Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
 
Hallelujas en sweepslae: 10 vinnige vrae aan Gerald Clark
Gerald Clark, Sonja Badenhorst
2008-09-17 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Daar is twee soorte musikante in die wêreld: dié wat volgens die boek gaan, die regte akkoorde met deurdagte presisie tref en bypassende woorde noukeurig byvoeg, en dan kry jy die Gerald Clarks van die musiekwêreld – musiek is in hul bloed, en in hul harte. Gerald het vroeër die jaar sy eerste Afrikaanse en solo-album, Sweepslag, vrygestel.

 

Jy's al sedert 1999 die gesig en stem agter die bekende en suksesvolle Deltablue. Wat het jou laat besluit om jou eie paadjie te loop en solo te gaan?

Dit het alles baie onverwags en eintlik sonder enige berekening gebeur. Ek het my debuut as ‘n Afrikaanse liedjieskrywer gemaak met "Somerreën". Daarna het ek geëksperimenteer met rou Mississippi blues en die Afrikaanse taal. Die twee het behoorlik gebokspring soos ‘n cowboy wat sy sit wil leer ken op 'n wilde perd!! En so is "As ek kon" gebore. "Gee my terug" het gevolg. Jurgen von Wechmar van Sunset Studios, waar ek die songs opgeneem het, het my aangepor om ‘n hele album op te neem ... in Afrikaans! Ek het die album binne twee weke geskryf en opgeneem. Die album het toe vir amper 15 maande stilgestaan voordat Mozi Records hom op die rakke gesit het. My eerste album waarvan ek al die musiek en verwerkings self geskryf het! Die lirieke is ook als uit my pen, behalwe vir "Winternag", "Rietfontein se leidam" en "As ek kon".

Sweepslag is 'n Afrikaanse CD met blues-elemente daarin verweef. Dink jy Suid-Afrika is reg vir iets wat afwyk van die kommersiële norm?

Die helfte van die album se inhoud is nie volgens die blues-formaat geskaaf nie, alhoewel dit elemente bevat van die halleluja soos ek hom ken. Ek hoop dat my album ‘n gebalanseerde produk is wat die blues-luisteraar met die kommersiële mark versoen en omgekeerd.

Die CD het 'n unieke klank wat waarskynlik nog nie in Afrikaans gehoor is nie - Theunis Engelbrecht beskryf dit as "vars en eiesoortig". Wat het jou geïnspireer en bygedra tot die andersheid van die CD se styl?

My musieksmaak is baie uiteenlopend met blues as ‘n fondament. Dit is basies my gedagtes en laatnag kitaarslat wat hierdie album maak wat hy is. Die enigste uitweg was ‘n eiesoortige klank.

Jy is duidelik gebóre vir die blues - nie juis die bekendste populêrste musiekstyl nie. Watter eienskappe van blues het jou aanvanklik aangetrek of is jy ook soos Robert Johnson by die kruispad verlei deur die duiwel?

Blues is die enigste musiek wat my wispelturige gemoedstoestand kan neutraliseer. En dit is darem soooo lekker om ‘n kitaarsnaar te buig totdat hy blou raak in die gesig!

Dis nie altyd maklik om 'n suksesvolle vennootskap tussen musiek en liriek te maak as dit kom by die toonsetting van gedigte nie. Met Sweepslag slaag jy daarin om die twee goed te kombineer. Hoekom dink jy werk sommige Afrikaanse gedigte goed as lirieke?

Elke gedig het die potensiaal om eendag as hy groot is, ‘n liedjie te word! Hy moet net deur die regte note en frasering vasgevang word.

Blues is 'n rou, eerlike styl en 'n blues-sanger moet as't ware sy siel blootlê met sy optrede. Is dit nie juis om hierdie rede moeiliker om blues te sing nie?

Wanneer jy blues of enige tipe musiek maak bloot vir kommersiële redes, dan neem ek aan dit vat baie inspanning. Vir my was dit nog altyd 'n baie natuurlike uitlaatklep vir emosie.

"Rietfontein se leidam" is 'n ID du Plessis-verwerking en `n snit wat 'n mens hoendervleis gee omdat dit mooi, hartseer en ook nogal 'n bangmaakliedjie is! Hou jy van spookstories vertel?

Ek het van jongs af spookstories gelees en graag stories oorvertel, omdat ek hou van die angs wat daarmee gepaard gaan. "Rietfontein se leidam" was my gunsteling-gedig toe ek jonk was.

Die video het ook onlangs gedebuteer op MK en is visueel indrukwekkend en atmosferies. Hoe het jy op die konsep besluit en wie was betrokke by die vervaardiging daarvan?

Ek en Sean Else het baie in dieselfde rigting gedink met die video. Hy het die idee ontwikkel, en nou kan hy spog met ‘n unieke produk. Ek is baie ingenome met wat hy vermag het en is baie opgewonde om saam hom te werk aan my volgende video.

Jy en Werner van der Hoven tree sedert Januarie 2006 saam op as Clark & Van der Hoven. Enige planne om aan te gaan met die vennootskap, en hoe beïnvloed jou solo-projek die toekoms van Deltablue?

Deltablue is nou in Gauteng en ons tree nog weekliks op. Ek en Werner het ook nog ‘n album op die ys. Ons hoop om dit nog voor die einde van die jaar te kan uitbring. In die Kaap het ek ‘n blues-trio, Clarksdale, saam met my aanstaande skoonpa, Lee Marshall (kitaar), en Dave Ferguson (mondfluitjie). Ons doen net blues. Ek geniet die uiteenlopendheid van my optredes en poog om ‘n gesonde balans tussen die verskeie projekte te handhaaf.

Jy was onlangs in Parys. Is daar planne om jou musiek aan Europa te gaan voorstel?

Ek het vier Sweepslag-optredes gedoen in Londen en een blues-gig in Parys. Ek het my optrede in Antwerpen gekanselleer om logistieke redes en omdat die branders langs die kus van Portugal te goed was om te laat staan. Ek het my longe uit gesurf!

Na Sweepslag gaan die druk groot wees om dit met 'n tweede album op te volg. Kan ons ons regmaak vir nog CD's in die toekoms en hoe lyk jou planne vorentoe?

Ek het al genoeg gedagtes en note om ‘n volgende album te maak, maar hy sal eers volgende jaar uitkom. Die liedjies het dan ook tyd om bietjie asem te kry. Ek wil volgende jaar plaaslik sowel as internasionaal besig wees en ‘n goeie balans tussen al my projekte kry.

Sweepslag is beskikbaar by kalahari.net.

Fotos: Peet Steyn



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




Johannesburg Writing Diary - February 2010
Valentyn-sterrekyk by die Taalmonument
D`Aria Concerts: The Parlotones 14 February - sold out

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about Carel van der Merwe
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur