Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
 
Van Voëlvry tot Idols
Ilza Roggeband
2006-11-15 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Ek moet bieg dat ek nou moes Google om te sien wanneer die Voëlvry-toer was. Dit was die eerste keer wat ek vir Koos Kombuis op ’n verhoog gesien het. Ook vir Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand. Dit was in ’n basement iewers op die RAU-kampus en as dit 1989 was, was ek 27 jaar oud.

Skielik klink dit vir my so oud. Het ek het toe eers regtig Afrikaanse musiek begin luister? Want daar was tog niks voor dit nie, was daar? "Die Lappop" en Min Shaw en Groep Twee dalk. Sonja Herholdt en Anton Goosen. En my suster Sandra was een van die dogtertjies in Hoor My Lied wat in die hospitaal saam met Lindi Roux "Die A en die B en die grote C" gesing het, maar ek kan nie onthou dat ek ooit by ’n konsert van enige van hulle was nie.

Ek kan ook onthou dat my eerste LP wat ek met my eie geld gekoop het, Night at the Opera van Queen was. Maar ek kan om die dood toe nie onthou wat my eerste Afrikaanse plaat was nie.

Daar is egter een ding wat ek nou op 44 weet: Afrikaanse musiek het ’n deel van my lewe geword en sal seker altyd ’n deel van my lewe wees.

As gevolg van my werk – ek is ’n joernalis by Huisgenoot en die afgelope sewe jaar betrokke by ons bedrywighede by KKNK en Aardklop asook Skouspel – ken ek amper elke mens wat ’n woord in Afrikaans sing. Sal selfs so ver gaan om van hulle vriende te noem. Dozi het onlangs een van sy verskalfies na my vernoem en vir Kurt – seker die grootste gentleman van Afrikaanse musiek – het ek die wêreld se respek. Wanneer ek en Steve Hofmeyr of Koos Kombuis praat, draai die gesprek altyd by ons kinders wat amper-amper ewe oud is.

Wanneer daar dan weer ’n woorde-oorlog uitbreek en beskuldigings word heen en weer gegooi, wonder ek soms of dit ooit gaan end kry. Gaan almal nie hulle plekkie onder die musiekson kry nie?

Ek het Koos se stuk oor die Rittelfees gelees en baie geniet. Hy het maar net ’n manier om ’n ding te sê. Ek was nie self by die fees nie en is altyd bang vir die Neil Kroese-manier van redeneer. Met ander woorde: "Ek was nie self daar nie, maar my vriende sê …" Of "Ek hoor dat …" Maar na ek met ’n heel paar mense gepraat het en so ’n paar e-posse gekry het, weet ek die volgende: die fees is GROOT (in toeskouers én in die kunstenaars wat hulle trek) en die mense is baie, baie dronk.

Het met afgryse geluister na stories van die pa van Pretoria wat sy dogtertjie Son-Isha (ek dink sy is agt) op die verhoog by die Rittelfees gesit het en derduisende uitgehaal het om ’n DVD te laat maak. Hoe die arme kind nie kan sing nie (“die swakste Idols-oudisie wat jy al gehoor het, maar gesing deur ’n kind” is soos iemand dit beskryf het) en hoe die een lid van haar orkes (ja, niks backtracks vir hierdie prinsessie nie!) vir effek ’n kitaar stukkend geslaan het.

Toe kom Adam se brief op SêNet en hy spel jaloesie verkeerd en vloek en skel en praat van “Demokratiese Alliansie-agtige Bruinmense” en van jong kunstenaars se “dagboeke en bankrekeninge wat oorloop”. En ek kry so verskriklik skaam vir Adam, want Adam het nog nie besef dat kwaliteit en kwantiteit nie dieselfde ding is nie. Dat jy jou naam in dieselfde asem as Koos Kombuis kan noem éérs wanneer jy ’n "Lisa se klavier" of ’n "Onder in my whiskeyglas" of ’n "Bicycle sonder ’n slot" geskryf het. As jy boeke soos Raka die Roman of My Mamma is ’n Taal of Seks & Drugs & Boeremusiek geskryf het. Dat jy in ’n tyd vir ’n hele generasie opgestaan het en in musiek gesê het wat hulle gedink het. Dan, liewe Adam, kan jy begin beledig en iemand ’n "has been" begin noem. Wanneer jy en jou generasie iets gesê het of gedoen het om ’n verskil te maak.

Dan is daar Willem Botha en kompetisies soos Idols. Elke huis het deesdae ’n sanger, het Gerrie Pretorius al gesê. Dit kos deesdae amper niks om ’n CD te laat maak nie en ek kry gereeld CD’s op my lessenaar waarvan die omslag ’n kleurfotostaat is en die sanger/sangeres se ma hul bestuurder is. Beteken nie veel nie. Om dit deesdae in die Afrikaanse musiekwêreld te maak moet jy iets hê wat niemand anders het nie. Kyk wat het die afgelope tyd gebeur. Jan Blohm, Chris Chameleon, Bok van Blerk het sukses behaal omdat hulle uniek is. Omdat hulle hulle eie stempel kan afdruk en ’n uitsonderlike talent het. Hulle het ook bewys dat oorspronklikheid wel CD’s kan verkoop. Chris en Bok het al twee goue status behaal, Chris sommer twee keer hierdie jaar vir sy twee Afrikaanse albums.

Dit neem egter niks weg van die sukses van Kurt en Steve en Juanita nie. Kurt se Vat My, Maak My Joune is ’n baie goeie popalbum. Ek stem saam met Coenie de Villiers as hy sê Steve is so slim soos ’n sak ape. En Juanita is die goue meisie van Afrikaanse musiek en niemand gaan haar vinnig van daardie troontjie kry nie.

Riku Lätti het in ’n brief aan SêNet sy mond vreeslik uitgespoel oor:  

"gewilde kunsvorme/karaoke so ongelooflik veel aandag deur die Naspers geniet dat alles anders wat effe verfynd is, doodstik in die nadraai van hul doef-doef.

"Dit is nie vir my aanvaarbaar dat karaoke status as kunsvorm geniet nie (miskien in Japan, ja). Dis afskuwelik, Afrikaanse kunstefeeste verkeer in 'n krisis agv sulke kak.  Fine dat die ouens gewild is en doen wat hul mag doen - dit wat Naspers aanwaai en versprei kan niemand help nie, die ouens het geen verantwoordelikheidsin nie, hul stel net belang in verkope. Rande en sente, daarom verskyn karaoke "kunstenaars" op die covers van al hul tydskrifte en koerante - "want hulle verkoop tydskrifte (ek dog dis die kaalvoetkinders op straat se job)".

Riku, jy en ek glo enige kunstenaar wil graag voor ’n uitgepakte saal/tent/venue sing. Wanneer Huisgenoot – ek neem aan die meeste van jou kritiek is op ons gerig – kunstenaars soos Kurt en Robbie Wessels en Nicholis Louw op ons verhoog by kunstefeeste sit, sit ons hulle daar omdat ons weet wat die mense wil hê. Ons wil boude op stoele hê en daardie kunstenaars doen dit vir ons. Maar ek weet ook dat Laurika en Chris Chameleon en Jannie Moolman ook ons tent volmaak, en jou teorie dat ons net in “karaoke-sangers” belangstel, is dus ’n bietjie wankelrig. En niks gee my meer plesier om ’n kunstenaar soos Abel Kraamsaal of Gian Groen tussen kunstenaars soos Kurt en Nicholis op die verhoog te sit en te sien dat daar so hier en daar ’n ander wêreld vir mense oopgaan nie.

Ek gaan nou klaarmaak. Ek weet nie waarheen alles op pad is nie, maar ek weet dat ek opgewonde is as ek nuwe kunstenaars soos Ryno Velvet en Willim Welsyn se albums kry om na te luister. Ek weet ook dat daar ’n nuwe Steve Hofmeyr gaan kom (ek vermoed sy naam is Bobby van Jaarsveld) en dat iemand eendag in Karen Zoid en Valiant Swart en Kurt Darren se skoene gaan staan. En ek weet dat wanneer my seun in 2018, wanneer hy sestien is, die dromme in ’n garage band gaan speel, ek hom gaan vertel toe ek die eerste keer vir Koos Kombuis in ’n basement by die University of Johannesburg gehoor het.

 

<< Terug na die miniseminaar oor Afrikaanse musiek <<



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za


DINSDAG; 09/02/10, TWEEDE UITGAWE
Afrikaans: Vir Lizz Meiring
Wouter: Die Nasionale tragedie: Die Mislees van die Geski

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Esther van der Vyver
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur