Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Pirow Bekker (1935– )
Erika Terblanche
2009-02-17 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link


Gebore en getoë

Verdere studie en werk
Publikasies
Pirow Bekker as samesteller
Artikels oor Pirow Bekker beskikbaar op die internet
Gedig deur Pirow Bekker


Gebore en getoë

Petrus Jakobus (Pirow) Bekker is op 9 Desember 1935 op Smithfield in die Suid-Vrystaat gebore. “[Ek] het eintlik ’n ‘dubbeldoor’-jeug gehad: groei op in die vlakte-met-wind-en-los-berge van die Suidoos-Vrystaat, maar bring ook byna twee jaar van [my] jeug in die Oos-Kaaplandse bergwêreld deur.” Hulle bly op verskeie plase, onder meer op Suidoostebank in die distrik Reddersburg en die plase Draaifontein en Klipfontein neffens die Winterhoekberge in die Oos-Kaap. Sy pa raak ernstig siek en Pirow onthou ’n gedig wat hy in hierdie tyd geskryf het. Hy durf ook ’n speurverhaal aan, maar nie die gewone soort nie. Kort voor sy pa se dood verhuis die gesin terug na die Vrystaat. Op hoërskool sit hy sy skryfpogings voort met ’n onderwyser wat hom toelaat om soms ’n storie in plaas van ’n opstel te skryf.

Kleintyd op die plaas was die boekery op die plaas maar skraal. “Veral die enkele digbundels het gou standaard-leesstof geword, een daarvan ’n bloemlesing Afrikaanse poësie. Saans na ’n ystervarkjag of iets dergeliks het ek met die Driemanskap in die bed gelê by kerslig. Dit het my pa my ‘’n man vir boeke’ laat noem. Hier van standerd vyf af het die prosa aantrekliker gelyk. [...] Toe eendag kom ek by ’n mooi niggie van my en daar lê ’n boek met die titel Barabbas. [...] ’n Vertaling uit Sweeds. [...] Die Barabbas-naam het net een ding beteken: skurk. Maar hier in Lagerkvist se boek het die skeidslyn tussen goed en kwaad begin vervaag namate menslikheid deurdrup. My haarrysende verhaal waaraan ek aan die skryf was, het ek nooit klaargemaak nie.”

Pirow matrikuleer in 1953 op Smithfield met onderskeidings in drie vakke.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Pirow vertrek na Bloemfontein, waar hy BA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) studeer. Hy behaal die graad in 1956. Gedurende vakansies werk hy by Volksblad en ná verwerwing van sy graad tree hy in diens van dié koerant. Hy was vir ’n kort rukkie onderwyser op Dewetsdorp, maar keer terug na Volksblad, waar hy ’n tyd lank hoofsubredakteur was. Sy skryfwerk gedurende sy universiteitsjare sorg dat hy ’n draagbare Olivetti-tikmasjientjie kon bekostig waarop hy verder kon skryf.

Deur deeltydse studie verwerf hy in 1961 en 1962 die grade BA Honneurs en MA – albei met onderskeiding. Hy word tydelik aangestel as lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Bloemfonteinse Onderwyskollege en later aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Opvoedkunde. In 1964 word hy lektor aan Unisa en in 1967 senior lektor.

Pirow verwerf sy DLitt et Phil in 1968 onder promotorskap van prof FIJ van Rensburg van RAU met sy proefskrif Die titel in die poësie, wat twee jaar later gepubliseer is. Sy MA-verhandeling oor die kwatryn word in die Blokboekreeks gepubliseer.

Pirow was die eerste student wat in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte ’n graad aan RAU gekry het. By Unisa het hy binne ses maande ’n kursus in Afrikaanse prosa van die grond af op die been gebring.

Later gaan werk Pirow by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, waar hy in 1973 hoof van die Dokumentasiesentrum van die Instituut vir Taal, Lettere en Vertolkende Kunste word. Na 1979 gaan hy boer en lê hy hom al meer op sy skryfwerk toe.

Hy is getroud met Annatjie Bosman, ’n onderwyseres van die Noord-Kaap, en hulle het twee seuns en ’n dogter en vier kleinseuns en drie kleindogters. Tans bly hulle op Boggomsbaai naby Mosselbaai in die Suid-Kaap.

Tydens Pirow se jare in die joernalistiek word gedigte van hom soos “Peins oor ’n plakkaat” en “hoger kon inklim” gepubliseer en later opgeneem in Stiebeuel 2 en Opperman se Groot Verseboek. In 1965 verskyn sy eerste digbundel, Die klip sing. Nog sewe digbundels word gepubliseer, met die jongste Van roes en amarant wat in 2008 verskyn. Heelwat kortverhaalbundels verskyn ook uit sy pen, sowel as ’n paar romans. Hadihie, Hadida is ’n bundel kinderverse. Hy is ook die samesteller van etlike kortverhaalbundels. Hy skryf radiodramas en Herberg by die brug ontvang in 1991 ’n Artes vir die beste radiodramateks. In 1992 word Dis die haan oor Radioteater van RSG uitgesaai.

In 1989, tydens die 150ste bestaansjaar van die Kaaplandse Onderwysdepartement, word ’n landwye kompetisie met prysgeld van R7 000 uitgeskryf om die tekort aan eenakters te probeer aanvul. Die opdrag aan die beoordelaars was om “opvoerbare en genotvolle werke van gehalte wat die onderwys en opvoeding eer sal aandoen” te identifiseer. Pirow was een van die drie pryswenners. In 1996 in die De Jager-HAUM-letterkundekompetisie het sy eenakter die derde prys verower. Hy is ook in 2008 deel van die Volksblad-Kunstefees se slypskool vir voornemende digters.

Oor sy skryfwerk, veral sy kortverhale, vertel Pirow aan Elfra Erasmus dat wanneer hy ’n storie skryf, hy selde aan die slot dink. “Dis die stof wat my interesseer. Dit moet vonk hê.” Die vreugde van ’n kind se pril ervaring voordat hy van die dood bewus word, boei hom. Ook die grootmens in die kind en die kind in die grootmens – “’n mens leer die kind in jou nooit af nie.”

Die verhale in Lag byvoorbeeld strek oor ’n hele lewe: van die kind se ontwaking, sy bewustheid van sy omgewing, sy bewuswording van die dood en sy seksuele drange tot die liefdestryd en die aftakeling van die ouderdom (wat by sy digwerk aansluit). Hy hoop nie die verhale stem die leser neerslagtig nie. “Want, soos die ou boer in een van die stories sê, daar is te veel dinge wat in ’n mens neerslag gevind het dat jy die vreugde heeltemal kan negeer.”

Pirow se skryfwerk word oor die algemeen goed ontvang en hy is al beskryf as een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. Pieter van der Lugt skryf oor Eskarp (1987) dat Bekker se werk dadelik toeganklik is omdat hy met sy statige styl en taamlik tradisionele versvorm op bekende terrein is. Dit is dalk sy vaardigheid met die prosa wat sorg vir die natuurlike taalritme van elke versreël. Joan Hambidge se uitspraak oor Rasuur (1993) is dat Pirow op sy oortuigendste is in die korter, bondiger verse en dat dit ’n goeie bundel is met veel om te geniet.

Met betrekking tot Bekker se kortverhale skryf George Weideman oor Lag byvoorbeeld (1982, 1992) dat dit opmerklik is watter wye verskeidenheid temas Pirow hanteer: onskuld van kindwees, inisiasie van die seun in ’n grootmenswêreld, verkennings van menseverhoudings en die vervreemding wat selfsug, verwerping, wraak en die gevolge van gesinsverbrokkeling meebring. Hierdie bundel bied vele uitdagings aan die fynproewer-leser.

Sy roman Die mikstuur van Mooies (1996) word deur AP Grové gesien as ’n boeiende satire op verstokte denke in die politiek, die oorgevoeligheid en agterdog aan albei kante van die kleurlyn en die hoogheilige joernalistieke optrede en houding.

George Weideman skryf in Die Burger oor Stillerlewe (2002) dat dit ’n ryk hoogtepunt vir Bekker is. Hy toon sedert sy debuut in bundel na bundel sy gevoeligheid vir die lewe daar buite – van die klein-menslike en die volkse en mitiese tot gebeure wat die verloop van die plaaslike aktualiteit en die tegnologie weerspieël. Bernard Odendaal (Volksblad) beskou ook Stillerlewe as Pirow se beste tot op daardie stadium. In hierdie bundel, waar hy in die aangesig van die stygende ouderdom en die naderende dood leef, word ’n beheerstheid en indringende wesenlikheid van segging bereik wat beïndruk en ontroer.

Pirow se laaste bundel, Van roes en amarant, verskyn in 2008. Dit is stewig veranker in die werklikheid en die alledaagse word soms op vernuftige wyse in ’n ander lig gestel. Dit wentel om bekende temas uit sy vroeëre bundels, soos die aftakeling van die ouderdom, verknogtheid aan die aardse bestaan en die bewustheid van die dood as die groot onbekende. Daar is egter nooit sprake van selfbejammering nie, danksy sy satiriese en ironiese kyk na die werklikheid. In Die Burger van 10 November 2008 word gesê dat hierdie een, net soos sy vorige twee bundels, tref omdat dit die tekstuur het van iets soos grond of grint. Dis ryk aan betekenis, spreek van ’n lewendige belangstelling in wat die aarde bied, en dra die geheue van verskillende soorte geskiedenis, lokaal en globaal. Die gedigte beloon in alle opsigte die aandagtige lees wat hulle vra.

Pirow se dogter, Anke, vertel dat van haar eerste herinneringe die ongelooflike stories is wat hy vertel het. “Hy het dikwels voor slapenstyd op die naat van sy rug op die bed gelê met een van ons kinders wat op sy maag sit. Ons kon kies waaroor die storie moes gaan, hetsy ’n miskruier en ’n olifant, ’n vink en ’n luislang, of die storie van die hondjie wat in die meerkatgat vasgesit het. Hy het met die wonderlikste stories vorendag gekom. My pa se fyn waarnemingsin en sy droë humorsin het dikwels ’n onderwerp vir bespreking met koffietyd opgelewer. [...] My liefde vir Afrikaans het ek by my pa gekry. Ons is van kleins af aan die letterkunde blootgestel en dit was nog nooit vir my iets hoogdrawends of bo my vuurmaakplek nie. Een van die redes daarvoor is dat ons gesin se wedervarings dikwels in ’n kortverhaal of gedig van my pa neerslag gevind het.”

Terug na bo

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Terug na bo

Pirow Bekker as samesteller

  • Digters op die toring: ’n keuse uit die werk van die Twintigers ; saam met H.J. Schutte.- Pretoria: Van Schaik, 1970, 1976 [ISBN 0627004083 (hb)]
  • Om laaste te kan lag: verhaalbundel. - Kaapstad: Tafelberg, 1984, 1985, 1986, 1987,1988 [ISBN 0624020746 (sb)]

Terug na bo

Artikels oor Pirow Bekker beskikbaar op die internet

Gedig deur Pirow Bekker

 



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about IL de Villiers
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur