| Het ons vaktydskrifte hulle kreatiwiteit verloor? |
Johann Lodewyk Marais
My betrokkenheid oor baie jare by verskillende literêre tydskrifte maak my meer as geïnteresseerd in die debat oor geakkrediteerde tydskrifte. Vir my is literêre tydskrifte nog altyd ’n belangrike faset van die literêre landskap, en ek beskou sulke tydskrifte as ’n getroue barometer van die stand en welstand van die literêre lewe. Gedurende die 1960’s was daar ’n lewendige tydskrifbedryf, waarvan die navorser wat indringend navorsing oor hierdie era doen, kennis moet neem. Die werk van heelparty skrywers lê versprei oor talle tydskrifte hier en in die buiteland. Daarbenewens is artikels daarin gepubliseer wat nie later in kritiekbundels opgeneem is nie, maar belangrike tydgenootlike dokumente is. Ek dink met heimwee terug aan Standpunte, wat sowel prikkelende artikels as skeppende skryfwerk bevat het. Om daarin te kon publiseer, was ’n voorreg en ’n mens was verseker van ’n breё en invloedryke leserspubliek. Die heengaan van hierdie tydskrif is nog steeds een van die skandvlekke in die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Natuurlik het ander tydskrifte ook ’n betekenisvolle rol gespeel. Onder Elize Botha het Tydskrif vir Letterkunde publikasiegeleenthede aan talle jong skrywers en akademici gegee en heel dikwels raad en leiding aan skrywers verskaf. Die korrespondensie tussen Botha en haar medewerkers behoort interessante studiemateriaal te wees en bewys te lewer van die bydrae wat die redakteur van ’n tydskrif kan speel om bydraes te stimuleer en hulp en leiding te verskaf. Ek het ook besondere waardering vir die “little magazines”, waarsonder ek my kwalik die Afrikaanse literatuur sedert Sestig kan indink. Ja, daar is talle gedigte, verhale en ander tekste in hierdie tydskrifte gepubliseer. Heelparty mense wat later bekendheid as letterkundiges (dit wil sê as skrywers van artikels of literêre joernalistiek) verwerf het, het die eerste keer van hulle in tydskrifte soos Donga, Graffier, Ensovoort en Stet laat hoor. Heel dikwels het die gevestigde tydskrifte hulle deure redelik elitisties vir die jonges toegehou. Ek kan goed onthou hoedat die opkomende kritici in die tagtigerjare voor gedugte hekwagters te staan gekom het en dan van alternatiewe tydskrifte se publikasiegeleenthede gebruik gemaak het. Geakkrediteerde tydskrifte het die literêre landskap die afgelope dekade ongetwyfeld verander. Gehaltekontrole is waarskynlik deegliker as voorheen gedoen deurdat tydskrifte nou minstens twee keurders ingespan het om bydraes te keur. (Blaai ’n mens egter ’n bietjie deur Standpunte, is ek nie seker of die artikels daarin terug hoef te staan vir dié wat deesdae in geakkrediteerde tydskrifte verskyn nie.) Dit kan ook interessant wees om te sien hoedat artikels uiterlik begin verander het deurdat heelwat ruimte later aan byvoorbeeld inligting oor geraadpleegde bronne gegee is. Teen hierdie agtergrond wil ek enkele opmerkings oor ons huidige vaktydskrifsituasie maak. Eerstens is ek oortuig dat ons heelwat kreatiwiteit, inisiatief en stukrag in die huidige opset van akkreditering verloor het. Heelwat bydraes wat andersins in gedrukte literêre tydskrifte sou verskyn het, is na alle waarskynlikheid na ander media gekanaliseer, en die basaartafel wat ’n tydskrif soos Tydskrif vir Letterkunde voorheen gebied het, bestaan nie meer nie. Tweedens kan tydskrifredakteurs ’n veel beter teelaarde as tans skep. Word daar nie te dikwels net gebruik gemaak van bydraes wat as referate op kongresse aangebied is nie? Dra hierdie situasie genoegsaam daartoe by om ’n aktuele gesprek aan die gang te hou? Word genoeg moeite gedoen om aktuele onderwerpe aan die orde te stel? Of belangrike historiese kwessies te ondersoek? Derdens dra die stelsel van akkreditering daartoe by dat redaksies nie genoeg moeite doen om hulle tydskrifte te bemark nie. Die indruk is dat as jou tydskrif deur bladgeld aan die gang gehou word, dit nie belangrik is om ’n uitgebreide leserspubliek te bekom nie. Solank jy net sorg jou bydraes het elkeen ’n kopie vir subsidiedoeleindes, hoef jy mos nie verder moeite te doen nie. Dit is ’n jammerlike ingesteldheid. Vierdens kan redaksies die aantal medewerkers aan hul tydskrifte veel meer proaktief vergroot. Eiebelang laat die fokus dikwels op die eie klein kring en instansie val, hoewel dit vir ’n gesonde akademiese lewe net so belangrik is om hierdie kring wyer te maak en geleenthede aan jongmense, mense buite die normale akademiese kring, en ook buitelanders te bied om te publiseer. Die name in die inhoudsopgawes van ons literêre tydskrifte word voorspelbaar. En die verrassingselement gaan verlore. Vyfdens, en laastens, kan dit voordelig wees indien tydskrifte en redaksies saamwerk. Sou dit nie byvoorbeeld moontlik wees om kundigheid te deel en sodoende te sorg dat daar in die toekoms nog geleentheid vir sowel oud as jonk sal wees om van hulle te laat hoor nie? Sonder ’n lewenskragtige vaktydskrifbedryf voorsien ek swarigheid vir die Afrikaanse literatuur.
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|