Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Maya, dis oor die tomorrow boys wat ek nog bly
Krok
2009-02-23 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Haai daar, Maya

Eerstens Carl. Ek weet nie wie hom gaan straf nie. Ek dink openbare mening en dit wat hy als gaan verloor, veral die nie-materiële verliese, gaan hom die swaarste straf. 'n Mens leef mos maar die gevolge wat jy na bewering self geskep het.

Rakende die situasie in die ANC, deel ek graag met jou enkele gedagtes: soos ek onlangs vir Valkoog geskryf het, is die situasie rondom die woelinge in die ANC-leierskapskorps iets waarmee ek die afgelope paar jaar sedert die aanbreek van die Mbeki-era al worstel.

Maar ek glo regtig in die opkomende leiers (mense soos Lionel) wat hulleself op die oomblik nog in die rank en file van die party bevind. Omdat ek in die spreekwoordelike loopgrawe van die voortyd en sedertdien ook met heelparty van hulle te doen gekry het, en weet dat hulle erns het met die belange van die mense wie hulle verteenwoordig, en ook met die beginsels van die Vryheidsmanifes waarin dit baie duidelik uitgespel word dat hierdie land behoort aan almal wat in haar woon.

Aan die een kant glo ek steeds vas dat die antwoord vir Mzansi lê in die beginsels uitgespel in die Vryheidsmanifes. Aan die ander kant voel ek dat die huidige leierskap van die party, wat die primêre dryfkrag agter daardie manifes is, die plot heeltemal verloor het met verwysing na die program wat daarin vervat is. En ja, dit is 'n helse dilemma.

Hoekom soek ek nie vir my 'n ander party nie?

Ek het. Daar is nie een nie. COPE het weggespring as 'n oefening in politieke opportunisme wat ontwerp is om Lekota se politieke leeftyd te verleng en toe per geluk 'n lewe van sy eie gekry het toe Shilowa by hulle aangesluit het. Ek het geen vertroue in die COPE-oefening nie, want ten spyte van die verrassende aanwysing van Dandala as hulle presidentskandidaat, wat daarop dui dat die grondvlak tog outonoom kan dink en hulle nie laat verlei deur populistiese manipulasie soos die ANC se Zuma-faksie nie, kan ek my nie vereenselwig met die feit dat hulle alle dinge vir alle mense probeer wees nie.

Hulle het nog niks kwytgeraak wat my laat glo dat hulle die vermoë het om vorendag te kom met 'n model wat die belange van die arbeidersklas suksesvol met dié van die middelklas kan versoen nie. Dit beteken hulle vat 'n vet kans en hulle retoriek is niks meer as 'n doodgewone mogge troffe klip in die bos nie. (Boonop begin die eerste ego-gedrewe krake skynbaar volgens die media ook reeds as nadraai van die Dandala-situasie wys.)

My deelname aan die politiek het nog altyd te doen gehad met die belang van diegene wat hulle aan die onderkant van die menslike voedselketting bevind. Politiek gaan vir my eerstens oor brood en botter en skoling, laaaank voor mens by tale en volke en al die ander dinge uitkom. Daarom is dit die hoofkriterium waaraan ek politieke rolspelers beoordeel: wat gaan hulle doen om die wanhoop in ons plakkerkampe in hoop te verander?

Ja, Niehaus, Mbeki, Zuma en die hele boksemdaais aan die bopunt van die ANC se huidige magsleer het die cause gefaal; hulle het die mense versaak en dit is vir my 'n bitter pil om te sluk. Mandela se endorsement verlede week van Zuma se kandidatuur was 'n bitter persoonlike klap in die gesig vir my.

Tog bly ek.

Dit gaan oor daardie gesiglose doeners in die rank en file. Ek glo in die leierskappotensiaal wat hulle het. Ek glo dat hulle harte in die regte plek sit, want hulle het die music geface voor die Casspirs in die townships in die 80's toe vandag se fat cats wat glo Mzansi skuld hulle in die buiteland was. En ek weet hierdie manne walk hulle talk. Daagliks. Ek sien hulle en ek sien wat hulle mee besig is. Maar hulle is die tomorrow boys. Hulle beurt kom nog.

Ek dink dit gaan die moeite werd wees om te wag vir hulle.

Intussen het ons 'n verkiesing op hande. Ek het besluit ek gaan, hoewel ek myself steeds ten volle vereenselwig met die oogmerke van die na-bevrydingsfases van die struggle, te wete die uitwissing van armoede en agterstande, nie in hierdie stadium 'n ander politieke heenkome wil loop soek nie, hierdie verkiesing beslis my stem van die ANC weerhou - ook uit protes teen die aangewese nommer een-kandidaat se persoonlike statuur en die feit dat hulle ongeag die potensiaal vir 'n uiters problematiese konstitusionele situasie wat uit sy kandidatuur kan ontstaan, tog hardnekkig voortgaan daarmee.

Ek gaan nie vir Zuma stem nie, maar ek is bereid om te wag dat die tomorrow boys hulle kans kry om te wys waarvan hulle aanmekaargesit is. Dis waarom ek nie nou waai nie.

Ek hoop hierdie antwoord min of meer jou vrae. Daar is nog so baie wat ek graag met jou sou wou deel, soos dat ek toenemend meer belang het by die gemeenskapsgeoriënteerde benadering waarna verwys word as Diep Demokrasie, wat veel meer inklusief is as die konvensionele demokrasie wat ons ken en wat nie die winner-takes-all benadering wat die credo van die demokrate is, promoveer nie, maar dis middernagure en hierdie krok moet bed toe voordat sy dalk haar skoen verloor.

Tot later, dan praat ons Diep Demokrasie.

Groete

Krok



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



Johannesburg Writing Diary - February 2010
Valentyn-sterrekyk by die Taalmonument
D`Aria Concerts: The Parlotones 14 February - sold out

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Francilié Hoek
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur