| Van Clinton V du Plessis se LitNet-blog: die revolusie begin eerste op die plase |
Clinton V du Plessis
die kinders skype op sondae uit kanada, koud bewe die beelde bons die stemme van die mure terug die kleinkinders se monde vorm die woorde vreemd en ongemaklik, onafrikaans glimlag hulle, hulle ken nie die lekker bollemakiesie van die taal op die tong: klouter, kleuter en kielie, koggelmander en kwikstertjie, oupa se hande wens om vir die seuntjie 'n draadkar te maak die mik van 'n kettie te laat voel die knapie op sy knie te laat sit, ouma leun oud in die kamera in haar bril soek dof die sproete op die dogtertjie se neus, later sou hulle op die internetweergawe van die sondagkoerant al die detail lees, hoe die drie mans, 16, 18 & 20 die ou man vasgebind het, hom met die gloeiende strykyster die kluis laat oopsluit, later moes hy kyk hoe hulle die ou vrou oopmaak en elkeen by haar ingaan, hy het sy siel toegeknyp voordat hulle die sneller teen sy kop afgetrek het, die polisie het die verminkte lyke eers laat die maandagmiddag gekry, een van die aanvallers het kordaat bo-op die swart stinkhouttafel in 'n spierwit bord gekak. hulle't van kanada ingevlieg, die plaas in die mark gesit, die as saam met hulle teruggeneem en nooit ooit weer oor grandpa of granny se farm in that godforsaken fucked up country gepraat nie. Lees Clinton V du Plessis se LitNet-blog hier.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|