy in die geselskap van geesgenote soos Wilhelm Knobel, Marlise Joubert, Stephan Bouwer en Wilma Stockenström deur. Tydens hierdie byeenkomste het vader Bonaventure ’n leidende rol gespeel om aan jong, opkomende digters die geleentheid te bied om hulle werk te bespreek. Ander digters wat ook hierdie byeenkomste bygewoon het, sluit Marié Blomerus, Jeanne Goosen, Pirow Bekker, DPM Botes en Wessel Pretorius in. Soos Johann Lodewyk Marais vertel, is skrywers nie altyd goeie organiseerders nie en vader Bonaventure het met sy nougesette sekretariële ywer vir gereelde byeenkomste gesorg, waar tekste vir almal beskikbaar was vir bespreking en waar die geselligheid, wyndrinkery en versnaperings eers moes wag totdat die gedigte ordelik en sober bespreek is. Al het hy as organiseerder nooit vir homself ’n titel soos voorsitter, president of sekretaris opgeëis nie, was sy invloed formidabel. Van die voorste figure van daardie era getuig nou nog van vader Bonaventure se rol agter die skerms.

In 1986 besoek Johann Lodewyk Marais vir vader Bonaventure en vra hom of hy nie weer met die digterlike bidure van die sestigerjare wil begin nie. En daar is besluit om weer gereeld die byeenkomste aan te bied waar digters mekaar se werk kan bespreek. Die eerste byeenkoms vind plaas in Februarie 1986 in vader Hinwood se sitkamer. Elke maand het hy gesorg dat daar so vier of vyf gedigte van ’n digter is wat hy dan per pos aan die verskillende digters gestuur het. Die besprekings is om die beurt by die huise van verskillende digters aangebied. Dan is die gedigte “anoniem” bespreek, maar eintlik was dit gewoonlik ’n ope geheim wie se gedigte aan die beurt is, vertel Marais. Al het die skrywers se name ontbreek, het die digter van die gedig wat bespreek word, elke keer kans gekry om sy/haar gedig self te lees. Op hierdie manier kon die betrokkenes met die tekste vertroud raak voordat die bespreking begin, en na die bespreking het jy heelparty wenke ontvang hoe om jou gedig te verbeter – en nog boonop gratis.

Hoewel so ’n werkswyse vandag algemeen is in die kursusse vir kreatiewe skryfwerk wat oral aangebied word, was dit 20 jaar gelede nie so algemeen nie en het digters soos Marais, Martjie Bosman, Johann de Lange, Henk Havenga, Renée Marais, Marietjie van der Merwe en ander baie by hierdie byeenkomste gebaat. Van die oorspronklike groep digters het al gedros, maar steeds gaan vader Bonaventure getrou voort met die byeenkomste – 22 jaar na Johann Lodewyk Marais se besoek en het die argief van gedigte bestendig gegroei.

Vader Bonaventure is sedert die jare sestig ook baie betrokke by teater, radio en televisie. Die lewende teater lê om baie na aan die hart en hy erken dat die enigste ander ding wat hom sou kon gelok het, was om akteur te wees. Op hoërskool was hy gereeld in toneelopvoerings en het selfs die kardinaal in CL Leipoldt se Die heks gespeel. Tussen sy universiteitstudies deur was hy gedurig met toneel besig – elke aspek daarvan: toneelspel, stelbou, kostuums, ontwerp en regiewerk. “Ek het feitlik al my studeerwerk op die vloer agter die verhoog van die Groot Saal gedoen. Tussen repetisies deur.”

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1964 nooi Anna Neethling-Pohl hom om as gasdosent by Tukkies se Drama-departement te kom lesings gee. Hy word toe af en toe as raadgewer vir Truk-produksies ingespan, veral vir stukke met ’n godsdienstige tema. In 1973 vra Franz Marx hom of hy nie ’n rol in ’n film wil hê nie. Hy was effe uit die veld geslaan, maar het gemeen hy sou dit in elk geval nie in sy besige skedule kon inpas nie. Toe hy dit egter aan sy kollegas noem, het hulle hom aangepor om dit te aanvaar, sodat hy ondervinding kon opdoen om voor kameras op te tree – veral met televisie wat binnekort na Suid-Afrika sou kom. Sy kollegas het ingespring en sy klasse waargeneem en voor hy hom kry, was hy ’n akteur in Aanslag op Kariba. In 1974 stuur die Kerk hom na Engeland, waar hy vir drie maande ’n kursus in radio- en televisiewerk loop, maar na sy terugkeer was hy te besig om enige van sy nuutgevonde kennis te gebruik, totdat Anna Neethling-Pohl hom getakel het. Hy vertel aan Family Radio and TV van Oktober 1981: “She gave me a long lecture about letting moss grow on one’s soul and what the Lord demands of one’s talents.” Hy kontak vir dr Jan Schutte en die gevolg was dat hy selfs in die eerste episode van The Villagers gespeel  het.

Sy betrokkenheid by die radio begin in die laat sestigerjare toe die Seminarie gevra is om deel te hê aan die SAUK se uitsending van kerkdienste. Hy was ook ’n lid van die paneel van die Engelse diens se Radio Chaplain-programme, en op televisie lei hy eredienste en neem aan paneelbesprekings deel.

In die vroeë tagtigerjare was sy gedigte genoeg, en word sy eerste bundel, Smeulvuur 1996–1975, in 1981 deur Van Schaik gepubliseer onder die skuilnaam Hewitt Visser, ’n naam wat van sy ma en pa se voorsate afkomstig is. Hy verduidelik die gebruik van ’n skuilnaam aan Anastasia de Vries: “In die 1960’s was daar nog stereotiepe idees oor wat ’n priester veronderstel is om te doen en te sê. En net om my die vryheid te gee om te sê wat ek wou, het ek onder ’n skuilnaam begin skryf.” Smeulvuur word oor die algemeen redelik goed ontvang en Fanie Olivier skryf dat die verse deurgaans van ’n diep, maar eenvoudige, religieuse aard bly, slingerend tussen ’n hartseer en uitbundigheid. En André le Roux skryf dat Smeulvuur tog meer oplewer as die gewone debuut en dat dit poësie is wat noukeurige lees verdien.

Met die verskyning van Sonvis in 1988 gebruik vader Bonaventure nie meer sy skuilnaam nie. TT Cloete beskryf Sonvis as ’n simpatieke bundel, baie toeganklik, pretensieloos en opreg. Die bundel is baie boeiend in sy makrostrekking en daar staan pragtige gedigte in, die soort poësie wat mens in Nederlands by Bloem kry. Joan Hambidge meen dat hoewel die bundel klein in omvang is, daar tog bekoorlike verse in is waarvoor ’n mens waardering het.

Soenoffer word in 1991, weer by Van Schaik, uitgegee. Daniel Hugo skryf dat sover sy kennis strek, daar net drie Afrikaansskrywende Katolieke is: die filosoof Martin Versfeld, en die digters Sheila Cussons en Bonaventure Hinwood. “Hulle gee aan ons oorwegend Calvinistiese literatuur ’n besondere dimensie – net soos Breyten Breytenbach se Zen-Boeddhisme en Olga Kirsch se Judaïsme. Dit lê voor die hand om Hinwood se poësie met dié van Sheila Cussons te vergelyk. Albei skryf religieuse verse, maar in verskillende tradisies. Waar Cussons by uitstek ’n mistieke digter is, beoefen Hinwood ’n godsdienstige skryfgenre wat al sedert Totius in Afrikaans bekend is, naamlik die gelykenis en die allegorie waar ’n waarneming of gebeurtenis uit alledaagse werklikheid gebruik word as ’n beeld vir ’n metafisiese, religieuse waarheid." Hy eindig deur te sê dat Soenoffer ’n yl, maar verkwikkende bundel in ’n poësiedorre tyd is.

In 1993 verskyn daar by Van Schaik Uitgewers ’n omdigting van die Bybelse Psalms vir Afrikaanssprekende Katolieke deur vader Bonaventure. Vader Bonaventure vertel aan Neels Jackson dat hierdie weergawe nie ’n beryming is nie. Om die waarheid te sê, dit rym glad nie. Hy sê dit moes ’n streng teksgetroue vertaling wees, maar boonop ’n ritmiese omdigting wat gesing-praat kan word soos dit in die Rooms-Katolieke Kerk gedoen word.  Aanvanklik was die gedagte slegs om ’n vertaling vir kerklike gebruik te lewer, maar na ’n besoek aan Helgard Raubenheimer by Van Schaik is besluit om dit te publiseer sodat dit naas ander omdigtings van Skrifdele in boekwinkels kan staan en gekoop kan word. Oor hierdie omdigting sê vader Bonaventure aan Johann Lodewyk Marais dat dit vir hom ’n besonderse publikasie is. “Ek dink dis vir my die kroon op my letterkundige werk tot nou toe. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek dink dis die grootste en waardevolste poging wat ek tot nou toe aangewend het.”

By die bekendstelling van die bundel Psalms en lofgesange sê prof Elize Botha dat Bonaventure die Psalms verwerk in vloeiende heffingsverse om, mondvriendelik en tongwelgevallig, in gesamentlike gebed en gesang opnuut, en in ’n heel nuwe omgewing, in Afrikaans te klink. “Daarom is daar ’n ervaring van tydloosheid in die eietydse taalvorm waarin hierdie Psalmberyming van Bonaventure tot ons kom. Baie dankie dat dié ervaring vir ons moontlik gemaak is.”

Berta Smit sê dat Hinwood se omdigting vir elke mens bedoel is. En dat hoewel hy binne ’n bepaalde opgaaf moes werk om die Psalms te laat inpas in die ritme en die aard van die sang soos dit binne die Katolieke Kerk gebruiklik is, dit nie merkbaar inperkend op hom ingewerk het nie. Sy verse het ’n spontaneïteit en soepelheid wat dit uitnemend leesbaar maak, al is dit dan ook net as suiwer poësie. Vir Smit is dié bydrae van Hinwood net weer ’n bewys dat die eintlike waarheid altyd vars bly.

In 2004, na ’n digterlike stilswye van dertien jaar, word vader Bonaventure se volgende bundel, Serafyn, by Bent Uitgewers uitgegee. So ook die volgende twee, Afskynsels (2007) en Seevlak tot Savanna (2008). In Serafyn, skryf Fanie Olivier, staan die digter se persoonlike verhouding met die godheid voorop, maar die bundel stel teleur, veral vanweë die tipografiese versorging en te veel middelmatige gedigte. Bernard Odendaal skryf dat die gedigte tekenend is van die innige, onskouspelagtige, religieus-inspirerende werk wat Hinwood lewer. Volgens hom is daar ook te veel tik- en spelfoute.

Oor sy jongste bundel, Seevlak tot savanna, skryf Johann Lodewyk Marais op LitNet dat Hinwood se gedigte heel dikwels vol van die mistieke en godsdienstige belewing is wat hom in dieselfde kategorie plaas as ’n digter soos Sheila Cussons. “Soms vind die mistieke wending eers in die slot van ’n gedig plaas, maar vir iemand wat vertroud is met vader Bonaventure se gedigte, is hierdie wending selde totaal onverwags en/of ongemotiveerd. Daarom miskien ook dat daar nie werklik fenomenologiese omgang met die werklikheid is nie en die ding as sodanig nie die digter se verwondering ontlok nie. [...] Op die keper beskou, besing hierdie gedigte die lof van God in al sy gedaantes in die skepping. Die ironiese toon in meer as ’n hand vol gedigte sorg dat die geheel nie stroef voorkom nie. [...] Vandag bring ek hulde aan die verrykende blik wat hy my op die lewende wêreld om my bied. Hy, meer as talle groot kokkedore in die Afrikaanse letterkunde, het dit vir my die moeite werd gemaak om in hierdie digterlike tradisie te probeer voortwerk.”

Michael Shackleton skryf in The Southern Cross: The website of Southern Africa’s National Catholic weekly: “[In this collection the poet] has lost nothing of his imaginative choice of words and their sounds in blendings and arresting beauty. This is a collection of poems about nature and the poet’s surging emotions when faced with the sea and the land. The poet’s moods and feelings are expressed in short entities, each one neither longer nor briefer than the images demand. God’s special relationship with creation, the human family in particular, is central to this poetry.”

Vader Bonaventure se lewe is te vol om net aan die skryf van gedigte aandag te gee. Maar as hy tot bedaring kom, is daar geen keer nie. Meestal met vakansies borrel die gedigte net uit. Hy vertel aan Elsa Krüger dat as hy moontlik kan, hy sy vakansies by die see deurbring. Hy is versot op swem, winter en somer. Tyd vir ontspan is daar weinig, maar hy is dol oor drama, ballet en opera en is ’n ewige student met ’n onversadigbare drang na kennis.

Terug na bo

 Publikasie onder Hewitt Visser

 

Publikasies onder Bonaventure Hinwood

 

 

 

 

 

Terug na bo

Gedigte deur Bonaventure Hinwood beskikbaar op die internet:

Artikels oor en deur Bonaventure Hinwood beskikbaar op die internet

Terug na bo


 

Terug na bo

Bygewerk: 2009-06-09
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about David Kramer
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur