Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
PW is dood op 'n lamppaal
Ruan Kemp
2006-11-02 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

PW is dood op 'n lamppaal en ek skiet nog 'n stompie by die ruit uit.

"PW is dood!" roep Benji.

"Haai?!" skrik Nicolene. Haar maag draai. "Ek kry sommer so 'n koue gevoel."

"… maar dit maak nie saak nie," sing Karen Zoid oor die karradio.

Ek probeer "PW is dood" in die liedjie inwerk, maar ek sukkel. Ek is so musikaal soos 'n vis.

Én ek voel skuldig. Omdat ek altyd in die oggend skuldig voel. Omdat ek 'n mislukking is. Omdat ek gebore is toe PW aan bewind gekom het en 28 jaar later het niks verander nie. Ek voel skuldig omdat ek weggespring het met sulke goeie bedoelings en daardeur jou eers verlei het, toe verraai het. Omdat ek in my tweede jaar my regstudies opgegee het vir 'n lewe van laat nagte saam met mense wat nie heeltemal reg was in hulle koppe nie. Omdat ek te veel gevoel het. Ek voel skuldig omdat ek seergemaak het. Omdat ek moes lieg om minder seer te maak. Omdat ek die wêreld wou verander. Omdat ek gefaal het.

Ek voel skuldig omdat ek 'n fok voel oor PW se dood; omdat my maag nie dáárvan draai nie, maar van gisteraand se gebrassery. Nóg 'n laat nag. Nóg 'n vroeë oggend in 'n vreemde kamer met 'n leë bottel wyn en 'n derde persoon tussen ons. Hoekom moet jy altyd 'n middelaar saamsleep? Watse wond het 'n tolk nodig? Hoeveel keer gaan ons nog probeer, Nicolene? Onthou jy die eerste keer toe ons gesoen het? In Springbokpark. Met rook in ons tande en wyn in die mond. Die aand toe ons Robert Mugabe vermoor het, soos ons na daardie aand verwys. Ons het gestry oor moffiewees, of dit reg of verkeerd is, en of dit reg is dat Mugabe moet sterf. Onversoenbare onderwerpe. Jy hou nie van die dood nie. Jy eet ook nie vleis nie. Maar jy eet wel vis? Ons moes daai aand al aanvaar het dat ons onversoenbaar is, en die wêreld fucked.

Maar die wêreld kyk vir my asof dit my skuld is.

Wys vinger.

Selfsugtig, eiewys en arrogant is ek. Of is dit my onvermoë om te verduidelik wat fout is met die plek?

Onversoenbare gedagtes. Soos hierdie God in my. Soos hierdie man in wie se lyf ek is.

"Kom ons vernoem die Uniegebou na PW," stel ek voor.

Nicolene en Benji lag.

As ek jou nou aflaai, is dit die laaste keer, ek sweer. Ek steek nog 'n sigaret aan.

"OR Tambo" sê 'n bord wat eens die pad Jan Smuts toe aangewys het. Die bord is vol koeëlgate. God steek sy wysvinger deur die ruim en lees Braille. Die koeëlgate lees: "Die wêreld is nog dieselfde maar die leuens raak dunner."

Aan die rand van die pad gooi 'n man sand in 'n slaggat. Die verkeer stu voort met die oorlewingsdrang van 'n masjien. Vir die meeste van die insittendes is PW lankal dood.

'n Advertensiebord buite 'n Grasdakkerk in Pretoria-Oos verkondig Sondag se temas:

Oggend: Skuldgevoelens
Aand: Op jou knieë voor die kruis.

Wys vinger.

Hou jou vinger vir jouself, fokker. Ek is 'n prototipe van die skepper met 'n ingeboude mislukking. Ek is die bout in die reaktor. Ek is 'n groot kind. Wie ook al meer van my verwag, moet gaan kak. "Fok julle poese!" sal ek skreeu as ek opgaan in vlamme. 'n Man moet doen wat sy hand vind om te doen. En dis al.

Ek steek nog een op, en iets in my gaan dood.



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za



The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van LitNet-Boeke | Become a Friend of LitNet Books

Read more about David Kramer
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur