Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Oor die digkuns: 'n paar kanttekeninge
Joan Hambidge
2009-04-23 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

I

Daar word die afgelope tyd vele veralgemenings oor die Afrikaanse digkuns gemaak. Gaan kyk 'n mens na Brink se nuwe Groot Verseboek-in-'n-blik staan die leser verbyster voor die groot aantal digters in Afrikaans. Die grootse mite is waarskynlik dat daar te min bundels in Afrikaans verskyn. Hierdie verkeerde afleiding of aanname word deur 'n tweede wanopvatting ondersteun, naamlik dat toeganklike, podium-poësie goed is. En die Afrikaanse digkuns kan "red". 'n Digkuns het vele stemme nodig, en binne die Afrikaanse digkuns moet sowel die ou, gevestigde of vergete stem gehuldig word as die nuwe "rockster"-aanslag. Ken hierdie digters enigsins die kanon? Daar word onder andere dikwels gevra vir vernuwing en om Opperman en Van Wyk Louw agter te laat. En hierdie eis vir vernuwing kan 'n verlammende uitwerking hê op 'n jong digter wat so oorweldig word deur die eis dat hy/sy nie kan skryf nie. 

Vanselfsprekend moet 'n jong digter 'n plek in die kanon vind en dikwels word dit dan vergesel met aannames soos 'n waterskeiding, 'n nuwe begin of breuk met die oue. Die Sestigers het indertyd uitgemunt in hierdie soort retoriek. En lees 'n mens Harold Bloom se The anxiety of influence (1973), begryp 'n mens die vaderslagting ten volle. Trouens, 'n jong digter soos Loftus Marais erken die mag en die belang van die kanon juis deur sy opstand daarteen. Wallace Stevens en Breytenbach se posisie word paradoksaal erken.

Eers 'n belangrike, bykans vergete stem om my argument te nuanseer:1

 

II

Olga Kirsch (1924–1997)

Die gedigte van Olga Kirsch kom staan sterk in die herinnering toe ek in Julie 2007 deur Turkye reis. Ek lees Hebreeuse gedigte vertaal deur IA Ben Yosef en J Steyn. Die bundel is in 1987 gepubliseer onder redaksie van MM Walters in die reeks Poësie uit verre lande. Met die titel Olyfwoestyn. Name soos Asher Reich, Tuvia Ruebner, Haim Guri se gedigte praat met my. 

Tydens 'n reis lees ek altyd poësie om eensaamheid te besweer. En dis ook asof 'n mens die hartklop van jou eie taal in 'n gedig sterker in 'n vreemde ruimte voel.

Hoekom dink ek aan Olga Kirsch?

Die Turkse, Griekse, Israeliese landskap is genadeloos en hierdie digteres kom sterk na vore. Jare gelede voer Daniel Hugo 'n radio-onderhoud in Israel met haar en die luisteraar word meegesleur deur haar eerlikheid wat sy verwoord in Afrikaans. Hugo het ook vir haar 70ste verjaarsdag 'n keur uit haar verse saamgestel: Nou spreek ek weer bekendes aan (Human & Rousseau, 1994).

Sy is gebore in Koppies in die Vrystaat. Haar vader was 'n vreemdeling uit Letland en het Jiddisj gepraat. Haar huistaal was Engels en tog het sy as die tweede vrouedigter in Afrikaans sensitiewe verse gelewer. Op vier-en-twintigjarige ouderdom verhuis sy na Israel.

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

Wat 'n lieflike klein gedig. Alba Bouwer het die voorlaaste reël gebruik as titel in 1992. Ons kyk nou na:

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in 'n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar's iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Die titel van die gedig, “Illusie”, is alreeds 'n wegwyser van hoe ons die gedig moet benader. Dit is 'n droom, 'n ónmoontlike toestand, 'n begeerte … Die gedig beslaan 12 reëls. Die Petrarcaanse sonnet val in die oktaaf en sekstet uiteen: droom en werklikheid / beeld en toepassing. Petrarca (1304–1374) se fiksasie op Laura dat sy bý hom is, word deur die harde werklikheid ondermyn. Dit gebeur in die sekstet. Die wending in die gedig heet op Italiaans die volta. Nou lees 'n mens hierdie vers van Kirsch ook so: Die wending hier gebeur tussen die 10de en die 11de reël: die woordjie Dalk wat die hoop of versugting uitspreek dat sy miskien/dalk die geliefde sal sien …

Ylings soos ylend, in 'n droom. Maar die gedig eindig met 'n vraagteken. Dis 'n versugting, 'n droom, 'n hoop, 'n onvervulde begeerte …

Die tintelende ekstase dui op die opwinding …

Wanneer ek hierdie gedig lees, sien ek die einde van die rolprent The third man. Die man wag in die laning; die vrou stap verby …

Weliswaar dáár 'n omgekeerde proses. Anders as in die Canzoniere.

Daniel Hugo se keuse uit ons tweede gepubliseerde vrouedigter is 'n lonende leeservaring van 'n vrou wat suiwer gedigte geskryf het in Afrikaans. En selfs vanuit Israel het sy bly gedigte skryf in Afrikaans. Na haar emigrasie het sy vir 24 jaar geswyg en teruggekeer in 'n bundel. (Sy het Suid-Afrika net weer drie keer besoek ná haar vertrek.)

En haar gedigte sal vir altyd bly staan.

Soos “Illusie” uit die bundel Die soeklig, wat in 1944 verskyn het. Ook ons dank aan Daniel wat die bestes saamgestel het.

 

III

En wat die jonger bydraes betref. So pas is Ronelda S Kamfer se Noudat slapende honde en Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters bekroon met die Eugène Marais-prys.2 'n Goeie besluit, omdat beide 'n belangrike stem het: Kamfer as digter van vrouwees binne die township; Marais as vertolker van gaywees en inskryf téén die kanon.

Beide digters is egter meer as rocksterre.

'n Bydrae van Stephanie Nieuwoudt in By oor “Rockster digters” (21 Maart 2009) dui op 'n hele paar gewilde opvattings oor die Afrikaanse digkuns en die stand van sake tans.

Sy begin met die foutiewe bewering dat Roof Bezuidenhout se digbundel hoë lof ingeoes het. Sy laat egter onvermeld dat vele kritici dit nie geresenseer het nie, omdat dit beskou was 'n bundel met lirieke eerder as sterk verse. Sy lirieke wen wel aan kitaarbegeleiding.

Verder meen sy dat daar net drie digbundels per jaar verskyn. (En ja, ons weet dat Bezuidenhout tong in die kies was met sy oorspronklike opmerkings oor digters-as-rocksterre …)

Dis pas April en ons is al verby drie: De Lange, Krog, Danie Marais, die uwe, en sommer in die onthoubare verlede: Ronelda S Kamfer, Loftus Marais, Johan Myburg, Charl-Pierre Naudé, Ilse van Staden, Rosa Smit … In die nabye toekoms: Dolf van Niekerk, Daniel Hugo, Carina Stander, Cas Vos. En dan is die polemiek rondom Groot Verseboek-in-’n-blik nog vars in die geheue.

En dan vir die grootste mistasting wat tans die vyand van die digkuns is: gewildheid.

Dus, as jy voor gehore praat en hulle encore jou, dan is jy sommer 'n goeie digter?

Natuurlik is daar ruimte en plek vir die podium-gedig en die digter wat sy gedig vergesel met allerlei foefies soos musiek en multimedia-foefies. Fanie Olivier het verlede jaar by die ALV-beraad in die Vrystaat vir 'n deelnemer daarop gewys dat dit uiteindelik die gedig is wat bly staan en nie al die aanhangsels daaromheen nie.

Daar is plek vir praatpoësie én vir voordragte. Maar nie ten koste van die leesgedig nie.

Ek het so pas die nuwe Danie Marais gelees. Dit heet Al is die maan 'n misverstand, uitgegee deur Tafelberg. Verse wat aan en aan gaan, sonder sterk bindmiddels. Hier teen die einde net-net 'n vers wat sterk uitklink.

Danie Marais se debuut, In die buitense ruimte, is driemalig bekroon. Verskeie jong lesers was opgewonde oor die nuwe trant van die digkuns: die praatvers, onopgesmuk; die verwysings na moderne musiek, scifi, komiekstrippe, en, veral, die beskrywing van die einde van 'n huweliksverhouding in die vreemde, te wete, Duitsland, was die belangrikste temas. Veral die gevoel van die "unheimliche" het van hierdie debuut iets besonders gemaak. Die Freudiaanse toneel van die primordiale (hier 'n slegte verhouding wat afloop in die vreemde) was die krag agter die verse. Inmiddels het die digter teruggekeer na Suid-Afrika, getrou, en sy nuwe bundel, Al is die maan 'n misverstand, sit vele van die temas voort: jeugherinneringe, gesprekke met/oor kinders, uitsprake oor die digkuns en digterskap.

Daar is mooi, selfs aangrypende verse in hierdie bundel, maar meestal is die verse te uitgesponne, langdradig en mis dit die vuur van die praatvers.

Daar het dus 'n soort selfbewustheid ingetree, iets wat die meeste jong digters oorkom wanneer 'n kritiese reaksie hul bewus maak van presies dit waarin hul uitmunt. 

'n Mens voel dat daar 'n sekere patroon is wat nagevolg word. 'n Verhaal – oor kinders wat 'n "Geskiedenisles" meemaak. Of jy ontmoet Oom Thys van Mamelodi. Is dit regtig digkuns, of 'n verhaal opgekap in korter reëls?

Die lang uitgesponne gedig “Saterdagmidag – 'n epiese fragment” som dit alles op.

Te veel verse is anekdoties, gewoon sentimenteel (soos die gesprekke met die kind wat werklik net as sielig getipeer kan word). Maar enkele gedigte soos “Op die dag dat my nefie Adriaan” het 'n hartgrypende aanslag.

Of “Help”, waar 'n gesprek met 'n berader 'n dieper, somberder betekenis kry.

Danie Marais se verse word bedreig deur 'n gebrek aan tug. Daar is te veel gedigte wat net aanstroom en wat by wyse van spreke in die Pegasus-bek geruk moet word.

Klim van die verhoog af en gaan lees boeke oor digvorme, wil 'n mens vir vele van hierdie podium-digters aanraai! Of wees ten minste so goed as Billy Collins.3

 

IV

Die jongste vergryp wat krities bespreek moet word:

LitNet se gedigteblog.

LitNet se gedigteblog spog reeds met meer as 170 gedigte. Lees en lewer kommentaar.

* Steek jy jou talent onder die maatemmer weg? Moenie! Stuur jou gedigte aan Tiens Geldenhuys by gedigteblog@litnet.co.za. Sy vra nie vrae nie; sy plaas net!

Wie is Tiens Geldenhuys? wonder 'n mens wanneer jy die gedigteblog lees. Hierdie patetiese poging – nogal geborg deur die LW Hiemstra-trust - laat 'n mens wonder of hierdie persoon enigiets weet van die digkuns en wat dit behels. Om die waarheid te sê, sy is eiehandig besig om 'n lang tradisie van standaarde
te vernietig.

Deur die kritieklose plasing word 'n verkeerde boodskap die kuberruim ingejaag.

* Joan Hambidge se tweede bundel, Bitterlemoene, is bekroon met die Eugène Marais-prys. Haar vers oor Eugène Marais wen die Litera-prys.

 

Eindnotas

1. Hierdie bydrae is oorspronklik geskryf vir Leketaal, 'n rubriek in Beeld wat deur die digter Jo Prins begin is en ongelukkig nie meer bestaan nie.

2. Vide die volgende resensies in Die Volksblad:
* Debuut en digter is 'n vonds vir die taal
* Debuut gee vreemde blik op die gewone

3. Billy Collins aan die woord (www.billycollins.com. Afgetrek 10 April 2009):

Taking Off Emily Dickinson's Clothes

First, her tippet made of tulle,
easily lifted off her shoulders and laid
on the back of a wooden chair.

And her bonnet,
the bow undone with a light forward pull.

Then the long white dress, a more
complicated matter with mother-of-pearl
buttons down the back,
so tiny and numerous that it takes forever
before my hands can part the fabric,
like a swimmer's dividing water,
and slip inside.

You will want to know
that she was standing
by an open window in an upstairs bedroom,
motionless, a little wide-eyed,
looking out at the orchard below,
the white dress puddled at her feet
on the wide-board, hardwood floor.

The complexity of women's undergarments
in nineteenth-century America
is not to be waved off,
and I proceeded like a polar explorer
through clips, clasps, and moorings,
catches, straps, and whalebone stays,
sailing toward the iceberg of her nakedness.

Later, I wrote in a notebook
it was like riding a swan into the night,
but, of course, I cannot tell you everything -
the way she closed her eyes to the orchard,
how her hair tumbled free of its pins,
how there were sudden dashes
whenever we spoke.

What I can tell you is
it was terribly quiet in Amherst
that Sabbath afternoon,
nothing but a carriage passing the house,
a fly buzzing in a windowpane.

So I could plainly hear her inhale
when I undid the very top
hook-and-eye fastener of her corset

and I could hear her sigh when finally it was unloosed,
the way some readers sigh when they realize
that Hope has feathers,
that reason is a plank,
that life is a loaded gun
that looks right at you with a yellow eye.

- Billy Collins

Bronne

Olga Kirsch

  • 1948: Mure van die Hart (Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel)
  • 1972: Negentien Gedigte (Kaapstad: Human & Rousseau)
  • 1976: Geil Gebied (Kaapstad: Human & Rousseau)
  • 1978: Oorwinteraars in die Vreemde (Kaapstad: Human & Rousseau)
  • 1982: Afskeide (Kaapstad: Human & Rousseau)
  • 1983: Ruie tuin (Kaapstad: Human & Rousseau)
  • 1990: The Book of Sitrya (Rehovot: O Kirsch)

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. Oxford: Oxford University Press

Hugo, Daniel. 1994. Nou spreek ek weer bekendes aan. Human & Rousseau, Kaapstad.

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Sara Holmes
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur