Erika Terblanche
Gebore en getoë Verdere studie en werk Publikasies Lina Spies as samesteller Lina Spies as vertaler Artikels deur Lina Spies beskikbaar op die internet Artikels oor Lina Spies beskikbaar op die internet Besprekings van individuele gedigte deur Lina Spies Gebore en getoë Carellina Pieternella (Lina) Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore. Sy word groot as ’n “eenlingskind” met twee susters: Elmien, ses jaar jonger as sy, en Cornelia, tien jaar jonger. Drie jaar na Lina se geboorte is die gesin vir twee jaar na Stellenbosch, omdat haar pa verder wou gaan studeer. Sy vertel aan Nina Smit: “Ek noem dit altyd ’n ingryp van Bo, omdat my pa se koms na Stellenbosch die beslissendste gebeurtenis in my lewe was, want anders het ek nooit op Stellenbosch kom studeer nie en het ek nooit vir [DJ] Opperman ontmoet nie. Ek voel dit moes so gewees het.” Sy vertel in Volksblad dat daardie “kinderlewe-sonder-maats ruim vergoed is deur die lewe van fantasie”. Haar pa, Joggie Spies, was hoof van die plaaslike laerskool en ’n groot poësieliefhebber. Hy maak haar groot met EC Pienaar se Digters uit Suid-Afrika, en toe Lina tien was, word haar eerste gediggies in Die Kinderstem, die skoolkoerant van die inspekteursomgang van die Noordoos-Vrystaat, gepubliseer. Lina onthou ook hoe haar pa agter die stuurwiel altyd vir hulle gedigte voorgedra het om die lang pad korter te maak. Haar pa is op 11 April 2000 oorlede. Lina is baie familievas en het spesiale verhoudings met haar susters se kinders gehad. Lina se liefde vir musiek en haar sangstem kom van haar ma se kant af. Haar ma, wat in 1992 oorlede is, was meer ’n agtergrondpersoon met ’n meer introverte geaardheid as dié van Lina en haar pa. Haar ma was baie musikaal en het met musiek grootgeword. En Lina het eers na haar dood besef hoe belangrik haar ma vir hulle was. Uit haar jeug onthou Lina die Kersfeeste op haar ouma Lina en oupa Christiaan de Jager se plaas Leeukop in Noord-Vrystaat. “Kersfees is vir my mý ouma: die warm breë, ekstroverte vrou wie se naam ek dra en wat ek met middeljarige nostalgie herken as die geluksgodin wat oor my kinderjare geheers het.” Lina matrikuleer in 1957 aan die plaaslike hoërskool op Harrismith. Terug na bo Verdere studie en werk Vanaf 1958 tot 1962 studeer Lina aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar MA-graad behaal met ’n skripsie oor Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers. Sy verwerf haar UOD aan die Universiteit van die Vrystaat en gee vir twee jaar lank onderwys aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. In 1966 word sy aangestel as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth, ’n pos wat sy tot 1971 beklee. Vanaf 1968 tot einde 1970 onderbreek sy haar werk in Port Elizabeth tydelik om met studieverlof na Nederland te gaan waar sy aan die Vrije Universiteit te Amsterdam vir haar doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde studeer. In November 1970 lê sy die eksamen suksesvol af met as deel van die eksamen haar skripsie oor Die religieuse moment in die poësie van Martinus Nijhoff met spesiale verwysing na sy sonnette-siklus Voor dag en dauw. Terug in Suid-Afrika aanvaar sy weer in 1971 haar betrekking aan die Universiteit van Port Elizabeth. Na ’n jaar word sy aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel – ook as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en vanaf Januarie 1982 tot Julie 1983 as senior lektrise. Sy promoveer in April 1982 aan die Universiteit van Pretoria onder prof AP Grové met haar proefskrif getiteld Weefsel en web: Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok van DJ Opperman binne die verband van sy oeuvre. Dit is later gepubliseer onder die titel Kolonnade. Vanaf Julie 1983 is Lina senior lektrise aan die Universiteit van Pretoria en op 1 Januarie 1986 word sy bevorder tot medeprofessor. In Julie 1987 keer sy terug na haar alma mater, waar sy professor is aan die Departement Afrikaans en Nederlands tot en met haar aftrede in 1999. Lina vertel aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1992 dat sy altyd gedroom het dat sy eendag ’n skrywer sou word. “[M]aar dit was eers op Stellenbosch in 1960 toe [ek] met DJ Opperman kennis gemaak het, dat [ek] in alle erns begin skryf het. In my derde jaar het DJ Opperman ons klaskamer binnegestap en my gelei tot in die kamer van my hart. Hy het wete en bewussyn gebring: in my was ’n vreemde kreatiewe impuls waaroor ek nie op eie meriete beskik het nie. Soos nooit voorheen nie het ek daaraan gedink as ’n gawe – ’n gawe wat ’n mens los van jouself kon en moes sien. Opperman het my daarvan bewus gemaak dat ek werklik talent het, maar hy het my ook ’n lang ruk teruggehou van publikasie.” Sy was ook lid van Opperman se eerste letterkundige laboratorium. Net voordat Lina vir die eerste keer Nederland toe is, wou sy publiseer, maar Opperman het haar oorreed om te wag en nog nuwe gedigte te skryf. Met haar terugkeer uit Nederland in 1970 was sy gereed om te publiseer en verskyn Digby Vergenoeg. Opperman het haar gehelp om haar digwerk werklik haar erns te maak en Lina beskou hom as ’n belangrike leidende figuur in haar lewe. Digby Vergenoeg is die resultaat van tien jaar se werk. Van haar gedigte is gereeld in Standpunte en Stiebeuel II gepubliseer. Sy ontvang die Ingrid Jonker-prys vir 1973 en die Eugène Marais-prys vir 1972 vir hierdie eerste bundel van haar. Uys Krige, wat die Ingrid Jonker-prys aan Lina oorhandig het, het die volgende gesê: “’n Digter moet ’n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ’n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders – oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.” Lina vertel aan Nina Smit dat sy in haar eerste skeppingsfase, 1960 tot 1970, baie suiwer was. “Skryf was vir my ’n spontane iets, maar ek het by Opperman geleer om hard aan ’n gedig te werk. Aan sommige gedigte soos ‘Paternoster vir Suid-Afrika’ het ek baie min veranderinge aangebring. Miskien skryf ’n mens die beste gedigte spontaan. Aan ander gedigte het ek baie lank gewerk, byvoorbeeld die gedig oor Rembrandt – ek was verruk oor sy skilderye. Die tyd toe ek in Nederland was, het ek oor hom gedink, na ’n film oor hom gekyk, maar dit het nog steeds nie ’n gedig geword nie. Terug in Suid-Afrika het ek een aand weer ’n film oor Rembrandt gesien. Toe kon ek skielik skryf.” Daar word na Lina verwys as die “Stellenbosse digteres” en sy beskou die dorp met sy mense as haar grootmenslojaliteit. Maar die Vrystaat sal altyd haar kinderlojaliteit bly. “Daar is geen botsing tussen die twee lojaliteite nie, behalwe dit wat van buite af veronderstel, opgelê en afgedwing word. In my bestaan die twee in harmonie. [...] Die belangrike invloed van Harrismith en die Vrystaat op my menslike en digterlike vorming vind mens terug in die latere beeldewêreld van my poësie.” Die gedig "’n Paternoster vir Suid-Afrika" gryp heeltemal terug na haar Vrystaatse kinderwêreld. Ook in Winterhawe (1973) kom die Vrystaatse kind momenteel terug, en in Dagreis (1976), waar sy “die misterie van menswees binne groter dimensies probeer peil ... en probeer deurdring tot die magte wat die mens vorm (die kinderwêreld, familieverhoudinge)”, maak die Vrystaat onwillekeurig weer sy verskyning: byvoorbeeld die dorp van haar jeug, haar ouma, en in die gedig "Verblyf" waar “ek my lewe probeer sien as ’n voorlopig volmaakte geheel: die Vrystaat en die Boland twee sirkelsluitende helftes.” In 1982 word Lina tot diaken van die NG Gemeente Stellenbosch verkies. In dieselfde jaar ontvang sy ook ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria. Lina dien ook in die kerklike kommissie vir die omdigting van die Psalms. Lina voel baie sterk oor die bydrae van die vrou tot die poësie en in 1982, tydens die Universiteit van Stellenbosch se Herfsskool, vra sy of daar by die beoordeling van die poësie van digteresse, naas die aanlê van algemeen-geldende maatstawwe vir die digkuns, ook spesifieke norme wat met die geslag van die outeur te doen het, in spel kom. In 1996, tydens die sewende Hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Bloemfontein, sê Lina: “Die geslag van die digter kan nie in die lees van poësie buite rekening gelaat word nie. Sedert die jare sewentig bestaan wêreldwye belangstelling in die vrouedigter en vroueskrywer. ... Die onderskeiding tussen ‘digters’ en ‘digteresse’ is heeltemal kunsmatig as dit net berus op die geslag van die outeur en geensins verband hou met die inherente eienskappe van hul poësie nie. Vroulikheid en manlikheid behoort tot die verwikkelde en nooit enkelvoudig verklaarbare verhouding tussen die werklikheid van die teks, die lewe en die kuns” (Volksblad, 19 September 1996). In 1987 word Van sjofar tot sjalom gepubliseer wat redelik vurig gekritiseer word deur onder andere Lucas Malan (“dit is grootliks die dokument van ’n gefrustreerde mens”), Ernst Lindenberg (“dit is aanmatigend”) en Joan Hambidge (“verwys na literêre kitsch en ’n snedige toon”). Hieroor sê Lina in ’n onderhoud met Romi van der Merwe in Rooi Rose van 11 April 1990: “Ek het die kritiek sedertdien te bowe gekom en die bundel word nou in ’n ander lig beskou. Verlede jaar was ek een van drie finaliste vir die Ou Mutual-prys vir digkuns, danksy Sjofar en sjalom. Hoewel ek die hele petalje nie weer wil beleef nie, is ek oortuig van die intrinsieke waarde van die gedigte.” Hierdie bundel verbeeld haar heimwee vanuit Pretoria terug na haar geliefde Stellenbosch en sy maak stellings oor Pretoria wat redelik heftige reaksies uitgelok het. Lina verweer haar deur te sê dat sy nooit “’n persoonlike verbintenis met dié stad gevoel het nie. [...] Pretoria het ’n kunsmatige skoonheid ... ek vind God se hand nêrens nie. [...] Ek kon ook geen eensgesindheid met die wolkekrabbers ondervind nie.” Met haar terugkeer na Stellenbosch in 1987 voel sy vryer en word sy nie meer beperk deur die wêreld wat visueel alles moontlik vir haar gegee het nie. In 1990, tydens ’n toer na Nederland en Amerika, bedank Lina in die openbaar uit die Afrikaanse Skrywersgilde na aanleiding van die omstrede kultuurboikot. “Ek het met verbystering kennis geneem van die jaarberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde en van die uitsprake van sommige van my geëerde en geliefde medeskrywers. Die pynlike gevolgtrekking wat ’n mens weer eens moet maak, is dat Suid-Afrika hom steeds in so ’n mate van isolasie bevind dat selfs sy skrywers en literatore nóg hul land, nóg hul moedertaal, nóg hul letterkunde in wêreldkonteks sien.” Sy bring op hierdie toer ook ’n besoek aan Amherst in New England in Amerika waar Emily Dickinson gebly het. Die digkuns van die enigmatiese Amerikaanse digteres Emily Dickinson word vir Lina ’n toenemende passie en Dickinson se werk gryp haar aan, soos vir talle ander tydgenootlike digters, ook in ander tale. Lina vertel aan Etienne Britz dat sy haar eie konflik in Emily Dickinson herken. Emily het haar ook verset teen die Calvinisme wat die “mens onderskat en onteer”. Lina se liefde vir die Amerikaanse poësie dateer van voor haar eerste bundel in 1971 toe sy bekend geraak het met die werk van Robert Frost, en sedert die publikasie van Dagreis in 1976 toon sy veral belangstelling in Amerikaanse digteresse soos Sylvia Plath, Anne Sexton en Erica Jong. Die neerslag van hierdie belangstelling kan duidelik in haar vierde bundel Oorstaanson gesien word. In 1992, vyf jaar na Van sjofar na sjalom, word Hiermaals gepubliseer. Lina dra hierdie bundel aan die filosoof Johan Degenaar op. Sy vertel in De Kat van Augustus 1992 aan Etienne Britz dat “[n]iemand my in lewensbeskoulike opsig so sterk beïnvloed [het] as Johan Degenaar, die ‘filosoof van die hiermaals’, nie. Ek het drie jaar in sy klas op Stellenbosch gesit. Op ’n oggend lees hy uit GK Chesterton se Orthodoxy. ‘God sê elke oggend vir die son om op te kom. God word nooit moeg om vir die son te sê om op te kom nie. Omdat God nie gesondig het nie, is God jonger as ons.’ Dié aanhaling het my geprikkel om Orthodoxy aan te skaf. My eie geloofsoortuiging sit baie vaster aan Orthodoxy as aan die Calvinisme. Aan Johan Degenaar het ek miskien my hele lewensuitkyk in Hiermaals te danke.” Lina se volgende bundel, Die skaduwee van die son, word in 1998 gepubliseer. Oor hierdie bundel skryf HJ Pieterse in Beeld van 11 Januarie 1999 dat “[w]at wel nuwer en protesterend skerper is, is die elegiese toon, die sterkerwordende besef van verganklikheid en afskeid, wat reeds deur die bundeltitel aangekondig word. [...] Uiteindelik bly die elegiese toonaard en die uiters empatiese behandeling van temas, geskryf in ’n fyn digtershand, ’n mens by en lewer die bundel, saam met Hiermaals, genoegsame bewys dat daar inderdaad lewe ná Van sjofar tot sjalom is.” In 2004 word Lina se agtste en jongste bundel, Duskant die einders, uitgegee. Fanie Olivier sê van hierdie bundel dat dit “’n ryp, beleë versameling gedigte [is] wat ’n belangrike toevoeging is tot die oeuvre van Lina Spies en die gesprek oor ons menswees, wat alle beduidende letterkunde kenmerk, verder stimuleer.” Volgens Bernard Odendaal in Volksblad van 14 Julie 2004 “versterk [hierdie bundel] Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter. [...] Hare is ’n dadelik herkenbare digterskap wat agting afdwing.” Vir Henning Snyman is Duskant die einders “ietwat van ’n raaisel. Enersyds is daar bedrewe en gevoelige verse wat talle lesers groot leesgenot sal bied. Andersyds is daar te veel voorbeelde van cliché’s en ’n steriele gestileerdheid.” Lina is bekend vir haar liefde vir katte en sy skryf gereeld gedigte oor katte. Sy het nie probleme met die feit dat mense na haar verwys as die katdigteres nie. Sy vertel aan Suzette Truter dat sy haar, wat dit betref, in die geselskap van die heel grotes bevind – TS Eliot, Baudelaire, Rilke, wat almal oor katte geskryf het. Sy voel ook ’n spesiale geneentheid teenoor Nederland en die Nederlandse letterkunde. Haar ouma aan moederskant was van Nederlandse afkoms en sy het ’n onderwyser gehad wat versot was op die Nederlandse boek. “Toe ek my studie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam voortgesit het, het ek baie gou aangepas en tuis gevoel. Nou nog, as ek soontoe gaan, is ek binne ’n week weer volkome tuis. Dis soos ’n tweede vaderland, ek sou môre daar gaan woon.” Naas letterkunde is Lina se ander liefdes musiek en reis. “Ek sou glad nie sonder musiek kan wees nie”, vertel sy aan Suzette Truter. “Klassieke musiek is die mooiste iets op aarde. Ek het my doktorale proefskrif geskryf met musiek op die agtergrond. Maar dit moet instrumentele musiek wees, soos ’n simfonie van Mozart. Om na sang te luister neem al my aandag in beslag; ek kan dan nie op werk konsentreer nie.” Oor geloof vertel Lina aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1993: “Geloof is seer sekerlik nie van emosie afhanklik nie. My hele lewe word nog altyd deurstraal deur my geloof. Ons kan nie net vir hierdie lewe op Christus hoop nie. Ek word gemotiveer deur die gedurige besef dat ek moet probeer beantwoord aan ’n groter doel – dat dit wat ek op my klein manier doen, êrens dalk sin het binne ’n groter bestel van dinge. Met ander woorde as ek klas gee, gee ek goed klas omdat ek ten diepste gemotiveer word deur die doel dat ek dit goed doen vir God. Ek is elke dag in sy diens. Ek wil dié dinge wat ek doen, góéd doen omdat ek dit wil doen tot eer van God.” In Insig van Desember 2003 vertel Lina aan Tobie Wiese dat sy nie kan onthou wanneer sy laas in die kerk was nie. Sy kan dit nie langer regkry om saam met die res van die gemeente daar te staan en die eeue oue woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis na te sê nie. Sy kan nie, want sy glo dit nie meer nie. “Ek het ’n nuwe ervaring van Jesus, van sy menslikheid. Hy is nie vir my God nie. Hy is wel ’n gesig van God, dié gesig wat ek die beste ken, maar nie die enigste gesig nie. Hy het ook nooit gesê Hy is die Seun van God nie. Ja, die belydenisgeskrifte sê so en die dogmamakers sê so en die Skrifgeleerdes wat Hom voor Pilatus gedaag het, het Hom daarvan beskuldig, maar Hy het nie daarop aanspraak gemaak nie. Ek kan Jesus wat op aarde gewandel en gewerk en gesterf het, nie vereenselwig met die ewige, onsienlike en alomteenwoordige God nie. Dit is waar my breuk met die tradisionele godsdiens kom. [...] Soos Van Gogh gesê het: ‘Ik ben een gelovige in mijn ongelovigheid.’ Ons weet dat ons nie weet nie. Wat my irriteer van die kerk, is die aandrang op sekerheid. Hoe kan jy seker wees van die Onsienlike? En as jy seker is van alles, het jy geen geloof nodig nie. Geloof berus juis op nie-weet, op hoop, op vertroue, op onsekerheid. Daarom is geloof ’n sprong in die duisternis.” Lina se kritiek op die kerk terwyl sy aktief was in die nuwe berymings van psalms vir die nuwe Liedboek van die kerk, is nie ’n teenstrydigheid nie. Sy vertel op 11 April 2004 aan Rapport: “Juis my werk saam met die psalmkommissie het sekere dinge vir my duidelik gemaak. Ek het dinge ontdek wat geskud het aan my godsdienstige wêreldbeskouing. Ek het agtergekom ek kan niks doen met die gesange nie, dat dit die psalms is wat praat oor God soos ek oor God wil praat. Ek voel my tuis in ’n Ou Testamentiese wêreld. Daarom pla dit my dat die kerk deesdae so ’n eensydige fokus op die Nuwe Testament plaas. Die klem is volledig op die persoon van Jesus en op dié wyse sentreer Christene se godsdiensbelewing om ’n vermenslikte God wat in alle kleinmenslike behoeftes voorsien.” Lina is ’n vurige voorstander van Afrikaans en Afrikanerskap. In 1996 spreek sy haar soos volg in ’n artikel in Die Burger van 29 April uit: “Die fout wat die Afrikaner vir die soveelste keer in sy geskiedenis begaan, is om homself, sy kultuur en sy taal in ’n eksakte definisie te probeer vasvang. Hierdie unieke Afrikaner-eienskap is verstaanbaar omdat die Afrikaner nog nooit in hierdie land ’n blywende rusplek vir die holte van sy voet kon vind nie: soos in die verlede word sy bestaan nou weer bedreig. Om egter ’n bepaalde volksaard en ’n eie kultuur te probeer definieer, is noodlottig omdat dit verskynsels is wat hulle nie laat definieer nie. [...]” By die Versindaba in 2007 lewer Lina die Dana Mouton-gedenklesing, getitel Wat is poësie? Lina se eerste volwaardige gedig was “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” wat in die tydskrif Inset verskyn het en waarmee sy ’n belangstelling in die geskiedenis van die Jodevervolging in die Tweede Wêreldoorlog toon – ’n belangstelling wat uiteindelik uitloop op die vertaling van Die agterhuis: dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944 van Anne Frank wat in 2008 deur Protea Boekhuis uitgegee is. Lina vertel ook dat dit die eerste gedig was wat DJ Opperman sonder meer goed gevind het. In ’n onderhoud met Gerrit Brand vertel Lina dat dit belangrik vir haar was om die boek in Afrikaans te vertaal, omdat dit in 60 tale vertaal is en “dit ’n soort status aan Afrikaans gee dat dit nou ook in die taal wat die naaste is aan die taal waarin Anne dit geskryf het, vertaal is”. Lina sê in ’n lesing oor hierdie vertaling dat die vertaling in samehang met haar uitvoerige inleiding hopelik kan bydra tot ’n bestryding van die onkunde oor die dagboek self, maar veral ook oor die skryfster daarvan. “Die een is onlosmaaklik verbonde aan die ander. Vir my was die vertaling van Anne Frank se dagboek die vervulling van ’n lewensideaal. Uiteindelik kan die Afrikaanse vertaling staan naas die tallose vertalings waarin die dagboek verskyn het sedert die eerste publikasie daarvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.” Lina vertel dat ’n uitspraak oor Anne se droom om skryfster te word, deur die kontrole oor haar emosies wat sy tydens die vertaling streng gehandhaaf het, gebreek het. Op 21 April 1944 skryf Anne aan Kittie: “Ek wil een van my sprokies na De Prins stuur, natuurlik onder ’n skuilnaam, maar omdat my sprokies tot nog toe te lank is, dink ek nie dat ek veel kans het dat hulle dit sal publiseer nie.” Lina vertel: “Die tragedie van Anne Frank het nêrens sterker tot my gespreek as uit hierdie voorneme om een van haar sprokies uit die boek waarin sy, benewens die hou van ’n dagboek, verhale, gebeure uit die Agterhuis en sprokies geskryf het, vir publikasie voor te lê nie. Wat dit by my tuisgebring het, was dat Anne Frank ’n gewone meisie was, weliswaar ’n meisie wat haar ideaal om skryfster te word nie kon verwesenlik nie, omdat sy moes sterf net omdat sy Joods was. Dit is die tragiese. En dit was die een oomblik tydens my vertaling soos ’n oomblik op ’n koue grys dag in November 1968 in Anne Frank se kamer wat ek beleef het as hartverskeurend; ’n oomblik wat ek onlangs herbeleef het in Paul Auster se beskrywing daarvan in sy ‘The book of memory’ (deel 2 van The invention of solitude): ‘As he stood in Anne Frank’s room, the room in which the diary was written, now bare, with the faded pictures of Hollywood movie stars she had collected, still pasted to the walls, he suddenly found himself crying. Not sobbing, as might happen in response to a deep inner pain, but crying without sound, the tears streaming down his cheeks, as if purely in response to the world.’” Volgens Lina is die groot tema van Anne se dagboek die leegte en by haar is dit dubbel erg deur die afsondering. “Sy’t die leegte volgeskryf. Dis geen bakvissie-Nederlands wat jy lees nie. Die ontstellende is dat ’n gewone meisie met talent dít moet belewe. En dat sy leef deurdat sy gesterf het. En die onvoltooidheid van haar dagboek.” In sy resensie van Die agterhuis skryf Stoffel Cilliers in Volksblad: “Dit is aan Lina Spies te danke dat ’n vertaling van hierdie klassieke werk ná al die jare nou in besonder keurige Afrikaans beskikbaar is. Iets van Anne Frank se voortdurende optimisme, haar lewensblyheid, haar verdraagsaamheid in die slegste omstandighede bly die leser lank by. Daarom verdien hierdie dagboek om deur lesers van alle ouderdomme in Afrikaans ontdek – of herontdek – te word.” Terug na bo Publikasies: Terug na bo Lina Spies as samesteller - Poort 1985/86: ’n keur uit die werk van hoërskoolleerlinge . Saamgestel deur Réna Pretorius, Lina Spies en NJ Snyman. Goodwood: Nasou, 1986 [ISBN 0625022556 (sb)]
- Majesteit, die kat: verhale en gedigte oor katte . Kaapstad: Queillerie, 1998 [ISBN 1874901724 (hb)]
- Sy sien webbe roer: ’n keuse uit die werk van Afrikaanse digteresse . Kaapstad: Human & Rousseau, 1999 [ISBN 0798139056 (sb)]
- Die blou berg moet ek oor: Zuid-Afrikaanse gedichten over bergen . Amsterdam: Suid-Afrikaanse Instituut, 2003
- Breedevallei dichters: Poëzie nacht van die muse. Volume II: Ontheemdes . Saamgestel deur Lina Spies en Floris A Brown. Worcester: Breedevallei Dichters, 2004 [ISBN 0958471614 (sb)]
- ’n Skrywer by sonsopkoms: Hennie Aucamp 70 . Saamgestel deur Lina Spies en Lucas Malan. Stellenbosch, Sun Press, 2004 [ISBN 1919980105 (sb)]
Terug na bo Lina Spies as vertaler - Frank, Anne: Die Agterhuis: dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944. Vertaal en ingelei deur Lina Spies. Pretoria: Protea Boekhuis, 2008 [ISBN 9781869191887 (sb)]
Terug na bo Artikels deur Lina Spies beskikbaar op die internet Terug na bo Artikels oor Lina Spies beskikbaar op die internet: Lina Spies Lina Spies Lina Spies, medewerker van psalmomdigting in die nuwe Liedboek van die NG en NH Kerke, glo nie meer in die goddelikheid van Jesus Christus nie - Die Kerkpad (Jaargang 8, No 2, Maart 2004) Loots, Sonja: Lina Spies: ook Afrikaan, postmodernis Terug na bo Besprekings van individuele gedigte deur Lina Spies Aucamp, Hennie: ’n Ekologie-gedig op hoë plan (Befaamde baldakyn) Aucamp, Hennie: Twee gay-gedigte Kannemeyer, JC: 'n Gebed vir Suid-Afrika (Paternoster vir SA) (Verse vir die vraestel) Kannemeyer, JC: Die kind as slagoffer van wreedheid: Tussen bloed en bomme in Dachau, Belfast, Korea en Viëtnam (Lied van die kinders) (Verse vir die vraestel)
Terug na bo Bygewerk: 2009-03-05 Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za
Reageer: webvoet@litnet.co.za
| Respond: speakeasy@litnet.co.za
|