Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Breyten Breytenbach (1939– )
Erika Terblanche
2008-09-17 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Gebore en getoë

Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore as een van vier kinders van Hans en Kitty Breytenbach: sy broers Jan (wat later die stigter van die Suid-Afrikaanse Spesiale Mag sou word) en Cloete (oorlogskorrespondent en fotograaf) en sy suster, Rachel. Hy is op Bonnievale deur die bekende predikant, Kalie Heese, gedoop en het sy oupa se naam. Die kinders noem hulle pa Oubaas en hulle ma Ounooi.

Toe Breyten vyf jaar oud is, trek die gesin na Riversdale waar hulle pa die plaas Kafferkuilsrivier gekoop het. Die kinders kon nie lyf wegsteek nie en moes gereeld op die plaas uithelp. 'n Halfuur se ry met die perdekar het die kinders by die dorp en Langenhovenskool gebring waar hulle skoolgegaan het.

In 'n onderhoud met sy jare lange vriend John Miles in 1993 vertel Breyten dat hy sy breedsprakigheid by sy ma geërf het. Sy was een van 17 kinders en hy het grootgeword met “’n gekekkel, gebabbel, gelag, gejil, geterg en gesing. Sy het haar briewe aan hom oorsee bo links begin en een sin dwarsdeur vier, vyf velletjies geskryf. Dis waarskynlik hoekom ek nooit met hoofletters en punte kon werk nie. Dis net 'n voortsetting van die sin.”

In 1948 is die plaas verkoop en verhuis hulle na Wellington, waar Oubaas 'n winkel naby die dorp by die spoorlyn, gekoop het. Later trek hulle dorp toe – na Grevilleas toe, waar hulle 'n losieshuis vanaf 1947 tot 1970 bedryf het. Breyten matrikuleer in 1957 aan die Hugenoot in Wellington, waar hy ook hoofseun was. Op skool al het Breyten gedig en sy meisies het gereeld gediggies ontvang.

Verdere studie en werk

Na matriek is Breyten na die Universiteit van Kaapstad, waar hy 'n BA-kursus volg en in die Departement van Afrikaans en Nederlands studeer onder Boerneef, J du P Scholtz en DJ Opperman. Hy studeer ook kuns aan die Michaelis-kunsskool in die jare 1958–9, en volgens André Brink was veral die werk en leiding van Lippy Lipschitz vir hom van groot waarde.

Breyten se belangstelling in die digkuns het ook verdiep en hy gaan werk later in 'n boekwinkel. Hy raak bevriend met Uys Krige, Jan Rabie en ander en kuier saam met hulle by Clifton. Sy eerste gedigte verskyn in die studenteblad Groote Schuur in 1959. Hy begin dit sterk oorweeg om na Parys in Frankryk te gaan waar hy reken dit makliker vir 'n skilder sal gaan. Op hierdie stadium sien hy homself glad nie as 'n digter nie.

In 1960 vertrek hy uit Tafelbaai as vierdeklas-passasier op 'n Portugese skip. Hy land in Lissabon met twintig pond in sy sak. Hy deurswerf die Middellandse See op 'n boot, reis rond in Portugal, Spanje, Frankryk en Engeland en beland in Noorweë, waar hy ses maande lank Engels by 'n skool gee. In Junie 1961 gaan hy terug na Parys, waar hy met alle mening begin skilder.

“Vergelyk 'n mens sy werk uit daardie eerste paar jaar met dié daarna, staan jy verstom oor die ontwikkeling. Uit 'n taamlike begin, met 'n nog onvaste tegniek, het hy baie vinnig sy eie styl verwerf – sy eie stem in kleur gekry; vandag is daar haas geen kritikus wat sy sekere, sekure tegniek nie aanprys nie. Miskien het die aanraking met die Ooste, veral die wêreld van die Boeddhisme, baie gou die rigting bepaal waarin hy sou ontwikkel. En die koers is verstewig nadat hy getroud is met die lotus uit Saigon, Yolande,” skryf André Brink in Die Huisgenoot van 29 Desember 1967. Breytenbach se werke is sedertdien uitgestal in Parys, Edinburgh, Minneapolis, Amsterdam, Rome, Berlyn, Brussel, Rotterdam, Le Havre en Groningen.

Hy ontmoet Yolande, wie se regte naam Hoäng Lien Ngo is (dit beteken "Geel Lotus") en in 1962 is hulle in Londen getroud. Sy is 'n Franse burger, hoewel haar ouers van Viëtnam was. Haar pa was Viëtnam se verteenwoordiger by Unesco. Hulle is daarna Parys toe, waar Yolande as sekretaresse by 'n Amerikaanse maatskappy werk. Sy is vlot in Frans, Viëtnamees, Spaans en Engels en behaal 'n BA-graad aan die Sorbonne en studeer verder in die Regte en Volkekunde. Breyten self studeer in 1963 ook aan die Sorbonne.

Dit het finansieel nie aldag baie goed met die Breytenbachs in Parys gegaan nie. Breyten probeer geld verdien met sy skilderwerk, maar dit gaan nie altyd so maklik nie. Later bemark 'n agent in Amsterdam sy skilderye en hou hy taamlik gereeld uitstallings in België en Nederland. Hy en Yolande het intussen 'n woonstelletjie in Parys gekoop – in 'n baie ou gebou en baie klein.

Intussen raak Breyten al meer betrek by die anti-Suid-Afrikaanse politiek en word hy 'n stoere teenstander van die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid.

In April 1965 land die skrywer Chris Barnard in Parys, en omdat hy vreemd in Parys was, besluit hy om by Breyten te gaan kuier. Breyten verwelkom Chris met ope arms, help hom om verblyf te bekom en tree as gids en raadgewer vir hom op. Chris het vier jaar tevore 'n verhaal van Breyten in 'n studenteblad raakgesien en wou weet of hy nog skryf. Breyten se antwoord was: “Nee wat, ek het opgehou. Ek skilder nou net.” Chris bly karring en die uiteinde was dat Breyten na 'n lang soektog in die woonstelletjie 'n dun, groen oefeningboekie êrens uitgrawe. Chris Barnard vertel: “In die boekie was kort stukkies prosa, hier en daar 'n gedig, en plek-plek 'n pen-en-ink-tekening.” Omdat Breyten se handskrif nie te duidelik was nie, tik hy die gedigte oor en gee dit vir Chris, wat verras was met die gehalte van die skryfwerk, en soos wat Breyten sy skryfwerk oortik, bespreek Chris dit met hom en gee raad. Teen Junie 1965 was daar reeds ongeveer 60 gedigte en byna net soveel prosawerk in Chris se laai.

Teen die einde van Junie sorteer Chris die skryfwerk in twee manuskripte en vra Breyten om dit na Bartho Smit in Johannesburg te pos. Breyten se reaksie: ”Maar dis mos 'n uitgewer. Dis mos net skrywers wat boeke publiseer.”

Drie weke later kom die telegram: “Albei manuskripte aanvaar. Geluk. Brief volg.” En teen die einde van November arriveer die pakkie met 'n groot geel boek en 'n klein groenetjie – Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes. In Februarie 1966 hoor Breyten dat die APB-prys vir beide publikasies aan hom toegeken is en is die prys in Parys in die Moulin Vert in Montparnasse aan hom toegeken – en daarmee saam 'n R2 000-kontantprys wat baie nuttig te pas gekom het.

In Die Transvaler van 4 Januarie 1965 spreek Jan Kromhout hom soos volg oor die twee publikasies uit: ”Die jongste brug tussen Suid-Afrika en Frankryk is nou geslaan deur 'n tot dusver onbekende uitgewekene: Breyten Breytenbach, 25-jarige seun van Bonnievale se wêreld. [...] Wie, liewer hoe, is hierdie jong kunstenaar? [...] In wat hy bereik het, bemerk ons (hopelik) net so 'n talentvolle verskyning as Peter Blum tien jaar gelede, maar ten opsigte van aard en onderwerp lê sy gedigte m.i. nader aan Pieter Venter se Die blomblaar is requiem en Jan Rabie se Een-en-twintig. [...] Een ding staan vas: 'n Afrikaanse of selfs Suid-Afrikaanse gees adem hierdie bundel nie. Ons is, verstaanbaar, ver verwyder van die osse wat aanstap deur die stowwe, die spruitjie met sy mooi geluidjie of die viooltjies wat in die voorhuis pryk. Die tydgees en tydsverskynsels verplig ons om kennis te neem ook van ander uiterstes. Laat ons Breyten Breytenbach krediet gee vir aanvoorwerk op sý terrein, al moet ons saam met hom aan die “onrafel” gaan van “die frases wat in jou donkerste wese eggo” (bl 19).

Die uitgewers het aanvanklik vir Breyten en Yolande genooi om die prys in Suid-Afrika in ontvangs te neem, maar omdat Yolande van Viëtnamese afkoms is, weier die Suid-Afrikaanse regering om 'n visum aan haar toe te staan weens, onder andere, die Wet op Gemengde Huwelike van 1949.

Breyten sê dat hierdie insident die begin was van sy politieke bewustheid. “Dit was die begin van my tweeslagtige verhouding met my land ... My hart het veranker gebly aan Suid-Afrika en is dit nog .... Ek was besig om af te sterf en tog ook om elke dag dieper te leef in en na my land toe.”

In 1967 verskyn sy volgende bundel, Die huis van die dowe, en ontvang hy die Reina Prinsen Geerligs-prys, sowel as die CNA-prys daarvoor. Reina Prinsen Geerligs was in die Tweede Wêreldoorlog lid van die versetbeweging in Nederland en is deur die Nazi’s om die lewe gebring. Die prys is ingestel ter aanmoediging van jong digters en skrywers.

In dieselfde jaar vertrek Breyten en Yolande na Lourenço Marques en vandaar na Swaziland, waar Yolande uiteindelik haar skoonouers ontmoet. Daarvandaan is hulle per boot na die Kaap, waar hulle vir twee dae die Skiereiland kon verken voor die terugvaart na Europa.

Intussen groei Breyten se verset teen die Suid-Afrikaanse regering en in April 1970 skryf hy 'n artikel vir Sechaba, die amptelike mondstuk van die ANC. Volgens berigte in die Suid-Afrikaanse pers bepleit hy in hierdie artikel openlik revolusie. Hy sê dat die Afrikaner net gered kan word deur die revolusionêre vernietiging van sy eie magstruktuur, wat kapitalisties, totalitêr en wreedaardig is.

Breyten gaan voort met sy skryfwerk en die CNA-prys vir Letterkunde word ook aan Kouevuur (1969) en Lotus (1970) toegeken. Hy vertaal in 1970 Shakespeare se Titus Andronicus vir Kruik en in 'n onderhoud met die Daily News spreek hy hom soos volg uit: “Painting is my job and writing my African mistress.”

Ná hy in 1970 die CNA-prys vir Lotus ontvang, wil sekere kultuurorganisasies die bundel laat verbied as gevolg van een gedig daarin wat 'n parodie op die Onse Vader is. Dr Hennie Terblanche van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans het laat blyk dat die bundel by die volgende vergadering van die Publikasieraad ingedien sou word. Breyten beskou Lotus op daardie stadium as sy mees ambisieuse bundel tot nog en ook sy moeilikste. In Rapport van 22 April 1971 sê hy dat Lotus sy ”manifes” is en waarskynlik sy laaste digbundel, behalwe “wie weet, oor 'n klompie jare, dalk nog 'n laatlammetjie.”

Dit is asof kontroversie Breyten omgewe en volg waar hy gaan. In 1971, voor die toekenning van die Hertzogprys vir poësie, word in die pers bespiegel dat Breyten dit beslis die meeste verdien. Die prys word egter aan Elisabeth Eybers toegeken – 'n toekenning wat deur sommiges as ’n "veilige toekenning” beskryf word. Met die toekenning van die Hertzogprys vir poësie in 1974 beland Breyten weer in die spervuur. Hierdie keer word Uys Krige bekroon. Voor die tyd sê Breyten self dat sy werk van die vorige drie jaar nie die toekenning regverdig nie.

In 1971 word Breyten aangewys as ere-ondervoorsitter van die studente-organisasie Nusas en in Junie 1974 as erepresident.

In 1972 word Skryt: om 'n sinkende skip blou te verf deur Meulenhoff Uitgewers in Nederland gepubliseer en terselfdertyd word 'n uitstalling van sy skilderye deur die galery Espace in Amsterdam gehou. Breyten se aansien in Nederland groei en in 1972 word Lotus bekroon met die Lucy B en CW van der Hoogt-prijs wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word. Breyten word ook verkies tot die 53ste lid van hierdie Maatschappij.

In Desember 1972 slaag Breyten en Yolande uiteindelik daarin om 'n visum vir Yolande te bekom en vertrek hulle na Suid-Afrika. Hulle woon in Februarie 1973 die Sestiger-Somerskool aan die Universiteit van Kaapstad by, waar Breyten vir die eerste keer sedert hy na Parys is, weer in Suid-Afrika optree, voor 'n gehoor van agt honderd mense. Hy sê onder andere: “Ons is 'n bastervolk met 'n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind. Net ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind gekom het. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag reverdig.” Schalk Pienaar skryf in Die Burger: “Die man se meesterskap van die woord is iets besonders.” Breyten en Yolande is terug na Parys.

In April 1975 hou die Verenigde Volke-Organisasie (VVO; nou die VN) 'n spesiale seminaar in Parys oor apartheid waaraan Breyten deelneem en waar hy Suid-Afrika 'n “terroristestaat” noem.

In Junie 1975 word sy bundel Skryt deur die Publikasieraad verbied – drie jaar na dit verskyn het. Breyten se reaksie hierop: “Die Sensuurraad slaan met hierdie verbod 'n dooie perd, omdat die boek lankal nie meer beskikbaar is nie, nie in Suid-Afrika nie, ook nie in Nederland nie.” Intussen is Breyten aan die skryf aan 'n Seisoen in die paradys, 'n verslag van die besoek aan Suid-Afrika in 1973. Daantjie Saayman van Buren-Uitgewers besluit egter in Augustus 1975 om dit nie te publiseer nie, aangesien hy seker is dat dit verbied gaan word en hy as eenman-uitgewer nie weer (ná Kennis van die aand) die finansiële risiko kan loop nie. As Buren dit nie uitgee nie, mag geen ander uitgewer dit publiseer nie, wat 'n geweldige verlies vir die letterkunde sal wees. Dit is uiteindelik in 1976 deur Perskor gepubliseer.

In Frankryk word Breyten 'n stigterslid van Okhela, 'n versetgroep wat apartheid in ballingskap beveg. Die naam beteken "om aan die brand te steek". Die groep, wat uit vyf lede bestaan, beskou hulle as die blanke vleuel van die ANC. Hulle aktiwiteite het ten doel om die ANC te help met hulle strewe na 'n omwenteling in Suid-Afrika, indien nodig met geweld.

Op 1 Augustus 1975 land Breyten op die Jan Smuts-lughawe in Johannesburg nadat hy 'n visum in Rome verkry het met 'n vals paspoort onder die naam Christian Galaska. Op 26 Augustus 1975 word dit op die voorblaaie van koerante uitbasuin dat Breyten Breytenbach gearresteer is. Op 19 Augustus word hy in hegtenis geneem omdat hy na bewering in besit was van vervalste dokumente. Die Veiligheidspolisie was glo op sy spoor vandat hy in Suid-Afrika aangeland het. Hy word aangehou ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme. Vyf van die mense met wie hy na bewering kontak gehad het, word ook deur die Veiligheidspolisie aangehou. Breyten se arres ontlok 'n stortvloed van protes uit die buiteland, veral uit Nederland, Frankryk en Engeland. Na sy arrestasie sê Adam Small by 'n taalsimposium van die Akademie vir Wetenskap en Kuns op Potchefstroom: "My groot vriend, Breytie, was maar altyd 'n bietjie mallerig. Maar God weet, die man skryf wonderlike Afrikaans.”

Op 10 November 1975 verskyn Breyten voor 'n stampvol hof ingevolge die Wet op Terrorisme. Die verhoor word tot 21 November uitgestel. Met die aanvang van die verhoor op 21 November pleit Breyten skuldig op die hoofaanklag met sekere wysigings op die klagstaat. Na 'n week word hy op elf aanklagte skuldig bevind en op 27 November vonnis regter PM Cillié hom tot nege jaar gevangenisstraf nadat die staat by monde van die prokureur-generaal, dr Percy Yutar, saam met Breyten se advokaat, dr PJ vR Henning 'n maksimum vonnis van vyf jaar gevra het. In Desember 1975 word verlof tot appèl geweier. In Maart 1976 word nog 'n aansoek om verlof tot appèl geweier. Tydens sy verhoor ontvang Breyten 'n kunsprys ter waarde van R1 000 van die Stadsraad van Vitry in Frankryk.

Met die uitspraak sê Breyten onder andere aan regter PM Cillié: “Elkeen van ons is ook verantwoordelik vir al die ander mense. Ons dra almal by tot die gemeenskap, ten goede of ten kwade. Wat my betref, dit is nou vir my baie helder, my bydrae kan nie op die gebied van politiek wees nie en ek sal my ook nooit weer daarin begeef en vergiftig nie. 'n Mens sê altyd dat berou en spyt te laat kom. Ek is jammer oor die onbesonne dom dinge wat ek gedoen het en wat my tot hier gebring het, en ek vra om verskoning daarvoor. Maar ek voel ek weet ek het nog baie gedigte in my vingers en skilderye in my oog. Ek hoop eendag, wanneer dit my weer gegun mag word om in die lewe uit te gaan, dat ek dan tog nog deur my skrywe en my kuns my deel by kan dra tot die toekoms van ons land en ons mense. Ek sal dit as 'n voorreg beskou.”

Tydens sy gevangenskap word Breyten toegelaat om voort te gaan met sy skryfwerk. Alles wat hy skryf, moet aan die tronkowerhede oorhandig word. Hy word egter nie toegelaat om te skilder nie.

Oor 'n reeks gedigte wat Breyten in aanhouding geskryf het, sê prof FIJ van Rensburg: “Dit is nie 'n gespeel om ellende te vergeet nie, dis geen gefluit by 'n kerkhof verby nie. In die engte van sy sel wil die digter ruimte verwerf, wil hy 'n stuk ruimte verower wat hy nie tevore gehad het nie. Waarmee hy hom in die bundel besig hou, is om tot 'n ruimer menslikheid te kom.” Hy sê ook dat dit van die merkwaardigste werke, nie net van Breyten nie, maar in Afrikaans is. Voetskrif word in 1976 deur Perskor gepubliseer en in 1977 word dit met die Perskorprys bekroon. Op die omslag is 'n afdruk van 'n skildery wat Breyten gemaak het terwyl hy verhoorafwagtend was. In Desember 1976 word van Breyten se poësie en prosa in Frans vertaal deur Georges-Marie Lory en uitgegee onder die titel Feu Froid (Kouevuur). Kouevuur word ook deur middel van die Franse vertaling in Engels, Arabies en Pools vertaal.

In Mei 1977 word Breyten weer op twee aanklagte van ontsnapping ingevolge die Wet op Terrorisme aangekla. Hy word egter net skuldig bevind daaraan dat hy tronkregulasies oortree het en tot R50 of drie maande gevangenisstraf gevonnis. Die staat kon nie bewys dat hy vanuit sy sel aan enige terroriste-bedrywighede deelgeneem het nie. Die aanklagte spruit uit sy gedrag en gesprekke met 'n bewaarder in die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Hy erken dat sy planne om te ontsnap net lugkastele was en dat hy nooit verwag het dat dit verwerklik sou word nie. Selfs na hy onskuldig bevind is, het daar geluide in sekere Afrikaanse kultuurkringe opgegaan dat hulle beplan om die Onderwysdepartement te vra om Breyten se gedigte wat vir skole voorgeskryf is, te verbied.

In Junie 1977 ontvang Breyten die Prix des Septs wat deur sewe internasionale uitgewerye ingestel is. Hy is die eerste ontvanger van hierdie prys. Dit word toegeken veral vir sy literêre werk, maar kan ook beskou word as 'n teken van solidariteit met sy politieke stryd. Die uitgewers is Feltrinelli (Milaan), Bourgeois (Parys), Wagenbach (Wes-Berlyn), John Calder (Londen), Anagrama (Barcelona), Don Quixote (Lissabon) en Van Gennep (Amsterdam). Van Breyten se gedigte wat die jare van 1964 tot 1977 oorspan, word in 1978 in Engels deur Denis Hirson vertaal onder die titel In Africa even the flies are happy en deur John Calder uitgegee. Die bundel sou ook in Portugees, Spaans, Frans, Duits, Italiaans en Nederlands vertaal word. Die vertaling is gedoen op grond van bogenoemde toekenning wat hy ontvang het.

Op 4 April 1978 is Breyten se moeder onverwags op 'n buurvrou se begrafnis in Hermanus aan 'n hartaanval oorlede. Breyten kon nie toestemming kry om sy ma se begrafnis by te woon nie.

In 1979 verskyn nog 'n bundel met vertalings van Breyten se gedigte getitel And death as white as words. Dit word egter deur die Suid-Afrikaanse Sensuurraad verbied.

Pogings om Breyten vroeër uit die gevangenis te kry, duur onverpoosd voort. In April 1979 word 'n versoek van die Internasionale PEN-vereniging van die hand gewys.

In dieselfde jaar kry Breyten se vader 'n beroerte en word in Grahamstad in 'n hospitaal verpleeg.

Eerbewyse vir Breyten bly nie agterweë nie. In 1980 word Breyten saam met die Tsjeggiese skrywer Josef Skvorecky 'n finalis vir die internasionale Neustadt Literêre Prys. Hierdie tweejaarlikse prys word deur die Universiteit van Oklahoma geborg en Breyten verloor met een punt. Die eregeld van 1981 se Poetry International in Rotterdam word aan Breyten toegeken. Dit is 'n prys wat in 1981 vir die derde keer toegeken word aan 'n digter wat onder meer deur sy werk in 'n ernstige situasie beland het. Die bedrag van R3 000 wat deur die uitgewers Elsevier beskikbaar gestel is, sou gebruik word vir juridiese bystand aan Breyten en vir verligting van sy gevangenskap. Yolande word toegelaat om Breyten gereeld twee maal per jaar te besoek terwyl hy in die tronk is.

By geleentheid van Breyten se verjaardag op 16 September 1980 publiseer Taurus-Uitgewers die bundel Die miernes swel op die fox-terrier kry 'n weekend en ander byna vergete Katastrofes en fragmente uit 'n ou manuskrip van Breyten Breytenbach. Die meeste prosatekste is afkomstig uit die oorspronklike manuskrip van Katastrofes (1964), terwyl ander deel uitmaak van ’n Seisoen in die paradys en ander in tydskrifte soos Sestiger, De Vlaamse Gids en Contrast verskyn het. As gevolg van sy gevangenskap kon Breyten nie die bundel hersien soos sy wens was nie. Ander prosastukke word opgeneem in De boom achter de maan wat in 1974 deur Van Gennep in Amsterdam uitgegee word.

Na maande se bespiegeling in die pers word Breyten op 2 Desember 1982 onverwags uit die tronk ontslaan – twee jaar voor die verstryking van sy vonnis. Daar word algemeen aangeneem dat dit as gevolg van internasionale bemiddeling plaasgevind het. Volgens berigte het Breyten se skryfwerk terwyl hy in die tronk was, geen tekens getoon van enige revolusionêre inhoud nie, en dit het glo ook 'n belangrike rol in sy vrylating gespeel.

Na sy vrylating sê Breyten dat die sewe jaar "geweldig neerdrukkend" was, hoewel geen fisieke geweld teen hom gepleeg is nie en hy nie mishandel is nie. Volgens hom is dit feitlik onmoontlik vir 'n blanke Suid-Afrikaner om deur swart “vryheidsvegters” as bondgenote in die stryd aanvaar te word. Dus meen hy dat hy self geen verdere rol in die politiek te speel het nie en dat hy uit Parys geen effek sal hê nie. Hy sal egter voortgaan om apartheid deur sy dig- en skryfwerk teen te staan. Op 5 Desember 1982 kom hy in Parys aan en in 1983 neem hy Franse burgerskap aan.

In 'n onderhoud met die Nederlandse koerant NRC Handelsblad in 1983 sê Breyten dat Afrikaans geen toekoms het nie en dat dit 'n taal vir grafstene geword het. Hy beweer onder meer dat Afrikaans 'n vernedering is vir swart en bruin mense en dat hulle nie langer in die taal belangstel nie. Mense soos Jan Rabie, prof Richard van der Ross, prof Jakes Gerwel en Abraham de Vries stem egter nie met hom saam nie.

Na sy vrylating laat Merwe Scholtz hom soos volg uit oor Breyten se werk: “In hierdie stadium wil ek self dus net sê: die werk is ryk, vol verskeidenheid, byvoorbeeld prosa en poësie, en ek sou sê op die peil wat 'n mens van die digter verwag.”

Breyten dink nie dat sy inhegtenisneming en sy tronkstraf heeltemal tevergeefs was nie. “Die spreekwoord sê watter sin het die lewe as jy nie 'n 'fool' van jouself kan maak nie. Dis 'n bevrydende besef wat langsamerhand tot my begin deurdring: jy het reg op jou foute."

Tydens sy verblyf in die tronk skryf Breyten meer as 400 gedigte en in 1983 verskyn die eerste van die digbundels waarin van hulle voorkom. Dit is net die voorloper van nog vier digbundels en twee prosabundels wat binnekort by Taurus die lig gaan sien. Die nuwe bundel, Eklips, is die derde in 'n reeks van vyf wat onder die gesamentlike titel Die ongedanste dans verskyn. Die eerste werk heet Buffalo Bill, die tweede Lewendood, die vierde Yk en die vyfde Die kus.

In Januarie 1983 is Breyten in Den Haag om 'n spesiale literêre prys van die Jan Camper-stigting te ontvang. By die oorhandiging van die prys sê die burgemeester van Den Haag, Frans Scholls, dat Breyten die prys ontvang om sy vryheid te vier en sy digterskap te stimuleer, veral waar literatuur en weerstand op 'n oortuigende wyse 'n eenheid vorm. Breyten is ook die onderwerp van films soos die Duitse Prison mailbag X4 South Africa, a letter to Breyten Breytenbach wat in 1983 op Duitse televisie vertoon is en deur Jobst Grapow gemaak is.

En toe uiteindelik, in 1984, word die Hertzogprys vir poësie aan Breyten toegeken vir sy bundel Yk. Hy deel die prys met Henriette Grové – net soos die CNA-prys van 1983. Hy wys egter die prys van die hand, “nie omdat ek vasgegroei het aan die beeld wat deur sommige aangekleef word, dié van opstoker of provokateur of outsider nie. Aldus nie om vriende te behaag nie. Ook nie om kopie te verskaf aan joernaliste op vroetel na sensasie of erger – die Engelstaliges wat enige sogenaamde 'Afrikaner-afwykende' op opportunistiese wyse steun met die hoop om die Afrikaners as groep by te kom nie. Selfs nie (en ek dink ek is taamlik eerlik as ek so sê) vanweë ou letsels, 'n verwronge persoonlike geskiedenis, kleingeestigheid of omdat dit te laat is nie. Maar om die eenvoudige rede dat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns nog immer die bolwerk bly van die Afrikaner-establishment. [...] Indien ek die bekroning sou aanvaar, sou ek nie op my klein manier kon meehelp aan daadwerklike verandering nie, maar 'n illusie van soepelheid help verleen aan strukture en 'n stelsel wat eksklusief bly.”

Taurus publiseer in 1984 The true confessions of an albino terrorist. Dit is die eerste werk wat Breyten ná sy vrylating skryf. In sy resensie van die werk in Rapport skryf André Brink: “Dit is duidelik dat Breyten onwennig voel in Engels. Taalspel, wat vir hom in Afrikaans so spontaan gebeur, is hier meermale met 'n swaar hand aangepak. [...] Dit bly 'n nodige boek. Vir ons tyd en ons situasie 'n onontbeerlike boek. Maar openbaar dit dalk ook tekens van die bitter skade wat die tronk wél – aan die skeppende gees self – aangerig het?”

Breyten se aansien in die buiteland neem nie af nie. In 1984 ontvang hy 'n toekenning van die beweging vir sosiale menseregte en in 1985 die Pierpaolo Pasolini-prys, wat na die wêreldbekende Italiaanse digter en filmregisseur vernoem is. Breyten ontvang die prys vir die werk wat hy onder moeilike omstandighede gedoen het.

In April 1985 word hy genooi as gas van die Universiteit van Kalifornië, waar hy lesings lewer en uit sy boeke voorlees. Hy woon ook in 1985 die 48ste PEN-konferensie in New York by.

Breyten se digbundel Yk wen in 1986 die eerste Rapport-prys – die derde bekroning vir dié bundel. Breyten en Yolande kom Suid-Afrika toe sodat hy die prys persoonlik in ontvangs kan neem. Dit is sy eerste besoek aan Suid-Afrika sedert hy in Desember 1982 uit die tronk vrygelaat is. Met die ontvangs van die prys sê Breyten dat 'n deel van die prysgeld aangewend sal word vir die saak van politieke gevangenes. Hy sê dat hy teruggekom het omdat hy hom onherroeplik verbind het tot Afrika en omdat hy hom vereenselwig met die stryd om die bevryding van Suid-Afrikaners.

In 1987 is Breyten, saam met Idasa, instrumenteel in die reël van die gesprekke tussen leiers van die ANC en vyftig Suid-Afrikaners in Dakar in Senegal. Geld om die onkoste vir die missie te dek is deur onafhanklike stigtings in Europa en die VSA ingesamel. Dr Frederik Van Zyl Slabbert lei die Suid-Afrikaanse missie en Danielle Mitterand, die Franse president se vrou, help Breyten om visums vir die groep te bekom, asook met die reisreëlings.

In dieselfde jaar doen Breyten en Yolande aansoek om 'n visum om Breyten se siek pa te besoek, maar dit word geweier weens Breyten se houding en gedrag teenoor Suid-Afrika, asook ander oorwegings.

In 1988 ken die Universiteit van Wes-Kaapland 'n eredoktorsgraad aan Breyten toe vir wat hy vir die Afrikaanse taal gedoen het.

In Julie 1989 woon Breyten die skrywersberaad by die Victoria-waterval by en lewer die slotreferaat oor 'n Suid-Afrikaanse letterkunde – in Engels. Sy Memories of snow and dust, wat in 1990 die Engelse CNA-prys sou wen, se Suid-Afrikaanse uitgawe is daar bekendgestel.

In Julie 1989 word 'n visum vir vier dae aan Breyten en Yolande toegestaan vir ’n besoek aan Breyten se pa, wat later, in Desember 1989, in die ouderdom van 85 jaar oorlede is. Visums word vir drie dae aan Breyten en Yolande toegestaan om die roudiens in Grahamstad by te woon, asook die seremonie in Hermanus, waar sy pa se as by sy ma se graf gestrooi is.

In Mei 1990 word Breyten as direkteur van Taurus-uitgewers aangestel, met sy hoofdoel om ondersoek in te stel na die moontlikheid om Afrika-letterkunde aan die Suid-Afrikaanse publiek bekend te stel.

In Augustus 1990 is Breyten en Yolande as gaste van SAAK (die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheidskring) op besoek in Suid-Afrika, en voor 'n groot gehoor op Stellenbosch, tydens die slottoespraak by 'n driedaagse konferensie oor Die rol van die Afrikaner in die bou van 'n nuwe Suid-Afrika, kondig hy sy onttrekking aan die openbare lewe aan. Die titel van sy toespraak was "Fragmente van 'n groeiende gewaarwees". In Oktober 1990 lewer hy een van die hoofreferate by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad op Langebaan.

Die koerant New Nation bied, in samewerking met die Congress of South African Writers (COSAW), in Desember 1991 'n landwye skrywerskonferensie in vyf streke aan. Breyten lewer die hooftoespraak, "Om by heerskappy verby te skryf". In sy toespraak sê hy dat uitgewers tien persent van die boeke wat hulle uitgee, gratis aan minder gegoedes beskikbaar behoort te stel. Van sy ander uitlatings is dat skrywers moet saamstaan; dat groot uitgewers en die media nie vérsiende genoeg is nie en dat hulle probeer behou wat hulle het, pleks van om 'n heeltemal nuwe rigting in te slaan en oplossings vir 'n nuwe situasie te help soek.

Hoewel Breyten se kunswerke veral in Europa baie bekend is en hy lank reeds uitstallings daar hou, word sy eerste kunsuitstalling eers in 1993 in Suid-Afrika in Kaapstad aangebied. Die titel is Painting the eye.

Hy ontvang ook in 1993 'n eredoktorsgraad van die Universiteit van (KwaZulu-) Natal in Durban. Die motivering hiervoor is dat sy werk diep gewortel is in die sosiale en kulturele politiek van die tyd en dat sy statuur en bydrae tot hierdie land nooit oorbeklemtoon kan word nie.

Gedurende Julie 1993 tree hy by die Wits Winterforum op en neem hy saam met Marthinus Versfeld, Frederik Van Zyl Slabbert en Neville Alexander aan die openingsbespreking deel. Daar sê hy: “Julle moenie skaam wees om te veg vir Afrikaans nie. Net omdat die Fascis in ons midde in die water gepis het, beteken dit nie ons mag nie meer die woord water in die mond neem nie. [...] Taal is die magiese vesel van minder- of meerderhede: taal is die spieël waarin jou asem 'n herkenbare gesig kry.”

Tydens 'n toespraak in November 1993 by Washington-universiteit in St Louis, Missouri in die VSA sê Breyten dat sommige Suid-Afrikaanse skrywers glo hulle ruik die welriekende geure van die nuwe republiek van vrede, maar in werklikheid ruik hulle die geparfumeerde boude van politici op grawe na mag. Volgens hom kan ons onsself net red deur die demokratiese instellings van 'n beskaafde gemeenskap te versterk deur die politici ferm te beperk tot hul rol as dienaars van die gemeenskap en om só hul natuurlike neiging teen te werk om op die arbeid van die samelewing te teer.

By die bekendstelling van Return to paradise (1993) in Washington maak hy die stelling dat hy nog steeds daaraan dink om die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op te blaas, omdat dit 'n “daad van openbare higiëne” sou wees. Return to Paradise is die laaste deel van die trilogie waarvan Seisoen in die paradys (1976) en The true confessions of an albino terrorist (1984) onderskeidelik die eerste en tweede dele is.

Die Internasionale Parlement van Skrywers verkies in November 1993 'n Wêreldraad en 'n president. Sestig skrywers kom in Strasburg byeen en die Wêreldraad bestaande uit Adonis, Pierre Bourdieu, Breyten Breytenbach, Jacques Derrida, Carlos Fuentes, Edouard Glissant en Toni Morrison word aangewys. Die president vir twee jaar is Salman Rushdie. Hierdie parlement “exists to fight for oppressed writers and against all those who persecute them and their work, and to renew continually the declaration of independence without which writing is impossible; and not only writing, but dreaming; and not only dreaming, but thought; and not only thought, but liberty itself”.

In 1994 word Breyten genooi om die amptelike openingstoespraak by die 25ste Poetry International in Rotterdam, waarna 72 skrywers van oor die wêreld genooi is, te lewer. Die Nederlandse koningin Beatrix woon die opening by. Vir Breyten was die grootste eer egter toe een van sy versreëls op 'n aantal rommelstortwaens aangebring is – ROTEB, die munisipale rommeldiens, was een van die borge van die fees en was betrokke by die ”poëzie rijdt op straat”-program waarvan die tema was: “Jy leef asof jy onsterflik is.”

Intussen rol verdere internasionale en plaaslike eerbewyse in. In 1995 ontvang Breyten die Jacobus van Looy-prys van mnr Aad Nuis, die Nederlandse onderminister van kultuur. Jacobus van Looy (1855-1930) was ’n Haarlemse skrywer en skilder en die prys word toegeken aan kunstenaars wat óók die skryf- en skilderkuns beoefen. Die oorhandiging van die prys val saam met die opening van 'n uitstalling van Breyten se werk in 'n deel van die beroemde Frans Halsmuseum in Haarlem.

In 1994 word Return to paradise bekroon met die Sunday Times/Alan Paton-toekenning vir niefiksie, en in 1996 ontvang Breytenbach die Helgaard Steyn-prys vir nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde. Hierdie prys word elke jaar om die beurt toegeken vir musiek, beeldhouwerk, skilderkuns en letterkunde.

In 1995 ontvang Breyten die twaalfde Malaparte-prys, wat jaarliks deur die Vriende van Capri toegeken word ter herdenking van die Italiaanse joernalis en skrywer en ter erkenning van die politieke betrokkenheid en die literêre prestasies van die ontvanger. Dit is ook bedoel om die werk van buitelandse skrywers aan die Italiaanse leserspubliek bekend te stel. Nadine Gordimer was in 1985 die ontvanger van hierdie prys.

In 1996, tydens die 27ste Internasionale Poësiefees in Rotterdam, is Breyten die onderwerp van die jaarlikse vertaalprojek wat deel is van die Poetry International.

In 1998 word hy deur die motorvervaardiger Volkswagen AG in Hannover, Duitsland, as 'n wêreldburger vereer.

In 1996 ontlok Breyten 'n nuwe debat oor Afrikaans, Afrikaners en saamstaan toe hy 'n taalstaat bepleit waarbinne Afrikaanstaliges se potensiaal ten volle ontwikkel kan word, asook 'n kultuur en praktyk van “skeppende verset”. In 'n lang artikel in Die Burger van 5 Oktober 1996 lóóp hy die ANC se konsep van “nasiebou” en 'n “reënboognasie”. Om te oorlewe en skeppend deel te wees van 'n groter geheel, sal Afrikaners met veel soepelheid moet kan saamwerk en baklei vir 'n eie verbeeldingsruimte. Vir die Afrikaner is taal skering en inslag van sy gemeenskaplikheid en hy moet veg vir die instandhouding daarvan.

Breyten en sy ’n Seisoen in die paradys is in 1997 ook die onderwerp van etlike films – onder andere een in Engels wat deur die Sweed Richard Dindo geregisseer is en ook een in Frans. Hennie Serfontein doen die regie van 'n video, Breyten the artist, wat in 1997 op die rolprentprogram van die Grahamstadse kunstefees vertoon word. Die video is ook op SABC3 vertoon.

In 1997 verskyn Oorblyfsels: 'n roudig, 'n huldigingsbundel aan Daantjie Saayman, uitgewer van Buren-uitgewers, wat oorlede is. Saam met Papierblom, wat onder die skrywersnaam Jan Afrika verskyn, word die Hertzogprys in 1999 aan Breyten toegeken. Hierdie slag aanvaar hy dit: “Dis vyftien jaar later en ander omstandighede. Ou geskille het minder belangrik geword.” Tydens die oorhandiging van die prys sê prof Réna Pretorius dat Oorblyfsels 'n waardevolle bydrae lewer tot Afrikaans se yl besit van elegiese gedigte. Papierblom bied 'n kragtige demonstrasie van Breyten se unieke en waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie.

Op die Demokratiese Alliansie (DA) se Taalberaad in 1998 tree Breyten op saam met die leier van die DA, Tony Leon, en Neville Alexander, destydse voorsitter van Pansat. Breyten sê: “Suid-Afrikaners moet die reg op andersheid uitleef, insluitende hul reg om hul moedertaal op alle gebiede van die samelewing te gebruik, en weerstand te bied teen die geweldige druk om te konformeer.”

Tydens die KKNK van 1999 pleit hy vir die vestiging van 'n vrye Afrikaanse universiteit, want daar sal uiteindelik geen ruimte vir die ontwikkeling of vir die reeds verworwe ruimtes van Afrikaans aan die huidige universiteite wees nie. In dieselfde jaar praat hy by die ATKV se herfsskryfskool op Potchefstroom oor die Afrikaner as Afrikaan: “Enige aantasting of belemmering van die volle gebruik van jou moedertaal is 'n skending van daardie mensereg wat verseker dat jy 'n volwaardige en nuttige burger mag wees, selfs en veral in 'n meertalige gemeenskap.”

Breyten se veelbesproke toneelstuk Boklied se premiere vind in 1998 tydens die KKNK plaas en ontvang die De Kat-Herrieprys. Dit palm ook agt ENB Vita-Streekteatertoekennings vir 1997/1998 in – vir beste produksie, beste akteur (Dawid Minnaar), beste byspeler (Duma Mnembe), beste byspeelster (Antoinette Kellerman), beste nuweling (Emile Serfontein) en beste regisseur en stel-en kostuumontwerp (albei Marthinus Basson) en beligting (Laddy Czerepowicz).

In 2000 word sy eerste toneelwerk in Engels, The life and times of Johnny Cockroach, tydens die Grahamstadse kunstefees onder die regie van Marthinus Basson opgevoer. Dit is 'n vervolg op Boklied. Breyten se toneelwerk bly kontroversieel en in 2001, tydens die opvoering van Die toneelstuk op die KKNK, loop die mense uit. Dit veroorsaak dat Breyten na die KKNK sê dat hy niks meer met die Afrikaner te doen wil hê of in die openbaar in Suid-Afrika gaan optree nie. Dit spruit waarskynlik uit 'n meningspeiling wat deur Die Burger gehou is en waar 80 persent van die respondente gemeen het dat Afrikaners hulle van Breyten moet distansieer. In 'n brief in Engels aan Die Burger skryf hy hy “[is] in geen omstandighede lid van u volk, of sou dit ooit wou wees nie”. Marthinus Basson, wat ook die regisseur van Johnny Cockroach en Die toneelstuk is, word by die KKNK van 2001 met die Baanbrekersprys vereer vir die grensverskuiwende werk as regisseur en ontwerper wat hy onder meer met Boklied, Ek, Anna van Wyk en Die Toneelstuk gedoen het.

By die bekendstelling van sy bundel Papierblom in 1998 by die KKNK sê Breyten dat hy haastig is om dood te gaan. Uit 'n ander se mond sou die afwagting van die dood morbied klink, maar dit is duidelik dat hy vrede gemaak het met die onvermydelike. In hierdie bundel, wat opgedra is aan sy dogter (wat hy D noem) en aan sy vrou, skryf hy vir die eerste keer twee gedigte oor sy (tienjarige) dogter.

Breyten se kunsuitstalling Woordwerk open in 1999. Dit is 'n geleentheid waar digter en skilder by mekaar uitkom in 'n eksistensiële gesprek met mekaar – 'n interaksie tussen beeld en woord. Breyten beaam dit teenoor Cobus van Bosch: “Ek werk nou al vir 'n ruk met die vermenging van kuns en beeld, soos met my baniere – ek verkies eintlik die term 'lappe’. Dit is 'n geval van waar die gedig 'n skildery word en andersom.”

Vanaf Januarie 2000 is Breyten betrokke as gasprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Geesteswetenskappe, asook by die Gorée-Instituut in Dakar, Senegal en by die Universiteit van New York, waar hy klasgee in hulle Kreatiewe Skryfprogram. Op Gorée-eiland begin hy 'n multikulturele en multidissiplinêre projek saam met kunstenaars uit Denemarke, Senegal en Suid-Afrika. Hy is die uitvoerende direkteur van die Gorée-Instituut en is in 2005 betrokke in 'n bitter stryd met Senegal oor die behoud van hierdie instituut. Vanaf 2004 is hy deur die vredesakademie van die Gorée-Instituut betrokke by die vredesproses in Guinee-Bissau. Voor die verkiesing het die Instituut begin met 'n proses van burgerlike opleiding en om politieke partye te leer "hoe om die spel te speel”. Buitelanders word gewerf om die opleiding te doen en as monitors op te tree. In 2007 open hy die ArtTerial-kongres op Gorée met die toespraak "Om Afrika te verbeel".

Breyten was ook in 2001 'n bekende gesig op kykNet met die aanbieding van Ja-nee (poësie) waartydens hy met plaaslike akademici, digters en skrywers oor die digkuns gesels het.

In 2002 kondig hy aan dat hy voortaan sy gedigte net aan 'n klein en geslote groep mense gaan versprei. Ampie Coetzee, sy jare lange vriend, se reaksie was: “Laat die donders wat kritiseer, in hulle moer vlieg; en diegene wat gedigte verniet wil hê, ook. Die ding kom al baie ver en ek dink die mees ordentlike ding sal wees om die man uit te los. Vergeet van Breyten. Hy is in die hiernamaals, hy’s by Vader Zen.”

Daar kan nou ook op CD na Breyten se verse geluister word. CD-samestellings van sy getoonsette verse is aan die orde van die dag. Dit begin met Om te Breyten, waarop kunstenaars hulle gunsteling-gedigte van Breyten toonset en uitvoer. In 2001 is dit opgevolg met die CD Mondmusiek, waarop Breyten 'n al groter rol speel. Hy lees van sy gedigte voor met musiek van plaaslike musikante op die agtergrond. In 2002 volg Lady One, waarop hy Engelse gedigte voorlees. In 2002 word Lappesait by die KKNK opgevoer met Pedro Kruger en Eugenie Swanepoel wat van Breyten se getoonsette poësie sing. Laurinda Hofmeyr bring in 2008 die CD Reis na die suide uit waarop sy ook van Breyten se gedigte sing wat sy self getoonset het.

In 2005 wys Breyten nog 'n toekenning van die hand. Die nasionale minister van Kuns en Kultuur, Pallo Jordan, gee aan Breyten die toekenning van die Departement van Kuns en Kultuur vir sy lewenswerk, maar hy wys dit van die hand. Hy waardeer die welwillendheid van die paneel wat hom as kandidaat voorgestel het, maar sien nie sy weg oop om dit te aanvaar nie.

Breyten se jongste bundel in Afrikaans is Die windvanger wat in 2008 verskyn en die Hertzogprys, die Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk, en die WA Hofmeyr-prys verower. In Maart is hy die gasspreker by 'n oop gesprek by die Universiteit van Wes-Kaapland wat deur die Departement Afrikaans gereël is. Hy aanvaar die Hertzogprys uit erkenning vir die goeie werk wat gedoen is en die werk wat nog gedoen moet word. Helize van Vuuren sê dat daar in Die windvanger 'n psigiese tweespalt is tussen die afgelegde, afgeswore, gehate vaderland en die binding daarmee, die taalmedium. Die dood, die troebels van ouer word, die mens se onontkombare verganklikheid is die groot konstante tema. Louise Viljoen beskryf dit as 'n lieflike, elegiese besinning oor die betekenis en waarde van digterskap.

In Februarie 2007 is Breyten se ouerhuis in Wellington, Grevilleas, as die Breytenbach Sentrum geopen. Dit is gerestoureer en beoog om 'n veilige hawe te wees vir talentvolle kunssinniges wat nie andersins die geleentheid het om hulle kuns uit te leef nie – van plaasvroue tot jong skilders. Dit wil ook die middelpunt van die kulturele lewe van die streek wees. Een van die kunstenaars wie se werk in die sentrum uitgestal is, is Breyten se vrou Yolande se kralekuns waarmee sy gevoelige en sensitiewe portretstudies maak.

Oor sy digwerk skryf Breyten self soos volg in Vermaak et al se Versreise (2004): “My eerste gedigte het ek seker teen die ouderdom van 15 geskryf. Dit was die ewige jare van my eerste kalwerliefdes. My hart was gebreek en sou nooit weer geheel word nie en die maan het soos 'n sekel in die lukwartboom gebot! Daarna het gevolg die ontginning van die gedig as ding, 'n objek [uit] eie reg wat langs vreemde paaie kan wandel; iets wat deur die krag van die woord, dws ook deur assosiasies van klank en ritme en deur die verwysings van metafore, 'n outonome werklikheid kan daarstel. Nog later het gekom die gedig as middel en oproep tot opstand. [...] [G]edigte skryf het nie net die begeerte om te skep (of te omskep) vir my verwoord nie, maar ook die behoefte om die wêreld om en in my sigbaar te maak en sodoende min of meer (en tydelik) te verstaan.”

In Sarie van 6 Februarie 2002 skryf Zandra Bezuidenhout oor Ysterkoei-blues: “Van die teerste jeugherinneringe aan sy plattelandse jeug en sy ouers, die haat-liefde-verhouding met sy vaderland, en Zen-verse, tot sy ervaringe in Frankryk en elders vind hier neerslag. [...] Maar dit bly die oorspronklike aanslag en die ongelooflik poëtiese verwerking van sy stof wat hierdie digter uniek maak. Sy werk bly 'n vonds – of 'n heerlike herontdekking.”

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Breyten Breytenbach as vertaler

  • Acker, Helen: Die skooltrein. Kaapstad: Human & Rousseau, 1970
  • Gifford, Griselda: Die geheim van die houtbene. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1968
  • Shakespeare, William: Titus Andronicus. Kaapstad: Buren, 1970

Artikels oor Breyten Breytenbach beskikbaar op die internet

Artikels deur Breyten Breytenbach beskikbaar op die internet

The life and times of Johnny Cockroach: Besprekings

Die lys van vertalings kan onvolledig wees. Daar is 'n wye verskeidenheid biografiese artikels beskikbaar op die internet (te veel om hier te lys).




Bygewerk: 2008-09-17
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Sarie Berkhout
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur