Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Finansies & Tegniek | Landbouweekblad
Huisgenoot | Idees | Lééf | Tuis | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
LitNet
 
Daniel Hugo (1955– )
Erika Terblanche
2008-08-29 Druk dit/Print it E-pos hierdie skakel/E-mail this link

Gebore en getoë

Daniel Johannes Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Daniel is een van sewe kinders van sy pa, George, ’n sendingpredikant, en sy ma, Margaretha. Gedurende sy grootwordjare is sy pa beroep na Warmbad in die suid van Namibië (destyds nog Suidwes-Afrika), Greyton in die Wes-Kaap en toe Daniel sewe is, trek die gesin terug na Namibië, waar sy pa predikant word by die Khomasdal NG Kerk in Windhoek. Sy pa, wat onder meer lid was van die komitee wat die nuwe gesangeboek vir die Verenigende Gereformeerde Kerk saamgestel het, is in Desember 1996 oorlede.

Daniel gaan skool in Windhoek en behaal in 1972 sy matriek aan die Hoërskool Jan Möhr. Sy eerste liefde vir die skryfkuns word wakker gemaak in standerd agt toe hy oor die “ongerepte natuur van Namibië begin dig het. In standerd nege was die hooftema die liefde.” Hy het aanvanklik die skryf van opstelle op skool gehaat, maar met die leiding van onderwysers wat ’n aanvoeling vir letterkunde gehad het (mnre Kirsten en Schoeman) begin die jong Daniel in die skryfkuns belangstel.

Verdere studie en werk

Na matriek vertrek Daniel na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aanvanklik vir predikant studeer. Vanaf 1973 tot 1975 volg hy die BA Admissie-graad met Grieks, Hebreeus en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Na die verkryging van sy graad besluit hy om op die letterkunde te konsentreer en in 1976 verwerf hy sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ook op Stellenbosch.

In 1977 en 1978 doen hy sy militêre diensplig in Pretoria en terwyl hy daar is, doen hy sy meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria onder die promotorskap van prof AP Grové met ’n verhandeling oor die “Brandaan”-siklus van DJ Opperman. Tydens sy studentejare is hy ’n deelnemer aan DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Na hierdie studies hou Daniel vir ’n jaar skool in Windhoek aan die Ella du Plessis Sekondêre Skool in Khomasdal (1979). Hy besef egter gou dat hy nie gemaak is vir hierdie opvoedingstaak nie en in 1980 word hy aangestel as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans en Nederlands.

Daniel trou in 1978 met Christelle Pretorius en hulle het een seun, George. Die huwelik is later ontbind.

In 1983 studeer hy vir ’n jaar aan die Katholieke Universiteit van Leuven in België en ontwikkel hy ’n band met en ’n liefde vir die Lae Lande.

In 1986 keer hy vir ses maande terug na Windhoek, waar hy Afrikaans doseer aan die Akademie vir Tersiêre Onderwys. Hy word deur die Universiteit van die Vrystaat soontoe gesekondeer in die plek van George Weideman wat met verlof was.

In 1989 behaal Daniel sy doktorsgraad met prof JC Kannemeyer as sy promotor. Sy verhandeling is getitel Die digter en sy middele: ’n ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans.

In 1989, na nege jaar as dosent by Kovsies, en tydens die groot vloed in die Vrystaat en die Noord-Kaap, luister Daniel radio en hoor toevallig dat ’n pos geadverteer word by Radio Suid-Afrika. Hy was bewus daarvan dat sy professionele loopbaan op daardie tydstip besig was om te stagneer, en sonder enige ervaring doen hy aansoek vir die pos en word hy aangestel. Hy gaan vir twee maande na Johannesburg vir opleiding en vertrek daarna na Kaapstad. Hy is ’n stadsmens wat hou van die Kaapse Afrikaners omdat hulle ontspanne is “sonder die tradisionele Afrikaner-obsessies, die groot kommer oor identiteit”. Dit is aan sy grootouers te danke dat Daniel ’n liefde vir die radio ontwikkel het, want hulle was sulke intense radioluisteraars.

In 2001 trou Daniel met die jeugboekskrywer Carina Diedericks en die egpaar woon tans op Stellenbosch.

In Maart 2008 bedank Daniel by die SAUK en word hy aangestel as uitvoerende direkteur van die Huis der Nederlanden in Pinelands in Kaapstad.

As digter debuteer Daniel in 1981 saam met André le Roux du Toit (Koos Kombuis), Peter Snyders en Etienne van Heerden met die bundel Brekfis met vier, wat in 2005 heruitgegee word deur Human & Rousseau. In 1981 verskyn ook Saad uit die septer: synde die apokriewe liefdeskroniek van ene Daan van der Merwe, ’n storieboek met ’n les vir die volk onder die skuilnaam Daan van der Merwe by PJ de Villiers Uitgewery. Ter viering van Daniel se vyftigste verjaardag in 2005 word die boek deur Protea Boekhuis in ’n beperkte oplaag heruitgegee. Volgens Cecile Cilliers in Die Burger van 5 November 2005 het Daniel ’n swakte én ’n gawe vir speelse verse; die verse is tegelyk sjarmant en stuitig en guitig en speels. Een van die vreugdes by die lees van die verse is om die stemme van die mededigters te herken. Sy eindig haar resensie met: “Ons neem ons poësie alte ernstig op in Afrikaans. In Saad uit die septer wys Hugo ons op ander, speelser moontlikhede.”

In 1982 verskyn Daniel se eerste solobundel, Korte mette, en nog elf bundels volg. Daniel is die eerste Afrikaanse digter wat (in 2002) al sy werke op CD-ROM beskikbaar gestel het. Versalbum bevat, naas biografiese inligting, ook lesings wat hy deur die jare gelewer het en al sy gedigte, waarvan hy heelwat self voorlees.

In sy digbundel Skeurkalender is die antigodsdiens weer ’n prominente tema. Dit bly vir Daniel ’n belangrike tema, “veral omdat ons in ’n samelewing bly waar ’n mens nog nie jou ongeloof kan bely nie. Ek dink die voorval met Madeleine (van Biljon in 1998 en die ATKV) kan ’n waterskeiding wees. Ek was in soveel gesprekke betrokke daaroor en dis asof mense nie kan glo dat jy die godsdiens rasioneel kan beskou of krities kan wees nie.”

As samesteller en redakteur maak Daniel ook sy merk in die Afrikaanse letterkunde en een van sy gunstelingprojekte is die samestelling van die kortverhaalbundels Tydskrif 1 en Tydskrif 2. Hiervoor moes daar in ou tydskrifte van toeka se tyd gedelf word op soek na geskikte verhale. Hy vertel in ’n onderhoud in Rooi Rose dat hy klein skatjies gekry het wat verby “drie jaar se droogte, drie jaar se sprinkane en drie jaar se misoeste” gekyk het en van vermaaklike poetsbakkery, liefdesgeluk, vriendelike spoke, vroulike vernuf in oorlogstyd, delwersvreugde en begrip tussen mens en dier vertel.

Hy onderskei hom ook op die gebied van letterkundige vertaling en is die vertaler van etlike werke uit Nederlands in Afrikaans. Hy word twee keer genomineer vir die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se vertaalpryse vir die vertalings van Die elektries gelaaide hand van Gerrit Komrij en Harry Mulisch se Die aanslag. Daniel is ook verantwoordelik daarvoor dat skrywers soos Tom Lanoye en Herman de Coninck in Afrikaans gelees kan word. Een van die moeiliker boeke wat Daniel vertaal het, is die Vlaming David van Reybrouck se boek De plaag. Die Afrikaanse titel is Die plaag – die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika, wat nie net ’n terugloop is op die spore van Eugène Marais en Maurice Maeterlinck nie, maar ook ’n reisverhaal oor Suid-Afrika. Volgens Daniel span die Vlaminge ’n groter woordeskat in as die Nederlanders en het hulle heelwat idiome en ’n wyer registerwisseling. “Dit is moeilik om in Afrikaans ekwivalente daarvoor te kry,” sê hy.

Joan Hambidge loof Daniel vir sy “monnikewerk” wat hy doen om die bande tussen Afrikaans en Nederlands met behulp van sy vertalings te versterk. Sy vertalings kan as baanbrekerswerk beskou word. In 2004 vertaal hy twee kinderboeke, Griekse gode en godinne uit die mitologie en Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie, uit Engels en word dit deur Human & Rousseau gepubliseer.

Daniel vertaal ook Adam Small se The Orange Earth, en met die sewentigste herdenking van Small se verjaardag voer die KreaKon-toneelgeselskap onder leiding van Willem Fransman jr die stuk in 2006 op.

In 2000 verskyn by Uitgeverij P in Nederland die bundel Planetarium, ’n keur van Daniel se verse van 1982 tot 1998. Die gedigte is vertaal deur Jacqueline Caenberghs en is in Afrikaans en Nederlands afgedruk. Caenberghs skryf ook die voorwoord tot die bundel getitel De lichtvoetige echo van een schreeuw: Over de poëzie van Daniel Hugo.

Daniel was vanaf 1981 lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar in November 1989 bedank hy omdat hy hom nie langer kan vereenselwig “met die blatante politieke rigting wat die Gilde die [voorafgaande] jaar ingeslaan het nie”. Hy dien sedert 1989 in die redaksie van die letterkundige tydskrif Contrast as Afrikaanse redakteur en word gereeld gevra om as beoordelaar vir die toekenning van literêre pryse op te tree. Vanaf 1995-2005 was hy die sameroeper van die Ingrid Jonkerprys-fonds.

Tydens die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat in 1992 lewer Daniel ’n lesing "Kan die Afrikaanse poësie lag?" In hierdie lesing verkwalik hy die skoolleerplanne van daardie tyd wat die indruk skep dat Afrikaanse poësie net oor dood, droogte en verdriet handel. Hy bepleit beter kennis van die limeriek en die Afrikaanse volkskwatryn wat deur digters soos Ronnie Belcher en Boerneef beoefen is en waarsonder die Afrikaanse poësieskat veel armer sou gewees het.

In 1997 was Suid-Afrika die hooftema van die Boekenbeurs voor Vlaandere wat in November in Antwerpen plaasgevind het. Tydens die Beurs verskyn Daniel en Jean Pierre Rawie, ’n Nederlandse digter, saam op die verhoog. Daniel het van Rawie se gedigte in Afrikaans vertaal en hulle "steel die show" met hulle voordrag. Gawie Keyser berig dat hulle “samespraak ’n briljante, stil viering [was] van die krag van literatuur, en veral ook van die konneksie wat tussen die twee taalgemeenskappe bestaan”.

In 2007 lewer Daniel ’n lesing oor die Afrikaanse taal getitel "Ek is ’n arme boerenôi" by die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein en in 2008 word hy genooi om die jaarlikse DF Malherbe-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat te lewer. Sy lesing is getitel "Die geheime werking van literêre invloed: DJ Opperman en DF Malherbe".

As omroeper was Daniel ’n huishoudelike naam oor die Afrikaanse diens van die SAUK. Hy was verantwoordelik vir die programme Skrywers en Boeke en Leeskring – twee programme wat die taal en letterkunde landwyd bevorder het. Daniel staan bekend as ’n onderhoudvoerder wat moeiteloos daarin slaag om skrywers bedrewe aan die praat te kry. Sarel Myburgh, destydse hoof van Radiosondergrense, se raad aan Daniel was dat die beste omroeper die een is wat die minste sê. Na ’n onderhoud wat Daniel in 2005 met André P Brink gevoer het, skryf Margot Luyt dat Daniel een van die beste onderhoudvoerders bly: “hy prikkel sy gas of kenner en sit dan terug sodat dié kan praat. Hugo het geen behoefte om die aandag op homself te vestig nie en stel die meeste van die tyd intens belang in wat die ander persoon sê.” Hy was ook die aanbieder van die taalnavrae-rubriek Die tale wat ons praat en die samesteller van die Perspektief-program Afrikaans en Nederlands na aanleiding van ’n besoek aan Nederland in 1992.

Hy wen tien keer die ATKV-radioprys en twee keer die Radio Artes vir hoorbeelde oor die Afrikaanse letterkunde. In 1998 word hy bekroon met ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy hoorbeeld oor Uys Krige, Troebadoer van die woord.

Daniel ontvang in 2004 die toekenning as Boekjoernalis van die Jaar. Die beoordelaars beskou hom as ’n “gesaghebbende, vermaaklike, welbelese en invloedryke stem in die boekjoernalistiek” en prys hom vir sy bereidwilligheid om blootstelling te gee aan onbekende skrywers en polities omstrede werk. Hulle maak ook gewag van sy "goeie oordeel en oorspronklike insigte". Vir hom lê die grootste genot van sy werk as omroeper in die saamstel van die program.

Daniel voel hartstogtelik oor die Afrikaanse taal – dit is sy troetelkind waardeur hy al sy ander liefdes besing: die see, die Kaap, die landskap van sy jeug. “Daarmee lig hy onsekerheid uit, bevraagteken onreg en speel geloof en ongeloof teenoor mekaar af.”

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daniel Hugo as samesteller en redakteur

Daniel Hugo as vertaler

’n Keur uit artikels oor Daniel Hugo beskikbaar op die internet

Artikels deur Daniel Hugo beskikbaar op die internet

(Daar mag dalk leemtes wees in die publikasielys – die opsteller vra om verskoning, maar is afhanklik van berigte in die pers, NALN se knipselversameling en die internet vir die inligting.)




Bygewerk: 2008-08-26
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Reageer: webvoet@litnet.co.za | Respond: speakeasy@litnet.co.za




The Dean's concert @ Wits
Vryheid van spraak as 'n voorwaarde vir die demokrasie
Exclusive Books vier Afrikaanse literatuur met hul Lekker

Word 'n Vriend van SêNet

Read more about Eben Venter
© 2006 LitNet. Alle regte voorbehou. Terme & Voorwaardes | Terms of Use | Kontak ons
Ontwikkel en aangevuur deur Good works everywhere Vertroulikheid | Sekuriteit | Wetlik
Webblad ontwerp deur